Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 14: 25 - 33 Ons stap vanoggend weg van die maaltyd af. (waarby ons die laaste twee weke stil gestaan het). Ons het geleer om die mens wat nou by jou is te help. Dat Jesus van jou en my verwag om nederig te leef en oor ons eie belangrikheid te kom. Hy het ons geleer om die samelewing se manier van doen om te keer en mense na ons geleenthede te nooi wat nie normaalweg genooi word nie. Onthou jy nog hoe Hy na die aan man gedraai het, dalk ook na ons, en die gelykenis vertel het van die man wat die groot fees gereel het. En al die genooides het op die nippertjie verskonings voorgestoot. Sy woorde klink nog helder op: 24 ” Dit verseker ek julle: Nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie.’ ” En ons het gevra: Wat verhinder jou om na Jesus se maaltyd te kom? Wat staan tussen jou en God? Kom ons lees: LUKAS 14: 25 – 33 “As iemand na My toe kom ...” Kom ons staan net eers stil by hierdie woorde. Dit is belangrik. Dit word op verskillende maniere herhaal. Wat hier staan is: As jy in Jesus wil glo dan ... Of, As jy Jesus se dissipel wil wees. Of as jy Jesus wil liefhê. Die begin punt is ons wat na Jesus toe kom. Ons wat begeer dat ons lewens om Jesus gebou word. Ons wat Hom so liefhet en daarom soos Hy wil wees in hoe ons is en lewe. Die woordjie “as” impliseer ‘n keuse wat gemaak moet word. Jy moet kies om Jesus te wil volg. Dit is nie ‘n eenmalige oorgawe of aanmelding by Jesus nie. Jy kom, jy volg Hom. Jy reis saam met Hom. Die res van jou lewe is ‘n reis met Jesus saam deur jou eie lewe heen. En die res van ons lewens word so in gehoorsaamheid aan Hom geleef dat ‘n paar dinge waar word: • Ons word Sy dissipels. Leerlinge wat altyd bly leer by Jesus. • Ons lewe nie meer nie maar Hy leef in ons (as ek Paulus kan aanhaal) • Ons maak nie verskonings nie, ons doen moeite om by die maaltyd wat God reël te wees. Ons aanvaar die uitnodiging en ons daag op. Ek aanvaar dit is waar ons elkeen is: Jesus is ons alles. Dit is hoekom jy hier is. Jy is een van Jesus se dissipels. Goed. Nou kan ons versigtig die deel weer lees. Versigtig want ons moet niks mis lees nie. 26 “As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie. As jy na Jesus toe kom dan word jy ‘n dissipel van Hom. En jy dra jou kruis. Hy sê dit nie net vir die twaalf nie maar vir die groot menigte mense wat saam met Hom gereis het. En dan lê Jesus baie duidelike vereistes neer. Eintlik is hierdie die wet in aksie. Dat jy die Here jou God sal lief hê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag. Liewer as: • Liewer as jou eie bloedfamilie (vers 26) • Liewer as jou eggenoot of kinders • Liewer as alles wat jy besit (vers 33) • Liewer as jou eie lewe. (vers 26c) Tronkstraf, dood sal jou nie keer om Jesus lief te hê nie. Kom ons laat dit insink. En dan onderstreep Jesus dit. Hy sê: “Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie.” Die mense wat daar was het goed geweet wat Hy bedoel. Ons dalk nie. So kom ek verduidelik. Kruisdra is die verduideliking van, of uitbreiding op, Jesus se woorde oor ... “afstand doen ... selfs van sy eie lewe, ...” In daardie tyd, as jy hoor jy moet jou kruis dra dan het jy waarskynlik doodsbleek geword met ‘n baie siek gevoel oor jou maag. Want jy het geweet: Nou gaan ek dood gemaak word. Nou gaan ek daardie kruisbalk moet dra tot buite die stad of dorp en hulle gaan my daar vaskap en van my ‘n voorbeeld maak vir almal om te sien. Jy gaan stadig en baie pynlik sterf. So vergeet van ons gesegde “elke huis het sy