Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 4: 17 tot 25 Ek lees hierdie week ‘n mooi storie oor hoe bekering lyk. Dit gaan oor Gert. Gert is lief vir die plaaslewe. Maar hy besef dat hy nooit op ‘n plaas sal kan leef of werk nie. Sy mense besit nie ‘n plaas nie. Hy self het niks. Hy kan maar net droom. So probeer hy maar planne maak om in ‘n ander rigting in te gaan. Op ‘n dag kry hy die kans om saam met ‘n groep kerkmense ‘n plaas te besoek. Die eienaar sien vir Gert raak en hy gesels met hom. En toe sê hy: Gert, weet jy wat? Ek het ‘n opening vir plaaswerk. As jy belangstel kan jy vandag nog begin. Gert het dit met albei hande aangegryp. Gert het daar en dan al sy ander planne gekanselleer en dadelik begin werk. Dinge was anders op die plaas. Hier doen jy wat die eienaar sê en soos hy dit wil hê. Die voorreg om op die plaas te wees en deel te wees van die boerdery was so groot vir Gert dat hy dit eintlik geniet het om sy eie idees en planne te laat gaan. Al hoe meer het Gert ontdek hoe goed die eienaar vir hom is. 1. Bekeer. Ons leef met ‘n verlange dat daar meer aan die lewe moet wees as dit wat ons nou beleef. Baie keer droom ons ook, maar dan skop die realiteit in: ons is nie in ‘n posisie om dit ooit te vermag nie. Geen mens se lewe is so goed dat ons in God se teenwoordigheid mag leef nie. Ons sondes is teveel. Selfs een klein sondetjie diskwalifiseer ons. Maar God is vol genade en Hy het ons lief. Hy vergewe die wat dit vra in Jesus. Dalk is ons droom om nou reeds God te ken en nou reeds iets van die hemel te kan beleef. Dis nou nie dat ons wil dood wees nie. Dis net, ons soek meer met God en ons neem ons voor om meer te bid en meer met God te leef. Maar dan raak ons besig met alles wat ons moet. En ons droom om naby God te leef vervaag. Hoor dan vandag dat God jou en my raaksien. Dat God ons kom vind het. Hoor Jesus sê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Bekering is soos in my storie van Gert, om deur God raakgesien te word en te hoor dat God ‘n opening het vir iemand soos jy. En dan is jy bly en jy gryp God se uitnodiging met albei hande aan, en jy kanselleer al jou eie planne sodat jy kan inval by wat God beplan. Die koninkryk van die hemel is heel eenvoudig gestel, daar waar God se wil volkome geskied. Of soos iemand dit gestel het: “A kingdom is a place where things happen the way the king wants them to happen.” In die koninkryk van die hemel draai alles om God en almal vra na God se wil en leef dit. Dit is ‘n alternatiewe benaming vir die koninkryk van God. Jesus skop Sy bediening af met “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom (4:17).” Dit is die onderwerp waaroor Jesus die meeste gepraat het: Die koninkryk van die hemel. En vandag bied Hy vir jou ‘n plek aan in die koninkryk van die hemel. Jesus bied jou die geleentheid aan om te gaan verkondig dat die koninkryk van die hemel is hier. Ek sê dit so want dit is wat die dissipels keer op keer uitgestuur is om te gaan verkondig.Hand 1:3 in die veertig dae na Sy opstanding het Jesus met sy dissipels gepraat oor die koninkryk van die hemel. En ons lees in Hand 8 dat Filiipus die mense geleer het van die koninkryk van God. En so ook in die laaste hoofstuk van Handelinge lees ons dat Paulus ook met dit besig was: die koninkryk van die hemel. Wat ookal ons geliefkoosde onderwerp in die Bybel is, dis so pas van die tafel af. Soos Gert sy planne moes laat gaan om sy nuwe kans aan te gryp, so het ook ons dit om te doen. Ons het ‘n nuwe een: die koninkryk van die hemel. Die slagspreuk vir die kerk van Jesus Christus is: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Johannes en Jakobus is nes Gert in ons storie van vroeer. Hulle het alles, al hul planne vir die