Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Johannes 13:18-30 1. Voor die Skriflesing kom ons kry net so ‘n bietjie agtergrond hieroor en wat gelei het tot hierdie gedeelte. Jesus en sy dissipels is in Jerusalem om die Paasfees te vier. Hy het die groot intog gehad in Jerusalem in op die donkie waarvan u almal die verhaal ken. Hierna het Jesus en sy dissipels gaan stelling inneem by die tafel om die maaltyd te nuttig. Dis hier waar Jesus begin om sy dissipels se voete te was. Dan kom ons by ons Skrifgedeelte vir vanoggend. LEES. 2. Sy naam was Judas. Judas Iskariot. Dit was ‘n baie gewilde naam vir diegene wat afkomstig was van Judea. Iskariot dui bloot aan dat hy afkomstig was van Kerioth. Hy is ook die enigste van die dissipels wat nie afkomstig was van Galilea nie. Maar dis nie sy herkoms waarvoor Judas bekend was nie. Nee, hy is bekend daarvoor dat hy die mees verraderlikste daad in die geskiedenis van die mensdom gepleeg het. 3. Hy is bekend daarvoor dat hy die Seun van die Mens verraai het met ‘n soen. Iets wat in die Midde Ooste gebruik is om respek en bewondering aan te dui, het hy gebruik as ‘n laaste handeling om vir die soldate ‘n aanduiding te gee van wie hulle gevange moet neem. Judas se naam is sedertdien nie weer gebruik nie as gevolg van die stigma wat daaraan kleef. Selfs vandag sal u moeilik iemand vind wat hulle kind Judas noem. 4. Interessant is dat oral in die Skrif waar die name van die dissipels opgeteken is sal u altyd vind dat sy naam laaste in die lys van die dissipels opgeteken is. En dan altyd met verwysing na die feit dat hy die verraaier is. Hy is ook die enigste dissipel oor wie se roeping niks in die Skrif genoem word nie. Hy verskyn bloot net as dissipel. 5. Maar wat weet ons van hierdie man Judas. Wel, ons weet dat hy saam met Jesus en die res van die dissipels gereis het, dat hy alles aanskou het wat Jesus gedoen het en alles gehoor het wat Hy gese het. Judas het ‘n verbintenis met Jesus aangegaan. En daar is geen rede om te glo dat hy nie opreg was nie. Hy het ook alles gelos om Jesus te volg, net soos die ander 11. Hy was aktief betrokke in die verspreiding van die evangelie en het ook, soos die ander, geestelike gawes ontvang. 6. Ons lees in Lukas 9 hoedat Jesus die 12 bymekaar geroep het en aan hulle die mag gegee het om bose geeste uit te dryf en siekes te genees. Hy het hulle toe uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig. En Judas was deel van hierdie groep. Judas was aktief besig om die evangelie te verkondig!! 7. Hy het vir drie jaar saam met Jesus geloop. Hy het vir 3 jaar die voorbeeld gehad van die mees perfekte lewe wat ooit op aarde geleef sou word. Mens kan nie vra vir ‘n beter voorbeeld en beter omstandighede om te leef as om dag vir dag saam met die Verlosser te loop en alles te aanskou wat Hy gedoen en gese het nie. 8. Judas het al Jesus se wonders aanskou. Toe Jesus die 5000 mense van kos voorsien het, was hy daar. Hy was een van diegene wat die brood en vis onder die mense verdeel het. Hy het dit eerstehands beleef. Toe Jesus die storm stil gemaak het, was hy daar. Toe Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het, was hy daar. Watter groter toonbeeld van geloof kon Judas voor gevra het? 9. Judas het al Jesus se leringe gehoor. Tydens die Bergpredikasie was Judas teenwoordig. So hy was bewus daarvan dat daar ‘n bree en ‘n smal weg is. Hy het Jesus se waarskuwings aan die Fariseers gehoor dat daar ‘n hemel en ‘n hel is en wie daarvoor bestem is. Hy het die gelykenis gehoor van die verlore seun en daarom moes hy bewus gewees het van die feit dat daar by God altyd plek sal wees vir iemand wat wegdraai van hulle sonde. 