Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 13: 18 – 21 Net deur te wees, maak jou lewe al ‘n verskil. Dikwels sonder dat jy besef. Kom ek wys jou. Jesus vra twee retoriese vrae. Maw vrae waarop Hy nie ‘n antwoord wil hê nie, maar eerder met die vraag jou aandag wil trek. Eers vra Hy: Hoe is die koninkryk van God? En dan as Hy homself klaar geantwoord het, dan vra Hy: Waarmee kan Ek die koninkryk van God vergelyk? Elke antwoord begin met ‘n “dit is soos ...” en dan volg ‘n beeld wat iets wil duidelik maak. Vanoggend vra ons hoe raak dit jou en my? En die antwoord is oa dat dit vir ons uitspel dit waaraan ek en jy deel het. Die koninkryk van God waarin ek en jy nou leef. En dit spel uit dit wat God besig is om in jou te groei. En hoe God deur jou kind van Hom wees, ander se lewens raak. Albei hierdie beelde begin met iets belagliks klein of min. Iets wat as jy nou nie van beter weet nie jy sou kon dink hier gaan nie veel van kom nie. Dit gaan maar kleinerig wees. Jesus vra: Hoe is die koninkryk van God? Dit groei vinnig. Van amper niks tot baie, vinniger en wyer en verder as wat ‘n mens sou dink is moontlik. Toe die Joodse raad Jesus laat kruisig het (met die Romeine se hulp) het hulle gedink dat hierdie nuwe beweging, nou dood sal wees. Hulle het nie met God rekening gehou nie. Binne ongeveer 100 jaar was die evangelie van Jesus Christus reg deur die bekende wêreld van daardie tyd versprei. En nog 200 jaar vorentoe het dit die amptelike Godsdiens van die romeinse ryk geword. Dit het begin met Jesus wat op 12 dissipels veral gefokus het. 12 Manne wat Hom nie mooi verstaan het nie en toe Hy Sy lewe daardie Paasnaweek opgeoffer het, die een het Hom verraai en die ander 11 het gevlug en Hom in die steek gelaat. ‘n Slegter afskop van ‘n nuwe beweging, was daar menslik gesproke seker nog nie tot dan gewees nie. In God se hande was dit die grootste en beste afskop van ‘n wêreldwye terugkeer na Hom. En die evangelie van God se genade aan sondaars het teen ‘n spoed versprei. Jesus vra: Hoe is die koninkryk van God? Dit groei vinnig. Van amper niks tot baie, vinniger en wyer en verder as wat ‘n mens sou dink is moontlik. Van die kleinste ou saadjie wat jy amper nie met jou vingers kan raak vat nie, tot ‘n struik wat tot 3 meter hoog groei met takke sterk genoeg vir voëls om in te kom rus en nes maak. Toe die Chinese kommunistiese regering die Christene vervolg het, het hulle die leiers en pastore en dominies gevang, baie van hulle doodgemaak en die res in strafkampe gesit en gedink dis nou klaar met die kerk. Net om te ontdek dat die kerk met ‘n spoed gegroei het na letterlik miljoene Christene in (ek dink) 10 jaar se tyd. Dink jou in, nee, kom ons bid, dat God Sy koninkryk hier in Deneysville, en die Vaaldriehoek net so radikaal sal laat groei. Verkieslik sonder die vervolgings. Sien in jou gedagtes hoe word die mosterdsaadjie ‘n boom hier. Orals mense wat soos Jesus lief het, soos Jesus vergewe, soos Jesus hulself gee om ander te help. En al wat dit vra vir God om die prentjie waar te maak,is koninkryksmense soos jy wat by die dag groei om meer soos Jesus te word. Die Hebreeuse woordjie vir gehoorsaam, is eintlik net twee woorde wat by mekaar gesit is nl “lev” en “shama”. Hart en hoor. Om te hoor met jou hart. Om die hart van die ander te hoor en te reageer soos daardie een se hartklop. Om God se hart te hoor