Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 17: 5 – 10 Deel 1 Soms word ek moedeloos as ek ‘n deel soos hierdie lees. Die Here vra moeilike goed. En ‘n mens wil darem erkenning hê. ‘n Dankie of twee is darem lekker. Wat hierdie deel sin laat maak is as jy besef jy met ‘n kopskuif maak weg van jouself af. Die evangelie was nog altyd ‘n saak van weg beweeg van jouself en jou eie ek, jou self te kruisig en Christus te leef. Johannes die doper het dit so mooi gesê: Jesus moet meer word en ek minder. En as ek minder word dan kan ek ander vergewe want die klem is nie meer op my seer of op jy, ja jy, wat my te na gekom het nie. Die venyn raak weg want jy weet jy wil nie haat of lelik meer in jou lewe hê nie. Enigiets wat nie Jesus is nie, vat plek wat Jesus toekom. As ek nie die kopskuif maak nie dan gaan een of dalk twee dinge gebeur: • Ek gaan nie eers probeer nie • Ek gaan bly wag dat God my tog net meer geloof moet gee. Nie een van die twee gaan Jesus meer ruimte in jou lewe gee nie. So Sy liefde en vreugde en vrede gaan maar net iets bly waarvan die Bybel praat maar ons nooit beleef nie. 1. Hoe wil Jesus hê ek moet leef? Persoonlik is ek oortuig dat die bietjie geloof wat God my gegee het, genoeg is. En dat die bietjie meer word as ek kies om meer te doen soos Jesus sê en meer plek te maak in my lewe vir Jesus om my lewe vorm te gee. Geloof is om te weet Jesus weet beter as ek hoe om my lewe te leef. Hoe moet ek my lewe leef volgens hierdie deel? Ek moet seker maak dat ek niks doen wat iemand anders sal laat omdraai en sê: “As dit is hoe ‘n gelowige is dan wil ek nie een wees nie.” Ek dink dit is een van die redes hoekom die dissipels vra vir meer geloof. Want hoe kry jy dit reg dat iemand nie iets negatiefs lees in wat jy leef nie? Jesus gee nie hier meer geloof nie want a) ons het reeds meer as genoeg geloof en b) dan gaan ons meer los van Hom dinge wil doen. Meer uit ons eie krag probeer leef. En al hoe meer mense gaan struikel. Mense is nie beindruk deur mooi praatjies nie. Hulle word aangetrek deur iemand wat ‘n egte pad met Jesus leef. Iemand wat soos Jesus hulle nie veroordeel nie, soos Jesus hulle keer op keer vergewe, soos Jesus hulle aanvaar en lief het en hulle op die manier inspireer om self die pad agter Jesus aan te kom leef. Ons moet onthou ons moet mense lus maak om van hul eie pad en eie maniere af om te draai en weg te stap van hulself af om agter Jesus aan te leef. Om Jesus te volg. Hulle het rolmodelle hiervoor nodig. Wat hulle nie nodig het is mense wat soos van die Fariseërs en skrifgeleerdes van ouds, een ding sê en agter af iets anders doen nie. Jesus het die dissipels gewaarsku teen sulkes (suurdeeg van die fariseërs). Wat het Jesus bedoel met die suurdeeg van die fariseërs? Net dit: hulle verkeerde dade deurtrek die samelewing en maak dit geestelik siek netsoos suurdeeg broodmeel totaal verander. Moet jy nie so wees nie. Wees jy die suurdeeg van die koninkryk wat die gewone verander na iets wat mense se honger na God kan stil. 2. Wees op julle hoede. (Vers 3) Dis ‘n ander manier van sê dink twee keer voor jy praat en voor jy doen. En mag ek dit maar sê? Hierdie land het hopeloos teveel voorbeelde van mense se eie ekke en hopeloos te min voorbeelde van Jesus. Wees ‘n voorbeeld van Jesus. Dit vra dat jy Jesus ten alle tye volg. Naby aan Hom leef. Hoe? Deur gebed. Deur gehoorsaam te doen wat Hy van jou vra in Sy woord. Deur lief te hê. Deur nie ander rede te gee om te struikel nie. Dit is ‘n groot saak