Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 5: 27 – 31 Van binne na buite. Olywe aan ‘n olyfboom. Vye aan ‘n vyeboom. Spreuke hammer die waarheid tuis: Oppas wat in jou hart omgaan want dit bepaal wat jy more doen(4:23 en 27:19). Maw ‘n vyeboom gaan niemand kan oortuig dat dit ‘n olyfboom is deur net ‘n paar olywe aan haar takke vas te maak. Iemand anders het gesê dat dit wat jy doen as niemand jou sien nie, is wie jy eintlik is. En nog iemand anders het gereken dat baie mense sal bv in hul gedagtes ‘n affair hê maar getrou bly aan hul huweliksmaats tot op ‘n dag wat ‘n geleentheid voordoen en hul dink niemand sal ooit uitvind nie en dan is dit maar so. Dallas Willard reken dat, behalwe dat Jesus hier besig is met dele van die 10 gebooie, het Jesus dalk net ook opgemerk dat van die manne van daardie tyd nooit ontrou teenoor hulle vroue sou wees nie. Hulle het hulself gesien as ‘n voorbeeld vir ander selfs. Hulle was immers wets getroue manne. Maar dieselfde manne sou, as ‘n mooi vrou verby kom hulle verkyk en haar agterna kyk en met die oë uittrek. Hul begeertes het uit hul oë gestraal. Dit was ooglopend duidelik hulle het dit geniet om hul verbeelding vrye teuels te gee as dit kom by vroue. Net die verbeelding, jy weet. Net so ‘n onskuldige fantasie jy weet. Dis mos onskuldig. Of is dit? Dit is so maklik om fokus te verloor in die bergrede. En as jy eers fokus verloor dan word dit ‘n klomp moets en moenies. ‘n Stok om jouself mee te pynig want dit voel onhaalbaar. Of ‘n stok om iemand anders mee te slaan. So laat ek liewers dit wat ek sê kwalifiseer. Want Jesus het iets totaal anders in die oog gehad. Dit gaan nie soseer oor doen, of fantaseer of verkyk of wat ookal nie. Dit gaan hier oor wees. Wie jy is, hier diep binne is is belangriker as wat jy doen. En as jou hart hier diep binne regtig by God is, vol liefde vir God, dan doen jy alles op ander maniere. Die bergrede is nie ‘n nuwe lys van dinge om te doen en ander om nie te doen nie. Ja, ons moet regtig nie gaan rondslaap nie, en dis regtig beter om nie iemand anders te begeer nie, trouens dis beter om nie enigiets van iemand ander te wil hê nie. Want iewers gaan jy in ‘n situasie beland waar jy verkeerde dinge doen. Iewers, as die omstandighede so is dat jy dink maar niemand gaan weet nie, gaan jy opvolg op die begeertes of gedagtes wat jy so lekker in jou kop mee besig was. Jesus in die bergrede wil ons toeweiding aan God dieper as net die 10 gebooie neem. Meer laat wees as net moets en moenies. Jesus sny na ons harte toe. Na ons diepste wees. Kom ons kyk na Job se hart. Baie geleerdes meen Job is een van die oudste boeke in die Bybel. Job 31, waar Job sy onskuld bepleit, waar hy vir sy vriende vertel maar hy is nie skuldig aan al die sondes wat hulle meen hy moes gepleeg het nie. Hier sien ‘n mens iets van Job se hart. 1 “Ek het my plegtig verbind om nie na 'n meisie te kyk en haar te begeer nie.” 7” As ek die spoor byster geraak het, my deur my begeerte laat lei het en my hande besoedel het,8 laat ander mense eet wat ek gesaai het, of laat my gesaaides uitgeruk word. 9 “As ek my deur 'n ander se vrou laat verlei het en gretig geloer het na my buurman se deur, laat mý vrou dan vir 'n ander man koring maal, laat ander by haar slaap.” Job het, as ek die Hebreeus letterlik vertaal, ‘n ooreenkoms met sy oë gesluit om nie met begeertes na ‘n meisie te kyk nie. Job se hele pleidooi is dat sy hart reg is, sy hart is by God. En elke gedagte is oop voor God, so hoe sou hy ooit staande voor God kan bly? Jesus maak dit oor die hart. Want as dit oor moenies gaan, bv moet nie met begeertes na ‘n ander vrou kyk nie, dan sal ons kreatiewe maniere kry om dit te omseil. Soos bv moenie kwaad word vir jou broer nie. So ons het gesegdes deesdae wat sê (bumperstickers ook) “I don’t get mad, I just get even.” En dan dink ek is nog okay met God. Ek probeer hard om te onthou, is daar nie gesê in die volksmond dat daar drie dinge is wat mense maklik laat struikel nie? Mag, seks en rykdom? Kyk na hierdie aanhaling: “When the heart is ready, the action will occur as occasion offers.” (Dallas Willard in The Divine Conspiracy). Jy het diewe wat steel. Dis hoe en wie hulle is. En dan het jy ouens wat hulself nie sien as diewe nie maar as die geleenheid dit voor doen, en as hul seker is hulle sal nie gevang word nie, dan gaan hulle vat wat hulle nog altyd begeer het. So met die droogte saam, net toe die reën kom, het ek gesien van die boere het al gesaai. En ander het nog gewag. Daar het niks in die lande gebeur. En toe kom die reën en saam met die reën het die saadjies wat reeds in die grond was ontkiem en begin groei. En skielik was daar rye op rye klein plantjies van so twee duim hoog. En in die lande waar niks vooraf gesaai is nie was daar niks. Sonde begin in jou kop. En sonde se teelaarde is in jou hart. ‘n Hart wat nie volledig oorgegee is aan God nie skep maklik ruimte vir verkeerde saad om te groei en dan eindig jy op met ‘n hartseer wat jy nooit wou gehad het nie. En dan is dit te laat om te sê ek nooit bedoel om te, of voor ek myself kon kry toe het ek klaar ... Kom ons kyk nou bietjie nader na vers 28. “Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.” Die oorspronklike Grieks is ‘n bietjie meer letterlik. Daar staan “elkeen wat na ‘n vrou kyk met die intensie (of die bedoeling) om haar te begeer”. Die betekenis skuif so ietwat. Maar die hart, as jy soos Job kyk, dan kyk jy nie met die intensie om te begeer nie. Jy kyk nie met bybedoelings nie. Jy laat haar nie vuil voel nie. Ons moet nie die fout maak om aksies of dade te probeer bestuur nie. Ons moet fokus op wat ons in ons laat leef. Wat ons heeldag in ons koppe toelaat is wat gaan uitkom. So dink weer oor die films wat jy kyk, die tipe boeke wat jy lees. Dit kan dalk net verkeerde saad saai in ‘n hart wat liewers met God gevul moet wees. Laaste wwoorde oor die afkap van hande en ledemate. Jy kan jou oë laat uitsteek omdat hulle met begeerte kyk; jy kan jou hande afkap omdat hulle steel en nog steeds met stompies en al hel toe gaan omdat sonde eerstens ‘n innerlike ding is wat van binne na buite kom. So as jy wil redeneer in terme van moets en moenies en jy sukkel met verkeerde begeertes kap dan jou hande af en steek jou oë uit. Dalk help dit jou so ‘n bietjie. As jy vra na die oorsaak van my begeertes. Dan ... dan kap jy niks af nie, jy draai na God en vra Hom om jou te reinig. Gee jou hart vir die Here. Die beheersentrum vir God.