Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
PSALM 65 Ons sal seker elkeen anders oor die week wat verby is dink. Daar was goeie oomblikke en slegtes, uitdagings en vreugdes en ja, soms was ons erg gefrustreerd. Wel dit som my week nogals goed op. En tussen deur het ek droog gesien. Droë aarde van hier tot anderkant Brandfort. Dit was warm. Daar was ‘n wolkie so groot soos ‘n man se vuis en ek het gedink aan Elia (1 Kon 18) wat gesê het ons moet na hoer grond want hier kom die reën. Ons wag nog. En ek sit in ‘n kapel op ‘n koppie en wag vir die oggendweiding om te begin. En ek kyk deur die groot vensters oot die vallei: die berge en my oë gaan van die kruis na die dam en van die dam na die doop en na die brood wat ek weet ons later met ontbyt gaan geniet. En daar kom ‘n vrede oor my want God is ook op hierdie plek. God is ook met my. Mag jy vanoggend dit ook beleef. God, hier, by jou. Dieselfde God van Wie Dawid hierdie lofsang sing. Jy besef met die eerste lees, maar iets moes hier gebeur het. Of iemand, Dawid volgens die opskrif, het ‘n belofte aan God gemaak en nou kom doen hy sy belofte gestand. “Aan U, o God, kom ‘n lofsang toe in Sion.” Vanoggend, kom ons dit ook sê: “Aan U, o God, kom ‘n lofsang toe in Sion.” God verdien dat ons Hom loof en prys. God verdien ‘n groot groot dankie van ons kant af. Dit wat ons vandag is en het, is aan God te danke. Dat ons die jaar tot hiertoe oorleef het, het ons aan God te danke. Het jy nog redes nodig om God te prys? Het jy nodig om vanoggend net so ‘n bietjie in die gemoed opgetel te word? Luister na he God in ons lewens besig is, besig ook in jou lewe al sien jy dit nie of ervaar dit dalk nie elke dag so nie: Vers 3: God luister na ons gebede. Vers 4: God vergewe ons sondes. Hy maak ons vry daarvan. Vers 5: God laat dit met ons goedgaan. Vers 6: In God se trou antwoord Hy ons met kragtige dade. Daarom is ons vanoggend hier. In my hart weet ek dit is hoekom jy hier is. Jy wil God dankie sê vir Wie Hy is en dat Hy steeds geduld met ons is en met groot liefde met ons saam leef. 1. Waar God is is ek en jy okay. Ons sal okay wees. Daar kan niks wees wat buite God se beheer om is nie. Daar is niks wat God nie kan omkeer in ‘n positief in nie. Kyk gerus na wat God alles doen volgens psalm 65: • Vers 7: U is met mag omgewe, U laat deur u krag die berge vas bly staan; • Vers 8: U laat die gedruis van die see, die geraas van die golwe, die rumoer van die nasies bedaar, • Vers 9: … laat U die mense juig. • Vers 10 : U sorg vir die land en gee oorvloed, U maak dit baie vrugbaar. Die groot riviere is vol water, U laat die koring welig staan. Alles is u werk! • Vers 11: U maak die ploegvore vol water en die kluite nat, U laat hulle sag word van die reëns, U laat alles welig groei. • Vers 12: U kroon die jaar met u goeie gawes. Waar U ook gaan, is daar oorvloed! Persoonlik. God self doen dit. God self besig om dinge te verander in Sy skepping. God self betrokke by jou en my Sy kinders. Nee, ek sê nie God gaan alles goed laat verloop nie. Daar is genoeg psalms wat van ellende vertel. En genoeg psalms wat vertel hoe God ellende omgekeer het in voorspoed. En uit ons eie lewens uit weet ons ook: Daar is riviere wat jy moet swem. Uitdagings wat jy moet deurgaan. Maar as kind van God gaan jy nie alleen daar deur nie. Soms as jy terugkyk dan besef jy, jy moes deur sekere goed deur sukkel om te kan groei en sterker word. Maar kan ek jou hierdie versekering gee: Niks gaan tussen jou en God se liefde vir jou kan inskuif nie.