die! Kyk vers 2: “Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is. So 'n mens kan eerder met 'n groot klip aan die nek in die see gegooi word as dat hy vir een van hierdie kleintjies 'n struikelblok word. Wees dus self op julle hoede.” As ek al ooit ‘n duidelike waarskuwing gesien het, dan is dit hierdie een. Ellende wag vir die een wat ander laat struikel. Wees self op jou hoede. Moenie die een wees wat ander laat struikel nie. Laat val al jou slim praatjies en redenasies en volg jy Jesus. Volg jy Jesus sodat ander jou kan volg. Volg jouself en volg jou eie kop en jy gaan die een wees vir wie ellende wag. 3. Gee ons meer geloof. Ek dink ons verstaan hoekom die dissipels vir meer geloof vra. Dit wat ons tot hiertoe gehoor het voel net onmoontlik. Maar ek het ook vir jou die sleutel gegee: Volg Jesus. Leef naby Hom. Bly by Hom. Die apostels vra Jesus in vers 5: "Gee ons meer geloof." Dit is die dissipels se reaksie op verse 1 tot 4. Sonder "meer geloof" meen hulle is dit onmoontlik om Jesus te gehoorsaam en dit wat Hy hier vra nie. Kyk weer wat Hy vra: • Jesus vra dat ons nie ander in sonde in moet lei en laat struikel nie (1-2); en • Om iemand oneindiglik kere te vergewe as hy of sy berou op berisping toon (3-4). Wie gaan dit reg kry? Hoe gaan ek ooit reg kry om iemand soveel keer te vergewe, wat nog van in een dag? Die antwoord is eenvoudig. ? Jesus gee nie hier meer geloof nie want a) ons het reeds meer as genoeg geloof en b) dan gaan ons meer los van Hom dinge wil doen. Meer uit ons eie krag probeer leef. En al hoe meer mense gaan struikel. Meer geloof gaan nie die ding doen nie. Meer Jesus volg sal werk. Die Palestynse moerbei boom is ‘n baie groot boom met ‘n massiewe wortelstelsel. En ‘n mosterdsaadjie is een van die kleinste saadjies wat daar is. En nou sê die Here: Selfs al is jou geloof so klein soos die kleinste saadjie, dis steeds meer as genoeg om ‘n moerbeiboom te sê om dit self uit die grond uit te trek en in die diepsee te gaan plant. En die boom sou dit doen. Jy sien, die klem is nie op jou nie. Ook nie op jou geloof nie. Die klem is op Jesus. Die kopskuif is weg van jou af en meer agter Jesus aan. En Jesus maak dit moontlik. En as jy besef Jesus leef in jou, die Heilige Gees werk in jou dan besef jy dat dit wat hier gevra word is nie onmoontlik nie. Selfs ek en jy, sondaars wat ons is, kan so lewe dat ander nie sal struikel nie. Selfs ons kan iemand tot sewe keer op ‘n dag vergewe. Jy kan dalk wonder, hoekom sal iemand so 'n opdrag vir 'n moerbeiboom probeer gee? Wie het nou al aan so iets gedink? Mens moet in jou geestesoog 'n glimlag om Jesus se mondhoeke sien speel. Sy taal is lig en sy voorbeeld byna speels. Jesus gebruik 'n buitgengewone voorbeeld vir effek, hoewel die inhoud van sy boodskap doodernstig is. Jesus se punt is geloof. Waar daar geloof is kan ‘n mens alles doen wat Jesus beveel. Jy kan die pad van geloof en gehoorsaam wees loop. Die dissipels moenie skrik vir die eise van dissipelskap nie. Hulle moenie afgeskrik word deur die hoë standaarde van die opdragte in verse 1-2 of 3-4 nie. Aangesien hulle geloof het, iets wat God hulle reeds gegee het, kan hulle doen wat God van hulle vra. Weet jy wat, maak die kopskruif: meer Jesus minder ek. En kyk hoe God jou lewe oop maak en jou laat leef. As jy jouself uit die pad uit skuif en jy kies om Jesus te volg in alles en te bly weg kyk van jou eie issues en seerkry en begeertes, gaan jy die soort lewe leef wat mense na Jesus trek. Sal jy ook kan vergewe.