Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 5: 21 - 26 Jesus is besig om ons te leer om dieselfde geloof te hê as Hy. Ek kan net sê: Jesus is besig om my te verander, en ek hou van wat Hy doen. Selfs met ongemaklike dele soos hierdie. Hy werk met my van drie kante af. Soos ‘n driehoek. Daar is ervaring (kant 1), interaksie met die Heilige Gees (kant 2) en geestelike dissipline soos bv gebed, Bybelstudie, stilte, eredienste wat sy 3 vorm. Kom ons vat hierdie deel. Ons almal het al ervaar dat iemand iets teen jou kan hê, ons ken die frustrasie met mense wat maak dat jy hulle mooi wil vertel hoe jy dink hulle is, bv ‘n idioot of ‘n dwaas. Die Heilige Gees staan langs ons in hierdie ervarings en herinner ons elke keer dat ons self stukkend is. Dat ook ek alweer vir God om genade moet smeek. En daar kom ‘n hartseer in my dat so iets leliks ooit uit my kon kom. En nou bid ek anders. Dis kant 1. So as die lewe gebeur en mense soos mense optree, vra jouself af: Watter leemtes lê dit bloot in my? Wat moet ek nou voor die Here bely? En wat lê agter die woorde? (dit moet ook bely word). Kant 2 is die interaksie met die Heilige Gees (as jy jou offer na die altaar bring) en laastens, watter geestelike dissipline moet ek meer op fokus? Hier bv. Versoening; vrede maak. Ook die dissiplines van vergifnis en selfbeheersing. Dit is hoe Jesus ons groei en ons vorm om soos Hy te kan glo en wees. 1. Jesus se ervarings Dink vir ‘n oomblik oor Jesus. Ons weet van Sy geboorte en dan van toe Hy Sy aardse werk vir God voltyds aangepak het. Maar wat lê tussen in? Jesus was in die eerste plek vir die grootste deel van Sy aardse lewe ‘n ambagsman. Hy het met hout gewerk. Hy het eelte op Sy hande gehad. Hy het soos ons die werksding gedoen en die oorleef ding. Hy het ook met al die mooi en die lelik van mense te doen gekry. Daar was nog altyd mense wat niks en niemand ontsien en hulle onguurheid orals laat lostrek. Dalk self op Hom geskree het omdat hulle die werk gister al klaar wou gehad het. Mense wat ook met Hom ongeskik was. Nie wou betaal vir werk gedoen nie. Nooit tevrede nie. Jakobus, die klein boetie van Jesus moes seker deur daardie jare gesien het hoe Jesus al hierdie dinge hanteer het. Hoe Jesus die moeilike mense hanteer. En die oneerlikes en die kwaadpraters en die venyniges en en en. Miskien is dit hoekom Jakobus in sy brief aan die kerk geskryf het dat ons dankbaar moet wees as mense moeilik met ons is en allerhande moeilike dinge gebeur. “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming. (Jak 1: 2 - 4)” Jakobus moes gesien het hoe ouboet Jesus geleef het dit wat Hy jare later sou preek. Ek laat my nie vertel dat Jakobus, al het hy toe nie in Jesus geglo nie, nie gesien het dat Jesus mense anders hanteer het nie. Of ten minste, dat Jakobus na sy bekering, kon terug kyk en dit toe raak gesien het. Wat sê Jakobus? Jy moet dit verwelkom as mense of omstandighede soms moeilik raak. Dit is ‘n toets vir jou geloof. Dit is ‘n groei geleentheid. So moenie mense sleg sê en hulle name begin noem of, ... as dit in die verkeer is in ongeduld op jou motor se toeter lê en allerhande tekens begin wys nie. Moet liewers nie want jy mis ‘n groei oomblik met God. 2. Waarheen is Jesus oppad met ons? Wat ek nou gaan sê is belangrik. Ek gaan jou wys waarheen Jesus met jou en my oppad is, hoe Jesus wil hê ons moet wees as ons deur hierdie deel en die volgende weke se dele gegroei het. Matteus 5: 21 tot 48 is die tweede tafel van die tien gebooie. Jesus vat hulle terug na hoe God hierdie gebooie bedoel het. Dit is sommer dadelik duidelik hier is meer aan as wat die Fariseërs geleer het. En dit is anders as wat mense vandag leef. O ja, Jesus los die 5de en 8ste gebod hier uit. Jesus vat ons van moenie moord pleeg nie, moet nie eers iemand skel nie, na ‘n punt waar Hy kan sê in die koninkryk van God het jy alle mense lief. Daar het jy nie net die lief wat jou terug gaan lief hê nie. Nee. Jy het ook hulle lief wat kies om jou te haat. Jy groet selfs die mense wat teen jou is. En Hy sluit die onder afdeling af met die woorde in vers 48: “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” Wat keer ons om te leef soos Jesus? Jesus sê ons oorgelewerde gebruike. Vir die Jode was dit die oorvertel van die wet. Later in die Talmoed opgeteken. Met al die stukke wat die Fariseers bygelas het. By ons is dit ons ongeskrewe reëls oor man wees, vrou wees, jou self handhaaf. Die probleem lê by goed wat ons nie eers oor dink nie. Die ou lêers in ons stoorkamer