Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Jesaja 2: 1 – 5 Met die eerste lees van hierdie gedeelte word ons getref deur ’n visie van die profeet wat vertel van ’n tyd wanneer dit sal goed gaan in die volle sin van die woord. As jy wyer lees, dan sien jy dat hierdie belofte aan beter tye, hierdie opbenbaring lê tussen ‘n klomp oordeelstekste. God wat Sy volk beskuldig van ontrou. Geleerdes lees graag 2:1 – 5 deur tot by 4: 2-6. Lg is ook ‘n booskap van hoop. Die twee dele vorm ‘n raam om die oordeel wat wag op Israel as hulle hul nie bekeer nie. Kom ek voer ons terug na Jesaja se tyd, so al asof ons self daar is om te hoor. Ek neem ons terug na iewers tussen 740 tot 690 vC. Die gevaar is groot dat ons die land gaan verloor. Die Assieriers dreig om ons in te neem en weg te vat vêr van hieraf na ‘n plek waar ons nie wil wees nie. Die profeet hou aan met waarsku teen koalisies. Hy bly sê: Vertrou op die Here. Jy moet nou mooi verstaan, ons dink dalk ons pad loop met die Here, maar die Here sien dinge anders. Hy laat dinge sê soos, “3 'n Bees ken sy eienaar en 'n donkie die krip van sy baas, maar Israel ken My nie, my volk het geen begrip van wat Ek doen nie.4 Ellende wag vir julle, sondige nasie, volk met skuld belaai, geslag wat verkeerd handel, julle wat net afbreek, wat My, die Here, verlaat het, My, die Heilige van Israel, verag en vir My die rug gedraai het.”(1: 3,4) Harde woorde val soos dat ons weer moet leer om goed te doen. Dat dit wat ons sê ons glo moet gesien kan word in hoe ons is en leef.Ons moet ons saak met die Here kom uitmaak. Jy moet ook verstaan dat dit geldelik met ons goed gegaan het. Wag, laat ek dit beter stel, met baie van ons mense het dit goed gegaan. Miskien vandaar ons doofheid vir die Here. Ons glo mos en kyk dit gaan goed, voorspoed is tog ‘n teken van seën van Bo, so hoekom moet ons ons bekeer? Dit ... is tipies hoe die mense van my dag gereageer het. En toe het Jesaja, seun van Amos hierdie openbaring van God af met ons gedeel: (2: 1 -5) Skriflesing: Jesaja 2: 1 - 5 1 Die openbaring wat Jesaja seun van Amos ontvang het oor Juda en Jerusalem. 2 Daar kom 'n tyd dat die berg waarop die huis van die Here is, 'n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die heuwels. Al die nasies sal daarheen stroom,3 baie volke sal daarnatoe gaan en sê: “Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer, en ons daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit Jerusalem die woord van die Here.” 4 Hy sal oordeel tussen die nasies, regspreek oor baie volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie. 5 Kom, volk van Jakob, laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom.” In ons stukkende wêreld met die Assiriers wat wil aanval en God wat vir ons kwaad is en soveel lelik elke dag gebeur, kom sit die profeet hierdie wonderlike hoop tussen ons neer. Ons het daardie dag gesit en luister. Vir die wat die Here lief het was dit musiek in ons ore. Dink net, ons kan begin droom van ander tye, mooi tye. Tye waar daar nie meer oorloë sal wees nie. Swaarde sal in ploegskare verander word. Spiese in snoeiskêre. Mense sal nie meer geleer word om oorlog te maak nie. En dit alles sou hier uit ons midde uit gebeur. Hier uit Sion, Jerusalem. Mense sal van heinde en vêr kom om God se Woord te hoor. Al die nasies sou sê “Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer, en ons daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit Jerusalem die woord van die Here.” Ons het hoop geskep. Maar die mense om ons, ook tempelgangers soos ons, wou nie bekeer nie. Vanoggend, Sondag 8 Desember 2019, is dit ek en jy wat hoor wat die profeet Jesaja sê. En ons kan begin droom van ‘n tyd wanneer al die mense weer terug sal stroom na God