Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 14: 15 – 24 Wat is die onderwerp waaroor Jesus die meeste gepraat het? Die liefde? Vergifnis? Sonde? Nee. Hy het die meeste gepraat oor die koninkryk van God. Dit opsigself moet vir ons sê hierdie is belangrik. So belangrik dat ons nie die dringendheid van dit moet mis nie. Ons moet nou reeds in die koninkryk leef. Die probleem is net die tyd. Daar is net so veel ure in ‘n dag. Waar moet ons die tyd kry? Vandag se boodskap, Jesus se storie oor die groot fees, is die ene draaie en verrassings. En net as jy dink ek het dit, dan draai die storie en op die einde sien jy dat Jesus leef wat Hy sê. Dat nes Hy vir Sy gasheer gesê het om liewers mense te nooi wat niks kan terugdoen nie, God dit ook dook self doen in hierdie deel. En ek en jy is lewende bewyse hiervan. Kom ek verplaas ons in die verhaal in. Ons is nog by dieselfde grend ete by ‘n vooraanstaande Fariseer. Jesus het so pas vir ons sy gelykenis vertel van die agterste sitplekke en nederigheid. En Jesus het so pas vir die gasheer van daardie geleentheid gesê dis beter om mense te nooi wat jou nie kan terug nooi nie. Want God sal jou vergoed. En daar is mos maar altyd iemand wat iets slims of so moet sê. Hierdie keer was dit een van die wat saam aan tafel was, wat net hul stem moes laat hoor. Hy sê vir Jesus ”Gelukkig, is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem.” En Jesus draai na die man toe en begin vertel van hierdie man wat ‘n groot maaltyd gegee het. ‘n Feesmaal. En as jy mooi kyk dan besef jy Hy bou verder aan dit wat Hy so pas vir Sy gasheer gesê het (14: 12-14). Soos jesus nou voortborduur besef jy dat die man wat die maaltyd gee, die een waar mense skielik voor te besig is, eintlik God is. In Jesus se tyd was daar dikwels twee uitnodigings gestuur. Iets hiervan lees ons ook in Esther 5: 8 en 6:14. PA Micklem beweer dat sommige Jode in Jerusalem sou gespog het dat hulle geen feesmaal bywoon tensy hulle twee maal genooi is nie. Die eerste was soos ‘n “save the date” tipe uitnodiging. Net, jy moes dan al aandui jy gaan dit bywoon. Almal in hierdie deel het bevestigend geantwoord. Ons het die datum. Ons kom beslis tipe reaksie. En dan as alles reg is kom die tweede uitnodiging: ‘Kom, die maaltyd staan klaar.’ En dan draai die hele storie verkeerde kant toe. Almal is skielik te besig. Kan ek net weer sê: Al hierdie mense het reeds by die eerste uitnodiging gesê: Ons kom! Die gasheer het kostes aan gegaan en moeite ingesit om alles perfek vir hulle te hê. En nou skielik is dit ‘n probleem. En ‘n mens wil dink, maar die lewe gebeur mos. Dinge kan oornag verander. Prioriteite skuif. Dalk moet ons ook dink: Wat ‘n klap in die gesig vir die gasheer! Vir God! Wat ‘n vieslikheid om ja te sê as jy eintlik nee bedoel het. Kom ons kyk weer na hul verskonings: • Ek het ‘n stuk grond gekoop. Dit is noodsaaklik dat ek daarna gaan kyk. ... Jammer ou maat, jy het die grond sekerlik nie ongesiens gekoop nie. En jy kan in elke geval die dag na die fees jou grond van naderby bekyk. • Ek het hierdie nuwe span osse gekoop en ek moet hulle gaan uitprobeer. ... Uhmm, ... Het jy hulle voetstoots gekoop? Het jy so min respek dat jy nie ‘n paar uur langer kan wag, of ‘n dag voor jy hulle uitprobeer nie? • Ek is pasgetroud. ... Ja, ‘n man kon vir een jaar vrygeskeld word van militere diens na jou troue. En van enige ander verpligtinge. Hy moes in daardie jaar sy vrou gelukkig maak (Deutr 24: 5). ‘n Etetjie sou seker darem gehelp het? Jy kon tog sekerlik met die eerste uitnodiging al gesê het jy sal nie kom nie want jy is pasgetroud of sal by die tyd van die ete pasgetroud wees. Ek hoor dat dit vir die ouens belangrike goed was. Nuwe grond. Nuwe span osse. Pas getroud. Maar was dit vir hulle belangriker as wat die gasheer vir hulle is? Dalk moet ons liewers sê hulle hart was nie in dit nie. Ander dinge was net baie meer belangrik. En woord hou was nie hoog op hulle prioriteitslys nie. Hulle was net te besig om, om te gee oor die gasheer en sy ete. Hy was nie belangrik genoeg vir hulle om deur te voer op hulle ja van die eerste uitnodiging. Wie is hierdie mense vir wie eie belang swaarder weeg? Kom ek vra jou wie sit en luister na Jesus by hierdie geleentheid? ‘n Fariseer het die opmerking gemaak wat hierdie gelykenis ontlok het. Dit was in die huis van ‘n vooraanstaande fariseer. En daar was skrifgeleerdes en fariseers teenwoordig. Almal mense wat woord gegee het om God te dien en die mense te leer. Almal mense wat hoog en laag sal sweer dat hulle God se belange op die hart dra. En ongelukkig is dit dieselfde groepering mense wat van Jesus ontslae wou raak. En van wie Jesus gesê het hulle is witgepleisterde grafte. Mooi van buite en vrot van binne. En dit draai teen hulle. Hierdie deel herinner ‘n mens aan daardie ontstellende uitspraak van Jesus in Lukas 13: 22 en verder. Ek haal enkele verse aan: “As die eienaar van die huis eers opgestaan en die deur toegesluit het, sal julle buite staan en aan die deur begin klop en roep: ‘Here, maak vir ons oop!’ Maar Hy sal julle antwoord: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.’ Dan sal julle sê: ‘Ons het saam met U geëet en gedrink, en op ons strate het U die mense geleer.’ Maar Hy sal weer vir julle sê: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Niemand van julle het gedoen wat reg is nie. Maak dat julle van My af wegkom!’ Dit is opmerklik dat hierdie mense het saam met Jesus by geleentheid ge-eet en gekuier. Netsoos bv by hierdie geleentheid. Hulle sit langs Hom. Hulle erken Hom as ‘n rabbie en is nuuskierug oor Hom. Maar hulle glo nie in Hom nie. Hy het tussen hulle rond beweeg maar hulle het Hom duidelik nie gevolg nie. Hulle het Hom nie gedien in gehoorsaamheid nie. Uiteindelik gaan dit nie oor voorkeur status, of jou Joodse geboortereg, of kennis dra van Jesus nie, maar oor gehoorsaamheid. Die doen van dit wat Jesus ons geleer het. Verskonings voorstoot en skielik te besig wees met ander dinge werk nie. Dit word ‘n saak van, is Jesus, is God, vir jou belangrik genoeg dat jy alles sal los om saam met Hom te wees. Voor die deure gesluit word. Verskonings is meermale net dit: Ons wat nie wil erken dat God nie belangrik genoeg vir ons is nie. Dat my hele lewe nie gefokus is op God nie maar eerder op myself. Die Fariseërs was so besig met die dinge van God dat hulle nie werklik by God uitgekom het nie. Die dinge was belangriker as die Here van die dingeHulle eie belangrikheid en posisie in die samelewing, rykdom ens was meer belangrik as God en dit wat God wil. . Hulle het vasgevang geraak in uiterlike rituele en tradisies en God totaal gemis. Is ek hard? Dalk. Maar weet jy wat: elke een van hierdie mense het gedink sy verskoning is goed genoeg om nie woord te hou en ete toe te gaan nie. En eintlik is dit ‘n klap in die gesig van die een wat hulle genooi het. En nee, ons kan nie sê dit is regtig ongelukkig dat dit nou juis op daardie dag moes saamval wat hulle belangrike dinge aan gehad het. Die ete is vooraf gereel en die mense het hulle self ge-commit. Die gasheer het kwaad geword. Ander mense is gaan haal. Armes, kreupeles en blindes en verlamdes. Die opdrag is: Bring hulle, bring hulle na die maaltyd. En toe daar nog plek oop is, toe kom die opdrag: Gaan na die paaie en lanings, en gaan dring aan by die mense daar om na die maaltyd te kom. Gaan ... dring aan ... hulle moet kom. God se hart is groot. Sy maaltyd sal gevul wees. Met of sonder ons. As ek so nadink dan moet ‘n mens kyk of jy nie een van die genooides is wat te besig is vir God nie. Elke keer ‘n goeie verskoning het. Ek voel ek moet jou vra om saam met my ook dieper as dit te dink: Nie oor of ons genooides is nie. Ons val eerder onder die ander wat later genooi is. Die eerste genooides was Israel. Toegegee, 2000+ jaar later kon ons dalk in die selfde groef as Israel van ouds verval het. En moet ons nadink oor of God regtig, regtig eerste is in ons lewens. Maar, dalk moet ons eerder, as gelowiges vandag, bietjie nadink oor die diensknegte wat uitgestuur word. Hulle wat die mense wat nie status gehad het nie, blind was of verlamd en dus uitgestoot, en dan ook nie godsdienstiges en vreemdelinge, moes gaan haal. Kan ons aan die Here terug rapporteer vandag: Ons het almal wat U gesê het gaan haal. Maar daar is nog plek oop. En hoor ons vandag dat ons moet uitgaan en gaan aandring by almal wat ons teenkom om te kom na die groot feesmaal van God. Die doel van ‘n gemeente was nog nooit om net na onsself om te sien nie. ‘n Gemeente is ‘n span van gestuurdes, mense wat ‘n verskil gaan maak deur liefde orals te leef en orals iets van Jesus te gaan uitstraal in hoe ons is en in wat ons doen en hoe ons dinge doen. Ons is die diensknegte wat deur die Here uitgestuur word om namens Hom oor die straat te stap en die bure wat sukkel te help. ‘n Gemeente is soos ‘n gesin wat kan wegkyk van hulself en sê hier is plek vir nog. Kom ons bring nog mense na ons Vader toe, ongeag hoe hulle lyk of is. Ons self was maar bra vuil en vervese en afskuwelik toe God ons van die paaie van die lewe laat haal het. Kan ek ook uitwys: die feesmaal gaan aan. Dit word nie gekanselleer nie. Die gasheer maak net sy fees vol met ander mense. Mense wat wel opdaag en kom aansit en maar net te dankbaar is om daar te kan wees. Netsoos in Lukas 13 waar Jesus die deure sluit Is daar iets wat jou verhinder om God ten volle te dien? Is daar iets in jou lewe wat meer belangrik is as om by God te kom aansit?