in Sy Woord en presies so te doen asof dit jou eie hartklop is. En jy is deel daarvan. Deur God se genade is ek en jy bevoorreg om deel te wees van God se koninkryk. Ons is deel van een van die vinnigste groeiende bewegings. Die koninkryk is revolusioner, en anders en positief. Dit is waar God in liefde regeer. Daar is vergifnis en nuwe kanse. Jesus vra: Waarmee sal Ek die koninkryk van God vergelyk? As ek ‘n brood bak, dan vat ek 1kg meel. En ek bak dan twee brode. Ek gebruik een so klein pakkie gis (7 gram). Die vrou in Jesus se “waarmee sal Ek die koninkryk van God vergelyk” vat 20 kg meel. Dis baie. Oorvloed. En dan werk sy ‘n klein bietjie suurdeeg in. Kyk, 1 kg meel. Net die bietjie suurdeeg. Enige een kan mos sien die suurdeeg sal verdwyn in die meel. Die suurdeeg staan nie ‘n kans nie. As jy brood bak weet jy dis andersom. Die meel staan nie ‘n kans nie, dit gaan verander word. Die suurdeeg gaan, onder die regte toestande, stelselmatig deur die meel werk en dit verander. Kyk nou in jouself in. In jou is die suurdeeg van die koninkryk van God. Noem dit geloof as jy wil. Noem dit liefde vir God. Die punt is, dit is daar. Dit wil groei. Dit is besig om te groei. Skep die toestand waaronder dit kan groei. God se doel met jou is nie maar net om jou in die hemel te kry die dag as jy sterf nie. Of net dat jy ‘n instrument in Sy hande sal wees nie. God wil jou verander. God wil jou gelykvormig maak aan die beeld van Sy Seun. Kyk self: (Rom 8:29) Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. So ook in Gal 4: 19 “My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry.” Ons is bedoel, God se mikpunt met ons is om ons te herskep tot ons soos Sy Seun Jesus is. Of, as ek dit anders moet stel, tot ander mense Jesus al hoe meer duidelik in ons gesien kan word. Geloof is oor ek en jy wat verander word. Ek en jy wat groei en alhoemeer liefde leef, alhoemeer geduldig is, alhoemeer vriendelik word ... ons wat die vrug wat die Gees in ons bewerk, alhoemeer uitleef. Ek en jy wat skoenbokse vul met bederfies vir vroue in droogte geteisterde gebiede, of ek en jy wat gaan tee drink by iemand alleen. Of ‘n verrassingspakkie afgee vir sommer net by iemand wat dit dalk moeilik het. En as jy dit besef en alhoemeer bid dat God se suurdeeg deur jou kan trek, dan maak jy al hoe meer ruimte vir dit om te gebeur. Dan vra jy meer “wat kan ek vandag vir U doen, Here? En minder wat kan God vir my doen vandag. U sien, die suurdeeg werk in ons en ons veranderde lewens werk in ander en ook hulle gee hule lewe vir Christus en in hulle begin God verandering bewerk en hulle groei en trek ander aan. En dalk moet ons in Suid-Afrika ons afvra hoekom loop die gemeentes leeg en dood? Mense het baie antwoorde. Ek het net een: Mense het nie meer voorbeelde van Jesus wat hulle kan naleef nie. Hulle het voorbeelde van hoe om te veroordeel en van hoe om te haat en van geweld, maar nie genoeg van Christus Jesus nie. Hulle het nie genoeg voorbeelde wat hul aangryp en laat vra: Maar wat het jy in jou lewe wat ek nie het nie? Wees jy daardie voorbeeld. Dit maak hierdie boodskap so belangrik: God se suurdeeg is in ons en ons is in Sy koninkryk. Nou is die tyd om oor te gee en die suurdeeg van God ons lewens te laat verander. Nou is die tyd om koeltebome te wees waaronder ander kan rus vind, of net vrede. Is jy bereid om deur God verander te word?