Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1 Kor 10:23-33 1. Ek wil graag vra dat u vanoggend saam met my sal kyk na Jesus se lewe in die algemeen. Somtyds is ons so gefokus op sekere aspekte van sy lewe, of een aspek van sy lewe, dat so baie ander dinge wat Hy gedoen het by ons verbygaan. 2. U sal met my saamstem dat Jesus Christus ‘n baie unieke mens was. Die dinge wat sy volgelinge oor Hom vertel het het duisende jare later steeds ‘n enorme invloed op mense. As ons vinnig dink is daar veral twee dinge in sy lewe wat ons aandag trek. Eerstens is daar dit wat Hy gedoen het en waarvoor ons elke dag van ons lewens en met ons lewens net kan dankie se. En vir die wat dit nog nooit gehoor het nie, Hy was die een wat namens ons die volmaakte offer gebring het en ons so met God versoen het sodat ons nou nie meer in vrees hoef te lewe by die gedagte dat ons eendag voor God moet verskyn nie. 3. Tweedens het Jesus die mag van die dood gebreek. Dit beteken ook dat ons nie die dood in vrees tegemoet hoef te gaan nie. Hierdie twee dinge is genoeg om ons hele lewe in dankbaarheid te laat leef. MAAR DAAR IS MEER!! 4. Jesus het nie net dinge VIR ons gedoen nie, Hy het ook dinge VOOR ons gedoen. En hierdie dinge het Hy VOOR ons gedoen sodat ons dit agterna kan doen. Hy het unieke en besondere lewenswaardes gehad. Dit het nie vir Hom net om Homself gegaan nie, maar om ander. Blaai gerus deur u Bybel en merk die dele waar Jesus ter wille van ander opgetree het. 5. Dink aan sy genesings. In Mark 5 genees Hy selfs ‘n besetene al sou dit beteken dat die mense Hom wegjaag. In Joh 8 vergewe Hy ‘n vrou selfs al sou dit beteken dat Hy heeltemal teenstrydig optree met dit wat uitdruklik in die OT staan. Hy vergewe ‘n straatvrou selfs al bevraagteken dit sy posisie by die godsdienstige leiers in Luk 7. Hy kies vir die mense wat uit die samelewing uitgegooi is, selfs al lei dit tot die misverstand dat Hy een van hulle is. 6. As dit dan die waardes is wat Jesus op aarde geopenbaar het, dan sou dit nogal interessant wees om te sien wat hierdie waardes gedryf het, of waarop Hy sy waardes gebou het. Miskien kan u nog ‘n klompie byvoeg, want ek is seker daar is ‘n paar wat ek gemis het. Maar kom ons kyk vlugtig na 2 dinge: Eerstens was sy lewe op God gerig. Hy was oortuig dat Hy van sy Vader ‘n roeping ontvang het en sy hele lewe was daarop ingestel om hierdie roeping uit te voer. In Joh 8:29 het Jesus self die volgende gese: Hy wat my gestuur het is by My. Hy het my nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat sy wil is. Daarom was sy verhouding met sy Vader so belangrik. Jesus het baie tyd in gebed bestee, veral voor belangrike besluite. Voordat Hy die twaalf dissipels aangewys het, het Hy gebid. Toe Hy Lasarus uit die dood opgewek het, het Hy eers tyd in gebed spandeer. Die agtergrond van Jesus se verheerliking op die berg was ‘n gebedsgeleentheid. En wie kan sy gebedsworsteling in die tuin van Getsemane vergeet? Sy gereelde gebede se vir ons hoe afhanklik Jesus van sy Vader was en hoe gretig Hy was om te weet wat sy Vader se wil is. God het alle sin aan sy lewe gegee. Tweedens was Jesus se lewe op mense gerig. U kan dalk se maar ons het sopas genoem dat sy lewe dan op God gerig was. Maar juis daarom was dit ook op mense gerig. Want God is self op mense gerig. Hy gee om vir mense. Maar daar is twee manière waarop ‘n mens by mense betrokke kan wees: ten koste van hulle of ter wille van hulle. Mense is gewoonlik betrokke by ander ten koste van hulle. Ons kyk waar ons mense kan gebruik sodat ons saak bevorder word. Maar Jesus was betrokke by mense ter wille van hulle. Sy lewe was ‘n lewe van diens aan ander. Hy het self gese dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee. So was Jesus simpatiek gesind teenoor die mense wat deur die godsdienstige leiers uitgestoot en verag is. Hy vergewe die vrou wat met owerspel betrap is, Hy spreek die straatvrou vry wat in berou sy voete met haar trane was, Hy kies ‘n sosiaal verworpe tollenaar as een van sy dissipels, Hy beloof die koninkryk aan die heidene. En so kan ons aangaan. Jesus het juis gekom ter wille van mense. Wanneer Hy opstaan uit die dood gaan verskyn Hy nie eerste aan die dissipels nie. Hy gaan spog nie by Pilatus of gaan vertoon Homself aan die Joodse Raad nie. Dis miskien iets wat ons sou gedoen het. Nee, Hy gaan verskyn aan twee manne wat teneergedruk is oor die gebeure die afgelope 3 dae in Jerusalem. En Hy spandeer tyd saam met hulle op die pad na Emmaus tot by hulle huis waar Hy Homself aan hulle openbaar. Want Hy het nie gekom om Homself te verhoog nie, hy het gekom vir hulle wat teneergedruk is, die weerloses, die wat hartseer is. 7. Dit het vir Jesus gegaan oor die randfigure in die samelewing. Die armes, die hongeres, die siekes. Die mense wat volgens die samelewing nie mooi ingepas het nie. Kom ons kyk so bietjie in die eerste deel van Matteus. Na Jesus se geboorte en kinderverhale volg sy openbare optrede. Dit begin met sy doop en versoeking in die woestyn. Hierna kan Jesus se werk in alle erns begin. Dan lees ons in Matt 4:12: Toe Jesus hoor dat Herodes vir Johannes in die tronk laat opsluit het, het Hy na Galilea toe gegaan. 