Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 5: 17 - 20 Watter vissie in hierdie foto dink jy is die gelukkigste? Ons het geleer om geseënd te wees deur God is baie anders as wat die wêreld sê. Want geseënd wees by God het ‘n gerigtheid op God en op ander. Een van die siektes van Suid Afrika is dat almal kyk waarmee kan hulle wegkom. Nie net met belasting betaal nie. Maar deur die minimum te doen. Die minimum te gee. Net genoeg dat jy kan goed lyk. En as jy wil weet of dit langtermyn gaan werk, gaan lees net weer Israel se storie in die Bybel. Hulle wat tot seën van die wêreld moes wees het in ballinngskap opgeeindig. Dallas Willard het hierdie sêding: “Trying merely to keep the law is not wholly unlike trying to make an apple tree bear peaches by tying peaches to its branches.” Wat Jesus sê in hierdie deel is jy moet meer doen as om net moets en moenies aan jou lewe vas te bind. Jy moet meer leef as om net God met uiterlike dinge te paai. Bv ek gaan so nou en dan eredienste toe. Ek gee my dankoffer. Ek ondersteun die basaar. En die mooi troos een: ek voel net nie reg as ek nie elke aand ‘n versie of twee in die Bybel lees nie. As Jesus sê meer as dan hoor ek baie duidelik: dat ek eredienste toe gaan omdat ek God lief het en ook hierdie kosbare oomblikke saam met ander gelowiges by God wil deurbring. Ek gaan nie vir die dominie of die pastoor of die hype nie. Ek kom want God is hier, en ek het Hom lief. Dis meer as. Die fariseers in Jesus se tyd het ook tiendes gegee. Presies bereken, tot ‘n tiende van goed waarop hulle glad nie ‘n tiende hoef te gegee het nie, kruie uit hul kruietuintjies. En as jy dink dis wow, dink weer, want hulle doen dit om gesien en deur mense bewonder te word. Meer as is as ek my dankoffer gee, dan gee ek my tiende, want Maleagi sê met die gee van my tiende eer ek die Here my God. So ek gee vreugdevol want ek gee dit vir Hom vir wie ek lief het. En as die bank laat weet my geldjies is inbetaal, dan sit ek en ek sê dankie Here, en hoe kan ek U hiermee dien. Die fariseers het gesorg dat hulle toevallig op straat is as die Joodse gebedstye aanbreek, en dan net daar dan gooi hulle hul gebedsdoek oor die hoof en bid ... maar dis nie toegewydheid nie ... dit is om deur mense gesien te word. Meer as ... is om te bid en in stilte by God te sit met die hoop om iets te hoor by God, nie om iets te kry nie, maar om deur God verander te word en omdat ons dit geniet om met God te praat. Die voorreg om vrye toegang tot die Almagtige te hê is een van die kosbaarste dinge in my lewe. As ons iemand stil stil help, dan is dit omdat ons God liefhet en Hy ons verander het. Meer as is waar ons alles in ons lewens doen asof vir die Here. Meer as beteken ons doen nie die minium waarmee ek kan wegkom ding nie. Ons passie is Jesus. Ons leef in gesprek met Hom, een oor gedraai vir as Hy wil praat, gereed om te hoor. Dis meer as. En die Heilige gees groei in ons die vrug van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersin. Kan ek dit herhaal? Alles wat die wêreld na smag en nie het nie, God groei dit in jou. ‘n Mens raak verbysterd as jy begin besef wat jy alles aan jou lewe vasplak om jouself beter of meer aanvaarbaar te laat lyk. Kom ek vat ons terug na die vistenk. ‘n Meer as lewe is een buite die tenk, vry in die oseaan besig om vir God te leef. Ek wil met ‘n storie die lewe in die vistenk wys en die skade wat dit veroorsaak. Jare terug het iemand my ‘n storie uit Duitsland vertel. En toe gesê dis hoekom hy nie glo nie. Dit was lydenstyd. Almal moes vas. Die