Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 2: 13-23. Dis maklik om te dink dat God van jou vergeet het: as dinge skeef loop, of as die druk hoog is, as God anders optree as wat ons verwag, dan dink mense God het van hulle vergeet. Op hierdie manier van dink af, wonder ek wat sou Josef en Maria dan moes gedink het. Maria het so mooi bely “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat U gesê het”. Ek verstaan dit was tov die swangeskap. Maar as sy geredeneer het soos baie van ons deesdae redeneer, dan sou sy mos met reg kon dink, maar die Here het my vergeet. Of God is kwaad vir my. Of, het ek verkeerd gehoor. So ook Josef. Hy het gekies om God te glo. Hy het gekies om te glo wat die engel vir hom gesê het nl dat Maria nie ontrou was aan hom nie. En na die geboorte verskyn die engel weer in ‘n droom en sê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.” En Josef het opgestaan en in die nag vertrek na Egipte. Hy het nie eers twee keer gewonder nie. Hy het die Kindjie en Maria geneem en vertrek. En dan weer in ‘n droom word hulle gesê om terug te keer na Israel. En as Josef bang raak dan kom die engel weer in ‘n droom en wys hulle Galilea toe. Hierdie deel word ‘n deel waarin God nogals op ‘n baie duidelike en besonderse manier vir Josef lei. Kom ons staan stil by die vlug na Egipte toe. Dink mooi hieroor. Ek het ‘n kind en ‘n broer wat geimmigreer het. Ek ken die spanning en reëlings. Dit is nie ‘n stap wat jy ligtelik of sommer so vinnig neem nie. Dit het konsekwensies: waarvan gaan ons leef daar anderkant? Waar gaan ons bly? Gaan die mense ons aanvaar daar? En tog, omdat die engel hom gewaarsku het vlug Josef met sy gesinnetjie na Egipte. ‘n Mens besef: God is werklik met hulle. En sien asb ook raak, na die aanwysing Galilea toe, is daar weer ‘n oorbegin vir Josef en Maria. Daar is niks makliks aan hul storie nie. Ons maak dit so mooi: Maria se mooi woord “ek is tot beskikking van die Here” en Josef se gehoorsaamheid. En God wat hulle lei met drome. Dis so mooi. Maar onthou: hierdie is ook ‘n verhaal van oorbeginne. Van oppak en elders weer van vooraf begin: in Egipte. En toe weer in Galilea. Die stal was nie vygfster nie. Ek weet nie hoe was Egipte nie. Maar ons weet Galilea was die armste streek in Israel. Tsv dit alles is God aan die werk in hierdie twee mense se lewens. Kan jy God sien sy reddingsplan uitvoer ten spyte van Herodus en mense. En Josef en Maria? Hulle het deur dit alles gekom. Hulle kon deel wees van iets groots wat God begin het. Maar dit was nooit maklik nie. Gelowiges soos ek en jy kan dit ook nie anders verwag nie. Jesus was van meets af duidelik hieroor. Ons sal dit moeilik hê in hierdie wêreld. Maar hou moed, het Jesus gesê, “Ek het die wêreld klaar oorwin.”(Joh 16: 33). Josef se gehoorsaamheid tref ‘n mens. Gehoorsaamheid is ‘n tema wat regdeur die Matteus vertelling loop. Van voor die Kindjie se geboorte af word ons “opgeroep “ tot gehoorsaamheid aan Hom. Aan God. Kan ek dit koppel aan iets in my lewe? Vir lank lees ek in boeke en in aanhalings raak iets in die lyn van jy moet tuiskom in God se liefde. Een aanhaling was “you must submerge yourselve in God’s love.” Maar niemand sê hoe nie. Toe ek in die laaste twee weke met Maria en Josef se verhale besig was, toe gaan iets vir my oop. Saam met iemand anders se worsteling rondom vergifnis. En sy daarmee gepaardgaande onsekerheid oor sy toekoms. Josef en Maria moes oortuig gewees het dat dit werklik God is wat hierdie pad met hulle loop, om so te kon bly reageer. En ek besef, vanuit die Nuwe Testament, oa Johannes 3: 16 se want so lief het God die wêreld, ek moet nou oortuig wees, oortuig raak, dat God my lief het. Dan loop ‘n mens se kop paaie. En ek dink oor erge dramas en hartsere en siektes wat ek die laaste paar maande saam met mense deur gestap het, en nuusgebeure, en ek besef: ‘n Mens kan jou lewe ingaan en dood bang wees vir die Herodusse van die lewe, of jy kan tuiskom in God se liefde. Josef en Maria kon