Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 5: 13 – 16 Het jy al ooit iets gelees, of gehoor, wat jou onkant betrap, dat jy wil uitroep, NEE! Dit kan nie wees nie!!! Hierdie verse is so. Hierdie verse los my verbysterd. Elke keer as ek dit lees dan skud dit my: Jesus dink dat ek en jy hierdie dinge is. Jesus sê ons is die sout vir die aarde. Ons is die lig vir die wêreld. Ek sou nog kon verstaan het as Jesus gesê het Hy is die lig en ons moet Sy lig laat skyn. Hy is die sout vir die aarde en ons moet Hom na die mense toe neem sodat die Sout hulle kan verander en kan bewaar. Maar nee, Jesus het gaan staan en sê: Julle is die sout vir die aarde en Julle is die lig vir die wêreld. Is ek al een wat oorweldig voel deur hierdie verse? Oorweldig want nou is die druk op my. Ek moet die sout wees. Ek moet die lig wees. En nie net in my selwers in my klein hoekie nie. Ek moet dit in die wêreld wees. Weet jy wat dit beteken? Dit beteken dat Jesus in jou glo. Dat Jesus glo Hy kan jou vertrou om te wees wat Hy jou maak: Sout. Lig. ‘n Stad op ‘n berg. Ek gee jou ‘n oomblik om dit te verwerk. Jesus glo in jou. Jesus glo dat jy so is. Ek vermy doelbewus om te sê Jesus glo dat jy kan sout wees en dat jy kan lig wees. Want dit staan nie hier nie. Hier staan: Julle is die lig ... Julle is die sout ... Kan jy jouself so sien? Nie? Dan moet jy vanoggend ‘n kopskuif maak en jou sieninge oor jou self groet en begin dink oor jouself soos God oor jou dink. Okay. Maar soos in rêrig! Hoe kan Jesus dit sê van sondige mense? Hy het gekom om mense van hul sonde te verlos en die skare wat op daardie dag voor Hom gesit het was nog nie gered nie. Hulle het nog probeer om so goed hul kan God te dien. En party het nie eers meer probeer nie. En dalk is daar ‘n paar wat nog geglo het maar gedink het ek kan dit op my eie by die huis doen. Toe Jesus hierdie boodskap begin het was die eerste ding wat Hy gesê het: Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is. In die oorspronklike Grieks is dit die hoofsin wat alles wat daarna kom dra. Of as ek dit omdraai, alles na die hoofsin verduidelik wat hierdie enkele sin beteken. Omdat God jou geseën het want jy het besef dat jy sonder God nie kan leef nie, jy het besef jy is verlore sonder (afhanklik van) God, het God jou begin verander. God het in jou Sy omgee hart kom gee, God het in jou ‘n honger en dors gegee na Sy wil (dit wat reg is). In jou afhanlikheid begin jy ontdek dat God jou sagmoedig maak en dat jy ‘n vredemaker word. Onthou nou, God maak jou dit. Jy gee jou lewe vir God. Jy plaas God in beheer van jou lewe en Hy maak jou hierdie diep kosbare mens. Jesus kyk na jou en sê jy is die lig vir die wêreld. Jy is die sout vir die aarde. Jy staan uit tussen mense soos ‘n stad op ‘n berg uitstaan. Jy kan dit kilometers vêr sien kan en dit gee hoop vir moeë reisigers. Al drie beskrywings wat Jesus hier van ons gee, is goed wat uitstaan. As daar nie sout in die kos is nie proe jy dit dadelik. As daar nie lig is nie sluk die donkerte alles in. ‘n Stad wat op ‘n berg is staan uit. Jy kan dit nie miskyk nie. Ook nie dit wegsteek nie. So moenie probeer inpas in die wêreld nie. Jy gaan net leeg gsuig en uitgespoeg word. Christus seë ndie wat afhanklik van God leef. Miskien moet