Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Jesaja 11: 1 – 10 Agtergrond: Hierdie deel speel af teen die agtergrond van Assirie se aanslag op Juda. Israel het reeds geval. Dit is die jaar 721 vC . Volgens 2 Konings 18:13 en verder, het Sanherib teen 701 vC met sy aanslag op Hiskia begin. Hiskia het net voor dit opgehou om belasting te betaal aan Assirie. Jy kan hiervan lees in Jesaja 10:28-32 (vgl 2 Kon 18:17). Die profeet kom twee dinge sê: Die een sê die aanslag is die oordeel van God (vgl 10:6,22b-23) en die ander dat God ook vir Assirië sal oordeel (10:5, 12, 15-19, 25-26, 33-34). Maw God sal nie toelaat dat sy volk Juda heeltemal verdelg word nie (10:20-21). God sal dit voorkom deur "die Lig van Israel, sy Heilige" (10:17). Glo jy dit? Ek meen, ons sit vanoggend tussen ‘n klomp beloftes. Of Geloftes as jy wil. More is geloftedag. Versoeningsdag is die nuwe benaming. En ons het in Jesaja 11 God se belofte gelees dat daar ‘n iddilliese dag sal kom, ‘n dag waar kinders veilig sal wees tussen slange en die luiperds tussen die bokkies lê. En vanoggend is ook ‘n doopgeleentheid. Dus is daar ook die belofte van die doop. God wat Sy teken gee, Sy verbond sluit met klein Kehan. Is al die goed afgewater tot mooi gebruike? Leë maar dit laat jou beter voel herinneringe of gebruike? Moet ons nog waarde heg aan geloftes en belotes? Moet ons nog dit alles glo? Kom ek vat jou ver ver terug. In Lukas 4 lees ons van Jesus se besoek aan Sy grootword dorp, Nasaret. En soos Sy gewoonte was het Hy na die sinagoge toe gegaan. Hy het opgestaan om uit die Skrif voor te lees en hulle het vir Hom die boek van die profeet Jesaja aangegee. Hy het dit oopgemaak en begin lees: Dieselfde teks wat ons nou net saamgelees het. Net, as Lukas dit aanhaal, dan staan daar Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te gaan verkondig. In Jesaja staan daar elke keer hom en hy sal. Duidelik is Jesaja se profesie een vir die toekoms. Dit is nogals belangrik want toe Jesus klaar gelees het het Hy gaan sit, en met almal se oë op Hom gerig het Hy gesê: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.” Vandag is hierdie nie meer beloftes vir iewers vorentoe nie. Dit is nou aan die waar word. Wat daarna gevolg het laat jou met gemengde gevoelens. Die mense in die sinagoge daardie dag het hulle koppe instemmend gekink. Hulle was verwonderd oor die aangename woorde uit Jesus se mond uit. En toe roer Hy hulle. En daar is almal in die sinagoge woedend vir Hom. Hulle het Hom uit die dorp uit gejaag en wou Hom by ‘n krans gaan afstoot. Ek besef een ding: ons hou van die mooi belofte van Jesaja 11 (en Lukas 4:18 -19), ons kry selfs ‘n warm gevoel as ons aan die vrede dink. Dis ‘n mooi beeld. Maar. Maar ons wil nie verander nie. Ons wil nie hoor dat God buite ons volkie om kan werk nie. Ons self wil nie verander nie. Kyk net weer: Hulle het instemmend geknik toe Jesus sê vandag is hierdie Skrifwoord vervul. Hulle het gehou van Sy uitleg of preek oor Jesaja 11. Maar hulle wou Jesus nie erken as die loot uit die stomp van Isai nie. En daar gaan die Vrede toe die dorp uit. Jesaja 11 is gekoppel aan ‘n Persoon. In Lukas 4 ontdek ons dat daardie Persoon is Jesus. En dan maak ‘n klomp ander goed ook sin. Soos bv, dit is hoekom Josef en Maria na Betlehem moes gaan. Jesus moes in Betlehem gebore word. En dis hoekom die surrogaat(?) ouers uit die stam van Dawid moes wees, nageslag van Isai. God is regdeur besig om woord te hou. God is besig om dit wat Hy vooruit laat sê het, nou stuk stuk waar te maak. Dink wat dit beteken. In ‘n wêreld waar min mense se woord iets beteken, staan God en Sy Woord uit as absoluut betroubaar. Die ideë wat sommiges het wat dink God faal ons, is eerder ons eie verwagtings van God. Ons sal dit nie sommer erken nie, maar ons verwagting is dat God ons moet dien, ons gebede moet diens, ons wil en wense moet laat geskied en dan ons ook tegelyk bewaar van ‘n klomp goed wat ons bedreig. As jy vir ‘n oomblik dan jou verwagtings van God kan laat vaar en net raaksien dat dit ons is wat weer moet leer om God te dien, ons is wat weer moet besef die lewe draai nie