Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 18: 1 - 8 Hierdie deel sê nogals hoe die wêreld kan wees: vol drama. Jesus vertel van hierdie regter wat respek vir niks en niemand het nie. Hy het nie eerbied vir God nie en hy het nie agting vir mense nie. Jy hoor sommer hierdie man voel niks vir niemand en alles gaan net om homself. In dieselfde stad is daar ‘n weduwee gewees. Nou weet jy klaar die twee se paaie gaan kruis. Hier kom ‘n ding. Die weduwee wil hê die regter moet haar help in haar saak teen iemand anders. Duidelik het sy die reg aan haar kant. Maar die regter wil nie die saak hanteer nie. Jy lei af dat hy nie die weduwee wou help nie want daar is niks in dit vir hom nie. Sy is nie belangrik vir die samelewing nie en dus ook nie vir hom nie. As ‘n weduwee nie ‘n man of ‘n volwasse seun gehad het om namens haar te praat nie was sy in ‘n doodloop straat. Maar hierdie weduwee het geweet sy het ‘n saak en sy het hom aanhou vra: “Doen aan my reg in my saak teen my teenparty.” Maar steeds wou die regter nie. Maar sy het aangehou vra. En dan stem hy in. Hy stem in want sê nou net sy klap hom. Sommiges verklaar die Grieks as sy gaan hom ‘n blou oog gee. Onthou nou: die regter is onregverdig. Die vrou het die reg aan haar kant. Nou sê Jesus: “Hoor wat sê die onregverdige regter. Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook! Die regter staan nie teenoor God nie. Wat Jesus hier doen is om die mense te leer volgens ‘n metode wat die rabbies graag gebruik het. In Engels noem hulle dit “a lesser to greater argument”. As iets kleins, so is, dan, sal die oortreffende veral ook so wees. As die regter wat eintlik niks is en onregverdig is, die insig het om toe te gee en die weduwee te help met haar eis, dink net hoeveel te meer sal die heilige almagtige God Sy kinders bystaan in dit wat hulle deurgaan nie. Nou kan ‘n mens begin dink dat ons moet God net moeg maak met baie woorde dan sal Hy vir ons gee wat ons vra. Nee. Onthou die reg was aan die weduwee se kant. Die regter moes net haar saak hanteer en dit afhandel. Onthou ook dat God nie bang is vir ‘n mens nie. Hy is veel groter as dit. Hy gaan nie gemanipuleer word nie. Sien ook raak die erns van die uitverkorenes se gebede. Aanhoudend. Dag en nag. Kyk na die deel direk hierna. Nog ‘n gelykenis. Jesus vertel van twee mense wat by die tempel gaan bid. ‘n Tollenaar en ‘n fariseër. Die fariseër was baie soos die regter, so ‘n bietjie vol van homself. Hy het gedink en dit nogals in sy gebed gesê dat hy darem beter is as die tollenaar en ander mense. Hy het selfs sover gegaan om God te herinner aan sy mooi lewe, hoe hy vas en ‘n tiende gee van sy hele inkomste. As jy sy woorde tel teenoor die tollenaar s’n dan gebruik hy baie woorde teenoor die tollenaar se min. Maar die tollenaar se gesindheid is reg. Uit sy hart uit weet hy het geen reg by God nie. Hy smeek om genade. Ons leer dis nie die hoeveelheid woorde nie, dis die gesindheid in jou hart wat tel. Maar ons sit nog met die herhaalde kere wat die weduwee die regter gevra het om hulp. Ek sou kon verstaan het as sy gedink het aan opgee want wat help dit tog. Ek meen het ons nie self al gedink, by tye, wat help dit om te bid? Niks verander dan nie. Het Jesus dan nie gesê God sal hulle help, en gou ook!? Aanhoudend ... gou ook. Hoe nou? In die vorige eeu was daar ‘n prediker, George Muller. Hy het baie kinderhuise begin, as ek reg onthou. Een storie was hoe daar geen kos vir die huis vol kinders was vir die aand nie. Maar hy het aangedring dat die tafel volledig gedek word en die kinders moes kom aansit. Hy het gebid. Die aand die tafelgebed gedoen en toe is daar ‘n klop aan die deur en dis mense wat kos bring wat hulle van iewers af teveel gehad het. Dis nou hoe ek die storie onthou. Hier is ‘n paar feite. George Muller het rekord gehou van sy gebede. Blykbaar het hy rekords nagelaat van 50 000 gebede. Maw. Ek neem aan hy het dit waarvoor hy gebid het