Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 5: 1 – 12 Wie van u seil? Help my as ek verkeerd is: Ek kan die wêreld se beste seiljagvaarder op die beste seil boot plaas. Hy of sy kan die seile span en alles reg doen maar dit beteken nie ons gaan seil nie. Ons gaan dalk net op die wereld se beste seilboot in die middel van die oseaan rond dobber. Daar is daardie iets wat ons nie beheer oor het nie: die wind. En seker ook seestrome en storms en siklone en en en en. Ek hou mense met mooi tuine dop. Hulle plant plantjies. Hulle saai. Hulle spuit nat. Met die droogte besef ek die grys water wat ek opgaar hou plante net net aan die lewe. Munisipale water ook. Dit is eers as God die reën gee wat alles met ywer groei en in ‘n lushof omskep word. Stem u saam? Dalk is dit met ons ook so: alles wat ons in sit, al ons beste pogings hou ons net net aan die lewe. So hier en daar gaan ons bietjie vorentoe. Of ons beleef ‘n paar gelukkige oomblikke. Maar dis dit. Ons is maar soos die plantjies in my beeld wat net munisipale water kry: ons sukkel maar. Tot dat God ons seën. Kom ek beskryf ‘n onafhanklike mens: Dit is iemand wat niemand niks hoef te vra nie, op sy of haar eie twee voete staan en self reg kom. Dit is iemand wat dink hulle het beheer oor hulle eie lewe en hulle kan self besluit oor hoe dinge sal uitspeel. Sou die definisie werk? Is jy so iemand? Is dit nie ‘n bron van spanning by jou nie? Daardie sê nou net gedagte: Sê nou net my planne werk nie uit nie? Sê nou net .... In my ervaring is baie mense se vrese en spanning te verbind aan hulle sg onafhanklikheid. Kom ek verduidelik: Ons leef in vrees om ons werk te verloor. Ander leef in vrees oor misdaad. Of dat die medikasie nie hul kanker gaan genees nie. Of dat ek soos my voorouers aan my hart sal omkom voor ek sê nou maar 60 is. Daar is sekerlik nog baie ander voorbeelde ook. Ek dink jy kry die draad van my storie hier. Nou vra ek drie dinge van jou: • Sien raak hoe afhanklik jy eintlik is. En wat jy alles buite jou beheer is. Bv Reën. Salaris (jy kan jou werk more verloor). Elektrisiteit. Pensioen (vanweë politieke diefstal of net bloot die Rand wat waarde verloor het). Jou gesondheid. Veiligheid. Alles goed wat tsv al jou voorsorg jy steeds in ‘n oomblik kan verloor. • Erken dat jy afhanklik geraak het van juis hierdie dinge. Jou vertroue is op jou salaris, jou pensioen of beleggings. Ek ken mense wat staaat maak daarop dat hulle die lotto sal wen, en groot ook. • Skuif jou afhanklikheid na God. Hou op om in te koop in die wêreld in. Ons is nou burgers van die koninkryk van God. Ons moet inkoop in die koninkryk van God in. As gelowiges moet ons uit geloof uit leef. Hou op om jou eie seën of heil te wil uitwerk. Of om dit te soek by mense of instellings wat wwarskynlik jou net gebruik vir hul eie gewin. Vertrou op God. Laat God jou lei. (Ek sal weer hierna terugkom). Laat God jou seën. 1. Geseënd. As ek vir ‘n oomblik tegnies kan raak. Makarios, die Griekse woord wat hier gebruik word, word so gebruik dat ons nie hier moet dink aan dat geseend wees is ‘n doelwit wat ons moet bereik nie. Dit is nie iets wat ek aan moet werk met die hoop dat ek dit tog ook kan bereik nie. Dis nie ‘n kwalifikasie wat jy in plek moet kry vir die hemel nie. Makarios, geseënd is hier iets wat God gee. Dit is ‘n genade van Bo. Ek sê weer: Makarios is nie ‘n innerlike gevoel van geluk nie. Dit is iets wat God jou gee tsv jou omstandighede. Om deur God geseën te wees in dit wat ek leef. As jy dan kyk na dit wat ons saamgelees het, dan sien jy die geseënd wees in die ontvangs van die koninkryk van die hemel. En jy sien dit in die vertroos word. En jy beleef geseënd wees in die versadig word en in die ontvang van barmhartigheid. En so kan ek elke saligspreking se gevolg neem. Die Engelse vertalings praat van beattitudes. As ek die woordjie opbreek: be + attitude. Ingesteldhede. Dit wat ek is en hoe ek is. Dit wat God my maak. Dit is om in God se hand soos Jesus te word. Geseënd wees is die reën en groei wat die tuinier begeer en die wind en weerstoestande wat die seiljagvaarder nie sonder kan klaarkom nie. God is die Een wat seën skenk. 