Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 1: 1 – 17 Ek wil met ‘n snaakse beeld begin. Want ek is bang ek verloor jou voor ek nog begin. Want ek vermoed almal weet al die tegniese goed rondom hierdie deel. 3 x 14. Vroue in ‘n geslagsregister waar net mans moes wees en en. So kom ons gaan ‘n ander roete. Wie van u speel graag kaart? As ek reg verstaan dan is dit belangrik om nie al jou kaarte vir die res van die groep te wys nie. Jy hou hul toe, net vir jouself, en dan stuk vir stuk pak jy hulle uit op die regte tyd. Ek wil vanoggend die teenoorgestelde doen. Soos die Here wat gereeld anders te werk gaan as wat mense verwag. Soos in die gedeelte wat ons saamgelees het. Nou vanoggend wil ek sommer dadelik al my kaarte op die tafel uitpak. Of dit ‘n wenhand is moet jy besluit. Ek dink dit is. • Die eerste kaart is: Christus. Hierdie deel gaan absoluut oor die Christus. • Hoop is my tweede kaart. Dit is ‘n geslagsregister vol hoop • Die derde kaart is Oordeel. Wie is in en wie is uit? Oordeel nie. • My vierde kaart: Nog eens Christus. God is in beheer. Kom ons begin. 1. Christus Joodse geslagsregisters begin met die eerste naam. Hierdie een moes dus begin het met “Die geslagsregister van Abraham, die vader van Isak. Maar nou begin hierdie een met ... “Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham:” ... en dit eindig met ... “Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.” Jy hoef nie ‘n teoloog te wees om te besef die herhaling is belangrik en dat dit gaan oor die Christus. Op ‘n manier dien al die name op hierdie lys net een doel en dit is om ons uit te bring by God se belofte aan Israel: Dat daar ‘n ewige koning uit die stam van Dawid sal regeer. En ons kom ook uit by God se belofte aan Abraham dat in hom al die nasies geseën sal wees. In hierdie Jesus, die Christus (Christus is ‘n titel. Dit is die Grieks vir Messias), word die nasies geseën. Die seën lê in dat Hy ons weer verenig met God. Versoening, vrede bewerk tussen God en ons (Rom 5:1 ev). In Hom verkry ons vrye toegang tot die Vader (Hebreers 10). In Hom word ons sondes vergewe en so kan ek aan en aan gaan. Dit is hier wat ek en jy iets moet begin besef: Ons lewens dien Christus. Ons lewens moet om Christus draai. Hy is ons Redder. Maar Hy is ook ons Koning. Hy is die Een vir Wie ons dien. Ons het die voorreg om Hom anders te ken as die meeste van die name op die lys. Ons kyk van na die kruis terug, en ons sien die Verlosser. En ons word tempels waarin Hy deur Sy Gees woon. En so kry ook ek en jy die kans om tot seën van baie ander te wees. Om die wêreld ‘n beter plek na te laat deur Christus Jesus ons Here. 2. Hoop Hierdie is nie maar net ‘n lys name nie. Wat ons moet raaksien is God se hand in ‘n lang geskiedenis. Dis baie jare se lewens wat hier uitgespel lê. In al hierdie lewens was God agter die skerms besig om te werk na hierdie punt toe: die koms van God se Seun Jesus na hierdie aarde toe. In Abram wat Abraham moes word. En in Isak wat geoffer moes word. In die keuse van ‘n Juda bo die ander broers. Dawid eerder as sy klomp ouer bekwame broers. En so kan jy aangaan. Die laaste een is die vreemde sin, vers 16, dis nou as jy ‘n Jood in daardie era was sou dit vreemd op die oor geval het: “Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.” Nie net word Maria genoem nie maar Josef word so half uitgeskuif. Dis duidelik hy is net die aanneem pa, of grootmaak pa, vir Jesus, wat ook Christus geoem word. God is besig om Sy aarde te regeer en Hy doen dit volgens ‘n netjies uitgewerkte plan. Jy kan vaskyk in die netjies opstelling van die name: 3 groeperings van 14 name elk. Jy kan vasdraai