Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Psalm 29 Psalm 29 wil ons oorweldig met die grootheid en die krag van die Here. Dit trek ‘n mens in na God toe, oorweldig jou met die besondersheid van die God Wie ek en jy dien. Daarom het ek gebid dat die Here vir jou so ‘n werklikheid sal wees vanaand dat jy die Here die Almagtige sal eerste stel en jou lewe nog meer op en om Sy wil bou. Ek het gebid dat jou verwondering vir Hom net sal bly toeneem. En dat elkeen van ons sal besef dat die lewende God nie beperkings het nie. Die wêreldekonomie raak Hom nie. Regerings keer Hom nie. In die woorde van Paulus: niks maar niks in hierdie wereld kan keer dat God jou sal liefhê nie. Ons kan meer raaksien alles wat God doen. Dat absoluut niks vir God onmoontlik is nie. Ek hoop dat ons tenminste net so 'n klein bietjie sal besef dat God nie dieselfde beperking as ons het nie. God voel nooit uitgelewer nie. God beleef nooit ons magtelose frustrasie as ons iets nie gedoen kan kry nie. Psalm 29 begin met drie opdragte aan die hemelinge: Prys die Here. Ek dink dis veilig om te sê dat dit ook vir ons geld. Ook ons moet die Here prys. En na die vorige week se wonderlike reën glo ek ons wil God uit die hart uit prys. Prys die Here om sy eer en sy mag. Prys die Here om die eer van sy Naam. En dan word jy bewus van God se teenwoordigheid ... en ook ek en jy moet neerbuig voor God se verskyning. Buig voor die Here. Buig in erkenning van Sy koningskap oor jou en buig as teken jou absolute oorgawe en toeweiding aan God. (Sommige vertalings lees: Dien) Buig voor die Here want kyk die effek, die grootse krag van Sy teenwoordigheid. (Vers 3 en verder). Sewe maal word gesê wat gebeur as die Here Sy stem laat hoor. Sy stem: • kloof die groot sederbome middeldeur • laat die Libanonberge rondspring soos dit dreun • laat die woestyn en wilde diere verskrik Die Here se stem kom met so 'n krag en mag dat die hemelinge uitroep: “Hoe geweldig!” In Eksodus toe die 10 gebooie aangekondig is het die Here ook Sy teenwoordigheid voelbaar gemaak (as ek dit so mag uitdruk). En die volk het in angs gebewe en op ‘n afstand bly staan. Hulle wou nie dat God direk met hulle praat nie want hulle was bang hulle sou sterf. Moses moes namens hulle praat. Jy hoor die echo’s hiervan in Hebreers 10. Bv “Dit is verskriklik on in die hande van die l ewende God te val (10:31).” En dan breek die dankbaarheid deur: In Jesus het hierdie onsagwekkende, skrikwekkende God ons Vader kom word. Word die mag en krag bedek met die sagtheid van ‘n Vader se liefde vir kinders wat Hy tot oorlopens toe lief het. En ek kan net bid dat ons, hierdie geliefde kindertjies van Hom, so oorweldig mag word deur God se grootheid dat ons elke dag soos ‘n driejarige wat onwrikbaar glo sy pappa is die grootste en sterkste en sy pappa sal alles beter maak vir hom. Mag ons in verwondering voor Hom leef. Nie net verwonderd oor Wie Hy is nie maar ook verwonderd dat ons enigsins Sy kinders genoem mag word. En dat ons elke dag spontaan sal wil bely: Hoe groot is U, Here ons God. En dankie, dankie, dat in Jesus ons so bevoorreg is om nie meer in vrees vir hierdie ontsagwekkende God te lewe nie. Dink aan die vrye toegang tot Hom, soos ons nou ook op hierdie oomblik hier mag beleef. (Hebr 10: 19). Mag hiermee saam dan die besef tuiskom dat ons veilig in Sy hande is, Dat vers 11 regtig so is: “Die Here gee krag aan sy volk; die Here seën sy volk met oorvloed.” Miskien voel u dis alles goed en wel maar die droogte is nog lank nie gebreek nie en die dam is leeg en daar is onrus orals in die land en misdaad is skrikwekkend hoog en die haatspraak teen ons word almeer. Of dalk voel u heel eerlik vanaand dat dit was nog nooit vir my so nie, of dalk ken u iemand wat so voel. Wat sê: Ek hoor nie die Here se stem in my lewe nie. Ek veg maar op my eie voort. Ek kan nie sien dat God hier by my werk of by my huwelik gaan instap en my omstandighede verander nie. Herinner jouself: God laat niemand in die steek nie. Die doop spel dit uit: Ek is by jou. En begin luister. Daar is ‘n rede hoekom antwoorde uitbly. Wag op die Here. Kan ek byvoeg. Jy hoef nie altyd Sy stem te hoor nie. Jy hoef net oortuig te wees dat Hy sal doen want alles het tot hier toe vir jou gewys dit is die regte pad. Jy hoef soms net een voet voor die ander te sit en te doen wat jy moet totdat God op die absoluut perfekste tydstip die deurbraak gee. Onthou net: God het met Elia gepraat – nie in die rukwind wat die rotse op die berg uit mekaar geruk het nie. Ook nie deur die aardbewing nie. En anders as met Moses met die brandende bos het die Here ook nie in die vuur met Elia gepraat nie. Maar daar was 'n fluistering in die windstilte (1 Koning 19: 12). Toe het God met Elia gepraat. Psalm 29 wil sê God is nie soos Baal waar mense eintlik maar net die weerlig of ander natuurelemente aanbid uit vrees nie. God is groter as die goed. God se stem is meer kragtiger as die ergste en vreesaanjaendste storm wat jy nog ooit beleef het. Maar God het baie maniere waarop Hy met jou praat. So moenie met resepte kitsoplossings vir Sy stilte in jou lewe gaan soek nie. Gaan leef naby aan Hom – so naby dat jy kan hoor – en jy sal God hoor praat met jou. En jy sal beleef: Hy gee krag aan jou, Sy kind; die Here seën ook vir jou met oorvloed. Word nou stil … en aanbid Hom … in stilgebed. Amen.