Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 Korinthiërs 13: 1 – 13 As ek kan aansluit by verlede week se legkaart bou preek. Maandag het ek besef ek het iets nie duidelik genoeg gesê nie, dalk self nie 100% gesnap nie. Die beeld van ‘n legkaart het meer te sê. As ons die legkaart van ons lewens bou, daardie prentjie van ons wat ons graag wil hê God moet iewers teen ‘n muur wil opsit want Hy hou so daarvan, wel dan gaan jy God jou legkaart moet laat bou. Jy gaan elke dag by Hom moet sit en self die puzzle-stukkies in Sy hande sit, en vra dat Hy dit moet inpas. En dan kyk jy mooi hoe Hy stukkie vir stukkie alles inpas en bou. Kom ek stel dit so bietjie anders: Elke dag vra jy, Here, hoe moet ek vandag bou aan die puzzle van my lewe, en dan bou jy soos Hy sê. Onthou dat die puzzle het ander mense ook in die prentjie. Dis nie net ‘n selfie wat jy bou nie. Ek kry die idee dat Paulus se teenstanders in Korinthe het selfies gebou. Alles het oor hulle gegaan. Hulle het hulself as soort van super-apostels voorgehou. En Paulus en sy werk afgekraak. Hulle het die evangelie aangepas. En die evangelie misbruik om geld vir hulself te maak. Paulus weer het anders gebou. Hy het opofferings gemaak. Swaar gely om die evangelie te verkondig. In 2 Kor 11 lees jy van nagte sonder slaap, dikwels honger en dors, dikwels sonder kos. Daar was rowers, vol riviere. Dan praat ons nie eers van die 5 keer wat die Jode hom die gebruiklike 39 houe geslaan het oor hy Jesus durf verkondig het nie. En daar is nog baie meer. (Hfst 11). Die mooiste vir my is 2 Kor 11: 29. Net voor dit skryf hy dat hy boonop nog diep bekommerd oor die gemeentes was. As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan. Paulus vat al die stukkies wat God gee, goed en sleg, swaar, pynlik en ook die mooies en Hy bou die legkaartprentjie van Jesus Christus. Hy gee om. Hy voel saam met die mense. Mense se swakhede voel soos sy eie, hulle sondes soos asof hyself dit gesondig het. Jou en my lewe, gaan nie oor ons nie. Dit is God se lewe. Jesus wat in ons lewe. Ons bou nie selfies nie, eie ek prentjies nie. Ons bou wat Jesus ook al hier wil bou. En dit is goed om raak te sien dat wat Jesus bou nie naastenby lyk soos die sukses-stories van die wêreld nie. En dit eindig op as veel groter en mooier en van God self te wees as enigiets wat ek of jy kan droom. Vandag, praat die mense graag van die mega gemeentes. Hulle miljoene, hulle groot gebou en getalle is vir mense iets groots. Soos iemand eendag vir my vertel het “hulle moet iets reg doen”. Van die groot megakerke se simbool van sukses is die pastor se duur motors, baie baie duur pakke klere en privaat vliegtuig. Niks het verander deur die eeue nie. Paulus het ook met dit gesukkel. Mense wil mag hê, mense wil geld hê en hul invloed kan laat geld. Mense word getrek deur sukses. Kan ek jou nou ‘n vraag vra? Wat is die simbool van die kerk? Die simbool van die Christendom? Die kruis. En as jy nagmaal hoor? Dan dink jy brood en wyn. En die kruis. Want die brood en wyn wys na Jesus se dood aan die kruis. Kom ons kyk na die kruis.Vers 3 Julle soek mos 'n bewys dat Christus deur my praat. Hy tree nie swak op teenoor julle nie, maar bewys sy krag onder julle, want al is Hy gekruisig in die swakheid van 'n mens, Hy leef uit die krag van God. En in Hom is ons ook swak, maar saam met Hom sal ons uit die krag van God lewe. Dit sal julle sien. Kom ons dink weer oor die kruis. As iemand in die eerste eeu, daar rondom Jesus se aardse lewe, gekruisig word, wie het die mag? Die een wat gekruisig word? Of die een wat laat kruisig? Mense het aan kruisiging gedink as die ergste wat ‘n mens kan tref. ‘n Vervloeking. Jy word verhoor en veroordeel. En