wat nog oop is. Kom ek verduidelik met twee stories. Ek noem dit sommer die storie van die skottelgoedwasser en die plaasboer. Kom ons begin by die skottelgoedwasser. Vir die fariseers sê Jesus dis regtig nie baie skerp om die buitekant van ‘n beker te was en die binnekant te ignoreer nie. Die binnekant gaan nogsteeds vuil wees van al hul inhaligheid en eie ek en hulle ek-eerste-houdings wees. (Matt 23: 25 ev). Dit maak baie meer sin om die binnekant deeglik uit te was en voor jy weet is die buitekant ook aansienlik skoner. (my parafrase). Ek is in ‘n versoeking om die deel op te som en te sê ons moet ons taal skoon maak. Maak skoon jou kritiek. Of ons nou sport praat, of politiek, of sommer net oor iets wat ‘n ander gedoen het, maak skoon jou taal. Koninkryksmense is nie afbrekend of beledigend nie. Dit gaan nie help om net jou taal te suiwer nie. Taal is die buitekant van die beker, so as jy die skottegoed van jou lewe was, en jou taal en ander gedrag suiwer, dan is die binnekant steeds vuil en die “kieme” sit. Jy moet laat God jou hart, jou binnekant skoonmaak. Die lewe gebeur van binne na buite. Die fariseers het die mense geleer hulle mag nie moord pleeg nie. Maar hulle was okay daarmee om Jesus uit die weg te laar ruim. En Lasarus ook. Jesus sê nee, daar is meer aan hierdie gebod oor moord, as net dit. Jy mag nie kwaad wees vir jou broer nie. Want kwaad wees voor God is iets wat die doodstraf verdien. Kwaad wees in die saadjie vir moord. En as Jesus nou verder uitbrei op dit dan trek Hy dit in die eredienste in en daarna regdeur tot by die howe. En elke keer loop dit uit op versoening. Gaan kry uit die pad uit dit wat moeilikheid tussen jou en ander maak. Die plaasboer. Jesus het raakgesien dat ‘n goeie boom dra goeie vrugte en ‘n swak boom dra slegte vrugte (Lukas 6: 43 – 45). En Jesus se kleinboet Jakobus het die opmerking gemaak dat ‘n vyeboom kan nie olywe dra nie, en ‘n olyfboom nie vye nie. Maw dit wat ons doen kom van iewers af. As jy iemand uitskel vir ‘n idioot of ‘n gek of wat ookal, dan kom dit van ‘n plek hier diep binne in jou waar dinge nie okay is nie. Waar die vlekke van ou seerkry en haat en hoogmoed en woede en frustrasie en dalk nog erger goed sit. Die binnekant van jou bekertjie moet skoon gewas word. Gaan terug na Jesus. Vra Hom om jou binne skoon te was. Tot diep binne. Sodat jy vrugte kan dra wat pas by ‘n gelowige. Jy kan my voorbeeld volg in die sin dat ek elke dag bid dat ek my eie-ek weg gee en ook my behoeftes laat vaar sodat God my meer volledig kan beheer. Ek moet uit die pad uit kom. Ek wil nie in God se pad wees nie. En ek bid dat Hy my diep binne sal skoonwas. Ons kort ‘n oorbegin. Nie ‘n aan gaan van waar ons is nie. Maar ‘n diepgaande skrop aan die binnekant. Besef jy dat jy nie hierdie goed in jou lewe nodig het nie? Daar is ‘n beter lewe in Christus te leef, sonder kwaad word en waar jy nie die nodigheid voel om ander te beledig of sleg te sê nie. 3. Om soos Jesus lief te hê. Jesus sonder kwaad word hier uit. Dit is ‘n moeilike een want dit is ‘n emosie wat oor jou toesak soos ‘n miswolk van nêrens af. Dit is ook ‘n aangeleerde gedrag waar jy by ander gesien het of self besluit het dat in sulke situasie word mens kwaad. En in sommige gevalle baie kwaad. Want dan gaan ek my sin kry. Wel, Paulus sê, jy kan kwaad word, moet net nie sonde doen nie (Efes 4) en in Kol 3: 8 skryf hy “Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek.”. Jesus wil eerder hê dat jou verhouding met God so sal wees dat woede of kwaad word, nie eers meer ‘n reaksie is nie. Liefde moet ons standaard reaksie word. Ons oordeel of veroordeel niemand nie. Ons kyk nie neer op hulle nie. Ons skel hulle nie met allerlei goedgekose name nie. Al dink ons hulle verdien dit. God het ons nie gegee wat ons verdien nie. Daarom: Ons het lief soos God ons lief het. As jy mooi dink dan besef jy dit gaan in hierdie deel oor versoening. Oor gesonde verhoudinge met ande mense te hê. En as ek die geheel lees dan besef ek my eie-ek moet gaan en ek moet die hart van Christus in my hê. ‘n Hart wat die seerkry vergewe, steeds lief het, self bloei twv ander. Ons enigste hoop is afhanlikheid van God. Om die Heilige Gees die ruimte te gee om egte vrugte van geloof vanuit ons binneste voort te brig. Mag die Heilige Gees ons vorm en oopmaak en vernuwe. Mag Hy ons tot diep binnekant reinig. En die derde been van ons groei driehoek is ons wat nou gaan bid en daarna gaan doen soos die Heilige Gees ons vorm. . Mag die Here jou seën in dit.