2. Leer. Wat ons ons kinders moet leer is dat God hulle wil seën. En dat deel van geseënd wees is om afhanklik van God te leef. Geseënd wees lyk natuurlik anders as wat die meeste mense dink. As jy in die wêreld ingekoop het is geseënd wees dit wat die welvaarts pastore jou belowe: geld, motors, voorspoed. As jy na God luister, beteken geseënd wees iets heel anders: afhanklikheid, deel wees van die koninkryk van die hemel, om ‘n kind van God genoem te mag word, vertroos te word. Maw dit wat ons saam gelees het uit die Bybel uit. En nou kom ek by die punt wat ek gesê het ek na sal terugkom. Geseënd wees hier is ‘n toesegging van God. God gee dit soos Hy wil. Netsoos God Sy genade gee aan wie HY wil. En tog is daar ook ‘n mens kant aan hierdie deel. Jy lees ‘n klomp, kan ek dit maar noem, ingesteldhede. Met ingesteldhede bedoel ek lewensstyl wat onder God se hand gevorm is. En nou treë die persone daarvolgens op. En hulle beleef dit as deel van geseënd wees. As jy mooi deur die deel lees en dan dit dan bo oor Jesus se aardse lewe plaas, dan sien jy Jesus duidelik. Jesus is dit wat hier staan. Selfs die vervolg deel het Hy beleef. Besef jy, as die tuinier nie al die regte dinge doen nie, nie kompos inwerk en ander voedingstowwe gee nie, nie water gee nie, gaan die reën net die veld in haar erf kom mooi laat groei. En as die wind opkom, dan moet die bemanning die seilespan na die wind, hulle moet tack en kompas gebruik. Daar is dinge wat die tuinier moes leer. Dinge soos hoeveel water, hoeveel bemesting, wanneer om te plant en wanneer nie. So ook die seiljagvaarder: hulle moes leer seil. En baie leer steeds. Sommige noem dit ervaring. En ‘n goeie tuinier lees steeds op oor plante en bemestings. En sy tuin lyk baie mooier en beter as myne wat ek die minimum aan werk. Met al die geleer is hulle steeds afhanklik van God wat die plante laat groei en reen gee. Toe Jesus die menigte mense gesien het het Hy die berg opgegaan en gaan sit. Sy dissipels het na Hom toe gekom en Hy het hulle geleer. Hoor asb die woordjie “leer.” Hierdie is goed wat ek en jy moet leer. Ons eie maak. Dit is opleidingsmateriaal. Jesus wil ons laat besef dit is hoe Christene is. Dit is wat God ons maak. Maar dat om so te wees is om deur God geseën te wees. Die grootste kopskuif, die hartsverandering wat moet plaasvind, is om afhanklik van God te leef. Ook en veral in dit wat na vers 3 volg. Begin daarom by die woordjie leer. Neem ‘n besluit om hierdie geseënd-wees te verstaan en jou lewe oop te maak vir God hierin. Hoe meer tyd jy bewustelik met God deur bring, hoe meer jy bid en luister na God, hoe meer word jy dit. God doen dit in jou. James en Rachel, julle moet ‘n voorbeeld stel vir kleinJames John van hoe julle by Jesus daagliks leer. En julle moet deur hoe julle is en hoe julle leef, wys hoe Jesus sou wees as Hy julle was. Leer hom/haar hoe om in afhanklikheid van God elke dag te leef. Ons moet vir ons kinders wys jy hoef nie in te koop in die wêreld nie. En ons moet hulle leer om in te koop in die koninkryk van die hemel in. En dit begin deur ons wat naby God leef. Mense wat so deur God geseën is soos verse 3 tot 12 sê, is juis die mense wat die roeping ontvang om sout en lig vir die wêreld te wees. Om in die woorde van Genesis 12 tot seën van ander mense te leef. 3. Afhanklik. As dit alles begin by God wat seën, dan gaan dit verder deur geseëndes wat hulle afhanklikheid van God besef en daarvolgens leef. Ek dink die beelde van die tuinier en die seiljagvaarder het al baie gesê oor afhanklikheid. Dit beteken jy verwag niks van die wêreld af nie, maar alles van God. Jy maaak nie staat op jou eie krag en slimheid nie. Jy gaan met it na God. Jy leef met die gebed dat God jou handewerk sal seën. Jy skep die ruimte deur skuldbelydenis, oorgawe, gebed, Bybelstudie en gehoorsaamheid aan God se wil dat God in jou alles kan wees en jy deur God kan doen wat Hy van jou vra. Geseënd wees en afhanklik van God wees is nuut en radikaal anders. Dit is die evangelie waar jy as jy swak is, ontdek dat God juis daar werk met krag in jou (2 Kor 12:8-10). Dit is waar jy die duiwel oorwin en die mensdom red deur aan die kruis in swakheid jou lewe te gee in gehoorsaamheid aan wat God wil. Afhanklikheid dra, in my beskeie mening, die wegstap van jou eie ek. Selfverloëning soos Jesus dit uitspel later in Matteus evangelie. Afhanklikheid vra die absolute oortuiging dat Jesus ook in jou lewe sal doen en kan doen wat Hy beloof het. Dat Hy beter as jy weet hoe om jou lewe te leef. As jy nie hiervan oortuig is nie gaan hierdie net ‘n mooi versie bly. En nes die tuinier moet bid en vertrou vir reën, en die seiljagvaarder bid dat daar tog net wind sal wees om mee te seil, netso moet ek en jy bid oor alles in ons lewens. Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.