ek net myself onderbreek vir ‘n oomblik. Ons het Jesus meer nodig as wat ons besef. Kom ek gee ‘n algemene beskrywing: As jy sterk is, as jy vol van jouself is en seker is van jouself, as jy op jou eie voete staan en niemand en niks nodig het nie, as jy begeer om suksesvol te wees en uit te styg bo die res, het jy ‘n probleem. Is geseënd wees dalk nie vir jou nie. Jy gaan jou sterk wees op maniere moet doen wat God aanstoot gee. Jesus weet dat ons almal heimlik daarna smag om goed te doen ons kry dit net nie reg nie. Niemand is lelik met ander vir sommer net nie. Dit is eerder dat ons dit nodig vind om lelik te wees om te kan oorleef. En elke keer wat ons lelik is sal ons ‘n rede hê om dit mee te regverdig. Dus, jy gebruik mislikheid, of lelik wees of hardheid om jou eie brose self te beskerm. Maar jy gaan dit wegsteek agter ‘n ... maar hy het my kwaad gemaak, of dis sy eie skuld dat ek so met hom is. Mense skinder om hul eie tekortkominge weg te steek. Wel, God haat dit! Jy besef natuurlik dat dit pure donkerte is wat uit jou kom, nê? ‘n Donkerte wat jy binne in jou toelaat. Dis donkerte wat jy uitlaat om op verskillende maniere ander seer te maak of te verguis. En dan is jy soos die selfie waar jy niks mooi kan sien nie. Dit staan teenoor die lig. Dit staan teenoor Jesus. Lig staan altyd teenoor duisternis. En duisternis kan nooit die lig oorweldig nie. Wil jy dit dan rerig in jou blyplek gee? Wil jy regtig die duisternis ‘n voet in die deur van jou lewe gee? Jesus kyk regdeur dit en sê in soveel woorde jy het dit nie meer nodig nie. God se manier is beter. As jy afhanklik van God leef sal Hy in jou woon en wat dan sal uitkom is lig. Sout. Jy sal uitstaan soos ‘n stad op ‘n berg. Jesus nooi ons om deel te wees van God se koninkryk. En in hierdie lang preek van Matt 5 – 7, spel Hy vir ons uit hoe die koninkryk van God is. Hoe jou lewe kan wees. Jesus is absoluut seker, dat as jy jou lewe in Sy hande plaas, dan gaan jy lig wees. Sout wees. Jou lewe gaan ‘n verskil maak. Deur jou gaan Hy daar waar jy bly en werk, die lewe beter maak vir ander mense. Mense gaan by jou iets kosbaars en mooi beleef. En hulle gaan in Christus wil bly. Jesus weet dat baie mense se lewens voel vir hulle soos nag. Dis een lang gesukkel en jy kom net nie voor nie en dinge bly skeefloop. Hulle het hoop nodig. Koninkryksmense, mense wat weet hoe afhanklik hulle van God is, word so verander dat hulle omgee harte het, so honger en dors na wat reg is, dat hulle lig en hoop bring vir mense wat voel dis net nag om hulle. Vra jouself af, het ons nie die donkerte so gewoond geraak dat ons deesdae dink dis hoe dit hoort. Dis okay om lelik te wees, dis okay om te haat, dis okay om ander met woorde uit mekaar te skeur dis okay om nag te wees. Wat Jesus ons vanoggend leer is dat dit nie so hoef te wees nie. Daar is ‘n beter manier van wees. Laat God jou nuutmaak en al die donkerte uit jou was en jou vul met Homself. Hy leer my om elke dag bewustelik te kies vir Hom, en te kies om my eie wil te los, sodat ook sondige ek, kan beleef: ek is lig. Ek is sout. En ek is dit net as ek, ons, afhanklik bly van God. Julle is die lig vir die wêreld. Jule is die sout vir die aarde. Moet dan nie jou lig onder ‘n emmer gaan staan en wegsteek nie.