10. Met sy eie oe het Judas die perfekte voorbeeld gesien. Met sy eie ore het hy die volmaakte onderwysings gehoor. Met sy eie voete het hy die foutlose voorbeeld gevolg. Maar steeds het hy verkies om Jesus te verraai. Waarom? 11. Wel, oor die redes vir sy besluit kan ons net spekuleer. Dis moontlik dat Judas, soos baie ander volgelinge van Jesus, gehoop het dat Jesus die Romeinse owerheid omver gaan werp en so op ‘n militere wyse bevryding bewerkstellig vir die Jode. En toe Jesus aanhoudend begin praat oor sy naderende dood het Judas dalk besef dat sy verwagtinge van die Messias nie ooreenstem met dit wat Jesus beplan nie. 12. Dis ook moontlik dat hy van mening was dat hy deur sy optrede Jesus tot aksie kon dwing om ontslae te raak van die Romeinse oorheersing. Of dalk was dit sy gulsigheid en liefde vir geld. Ons gelese gedeelte meld dat hy die beursie gedra het m.a.w. hy was die tesourier van die groep. Ons lees ook in die vorige hoofstuk dat hy die draer van die beursie was, maar meer nog, dat hy ‘n dief was wat geld uit die beursie gesteel het. 13. Dit was juis tydens hierdie geleentheid dat hy gekla het oor Maria wat duur nardusolie op Jesus se voete uitgegooi het. Judas was van mening dat dit verkoop kon word en die geld vir die armes gegee kon word, maar sy motiewe was duister omrede hy nie bekommerd was oor die armes nie maar net geleentheid gesoek het om nog meer te steel. 14. Sy gretigheid het so ver gestrek dat sy offer aan die priesterhoofde duidelik sy gretigheid en groot liefde vir geld weerspieël het. “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” (Matt 26:15). 30 silwerstukke. Die prys van ‘n slaaf. Dit is wat Jesus vir Judas werd was. Dit moes vir Judas ondraaglik gewees het om te weet dat Jesus alles van hom weet. Dat Jesus ook sy hart en gedagtes geken het. Hy sou onthou het dat Jesus reeds in Johannes 2 gese het dat Hy nie mense sommer vertrou het nie omdat Hy geweet het hoe mense is. Hy het gehoor hoe Jesus se dat Hy weet dat sekere mense nie werklik ‘n liefde vir Hom het nie (Joh 5:42). Jesus het die geheime van sy hart geken en dit moes Judas baie onrustig gemaak het. 15. En dan Jesus se woorde aan Judas: “Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen”. Judas vertrek om sy verraad te gaan uitvoer. Maar hierdie is steeds die Jesus wat ons in die evangelies leer ken het. Hy is steeds die Een wat sy mense tot die uiterste toe liefgehad het soos vers 1 se. Hy is steeds die Een wat tot op die laaste sal probeer om mense na die Vader toe te trek. 16. En in hierdie verhaal van verraad, sy verloening, Judas se haat, vind ons steeds die omgee-Jesus. U sien, in die antieke tyd was dit die gebruik van ‘n gasheer om, nadat alle gaste aangesit het vir ete, die brood te neem, dit in ‘n sous te steek en dit dan aan die eregas te gee. Die belangrikste een aan die tafel. 