Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 5: 33 – 37 Jesus het gesê: Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” “20 Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg.” En so het Jesus ook vir die seuns van Sebedeus geroep en ook hulle het dadelik die skuit en hulle pa verlaat en vir Jesus gevolg. Wat my soos ‘n skoot tussen die oë tref en skoon uitboul: Hulle het netso weg gestap van hul loopbane, hul sekuriteite, die lewe soos hulle dit tot daar toe geken het, en Jesus gevolg. Ek wonder ook wat sou gebeur het as Petrus en Jakobus en Johannes en ander gesê het: Ja Here, ons sal U volg, maar dis waar dit gebly het, net by woorde? 1. Die nuwe jy Ek wonder oor die dinge want op ‘n manier konfronteer Jesus ons met dieselfde. Hy sê vir jou en my: Volg My. Petrus hulle en van die ander moes alles net so los. Vir jou los Jesus dalk net waar jy is tussen jul huismense en by jou werk en in jou vriendekring en sê Jesus volg My sodat hulle My in jou kan sien. En ek besef dit beteken ek moet wegstap van my eie-ek af. Vanoggend beteken dit ek moet anders dink oor my huwelik en oor egskeiding. En laas week moes ek begin anders dink en anders doen oor hoe ek na die ander geslag kyk en die week voor dit oor hoe ek oor ander mense praat en voel. En ek besef: Die Here is stelselmatig besig om ons te vorm in ‘n beter manier van leef en wees in. Elke deel wat ons lees vra ons om anders te begin dink. En saam met dit om anders te wees. En anders te doen. Vanoggend se deel sê “Laat jou ja wees en jou nee nee. Wees bekend daarvoor sodat jy nie hoef te sweer om gewig aan jou woorde te verleen nie. As ek met die gedagte teruggaan na waarmee ons begin het: Wat sou gebeur het as Petrus en die ander ja gesê vir Jesus maar doodgewoon aangegaan het met hulle ou manier van leef? Wat as hulle ja nie regtig ja was nie? Dalk iets was soos ja Here ek volg U maar ek gaan ook my eie kop volg? Ja Here, ek glo in U maar ek gaan so en so nie vergewe nie? Of kom ons vat ons teks vir vandag. Ons almal het iewers beloftes aan die Here gemaak. Bv lidmaatsbelofte: “Bely jy dat die Here Jesus Christus jou persoonlike Verlosser is en dat jy Hom lief het? Beloof jy om Hom te dien, Sy Naam getrou te bely voor die mense en om aktief aan die werksaamhede van die kerk deel te neem?” En ons het ja hierop geantwoord. Ons het dit belowe. Hier voor ons nagmaalstafel toe gaan vra ons onsself, het ek my woord wat ek aan die Here en aan Sy kerk voor die gemeente gegee het, gehou? Was my ja aan die Here werklik ja? Kans vir selfondersoek. Bely dit.: GEBED. Kom ons haal die teks uitmekaar uit. 2. Die Vinnige ja. In daardie tyd was dit ‘n groot ding. En dit was algemeen. Mense het ‘n eed gesweer om gewig aan hul argument te verleen. Die skrywer van Hebreërs (6:16) spel dit nogals mooi uit: “Mense lê 'n eed af by iemand groter as hulleself. Vir hulle is dit die bevestiging van 'n saak, en dit sluit alle teëspraak uit.” So die mense het gesweer by die son of die maan, dikwels by God self. En daarom, so meen hulle, omdat God waar is is wat hulle sê ook waar. Mense het dit misbruik.So die skrifgeleerdes het die mense geleer dat enige eed in die naam van die Here gesweer, moet jy nakom. Hier sê Jesus nee. Moet liewers glad nie ‘n eed aflê nie. Jou lewe moet so wees dat ‘n eed totaal onnodig is. Almal sal dadelik weet jy hou by die waarheid. Jy doen wat jy belowe. Daar is ‘n nederigheid hier in die sin van die besef dat ek my woorde moet min hou want ek kan nie eers “een haar op my kop wit of swart maak nie.(vers 36). “Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.” Weet jy wat? Hierdie hele ding van eed sweer of ‘n lang storie spin om iemand te oortuig, wys eintlik net jy het geen of min respek vir daardie persoon nie. En as daar nie respek is nie is daar ook nie liefde nie en het jy God se gebod oortreë. Die waarheid, eerlik sonder fieterjasies. Mense moet kan peiltrek op wat jy sê. Dit sê nogals baie dat Jesus reguit sê onnodige ede en vals getuienis en misleidende stories is van die Bose. ‘n Oorvloed van woorde, leë woorde veral is nie God se manier nie. En ja, soos in ‘n hof is daar ‘n tyd wat jy onder eed moet getuig. Sorg dan dat dit die waarheid is en net die waarheid. Ons leef steeds in tye waar mense se woord nie veel beteken nie. Ek weet as kinders het ons vir mekaar gesê op my woord of op my ere woord. Wat ookal die bedoeling was, jy het die gewoonlik gesê om ‘n verskil by te lê. En dan word ‘n mens groter en jy los die dinge. Die meeste van ons sal nie ‘n eed sweer oor sommer enigiets nie. Ons is nogals versigtig want ons wil nie hierdie deel oortreë nie, maar ons ja is nie