doodsbenoud geleef het oor wat mag of wat nie mag gebeur as koning Herodus aanstoot gaan neem oor die Kindjie nie. Ek weet nie of hulle het nie. Ek ken mense wat sou en sommige dae sou ek dalk ook een van daardie mense wees wat sê ... sê nou maar. Soos Josef en Maria moet ons oortuig wees van God en God liefde vir ons. Ek moet glo dat God se liefde vir my genoeg is. Dit is al sekerheid wat ek in hierdie land en hierdie lewe het. Die wete dat God my lief het. • Meer lief het as die hemelse heerlikheid, en ek sien dit in Sy menswording, in Sy self prysgawe as Skepper om skepsel te word. • Ek sien dit in die eenvoud van Sy geboorte en Sy nederige aardse ouers wat God gehoorsaam het. • Ek hoor dit in die nagmaal, as Jesus sê dit is vir julle. • Ek sien dit in die doop. • En in Jesus aan die kruis. As ek ons terugbring in Matteus se vertelling hier in hoofstuk 2, dan sien ek dit in hoe God Josef en Maria betyds waarsku om na Egipte te gaan. En ek sien dit in hoe God hulle vrese aanspreek as hulle moet terug kom en ... En ek sien dit in, al moes hulle vlug na n vreemde land, was hulle steeds versorg ... in die sin van hulle het oorleef. Die Bybel sê nie iets oor die tyd daar nie of waarvan hulle geleef het nie. Maar jy lei af hulle was okay. Jy moet so oortuig wees dat God jou lief het dat jy nie meer bekommerd is oor die dag van more of oormore nie maar God daarmee vertrou soos Jesus ons geleer het in Matteus 6. Ek het besluit, van hier af sal ek my gedagtes wat soms wil weghardloop stil maak as dit nodig is en eerder draai na die Here wat my liefhet. Ek wil Hom vra om my te lei, sodat Sy wil kan geskied want ek besef ek sal baie verder moet wegstap van my eie ek af, as ek deur God gelei wil wees. En ek kan maar want God is getrou. Elke keer as Matteus uit die Ou Testament aanhaal, dan gebruik hy die woordjie vervul. Byvoorbeeld in ... 2: 15 “So is vervul wat die Here deur 'n profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” En in 2: 17 skryf hy “Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het:” God is ‘n God wat woordhou. God bring Sy plan tot uitvoering. Jy kan jou lewe bou op wat Hy sê. Daar is ‘n olifant in die vertrek waaroor ons nog nie gepraat het nie. Ek vermoed dieselfde olifant is baie keer in ons lewens ook. Die kindermoord. Vir ons is dit dalk kanker, of misdaad wat ons getref het, of die dood van iemand naby ons. Dalk dink jy maar dit is onregverdig. Hoekom moet soveel weerlose klein kindertjies, seuntjies onder twee jaar oud, gesterf het. Hoekom die trauma vir daardie ouers en families? Ek kan jou regtig nie antwoord nie. Ek kan wel vra: Hoekom moes Jesus, mens word? Hoekom moes Jesus, die onskuldige sterf vir mense soos ek en jy? Ek kan jou ook wys daarop dat elke mens ‘n keuse het. En hierdie was Herodus se keuse. Een wat God lank vooruit sien kom het. En Jesus daaruit gered het sodat Jesus se doel op aarde op de regte tyd voltooi kon word. Ons leef en kry swaar met die siek of verkeerde keuses van baie mense, ook van die Herodusse van ons dag. Kom ons kies om nie ander te laat swaar kry onder ons keuses nie. God beloof ons nie ‘n aldag maklike lewe nie. Maar Hy belowe ons dat Hy by ons is. En in die kruis van Sy Seun sien ons hoe vêr God gaan om te deel in ons swaar. Moenie vaskyk in die seer en kindermoord nie. Wel as jy nie anders kan nie, kyk dan vas in die kruis waar hierdie einste Jesus in ons lyding kom intreë. Aan die kruis sien jy God deel ook in ons swaar. Hy is een van ons selfs in die donkerste donker. Selfs die boosheid in Herodus kon nie God se plan keer nie..... Die groot geestelike uitdaging vir ons is om te vertrou dat God ons lief het en oortuig te wees dat ons Syne is sodat ons werklik vry kan wees. Vry om te praat al word ons geignoreer, vry om liefde te leef al word ons gekritiseer, belaglik gemaak daaroor of selfs afgeskryf. Ek nooi jou uit: Kom plaas jou vertroue, jou lewe in God se hande soos Maria en Josef en Jesus en elke gelowige daarna. Kom tuis in Sy liefde.