priesters het in die konsistorie van die kerkie byeen gekom. Dag na dag. Om 12:00 stiptelik elke dag het die kerkklok gelui. As ek reg onthou is dit dat mense moes onthou om te vas. Seg die man my, kort op die hakke van die klok se gelui, dan in die agterstraatjie tussen die kerk en die kroeg, sien jy kom die kroegman met biere en eisbein oorgehardloop vir die priesters. En dis hoekom mense so stil stil net wegraak: as ons lewe nie meer inhou as die van die fariseers wat standaarde van ander verwag wat hulself nie wou leef nie. As ons soos Dallas Willard se beeld van godsdienstige perskes probeer vasmaak aan ‘n appelboom. As ons nie soos Jesus ten volle oorgegee aan God leef nie. Solank ons ander goed liewer het as Jesus, liewer het as God en mense kom dit anders, dan verdwyn hulle. Ek en jy is leerlinge van Jesus. Sy dissipels vandag (dissipel = leerling). Mense meet ons aan Hom vir Wie ons volg. Onregverdig? Waarskynlik. Maar ons skud dit saggies af en leef hulle stil deur agter Jesus aan te leef. Deur by Jesus te leer en Hom dan daarin na te doen. Ons leer by Hom hoe om God te eer en met die Almagtige saam te mag lewe. Dit is waarmee ons nou besig is. Ons probeer inneem wat Hy ons leer want ons verstaan Hy probeer ons leer om te kan doen en te kan wees soos Hy. Ons lees nie die dinge om meer gelukkig te wees nie. Ons leer die dinge om God meer vreugde te gee. Ons sien Jesus se vertroue in God. Ons sien Sy afhanklikheid van God die Vader. Ons sien dat Hy geleef het wat Hy gepreek het. Hy was die Woord voor Hy nog ‘n woord gesê het. En ons fokus nou om in afhanklikheid van Jesus te leef. U en ek verstaan mos wat Paulus geskryf het in Romeine 8 ... ons moet al hoe meer gelykvormig word aan die beeld van God se Seun. En as ek kyk na Jesus dan was Sy getrouheid baie meer as die van die fariseers. En nou, op hierdie gedagte af moet ons kyk na die eerste vers in hierdie perikoop: “17 Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. 18 Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is. Ek wonder of almal se moed daardie dag nie afgesak het tot in hulle skoene nie. Die rabbies. Skrifgeleerdes, Fariseers, hierdie manne het in hul pogings om die wet van God te verduidelik, dit sommer uitgebrei na oor die 500 bepalings en goeters wat jy moet onderhou. Moets en moenies. Jesus sê Hy het nie die wet kom afskaf, of buite werking kom stel nie. Dit wil sê, Hy het nie gekom om dit te oortreë of selfs net die geldigheid van dele te betwis nie. Die wet en profete staan. Jesus het ook nie kom toevoeg aan die wet soos die fariseers gedoen het nie. Dit is ook ‘n vorm van vergryp om te wil uitbrei op wat God gegee het. Jesus het gekom om “maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.” Jesus het vir ons die wet kom volbring. Hy het die wet volkome gehou en so gehou dat God se bedoeling daarmee sigbaar kon wees. Jesus het die wet onderhou sodat dit is asof ons self die wet ten volle gehou het. Wat ons natuurlik nie kan reg kry nie. Jesus het die wet volledig kom doen. En in dit alles het Hy God se wet in ons harte kom skryf. Hierdie vers kan dus nooit ‘n stok wees wat ons gebruik om mense met die Ou Testament te slaan nie. Hierdie deel is ‘n uitnodiging om na Jesus te kom en in afhanklikheid van Hom te leef. Met die vertroue te leef dat Jesus ook vir my die wet geleef het en ek saam met Hom mag leef. En nou hoef ek nie ‘n klomp uiterlike dinge te doen om vroom te lyk nie. Ek kan net God met hart en siel en verstand en krag liefhê, en so ook almal wat God oor my pad stuur.