Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Psalm 111 Ek het baie gebid oor hierdie nagmaal. Nagmaal laat my klein en nietig voel maar ook geliefd. En in die week vooraf het dit my oorweldig met my sonde en ek het besef ek moet vid vir my en vir jou dat ons in die brood en wyn die genade so skerp mag proe dat ons nie anders sal wil as om ons nog meer totaal oor te gee aan God. Mag ons saam met die digter van Psalm 111 opgewonde raak oor die Here. En mag dit wat jy vanoggend weer beleef het, jou opnuut inspireer om God nog meer te dien. En, so ook in wysheid te kan toeneem. Psalm 111 eindig met “ “Wysheid begin met die dien van die Here; almal wat dit doen, het ware insig. Die roem van die Here hou altyd stand.” En Psalm 112 begin met “Prys die Here! Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien, wat al sy vreugde vind in die gebooie van die Here.” Hoekom sê die twee digters so? Wel, Psalm 111 sê vir ons hoe God is en hy sê ook wat God doen. En Psalm 112 vertel jou dan meer van die effek wat God het op Sy kinders se lewens. Psalm 112 bevestig maw die stelling: Wysheid begin met die dien van die Here. En as jy dit besef dan gaan ‘n nuwe wêreld vir jou oop en jy wil hierdie Here dien. En hoe meer jy Hom dien, hoe meer gee Hy jou wysheid. Hoe meer kry jy ‘n dieper verstaan van die lewe en jy besef dat dit waar teen ons vaskyk is nie die volle werklikheid nie. Daar is meer aan die lewe. Daar speel meer agter die skermsaf, meer agter die ooglopende uit. 1. Hoe God is. Kom ons kyk hoe God is. Hierdie Psalm sê dat dit wat God doen is groot. En dit wat God doen is vol majesteit en luister. Kom ek stel dit so: dit haal die voorblaaie op ‘n goeie manier en dit beindruk ieder en elk geweldig. Mense praat daaroor. In vers 2 staan daar dat mense dink daaroor na en vind plesier daarin. Op God kan jy staatmaak. Vers 3 sê God se trou staan vir altyd vas. En in vers 7 weer: Alles wat God doen getuig van trou en reg. Sy voorskrifte staan. Dis altyd geldig. Maw God is nie vandag so en more anders nie. God is heilig. In Antieke tye is jou naam verteenwoordig van jou volle jy, dus nie net God se Naam is heilig nie, dit beteken dat God self is ook heilig. En dit wek ontsag. En dit word afgesluit in vers 10 met “die roem van die Here hou altyd stand.” Die prentjie wat die digter skep is een van God wat in Sy optrede en in Sy wese en heiligheid vêr bo alle mense en tye is. Jy kan God nie met iemand of enigiets vergelyk nie sê Jesaja (Jes 45). Hy is absoluut in ‘n klas van Sy eie. En dit maak sin want God het alles geskep en wat jy skep kan nooit jou vlak bereik nie. Vir ons beteken dit dat ons veilig is in ons Hemelse Vader se hand. Dat God vandag nog die onmoontlike kan doen. Dat ons vandag nog op Hom kan vertrou. 2. Wat God doen. Kom ons kyk wat God alles doen: • Hy sorg dat Sy magtige dade nie vergeet word nie. En as jy wonder hoekom God enigsins nodig het om dit te doen dan hoef jy maar net na Israel se geskiedenis te kyk. Keer op keer het hulle die magtige dade van God vergeet. Hulle het ongelooflike dinge beleef met die 10 plae in Egipte. En met die uittog, net om in die woestyn te rebeleer en te sê hier gaan ons omkom van die honger. Asof God nie kan voorsien nie. En as jy mooi begin nadink oor jou eie lewe, ver terug dink, dan besef jy ons vergeet netso vinnig van God se vermoëns. Ons treë netso vinnig op asof God nie kan voorsien nie. Eintlik dink ek ons leef effe te los van die Here. Ons vra nie genoeg na Sy wil met die bedoeling om te weet wat Hy wil. Wie vergeet, hou op vertrou. En wie ophou vertrou, val vir enigiets. Kom on luister net weer na wat God doen: • God voed die mense wat Hom dien. • God laat Sy mense die krag van Sy dade ervaar. Hy gee hulle die land van ander nasies. • Hy het vryheid vir Sy volk bewerk. En Sy verbond vir altyd ingestel. Die lewe is by God. Ons het nodig om te bly besef dat God is die een wat gee en aanhou gee en versorg. En Hy doen dit vir die wat Hom dien. 3. Van ganser hart. Psalm 111 laat jou met geen illusie dat enigsins enigiets minder as ... met alles in jou, is net nie goed genoeg om die Almagtige God mee te loof nie. Met elke lees van hierdie psalm raak jy net al hoe meer bewus: Hierdie God is die hoop vir jou lewe. Jy kan jou lewe heeltemal in Sy hande plaas. Jy kan Hom met ‘n geruste hart dien. Die psalm begin met een mens wat sê ek wil met my hele hart die Here loof. Maar dis nie die lied van ‘n enkeling nie. Hy vat sy lied na die gemeente toe. En die agtergrond wys uit dat hierdie die lied van die gemeente word. ‘n Belydenis dat dit God is wat vir hulle voorsien. ‘n Belydenis wat ons vanoggend opnuut moet hoor: God voorsien. God sorg. God doen. En God is ewiglik so soos ons hier lees. Die woord “verbond” bring die verbintenis met God nader aan ons. Dit wil sê onthou, die ooreenkoms wat God gesluit het. Ons wat na die kruis van God se Seun en Sy opstanding lewe, weet dat ons deel is van die nuwe verbond wat God met Sy gelowiges sluit. En as jy wonder of jy ooit deel is, voel aan jou voorkop: jy is gedoop. God het sekere beloftes aan jou gemaak. En hier voor, is die tekens van die nuwe verbond: brood en wyn. Tekens van Jesus se lewe opgeoffer om jou en my deel te maak van God se werke. So, ... ook ons kan jubel en juig oor God. Maar ons moet dit heelhartig doen. Met geloof. Ten volle. En hoe meer jy onthou van dit wat God al in jou lewe gedoen het en raaksien hoe Hy steeds sorg, hoe meer wil jy Hom dien. En hoe meer jy dien hoe meer kom jy tot die insig van wat God doen. Dien is ‘n doen woord. So laat ons ook dien. En laat ons juig oor die Here ons God.