Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 5: 43 - 48 So, ons het die ander wang gedraai, die soldaat se swaar pak ‘n ekstra myl gedra en ons het die ou wat ons hof toe gesleep het, gehelp. Wat maak ek nou met al die emosies wat hulle in my losgemaak het? Hoe gemaak met mense wat jou haat, baie keer sonder om jou eers persoonlik te ken? Haat kan nie haat uitdryf nie. Donkerte kan nie donkerte minder donker maak nie. Dit vat lig, al is dit net ‘n bietjie, om die donkerte minder donker te laat wees. Hierdie deel gaan oor daardie flou liggie wat al hoe sterker begin brand sodat die wêreld God kan leer ken en ‘n beter plek word. Jesus gebruik nie hier die beeld van lig en donkerte nie. Maar as jy in ‘n pik stik donker vertek sit en daar is geen lig, dan is al wat jy sien donkerte. Tot iemand ‘n lig aansteek, al trek hulle net ‘n vuurhoutjie, en alles verander. Jesus was soos daardie vuurhoudjie. En nou brand Sy lig in jou en my. As jy in ‘n land so vol van haat en misdaad en lelik leef, dan word elke stukkie liefde geleef, soos ‘n vuurhoudjie getrek wat die donkerte wegdruk. Wees jy daardie vuurhoutjie. Wees jy daardie lig wat die siklus van haat en geweld en verdagmakery breek en die kans skep vir iets nuuts om te gebeur. Ons het dit geleer in die vorige deel oor ander wang draai en ekstra myl loop en mense help: Breek die siklus. Hierdie verse is belangrik. Dit is sleutelverse vir alles wat Jesus geleer het. Dit is tot by hierdie punt wat alles wat Jesus vanaf hoofstuk 5 vers 17 gesê het opbou. Ek is hierdie week getref deur een sinnetjie spesifiek: “45 sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel.” Sien jy die sodat? Sien jy ook dat hier staan “sodat jy ‘n kind van God kan wees”? Hierdie verse is nie opsioneel nie. En wat dit nog duideliker maak is die opdrag in vers 48 “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” Hier is niks opsioneels of onderhandelbaar nie. Jesus se bedoeling is dood duidelik daar kan geen skuiwergate wees as dit kom by die liefdesgebod. Dit is immers die samevatting van die hele wet en die profete. Hierdie is die hoogtepunt van “ die mense sê maar Ek sê vir julle” gesprekke van Jesus. Hy vat ‘n algemene siening van daardie tyd aan. ‘n Interpretasie wat in die Qumran voorgekom het, wat almal geken het en sekerlik baie byval gevind het by mense. ‘n Volgeling van Jesus word geken aan die vrug van die Gees: Liefde, vreugde, vrede ens. Maar daar is altyd mense wat kies om teen jou te draai. Soos bv die kwaadwillige mens van laas week vir wie jy die ander wang draai, of sy goed ‘n ekstra myl dra. Of soos in 5: 11 waar Jesus ons waarsku: “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.” Ek moet iets baie belangriks uit wys: God is nie soos die wêreld nie. Jesus is nie soos die wêreld nie. Wie kinders van God is is ook nie soos die wêreld nie. Jesus maak ons anders. Die Heilige gees laat ons anders optreë. En die andersheid kan gesien word in ons liefde vir alle mense. Selfs vir ons vyande. Daarom bid ons selfs vir die wat ons vervolg.Ons vra God om ook aan hulle Sy genade te gee. Om ook hulle te help en mooi dinge oor hul pad te bring en hulle lief te hê. Ons bid nie net vir hulle nie, ons het hulle lief. Ons doen dinge wat omgee wys. Ons maak nie terug seer of benadeel hulle nie in weerwraak nie. Geen terug kry aksies nie. Ek besef dat in ons taal is ‘n mooi waarskuwings lig wat opflikker as ek begin weg beweeg van liefhê af. Dit is die woordjies “hulle en julle.” Meestal as ons die woordjies gebruik is die kans goed dat ons dalk liefdelose goed gaan sê of doen. ‘n Dissipel van Jesus, mense soos ons wat agter Jesus aan leef en by Hom leer, hou ander mense verhoudings vas en laat dit nie sommer maar net verbrokkel nie. Ons bou brûe, en breek die mure wat skeiding maak af. Nie met geweld of skerp woorde of argumente nie maar eerder met liefde. ‘n Mooi definisie is in Matteus 7: 12: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.” Romeine 12 sê ons moet opreg wees in ons liefde, respek en eerbied vertoon aan ander, ons vervolgers seën en nie kwaad met kwaad vergeld nie, ook nie wraak neem nie. Gee eerder vir jou vyand kos as hy honger is en as hy dors is iets om te drink. En dan die mooi vers 21 “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” Moeilik? Onmoontlik? Nee. Omtrent elke dag van my lewe bid ek dat die Here my moet vorm en my moet vul met Sy teenwoordigheid en liefde en genade. Ek gee dan ook in daardie gebed my eie belange, my begeerte aan mag, sekuriteit eie-ek ens weg en maak my oop vir God alleen om in my te bly. En ek glo en ek vertrou dat God ook my sal vorm tot ‘n kleipot waaruit Sy liefde kan stroom. God se genade vir jou en my maak dit amper onmoontlik om ‘n verskil te probeer trek tussen goeie en slegte mense, mense wat ek kan lief het en mense wat ek voel is teveel gevra om lief te hê. Romeine 5 “8 Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 10 Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word.” Toe ons nog sondaars was. Toe ons nog vyande was. Toe het God al Sy liefde aan ons bewys. Paulus beveel aan dat ons die liefde moet nastreef. (1 Kor 14:1). Hy sê dit direk na sy bekende gedig oor die liefde. Maak dit jou fokus elke dag om mense lief te hê. Om goed te doen aan mense. Om repekvol te wees en geduldig met ander en glad nie liggeraak nie (1 Kor 13). Haat verander niemand nie. Wette ook nie. Maar God se liefde verander mense. Vra jouself nie of daardie mens dit werd is om lief gehê te word nie. Vat jouself eerder terug na God se liefde vir jou toe jy dit nie werd was nie en vat jouself terug na jou besluit om Jesus in jou lewe in te nooi en Hom te volg. Kies dan die smal pad van om alle mense met liefde te hanteer. Kan ek net weer sê? Dit vra ‘n hart hierbinne in jou wat deur God verander is en elke dag opnuut by God volgemaak word met liefde en genade en wat ookal God weet jy hierdie dag gaan nodig hê. God se liefde het my en vir jou verander. Laat die verandering nou verder vloei na ander. Laat God se liefde deur jou vloei. “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is. (5: 48)”.