17. En dis wat Jesus doen. Hy steek die brood in die sous, en hou dit uit na Judas. ‘n Laaste teken van genade. ‘n Laaste geleentheid wat Jesus vir Judas bied om reg te maak, om nie sy plan deur te voer nie, ‘n laaste poging om Judas so ver te kry om sy bose planne te laat vaar en hierdie genadegeleentheid aan te gryp. Maar Judas verwerp hierdie kans ook. 18. Eintlik het hierdie uitreiking van Jesus al vroeer begin. Slegs ‘n uur of selfs minder vroeër, nadat hulle reeds aan tafel was, het Hy sy bokleed uitgetrek, ‘n skottel gevat en sy dissipels se voete gewas. En Judas was daar. Wat sou deur Judas se gedagtes gegaan het? Waaraan sou hy gedink het terwyl die Messias besig was om hierdie vernederende taak uit te voer? Watter emosies sou deur Judas se gedagtes gegaan het toe hy in die oë van die Verlosser gekyk het terwyl Christus besig was om sy voete te was? 19. Maar steeds was dit einde niet. Later, in die Tuin van Getsemane, toe Judas sy veraaierskus op Jesus se wang plaas, vertel Matteus vir ons dat Jesus hom aanspreek as vriend. Vriend??? Steeds is Jesus se liefde sigbaar teenoor hierdie man. Die man wat besig is om die grootste verraad in menseheugenis te pleeg. En Jesus was sy voete, beskou hom as die eregas by die laaste maaltyd saam met sy dissipels, en spreek hom aan as vriend. 20. My broer en suster, sulke liefde het u en ek nog nooit onder mense beleef nie. Nog nooit was ons op hierdie punt waar soveel onreg teenoor ons gepleeg is soos daardie nag in Jerusalem nie. Nog nooit is van ons verwag om soveel liefde te bewys nie. Dank die Here dit was nog nooit nodig vir my nie. Want ek sou beslis gefaal het! 21. Maar steeds doen Jesus sy reputasie as gewer van genade gestand. Steeds reik Hy uit na ‘n verlorene, steeds probeer Hy om hierdie verraaier terug te trek na die koninkryk van God toe. Steeds behandel Hy die grootste misdadiger in die geskiedenis as ‘n eregas, probeer Hy Judas oortuig om nie van Hom af weg te draai nie. Nog genade, in genadetyd. 22. Maar wat van ons dag tot dag bestaan? Die tye wat daar elke dag wel van ons verwag word om liefde te bewys? Sal ek my grootste vyand se voete was, hom of haar as ‘n eregas behandel, en hulle steeds aanspreek as vriend of vriedin? Nee, beslis nie. Nie ek nie! Maar ook hierin was Jesus vir ons tot voorbeeld. 23. ‘n Paar verse verder, in hfst 15:12 se Jesus hierdie woorde: “Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhe soos ek julle liefhet”. Julle moet mekaar liefhe soos ek elke sondaar liefhet. Ja, julle moet mekaar liefhe soos ek steeds vir Judas liefhet. Ten spyte van….. 24. Het ons so lief? Dis maklik om sekere mense in ons lewens lief te hê. Hulle wat vir ons goed is, wat reg teenoor ons optree. Wat mooi dinge vir ons doen. Dis maklik om hulle lief te he. Maar Jesus verwag meer as dit. Matteus 5 – Julle moet julle vyande liefhe!!! 25. Die sogenaamde Judasse by die werk. Hulle wat u agter u rug beskinder. Hulle wat alles sal doen om u in die rug te steek net om in die werkgewer se goeie boekies te kom. U en ek word geroep om op ‘n geestelike wyse hulle voete te was, hulle as eregaste te behandel, hulle vriend en vriendin te noem. Ten spyte van….. 26. Vereis Christus dit regtig van ons? Beslis! Gaan dit maklik wees? Beslis nie! Gaan dit enige voordeel vir u en my inhou? Baie beslis. Want niks is so lonend soos om binne die wil van God te bly nie. Vra maar vir elkeen van Jesus se dissipels. Maar niks kan soveel hel veroorsaak as om weg te draai van sy wil af nie. Vra maar vir Judas! 27. Judas het sy laaste geleentheid op God se genade van die hand gewys. En hy het nooit weer hierdie geleentheid gehad nie. U en ek beleef elke dag ‘n nuwe handvol genade van God. Kom ons gryp dit aan. Kom ons maak gebruik van elke geleentheid om God se genade te beleef, want niemand van ons weet of ons ooit weer die geleentheid gaan kry nie. Ons weet nie of more vir ons beskore is nie. Daarom is vandag se offer van genade uit God se hand van alle belang. AMEN!