(Rom eine 8: 31 ev.) 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. In vers 12 is daar twee belangrike woorde / gedagtes: “Waar U ook gaan, is daar oorvloed.” Orals waar God gaan, waar God self is, word die lewe goed. Moenie nou eerste dink aan die dikte van jou beursie nie of nog meer vetlagie om jou bankrekening nie. Dink eerstens aan ‘n oorvloed genade en lewe. En as jy eers so kyk dan dring dit tot jou deur: selfs toe ek siek was, was God daar. Toe ek sonder werk gesit het, was God daar. Ons kon cope. Ons het dit gemaak. God het ons deurgehelp. En as jy dit raaksien, dan, … volg God. Volg Hom waar Hy ookal gaan want waar Hy is, is dit goed vir jou. Die tweede gedagte wat ek hier moet uitlig: “U kroon die jaar met U goeie gawes. (vers 12) “ As jy vra: Was hierdie jaar ‘n goeie jaar sover gewees, dan wys Psalm 65 jou terug na God. Psalm 65 sê dat dit ‘n goeie jaar is alreeds deur dit wat God vir ons gee. So ook die res van hierdie jaar. Jou toekoms, my toekoms, ons kinders se toekoms, is reeds in God se hand. Ons dink te materieel. Wat baat dit jou as jy al die geld in die wereld maak in ‘n bepaalde jaar maar God se toorn hang oor jou? Wat word as God se genade weg geneem word en jy nie vergewe word nie? Gaan dit met jou goed as jy beweeg van die een geveg na die ander leef? Gaan dit regtig okay met jou as die vrede en vreugde wat Christus gee jou bly ontwyk? As jy innerlik aan die baklei bly?Altyd opgewerk oor iets, ongelukkig oor alles. Of doodgewoon bekommerd oor goed wat dalk net nooit mag gebeur nie. So ongelukkig dat jy voel niks loop ooit reg nie. Of gaan dit met jou goed omdat jy God se vrede beleef en vanuit daardie vrede leef. As Sy vreugde in jou bly (Joh 15) en jy weet: Hy sorg vir jou, jy kom niks kort nie (Ps 23) God vul ons lewe met Sy goedheid. Met ‘n beter kwaliteit, of gehalte van lewe. Kom ons plaas vers 12 langs vers 5. “Dit gaan goed met die mens vir wie U uitkies en laat naderkom om in u tempel te bly. Laat ons die goeie dinge in u huis in oorvloed geniet.” Israel is maar taamlike dorre land. Water is belangrik. Daarom is die beelde so mooi: baie van die beelde draai om God wat waterstrome bring. Groot riviere laat vol loop. En as jy dieper kyk dan besef jy dat Dawid vir ons kom sê: Gaan terug na die bron. Vir alles in die lewe. Gaan na die bron. Na daar waar die lewende water vandaan vloei. Na God. Suid-Afrika, ons is die 30 droogste land ter wêreld. Hierdie psalm is so gepas vir ons. Ons moet terug na die Bron. En na daar waar God oa Sy genade en seën uitdeel. Gaan na die erediens en gaan spandeer die alleentyd met Hom, gaan bou die verhouding met God wat Hy met jou wil hê, sodat jy op hoogte kan wees met waar Hy besig is en wat Hy vir jou droom. Iemand stuur my ‘n ruk terug ‘n epos. Sy sê sy kan nie bekostig om nie in die erediens te wees nie want dan mis sy uit op die Here se seën. Sy hoef nie eers met die Here te stoei soos Jakob by Jabbokdrif die nag gedoen het nie. Sy hoef net op te daag by die erediens om geseën te word. Netnou gaan ek jou seën. Ek gaan jou seën in die Naam van die Here en met God se seën. God het onderneem om dit so te laat wees. Daarom, skep moed. Leef. God is by jou, Sy geliefde kind. Ons sal okay wees.