jaar, netso gelos, hulle skuit en hulle pa netso gelos, om Jesus te volg. 2. Volg My! Vandag is dit ons wat net weer dit moet hoor. Volg My! Jesus is duidelik: Volg My!. Dit beteken, stap vandag weg van jou eie sieninge van kerkwees en van Jesus en van geloof af weg. Want dit werk nie. Teen Handelinge gemeet, kan ek nie anders as om te sê ons het die kragtige werking van God verloor. Ons praat verkeerd oor kerk. Dit het ‘n plek geword waar “kerk” gehou word. ‘n Gebou. ‘n Erediens. Terwyl die kerk van Jesus is mense, die gelowiges. Dit wys alreeds uit ons is nie presies waar God ons wil hê nie. Ons beplanning moet soos Gert s’n verander. Ons moet terug volledig onder Jesus se Eienaarskap en bestuur. ‘n Paar jaar gelede het ‘n man in ‘n gesprek vir my gesê: ja, die kerk het altyd gesê jy moet jou bekeer. Wat is die nuwe ding wat nou sê maar jy moet verander ook en jy moet soos Christus word? (Of dit is hoe ek sy woorde onthou). En hy is reg. Evangelisasie groepe het daarop gehammer: Bekeer jou. En baie mense het verstaan dis een van daardie emmerskop dinge wat jy betyds moet afmerk. Ek het tot bekering gekom. Maar wat kom daarna? Dis nooit duidelik genoeg uitgespel nie. Mag ek dit vanoggend regstel asseblief. Ons word almal geroep tot bekering. Opgeroep om om te draai weg van ons eie planne af na God en na wat God wil hê toe. As Jesus sê volg My, dan is dit wat ek en jy moet hoor, jy word genooi om te kom leef in ‘n verhouding met die Almagtige. Jy word nie net gered en dan aan jouself oorgelaat nie. Jy word aangeneem as ‘n kind van God en dan leer jy hoe om as God se kind te leef. As die slagspreuk van God se koningshuis dan is “Bekeer jou. die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Dan word dit presies dit wat ons as kinders van God wil uitdra. Dis die familiebesigheid! Ons leef nie meer die wêreld se agendas en slagspreuke nie. Wat ek en jy te doen het, is om Jesus te volg en by Hom te leer. Jy vra my hoe doen ek dit? Eenvoudig. Jy bid dat God beheer van jou lewe sal neem. Elke dag gee jy die beheer vir God. Bid. Luister. Spandeer tyd by God. Al sit jy sommige dae net buite en luister na die voëltjies en ander geluide, sit dan daar maar sit saam met God daar. Bestudeer die Bybel. Lees die Bybel. Jy hoor God se stem in die Woord. 3. Leer. Matteus 4: 19 19 “Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” 20 Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg.” Kyk nou na Matteus 28: 16 – 20 Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Matteus 4 is aan die begin van Jesus se aardse bediening. Matteus 28 is na Sy opstanding. Wat gebeur tussen hierdie twee dele? Tussen Matteus 4: 19 en Matteus 28: 19 lê alles wat: Ek en jy by Jesus moet leer. Alles wat ek en jy moet leer leef. Alles wat sal vorm gee aan ons lewe met God. Alles wat ek en jy as God se kinders moet word. Ons almal weet die dissipels moes verander. Hulle moes anders leer dink en doen. Met ons is dit dieselfde. Dit is waarmee ons moet besig wees en op fokus. Hoe gaan ons dit doen? Ons gaan soos die Here wil, vir die volgende maande deur Matteus evangelie werk in die eredienste. Ons gaan lees vanuit die gesigspunt: Wat wil Jesus ons hier leer? Dan gaan ons bid en vra dat die Heilige Gees ons hier mee moet help en ons pas dit toe. En in die week lees ons die deel oor en oor en bid daaroor. En ons pas dit toe in ons lewens. Dit is soos ‘n appyship / n vakmanskap wat ons gaan deurloop. Ons gaan nie meer net kennis absorbeer nie, maar onsself oopstel vir God om ons te vernuwe. En ons gaan Jesus in gehoorsaamheid volg. Elkeen van ons. Ons is dissipels: dws leerlinge van ons Meester Jesus die Christus. En ons bly mense oproep om dit saam met ons te kom doen en wees. Is u bereid?