8. Daar is twee redes waarom dit vreemd is dat Hy Galilea gekies het om sy bediening te begin. Dit is juis die gebied waar Herodes regeer het. Mens sou verwag dat Hy dit juis sou vermy het. Herodes het al klaar vir Johannes in die tronk gesit. 9. Tweedens was dit Jesus se doel om ‘n godsdienstige rol in Israel te speel. En die godsdienstige sentrum was juis Jerusalem. Dis tog vanselfsprekend dat Hy daarheen sou gaan. Maar Jesus gaan juis Galilea toe, die agterland, die plek van die Samaritane en heidene, die plek wat verag is deur die godsdienstige Jode. Wanneer Fillipus vir Nataniel se dat hulle die Messias gekry het is Nataniel se teenvraag: Kan daar iets goeds uit Nasaret kom? Hou in gedagte dat Nasaret ‘n deel van Galilea was. En dis die laaste plek om die godsdienstige lewe van Israel te probeer beinvloed. Daar vind geen werklike godsdienstige aktiwiteite plaas nie. Maar Jesus gaan, want Hy wil by die randfigure uitkom, die volk wat in duisternis wandel. By hulle wat Hom die nodigste het sonder dat hulle dit self besef. 10. En daar roep Hy ook sy eerste dissipels. Die vraag is: Sal Hy darem daar ‘n klompie mense kan kry wat ‘n openbare indruk kan maak, wat geleerd genoeg is en wat potensiaal het? Maar dan roep Hy twee vissermanne. Hierdie was rowwe, ongeleerde manne gewees. Wat wil Hy met hulle uitrig? Net ‘n entjie verder roep Hy weer twee. Mens hoop dat hulle van ander stoffasie sou wees. Maar nee! Nog twee vissers. 11. Trouens, hierdie keer is dit nog erger want die twee broers het die byname van “manne van die donder”. Dis hulle wat by geleentheid sommer vuur op die Samaritane wou afbid. Ongemaklike manne die! 12. Jesus se lang bergpreek volg hierna en dan sy eerste wonderwerk. In Matt 8 genees Hy ‘n melaatse man. Melaatses was by uitstek die sosiaal onaanvaarbares. Hulle was uitgewerp buite die stad en as iemand hulle sien nader kom moes hy waarskuwend uitroep. En die rede hiervoor was nie net omrede hulle dalk iemand kon aansteek nie. In die OT is daar ‘n paar gevalle waar God mense met melaatsheid gestraf het omrede hulle sonde gedoen het. Daarom het mense in Jesus se tyd gemeen melaatsheid is ‘n straf van God. Mense het dus seker gemaak hulle bly weg van melaatses af. Maar dis die eerste persoon wat Jesus genees. 13. Dit waarna ons tot nou toe gekyk het het vir ons een grondwaarde in Jesus se lewe laat besef: Hy wil gee, help, red, genees, bevry. Daarom soek Hy heeltyd die wat in nood is, hulp nodig het, onrein, siek, uitgestoot en vol sonde is. Ons se altyd: Oppas, aan jou vriende sal jy geken word. Of meng jou met die semels dan vreet die varke jou op. Ons is bang verkeerde vriende gaan ons negatief beinvloed. 14. En Jesus? Jesus het verkeerde vriende positief beinvloed. Ons word dalk soos ons vriende, Jesus se vriende het soos Hy geword. Ons doen soos ons verkeerde vriende, Jesus het sy verkeerde vriende soos Hy laat doen. 15. En ons? As ons onsself Jesus se dissipels noem, sal hierdie selfde waardes in ons eie lewens sigbaar moet wees. Om ‘n dissipel van Christus te wees beteken om ter wille van mense te leef, nie ten koste van hulle nie. Om die sin en betekenis van jou lewe daarin te vind om vir ander om te gee. Om ander se belange bo jou eie te ag en kom ons wees radikaal. Om jouself te kort te doen ter wille van ander, ter wille van mense in nood. 16. Leef ons so? Ander se belange hoër as my eie? Onbaatsugtig. ‘n Jesusbeeld elke dag vir hulle daar buite? Here vergewe my, want ek doen nie. Nie eens naastenby nie. Meeste van die tyd soek ek my eie belang, eersugtig. Ek wil weet hoe ek kan baat by elke situasie. En nou en dan onthou ek iemand in hongerpyne, ‘n sieke, ‘n uitgeworpene. En ek troos myself deur ‘n paar sente of ‘n hemp of twee te skenk. En dan is ek weer terug waar ek my eie voordeel soek. 17. ‘n Lewe soos Christus s’n is heeltemal anders as die lewe van ‘n ordentlike, opgevoede kultuurmens. En dit is geheel en al die teenoorgestelde van ‘n lewe gerig op eiebelang. Die Christelike lewe is heeltemal anders as ons goedbedoelde pogings om goeie mense te wees en goeie waardes uit te leef. 18. Dit is ‘n radikale prysgawe van ons lewe aan Jesus Christus sodat Hy in ons kan woon en deur ons kan leef. Dit is Paulus se getuienis wanneer hy se: “Nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.” Dit is hierdie soort belydenis wat ons aan mekaar bind as gelowiges, maar meer nog, wat ons die hart gee vir armes, siekes, hongeres, die randfigure in die samelewing, hulle wat volgens die samelewing onbelangrik is. Dis waar Jesus se hart is. Dis waar ons hart moet wees. AMEN.