Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 14: 1 – 14 Vandag se Skriflesing geskied so stuk stuk soos ons deur die deel werk. Tema: Die mens wat Jesus wil hê ek en jy moet wees. Deel 1. Baie geleerdes neem as teks vers 1 en dan verse 7 tot 14. Tog kan ‘n mens nie die genesing van die man wat aan water gely het sommer net so verbygaan nie. Want hier is iets in wat elke dissipel, of dan, elke volgeling of leerling van Jesus moet leer. 1 Op 'n sabbatdag toe Jesus na die huis van 'n vooraanstaande Fariseër toe gegaan het om daar te eet, het hulle Hom fyn dopgehou. 2 Reg voor Hom was daar 'n man wat aan water gely het. 3 Jesus praat toe met die wetgeleerdes en Fariseërs en vra: “Mag 'n mens iemand op die sabbatdag gesond maak of nie?” Party mense is goed hiermee. Goed met hul dag beplan. Maar wat a siemand ongevraagd kom inbreuk maak op jou planne. Wat van as jy hierdie grend ete gaan bywoon en daar is iemand wat sy krisis jou krisis wil maak. Daar is ‘n gesegde “never let your lack of planning constitute a crisis in my planning.” Moenie dat jou gebrek aan beplanning, ‘n probleem in my lewe veroorsaak nie. Hier is Jesus by die huis van ‘n vooraanstaande Fariseër en reg voor Hom is ‘n baie siek man. Sy plan vir die dag was, so neem ek aan, om die ete te geniet, wakker te wees vir wat ookal die Fariseërs Hom mee sou wou vasvra. En nou is daar hierdie sieke. En dis op die Sabbat. En die Fariseërs hou Hom fyn dop. Het jy al sulke dae of oomblikke beleef? Kan ek ook uitwys: Dit wat hier gaan uitspeel, het niks te make met beplanning, wetsgehoorsaamheid of etiket nie. Wat jy vanoggend hier gaan sien is die koninkryk van God. En ook die oppervlakkigheid van mense. Mag ons elkeen vanoggend tuiskom in hierdie teks. 1. Aan wie, wanneer en wat? ‘n Man het eendag ‘n wyse man gevra: Wat is die regte ding om te doen? Wanneer moet jy dit doen? En aan wie? Die antwoord was: Om die mens wat nou by jou is, nou te help met wat of hoe hulle nou nodig het? Dit is deel van selfverloëning as jy nee kan sê vir dit wat jy nou wou geniet, net om iemand se nood aan te spreek. Kom ek wys dit in Jesus se voorbeeld in Lukas 14. Verlede Sondag het ons al uitgewys dat volgens Hendriksen, het die Fariseërs ‘n reëling gehad dat jy nie op ‘n Sabbat iemand mag gesondmaak nie. Tensy dit regtig ‘n saak van lewe en dood was nie. Andersins kan die persoon maar nog ‘n dag wag want jy mag nie werk op die Sabbat nie. So, wat is die regte ding om te doen in hierdie situasie? Handhaaf jy die Sabbat wet? Handhaaf jy die Fariseers se reëling of byvoegsel tot die wet? Die regte ding om te doen is om die mens wat nou by jou is te help. En dit is wat Jesus doen. Hy genees die man wat aan water ly daar en dan. Jesus het geweet, en dit so geleer aan mense, dat die Sabbat vir die mens gemaak is en nie andersom nie. En Hy doen wat reg is: Hy genees die man. Ons lees: 4 Maar hulle het stilgebly. Toe trek Jesus die sieke nader, maak hom gesond en laat hom gaan. 5 Daarna sê Hy vir hulle: “Sê nou 'n seun of 'n bees van een van julle val in 'n put, sal hy hom nie dadelik uithaal nie, al is dit op 'n sabbatdag? 