toe. ‘n Tyd wanneer God en God se Woord by alle mense weer gesog sal wees. En mense daarvolgens hulle lewens sal reël. Hulle sal wil hoor wat God sê sodat hulle daarvolgens kan lewe. En volgens die Woord WIL lewe. Maar voor dit nog kon gebeur, was God se eie mense, Sy volk, doof vir God. Keer op keer in die eerste 12 hoofstukke hoor jy: Plaas jou hoop op die Here! Leef reg. Leef soos die Here dit wil hê. Om te glo vra om gesien te wees dat jy leef soos die God in Wie jy glo van jou vra. Dit wat God vir Jesaja in die openbaring laat sien het, het toe nie gebeur nie. Die vrede het uitgebly en die Assiriërs met al hul wreedheid het Jerusalem kom platslaan en die volk in ballingskap weg gevat. Net omdat hulle nie wou hoor nie. En tog is dit verse soos hierdie 5 verse in Jesaja 2, wat vir Israel later gedra het deur jare se ballingskap: daar kom ‘n dag, dan sal nie net ons terugkeer na Jerusalem toe nie, en die tempel sal op die heilige berg weer staan en ook al die ander nasies sal voor God kom buig. Hulle sal wil leef soos God sê. En oorlog is nie wat God wil nie, maar vrede. En God het ten spyte van die mense, Sy visie nader gebring in Jesus. God het dit gedoen deur self mens te kom word. En baie wat gehoor en verstaan het, het God se pad van vrede gekies. Ons moet mooi raaksien dat vrede en reg loop soos verliefdes hand aan hand. Die Here spreek die reg, Hy bring die reg en die gevolg is vrede. Vrede word nie by die naam genoem nie maar die swaarde wat ploegskare word, die spiese wat snoeiskêre word sê dit. Daar is ‘n nuwe manier van leef wat maak dat mense van oral oor na God begin vra. Hulle wil ook hê wat God se volk het. Ek hoop jy besef dat geloof raak nie net jou innerlike lewe nie. Jou geloof word geleef in die doen van God se wil. Soos die Ons Vader gebed dit mooi leer: Laat U wil geskied hier op aarde, soos in die hemel. Maw laat U wil in ek wat bid se lewe, en in ander so geleef word soos in die hemel. Die openbaring, so mooi en aangrypend as wat dit is, vereis, omgekeerde lewens wat nou God se wil leef. Vers 5 sê dit mooi: “Kom, volk van Jakob, laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom.” Wat hartseer is in hierdie deel is, dat terwyl die nasies na God toe kom en vra na God se wil om dit te leef, doen Israel dit self nie. Leef Israel self nie in die lig van die Here nie. Toe die gryse ou Simeon, self ook ‘n profeet, eeue later, die klein Jesus in sy arms neem, toe sê hy: “Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het wat U gereed gemaak het voor die oë van al die volke: 'n lig tot verligting van die nasies en tot eer van u volk Israel.” In Jesus het die nasies begin kom. Ook ons het deur Hom na God gekom om te hoor wat God se wil is. En ook ons moet Jesaja se oproep hoor dat ons moet lewe in die lig wat van die Here af kom. Sy oproep aan die nasies het ‘n dubbele doel: ons kom na die Here sodat Hy ons kan leer. Dit is die eerste doel: om deur die Here geleer te word. En dan kom die tweede doel as deel van die eerste, sodat ons daarvolgens kan lewe. Dit is meer as net om getrou my Bybel lees. Dit is om dit wat ek lees te omskep in hoe ek leef. Dit vra bekering elke dag. Elke dag terugkeer na hoe God wil hê ek moet leef. Elke dag meer en meer soos Jesus word. Daar is ‘n dringendheid, in die lig van hoe die volk leef en in die lig van dreigende oorlog en krisis. Daardie selfde dringendheid is vandag steeds teenwoordig. Kyk om jou. Die tekens van God se eind oordeel is om ons. Bekeer. En leef soos God dit wil hê. Veral omdat ons nie weet wanneer alles finaal in plek gaan val, is dit belangrik dat ons waaksaam, gereed sal wees ten alle tye vir Jesus se finale koms. Kom dan, kinders van die Here, kom ons leef naby aan God sodat ons in Sy lig kan lewe.