neergeskryf en later toe die gebed verhoor is ‘n datum gaan byskryf. Van daardie 50 000 gebede is net 5000 op dieselfde dag beantwoord as waarop hy dit gebid het. . Hy het byvoorbeeld 63 jaar lank gebid vir ‘n sekere persoon om tot bekering te kom. Een van sy gesegdes was “Don’t let yesterday’s seemingly unanswered prayers stop you from praying in faith today.” Dit is die Here se punt: Moet nooit ophou bid nie. En soos ons aanhou bid, bid met dieselfde rou eerlikheid oor jouself as die tollenaar in 18: 13. Met dieselfde besef van met Wie jy te make het. Dink ook aan 2 Petrus 3: 9: “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” God se agenda is anders as ons s’n. Ons is te dikwels vasgevang in ons wêreld met min uitsig op ander of op die koninkryk van God. God se antwoorde trek altyd jou nader aan Sy koninkryk en het dikwels ook die mense om jou in die oog. En soms doen God dinge net vir jou ook. Kom ons gaan nou terug na vers 1. In vers 1 sê Lukas hoekom Jesus hierdie gelykenis vertel het. Vers 1: “ Jesus het vir hulle 'n gelykenis vertel om duidelik te maak dat 'n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.” Ons is hierdie week gekonfronteer met Psalm 42 en Psalm 40. Psalm 42 sê ek smag na die Here. Psalm 40 sê ek smag na die hulp van die Here. So die vraag was: Gaan dit oor die Here of oor Sy hulp? Vandag se vraag na aanleiding van vers 1 is so bietjie anders: Wat glo jy terwyl jy so aanhou bid? Vers 8 laat my dit vra. Want in vers 8 vra Jesus “Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?” Kom ek gebruik ‘n beeld. As ons ophou bid, of bloot net ons gebedslewe verwaarloos, dan skep ons afstand tussen ons en God.Soos ‘n man en vrou wat nie meer met mekaar praat nie, of net oor oppervlakkige goed praat. Hulle dryf uit mekaar uit tot hulle niks vir mekaar te sê het en later dalk selfs skei. En op die einde vra jy: Sal Jesus wanneer Hy weer kom, nog geloof hier op aarde vind? Luister na gelowiges se praatjies. Ek het geen rede om te dink die mense met wie ek gesels het is nie gelowig nie. En ek het ook al van die dinge gesê: Ons maak mekaar moedeloos met allerlei sêgoed. Byvoorbeeld: Dis nie wie jy is nie maar wie jy ken. Jy gaan nêrens kom as jy nie ‘n skoen het om jou in te kry nie. Gawe ouens maak dit nie in besigheid nie. En dan is daar regstellende aksie en en en. En hierdie week weer: niks gaan verander in hierdie land nie, dit gaan net erger word. En as mense hoor ons bid vir reën dan hoor jy, eers Januarie sal dit reën. Die weerburo sê. Of in September al gesê, nie voor oom Paul se verjaarsdag nie. Baie is ogv ervaring en ander is ogv goeie wetenskap. Bind dit God se hande? Nee. Kan dit keer dat God vroeer reën gee? Nee. Maar ek kan nie help om te wonder waarin ons eintlik glo nie. En of mense dink maar God se werk is beperk tot jou siel en die ewige lewe. En soms wonder ek as ek so na mense luister of hulle ooit nog glo in God. En dit is seker alles verstaanbaar. Ek meen, nie al ons gebede word summier beantwoord nie. Die werklikheid om ons weerspreek baie keer ons gebede. So ek veroordeel nie. Ek vra: Kom ons dink weer oor ons geloof. Is dit nog ‘n geloof wat iets beteken vir vandag? Baie komentare maak baie van sosiale geregtigheid in hierdie deel. Reg doen. Anders doen en anders wees as die regter in hierdie gelykenis. Help die weduwees en die weeskinders. Maar dit het my keer op keer laat vasdraai met die teks. Tot ek vers 1 en 8 saamgelees het: Vers een help dat ek kan aanhou glo, want gebed verander veral vir my wat bid en hierdie veranderings wat God deur of ogv my gebede in my bewerk, maak dat Jesus by Sy wederkoms wel geloof sal vind. Die tipe geloof wat jou lewe verander. Die tipe geloof wat in afhanklikheid aan God bly vashou het al is baie van ons gebede dalk nie verhoor soos verwag nie. Maar ons het aangehou met bid. Moet nie ophou bid nie. Gebed is soos asem haal. Moenie ophou nie. Jy het dit so nodig soos suurstof. Amen