om ons nie maar om God, dan verander jou prentjie. Ons prentjie verander vanaf mense wat in vrede ons eie ding wil kan doen , na mense wat deur Jesus verander word om vredemakers te wees. Mense wat saam met God werk om God se vrede te bring na ander. Skielik kan ek nie meer ‘n onrusmaker wees nie, iemand wat “stir” en stories aandra om te kyk wat gebeur nie. Nou moet die stories by ons doodloop. Nou moet ons mense terug bring by God sodat God hulle kan terugbring by hulle families en by ander mense uit. Daar is teveel mense wat in kwaai vriendskap leef. Daar is teveel families wat nie meer met mekaar praat nie. Teveel mense wat dink die leeu moet verskeur en wat leef volgens die motto verskeur voor jy verskeur word. Jy kan God mos nie in so iets sien nie. Stephan Joubert skryf hierdie week van die dissipels wat vuur uit die hemel uit wou afroep op ‘n Samaritaanse dorp omdat die dorp Jesus nie wou hê nie. En Jesus verbied dit. Stephan wys nogals uit dat Jesus Homself nie handhaaf nie maar net wegstap, dat, dis nie meer soos in die dae van Elia nie, waar jy vuur uit die hemel kan afroep op ander nie, maar die tyd van Jesus. Die tyd waarop die leeu en die lam langs mekaar kan lê. Om by hierdie punt uit te kom is nie so eenvoudig nie. Vra maar die dissipels. Jy moet met jou hele hart inkoop in dit wat Jesus geleer en geleef het. Jy moet besef, glo, dat Jesus die takkie uit die stomp van Isai is en dat Hy sal vrug dra soos Jesaja 11: 1 sê. Trouens jy kan reeds die vrugte sien. Jy kan nou reeds sien hoe God mense verander. As ek van naderby na die teks kyk dan sien ek dat die werk van die Gees staan uit. Dit is die Gees wat op Hom sal rus. Die Gees wat die wysheid en insig sal gee; die Gees wat raad en sterkte gee; die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here. Deel van die vrugte wat die Takkie uit die stomp van Isai gedra het, was dat dieselfde Gees nou op ons rus. Nee ons word nooit Hy nie. Ons word net gevul deur Hom. Sodat ons soos Hy vredemakers kan wees. Sodat ons Hom tussen ander kan leef. Sodat ons anders as die wêreld wat net oorlog en haat en stryd en vrees ken, kan uitstaan as mense wat nie saampraat met die lelik en die haat en veroordelings nie. Maar mense is wat glo in God en in wat God se liefde kan doen. Ek weet nie of jy opgemerk het nie, maar in verse 3 tot 5, waar Jesaja voorspel dat die Takkie nie net vreugde sal vind in die diens van die Here nie (vers 3) maar dat Hy ook sal regspreek. Hy sal oordeel. En as jy mooi kyk dan word almal geoordeel. Die armes, die regverdiges en die goddeloses. Niemand spring die oordeel vry nie. En na dit kom die pragtige beeld van vrede en harmonie. Dit is hier wat ons opnuut moet keuses maak. Ons eie geloof en verwagtings ondersoek. Oa of ons enigsins verwag dat Jesus hierdie vrederyk gaan bring. Is hierdie leë beloftes? Het God van ons vergeet? Nee. Kyk na alles wat Hy net in ons midde gedoen het. Dink aan die genesing. Ander uitkomste soos die wonderlike reën. Dit is steeds die moeite werd om vas te hou aan God se beloftes. Dit is steeds die moeite werd om vir God alleen te lewe. Thys, Lorien, julle moet julle kinders leer dat die pad van die wêreld is nie die pad om te volg nie. Maak hulle so groot dat hulle in jul voorbeeld en in jul menswees kan sien dat die koninkryk van God het inderdaad naby gekom, Jesaja se woorde het begin in vervulling gaan met Jesus en dat Jesus die enigste weg is om te lewe. Leer hulle dat God se beloftes is waar en betroubaar en hulle kan daaraan vashou. Maar dit is nie net Thys en Lorien se taak nie. Daar word nie verniet gesê “it takes a village to raise a child” nie. Ons almal is voorbeelde van of mense wat vir hulself leef, of voorbeelde van mense wat vir God leef. En of ons daarvan hou of nie, die kinders kyk na ons almal, en dan is dit maak of breek sake vir hul geloof op grond van wat hul in ons lewens ervaar. Maar ons moet self hierdie visie mooi lees, dit sien soos dit gekoppel is aan Jesus. En dit so lees dat dit ons eie visie word, ook ons droom dat dinge eendag so kan wees. En gee jou dan ten volle vir die Heilige Gees om so in jou te werk.