kruis”. Dit is nie kruisdra nie. Kruisdra is wanneer hulle, wie ookal die hulle mag wees, jou lewe van jou af weg neem omdat jy Jesus volg. Dis harde woorde. Jesus spel dit uit. Want Hy weet wat kom. Sy eie kruisiging. En dat later die dissipels en baie ander gelowiges vermoor gaan word, tergestel gaan word oor hulle in Hom glo, Hom liefhet en Hom in gehoorsaamheid aan Sy woorde volg. As ons gedink het dat dit darem vêr van ons af lê dan is ons verkeerd. Dink diep. Jy word vinnig voor ‘n hof gesleep deesdae. Of voor die Mense regte kommissie. Nou vra Jesus dat jy somme begin maak. Dat jy regtig mooi dink oor jou commitment aan Hom. Dit kan nie wees soos die klomp genooide gaste wat ja gesê het en toe dit sulke tyd word die ene verskonings en afwesigheid was nie. (verlede week se boodskap). Jesus gebruik twee voorbeelde om seker te maak ons verstaan dit. Eerste beeld is die van ‘n gebou opsit. Jy doen jou somme. Jy maak seker dat jy die bouwerk kan klaarmaak. Jy maak seker jy kan die prys betaal en die werk klaar maak. Tweede van oorlog en vredesvoorwaardes. Voor jy, as koning, betrokke raak by ‘n oorlog moet jy eers gaan sit en oorweeg of jy met jou tien duisend man sterk genoeg is om die ander een teen te staan wat met sy twintig duisend teen jou optrek. Anders stuur jy ‘n afvaardiging om vredesvoorwaardes te vra. Maw Jesus spel die gevolge van geloof hier uit. Hy draai nie doekies om nie. Hy sê reguit dat geloof in Hom gaan jou kos. Dit kan jou familie van jou vervreem. Dit kan jou al jou besitting kos. Selfs jou eie lewe. Is jy bereid om dit op te offer sou dit moes? Vlgns Matteus 13: 44 en verder het Jesus by geleentheid drie kort gelykenisse vertel: Die koninkryk van die hemel is soos ‘n skat in ‘n saailand wat onder die grond lê. En dan vind iemand dit en gaan dan huistoe en verkoop alles wat hy het om die saailand te koop. Net sodat hy die skat kan kry. Dit is ook so met die handelaar wat op soek is na goeie pêrels. En dan loop hy hierdie waardevolle pêrel raak en hy gaan verkoop alles wat hy het, sy hele versameling plus, om hierdie een waardevolle pêrel te bekom. En jy moet jouself seker darem wil afvra: Wat is Jesus vir my werd? Wel, jy moet besluit of Jesus vir jou soos die skat in die saailand is. Die skaars pêrel is waarvoor jy nog jou lewe lank na gesoek het. En as Hy dit is, dan is dit wat Hy hier vra eintlik eenvoudig. Jy sal jou alles gee om daardie skat joune te maak. Selfs alles wat jy besit prysgee. Is jy bereid om die risiko te loop dat jy alles kan verloor, dit byvoorbeeld van jou weggeneem kan word omdat jy Jesus volg en dien. Selfs as dit moet jou lewe. Want kom ons wees eerlik met mekaar: Wie sy lewe ter wille van Christus verloor sal dit terug kry.(Matt 16:24, 24) Vandag is ‘n tyd om te besin. Om alles in jou lewe in oënskou te neem. Vergelyk dit met wat Jesus in jou lewe kan inbring en besluit: Ek gee my alles vir Hom. Ek volg Hom al kos dit my ook wat. En as jy dink ek vra dit vir die verkeerde mense, wel, dalk, maar kyk ons maar nie almal vir die mat as iets gevra word? Wat van as Jesus dit wat jy as verskoning gebruik van jou op eis of wegvat? En as jy ‘n eksperiment wil doen: Gaan sê vir iemand hulle moet ‘n 10de gee en hou dan hul reaksie dop. Of vra hulle om te gaan liefhê, of net om ‘n sekere persoon in hul lewens te gaan onvoorwaardelik vergewe. Ons almal moet maar weer die somme doen. Die wêreld het gedraai en ons moet seker wees of ons heelhartig Jesus lief het en volg. Vers 26 “As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie.”