Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Kersdag 2019 Matteus 1: 18 – 25 So, waaroor gaan kersfees eintlik? Stupid vraag dalk. Tog kry ek die gevoel dat die belangrike weggeraak het deur die jare Hierdie is ‘n verhaal van mense wat doen soos God dit wil hê. Ek vermy vir eers net die woordjie gehoorsaam. Die woordjie gehoorsaam is nie baie populêr by die meeste mense nie, ek weet dit. So kom ek sê dit dan reg: Josef en Maria het God so liefgehad dat hulle gedoen het wat en soos Hy gevra het. En die resultaat was GROOT!! Hulle liefde vir God raak vandag nog vir jou en my. En nee dit was nie maklik vir hulle nie. Dit is nooit maklik nie. Dit het ‘n krisis vir hulle albei meegebring. Matteus vertel van Josef se krisis. ‘n Stukkende wêreld bring stukkende denke, stukkende reaksies. En jy kan Josef nie blameer nie. Hy weet hy is nie die oorsaak van Maria se swangerskap nie. So, dit kon net een ding beteken: sy was ontrou. Hoe anders kan ‘n mens dan daaroor dink? So verbreek die verlowing. En dit is net God se ingrype wat die hartseer omswaai. God wat nie opgee op Sy plan of op ons as mense nie. En Hy bring Josef terug om sy plekkie vol te staan. Sien vandag die mooi raak van Josef. Hy kon kleinlik geraak het en ‘n groot bohaai gemaak het en Maria regtig sleg laat lyk het. Dit word gemeen dat in daardie tyd reeds is jong meisies nie meer gestenig oor so iets nie. Maar dit is nie heeltemal uitgesluit nie. Hy kies om stil stil sy en Maria se paaie te laat skei. Hy wou haar al die seer en skande spaar. Jy kom ook agter dat Josef God getrou gedien het. Die uitvoering van die wet kom kort kort ter sprake in die eerste deel van die Jesus verhaal. Dit is die soort man wat God kies om ‘n aardse, ‘n instaan pa vir Sy kind te wees. ‘n Houtwerker. Ambagsman. Uit een van die armste streke: Galilea. Spesifiek Nasaret. ‘n Plek waarvan die Jode sou sê vra: “Kan daar iets goeds uit Nasaret kom?” Maria se liefde vir God ken jy goed. Haar bekende woorde ““Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Onderstreep haar toeweiding aan God. Ek hoop jy hoor gewone mense, gelowig, wat positief reageer op God. Ongeag die prys. En ek bid dat jou liefde dieselfde toeweiding aan God sal bied. Dat ek en jy werklik tot beskikking van die Here sal wees, al is dit net om elke dag soos Hy mense lief te hê; soos Hy mense te vergewe; soos Hy om te gee vir die siekes en dit wat een kant toe geskuif word. Is dit tog nie die boodskap van Kersfees nie? God wie se Seun mens word vir mense wat dit nie verdien nie. Uit liefde uit vir God en ons, mens word, om vir ons Sy lewe te kom gee. Wat ‘n kragtige voorbeeld. Sien ook die mooi van God raak. God wat woord hou. Dinge reël en moeite doen om Sy Seun in Betlehem en uit die regte bloedlyn gebore uit te laat word. Matteus bied die hele bloedlyn aan. Dit was vir die Jode belangrik. En dit was vir God belangrik om Sy woord presies gestand te doen. ‘n Verlosser uit die stam van Dawid. Die mooi van God is te sien in dat Hy nie magtige en vooraanstaande mense nader trek nie. Maar Hy kies sy gewone mense en Hy rus hulle toe deur Sy Gees en dikwels maak Hy hulle geskik. As jy deur die geslagsregister van Jesus lees dan kry jy Dawid. Dawid se eie pa het nie gedink Dawid is geskik nie. En God sit vroue in. En selfs die prostituut Ragab. En ek besef dat God jou en my raaksien. Daar is plek vir jou en my by God. Hoe kosbaar God se omgee is vir die wat Hy roep. Vir Maria. Vir Josef. So duidelik dat dit wat hulle beleef het hulle met absolute sekerheid laat optree soos God gevra het. Helder duidelik in wat hulle moet doen. Dit is die Here. Vers 24 sê mooi “Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou. Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.” Toe hy wakker word het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het. Wat ook mooi is dat God nie ‘n blink affere maak van die geboorte van Sy Seun nie. Dit gebeur in eenvoud. Die enigste tekens is die ster. En die engelekoor. Maar lg verskyn aan skaapwagters. Dit bly kosbaar om te lees dat wat later baie duidelik sou blyk een van die die grootste oomblikke in ons wêreld se geskiedenis sou wees, die geboorte van die Seun van God as mens, die Christus, die Verlosser van die wêreld word in een enkel sin gesê. “Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.” In die sin daarna, word Sy geboorte in ons as mense se geskiedenis vas geanker. In die tyd van koning Herodus. “ Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes.” Die mooi van ons. God wat seker maak dat ek en jy die verhaal sal kan glo en na God kan draai om deel te word aan die goeie nuus wat na ons wêreld toe kom: Vandag nog, is die Redder hier. Vandag nog kan ons aan Hom eer en hulde bring. Vandag nog kan ons ons liefde vir Hom sigbaar maak in hoe ons Sy wil leef. In hoe ons Hom lief het. Op die einde is kersfees die begin van hoe God ons terugbring in gehoorsaamheid aan Hom. Dit weer moontlik maak dat ons Hom kan lief hê met ons hele hart en siel en verstand en met al ons krag. Welkom terug.