altyd ’n suiwer ja nie. Ek lees ‘n ruk terug aan ‘n boek oor onderhandelings vaardighede waarin die skrywer sê jy moet nie te gou by ja uitkom nie. Of te bly raak dat iemand sommer gou ja sê in onderhandelinge nie. As jy onderhandel en die persoon stem dadeik in, kan jy jou solank reg maak daarvoor dat niks gaan gebeur nie. Die vinnige ja, is net ‘n manier van tyd wen. Ek het al geleer dar sommige ja’s is net geldig tot die persoon ‘n beter of meer gepaste verskoning kan kry. Bv ja ek sal by die vergadering wees en intussen hoop die persoon op‘n ander afspraak sodat iets kan voor val. Of mense sal belowe hulle sal by die funksie wees. En as jy die week daarna opmerk dat jy hulle gemis het, dan hoor jy “was dit hierdie naweek? Ek het skoon vergeet.” En soms vergeet ons regtig. Ek het onlangs ‘n huisbesoek afspraak gemis want ek het vergeet dat ek dit gereel het en toe gaan woon ek ‘n vergadering by. Het baie sleg gevoel. En mooi om verskoning gevra want ek was uit en uit verkeerd. Wat Jesus hier aanspreek het ook in ons tyd ‘n epidemie geword. ‘n Meer praktiese onderwerp kan jy seker nie kry nie. Politici en groot maatskappy huur deesdae sg “spin dokters”, mense wat ‘n lewe daaruit maak om waarhede en soms verkeerdhede te verdraai om hul klient beter te laat lyk. Professionele mense wat gehuur word om ‘n nee te laat lyk soos ‘n ja. Verlede jaar was daar ‘n hofsaak waar ‘n getuie in die hof onder eed leuens vertel het. So is daar baie mense wat sonder om te blik of te bloos vir jou in jou gesig sal jok. Hierdie gebod, is steeds ‘n ernstige saak. Jesus vat dit net verder as om die Here jou God se Naam ydelik te gebruik. Jou hart moet van so ‘n aard wees dat jy nie eers in die klein dinge nodig het om gewig aan jou woorde te verleen deur te sweer op die Bybel of op jou ma se naam of wat ookal nie. Jou ja is jou ja. Jou woord is betroubaar. Dalk moet ons ook begin besef dat ons soms met die beste bedoelings en voornemens iets onderneem en dan kan ons dit nie nakom nie. Ek dink aan die nederigheid waarvan Jakobus praat – ek noem dit nederig – moet nie sê more sal ek dit of dat doen nie, want ons weet nie of ons more nog leef nie. Sê eerder as die Here wil dan ... In my eie lewe het ek al vir iemand gesê ek sien jou oor twee weke en dan is daar krisis op krisis, hospitale en dood oa en dan kan ek nie my ja na kom nie. Wees spaarsamig met die woorde. Jy weet nie wat kom nie. Nog beter is om jou woorde min te laat wees. Soos Prediker dit stel. 5:1 “Moenie te gou praat nie, moenie oorhaastig 'n belofte aan God maak nie, want Hy is in die hemel en jy op die aarde. 2 Laat jou woorde daarom min wees. Baie doenigheid bring drome, baie praat lei tot onverstandige woorde.” Dit is goed om dit te onthou. Ek dink nie ons besef die erns van ons beloftes aan God nie. Bv As ons trou dan belowe ons ‘n paar dinge aan mekaar. As ons daardie beloftes nie hou nie dan moet ons deur ‘n proses van egskeiding gaan. Jy voel dit en jy beleef dit intens en pynlik. As jy jou beloftes aan God laat gaan, dan is daar nie ‘n pynlike proses wat hier en nou uitspeel nie. Dit kom staan net tussen God en jou soos ‘n olifant in ‘n vertrek waaroor niemand praat nie en jy probeer dit ignoreer. En as jy wonder oor watse beloftes het jy aan die Here gemaak? Wel, het jy nie jou lewe vir God gegee nie? Was dit nie soos ‘n ja vir God en toe verander jy dit met die tyd saam weer in ‘n nee? So ook toe jy belydenis afgelê het en nou is daardie ja ek sal U dien ‘n nee iemand anders kan dit doen. Daar is ook nog doop beloftes en die beloftes om as ouderling of diaken te dien. In Johannes sê Jesus “Ek is die weg, die waarheid en die lewe.” En Hy is dit en meer. Dit is hoekom ons Hom glo en dien en volg. Kom ons laat dit ook ons inspirasie wees vir ons woorde en lewe. Ook ons laat ons ja ja wees en ons nee nee. (Oorgang). Op hierdie reis met Jesus, waar ons ons oopmaak om deur Hom geleer en gevorm te word, reik Jesus ook op ‘n ander manier uit na ons wat eeue na die kruis Hom volg. Die nagmaal is deel van ons vorming. Ons word deur die Heilige Gees verbind aan God se ja. Ons word verbind aan alles wat Jesus kom doen het, Sy lyding, Sy kruisiging en dood en ook aan Sy opstanding uit die dood. Ek hoop en bid dat jy vanoggend God se ja raaksien en dat dit net dit is: ‘n ja vir jou. So, kom, maak oop jou lewe vir God, volledig oop, en begin die beloftes wat jy maak hou, laat jou ja ook net dit wees: ‘n ja vir God. As jy dan vandag opnuut jou lewe aan jou Redder gee, laat dit dan so bly, jou lewe in Sy hande. Moet nie jou lewe probeer terug vat net omdat jy voel jy mis jou ou uitgediende self nie. Vertrou die Here jou God.