in vrae soos hoekom is daar drie geslagte uitgelaat. En in die keuse van jonger broers en nie die oudste nie. Hoekom het God juis hierdie lyn gekies? Of jy kan dieper kyk en besef maar God is hier aan die werk. Maw die doel is nie om te vra wie is hierdie Jesus nie en dan dit te probeer bewys met Sy geslagsregister nie. Die doel is om te sê hier is die begin. In God se hand het dit so uitgespeel tot op hierdie punt. Ten spyte van mense, soos Dawid met sy owerspel, werk God se plan presies uit om die Christus te plaas volgens Sy belofte. Skep moed, kry weer hoop want God het nie net ‘n plan nie maar God het ook die vermoeë om Sy plan uit te voer. Daar is ook geleerdes wat in die Griekse woordkeuse voel dat hierdie ‘n nuwe Genesis is. God wat oor begin. Oor skep in Jesus Christus. 3. Oordeel nie. Jy sal bietjie saam met my moet dink oor hierdie kaart. Dis nie ‘n ooglopende een nie. Dalk die joker in die pak? Hier is ‘n paar name wat met stories saam kom. Name, of stories wat die rabbies voor hul neuse sou optrek. Hul sou die tipe mense vermy het want hulle is sondig. Iemand het op hierdie punt gesê neus optrek is tipies van mense wat op ander neer kyk omdat hulle dink hulle sonde is nie so erg soos daardie een s’n nie. Okay, ek vermoed die rabbies het gedink hulle saak is reg met God. Maar ons weet beter. Ons kan daarom ook moed skep want mense met, sal ons sê verkeerde reputasies, is ook in God se plan gebruik. En haai, ook ek en jy word deur God gebruik om mense se lewens aan te raak. Om Sy liefde uit te deel aan mense wat dit ook nie verdien nie. So in die gewone gang van elke dag. Kosbaar. Wat ‘n onverdiende voorreg. En nee, laat ons nie neerkyk op ander of ander oordeel nie want ons is ook maar net verlorenes wat deur die Christus gered is. En het Jesus dan nie, baie tyd deurgebring by die gewone mense, en die siekes, en selfs die tollenaars en eenkant gestote mense nie. Het nie juis hulle graag na Jesus gekom om by Hom te leer nie. Reg deur die evangelies lees jy dat Jesus juis tyd met daardie soort mense deur gebring het. Hy het nie gefokus op die wat geglo het hulle saak met God is reg nie, maar op die wat geweet het hulle is vêr van God af. Jesus reik uit na mense na wie met die vinger gewys word en van gepraat word as “hulle”. “Daardies.” 4. God is in beheer. Dis die laaste kaart wat ek uitpak. Eintlik sluit ek net hiermee af. Dit bly ons troefkaart op die lewe. Christus is ook God in beheer. Ons skep moed deur raak te sien dat God in die geskiedenis werk. En ten spyte van alles wat skeefloop en al die verkeerde keuses van mense, laat God nogsteeds Sy wil geskied. Ek skep moed want ek weet God doen dit vandag nog. Niks is oor en verby tot God so sê nie. En al maak baie dinge nie sin nie, ‘n droogte in Israel het Rut in Boas se lewe in gebring. En verspieders wat weggesteek word bring Ragab in God se plan in. En al sou die wêreld sukses anders meet en foute probeer wegsteek, word God se Seun gebore in ‘n arm-mans-huisie, by die staldiere. En is Sy geslagsregister vol geraamtes. God wys Hy kom na die geringes en Hy vereenselwig Hy hom met die gewone mense, die swakkes, afhanklikes. Met sondaars. En later leer ons dat God kies om in mense soos ek en jy te kom bly. Permanent. Die evangelie van Jesus Christus was nog altyd stroom op, teenoorgesteld van die normale. Het Jesus nie vir Paulus gesê as ons swak is werk Hy juis kragtig deur ons? En nou moet ek seker maar vra: Is hierdie ook in jou oë ‘n wen hand? Of glo jy die wêreld sal hierdie kaarte kan troef? Maw glo jy Jesus is die Christus? Glo jy God regeer in hierdie wêreld? Glo jy dat God dinge kan omswaai ook in ons tyd?