dan vasgekap met spykers aan die kruis en langs ‘n openbare pad geplaas waar almal jou kan sien en kan sien hoe jy stadig en pynlik sterf. En jou familie kry skaam oor jy daar hang. Dit klink nie vir my na mag of krag nie. Maar dit is die simbool van die kerk. Dis die beeld wat Jesus gebruik as Hy ons teen ons eie ek waarsku: Neem jou kruis op en volg My! As Paulus homself verdedig teen die super apostels, dan verwys Hy na die kruis en na swakheid. Hy wys na Jesus aan die kruis. Uit hierdie stuk gehoorsaamheid aan God die Vader, uit hierdie Selfverloëning van Jesus, self prys gee van Sy lewe twv ons, bring God ‘n groot beweging aan die gang. ‘n Beweging van mense wie se lewens verander is en wie nou passievol vir God lewe. En deur hierdie beweging wat twee eeue later steeds momentum het, verander God samelewings en verander God die wêreld. En vandag is ek en jy deel van daardie beweging, en die beweging is God se kerk. Daarom moet ons nie na mag en selfbehoud en jou eie vermoëns kyk nie. Moet ons nie fokusop oorlewing en veiligheid en aardse goed nie, maar op Christus wat al hierdie dinge vir jou skenk as jy Hom lief het en volg. Matteus 6 as jy dit self wil naslaan. Sien raak, besef, jy is swak. Kies om weerloos te wees en alles aan God oor te laat. En ek kan klaar ‘n paar manne hoor brom voor hulle nog brom. Maar geloof is afhanklik leef van God. Dit is om God te vra om jou te lei en Sy leiding te volg. En dan doen jy wat Hy vra. En weet jy wat? Ons weet eintlik reeds baie goed wat God van ons wil hê. Jesus het dit mooi saamgevat. Ons moet God lief hê en ons moet mekaar liefhê. Soos die barmhartige Samaritaan. En in Johannes evangelie het Jesus gesê wie My liefhet is wie my gebooie hou en wie my gebooie hou is die wat My liefhet. Hy het ook gesê: Want hieraan sal die mense weet dat julle my dissipels is. (Joh 13:34,35). Nie aan jou suksesse of aan jou geld of aan jou mag en krag of jou redenerings vermoë nie. Maar aan jou liefde geleef vir God en aan jou liefde vir mense. Kyk jy na Jesus se aardse lewe is dit wat jy sien: Liefde vir God. Liefde vir sondaars soos ek en jy. Jy sien nagte in gebed met God. Besig om te hoor wat die Vader wil hê. Nagte in gebed om deur God gevorm te word en gevul te word met krag. Dis aangrypend om te dink dat in die kort tydjie wat Hy gehad het om ‘n groot klomp goed te vermag, het Hy gekies om baie te bid eerder as om die heeltyd besig te wees. Die nagmaal wys nog op Jesus se gehoorsaamheid aan God, hoe Hy soos ‘n koringkorrel in die grond moes val en Sy lewe gee om ‘n oes vir God voort te bring. Ons bou nie selfie puzzles nie. Ons bou ‘n legkaart wat wys hoe lief het God mense. En Sy skepping. Jesus het vir Paulus gesê: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk. Hierdie vers (hierbo) sê: As jy jou lewe in God se hande los dan gaan jou lewe baie beter wys wat God kan doen in mense. Kan ek daarom voorstel, dat jy saam met my elke dag bid: Here, ek laat vaar my behoefte aan mag, sekuriteit of invloed. Ek gee prys enige behoefte wat ek het om mense, situasies, omstandighede of myself te verander. En ek stel myself oop vir U teenwoordigheid en liefde en genade om my te vul. Kom bou U my lewe vandag. In Jesus Naam. Amen Jy kan dit nie bid as jy nie bewus is van hoe groot jou eie beheer oor jou lewe is nie. Daarom begin ons met selfondersoek. Ons wat onsself voor God ondersoek. En nie om ander te meet of te evalueer as geesvervuld of nie. Maar soos Paulus, diep bewus dat as ek swak is, en ek bely dit, werk God met groot krag in my en deur my en om my. Vers 5 vra: Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie. Daar is geleentheid om in stilte jou antwoord met die Here deur te praat.