6 Hulle kon daar niks op antwoord nie. “ ‘n Mens wil sê lekker. Kry vir julle. Maar dit is nie ‘n koninkryks reaksie nie. Hoe raak dit ons in ons elke dag se lewe? Ek het met herhaling gebid en gevra: Here, hoekom is die verse hier? Daar moet ‘n boodskap aan wees. Maar wat is dit? Wat wil U ons leer? Donderdagoggend toe kom Filippense 2 by my op. Dit is die lied van die vroee kerk oor Jesus. Jesus wat Hom self verneder tot op dienskneg of slaaf vlak en dan Homself nog verder verneder deur gehoorsaam die kruis te gaan dra en te sterf vir ons as mense. Hy word deur God uit die dood opgewek en verhoog tot die hoogste eer. Die lied eindig met “Jesus Christus is Here! Tot eer van God die Vader.” Jesus kon in hierdie deel vir die siek man gesê het: Wag tot more. Dit sou die Fariseërs van skietgoed ontneem het. Hy sou die voorste sitplekke by die ete kon ingeneem het. Dit sou die normale ding gewees het om te doen. Maar Hy doen dit nie. Wat Jesus doen is ‘n voorbeeld van selfverlloëning. ‘n Voorbeeld van jouself klein hou om ander te help. Hy sien die siek man. Hy weet Hy kan Hom gesond maak en Hy doen dit want dit is wat die man nou nodig het. In Matteus 7 het Jesus die mense geleer “Doen aan ‘n ander soos jy aan jouself gedoen wil hê.” Dit doen Hy hier. Die man se behoefte is om gesond te word. Jesus genees hom. En Hy maak hom gesond op daardie oomblik. Al weet Hy die Fariseërs hou Hom fyn dop en dat dit Hom later “gaan kos”. Dit is selfverloëning in aksie. Al weet jy die daad van omgee gaan jou nou kos, of vorentoe inhaal, jy doen dit steeds, ten koste van jouself. Die barmhartige Samaritaan het dit gedoen. Hy het sy lewe gewaag om die man wat aangeval was te help. Jy stel nie uit dit wat God nou na jou toe gebring het. 2. Praktiese voorbeeld 2: Selfverloëning. Die man is gesond en die ete gaan begin so die mense wat genooi is druk en stoot om by die beste sitplekke uit te kom. Volgens Joodse etiket was die tafels op ‘n sekere manier gerangskik. En jy wou so naby as moontlik aan die mees belangrikste persoon sit. Ander kon inkom en na die gesprekke luister maar nie saam eet nie. Dus is daar ook ander mense wat sal sien waar jy sit en dalk net kennis neem van hoe belangrik jy is. Dit is terwyl die genooides so druk en stoot vir die beste sitplekke dat Jesus hulle aksies omskep in ‘n gelykenis. 7 Toe Jesus merk hoe hulle die voorste plekke aan tafel uitsoek, vertel Hy aan die genooides die volgende gelykenis: 8 “As iemand jou na 'n bruilof toe uitnooi, moet jy nie sommer op die voorste plek gaan sit nie. Dit kan net wees dat die gasheer iemand uitgenooi het wat belangriker is as jy. 9 Dan sal hy wat julle albei uitgenooi het, na jou toe kom en sê: ‘Gee bietjie die plek af vir hierdie man.’ Jy sal dan tot jou skande die agterste plek moet gaan inneem. 10 Maar as jy uitgenooi is, gaan sit liewer op die agterste plek. Wanneer die gasheer kom, sal hy vir jou kan sê: ‘Vriend, kom sit hier voor.’ Dan sal jy in die agting van al die gaste styg. 11 Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.” Jesus leer ons nie die dinge om vir ons ‘n verleendheid te spaar nie. Hierdie is nie etiket 101 nie. Hierdie is koninkryks-leefwyses. Selfverloëning in praktyk. Hier handhaaf jy nie jouself en stoot jou plek oop tussen die mense deur om jou belangrikheid te probeer vestig nie. Jy staan terug en laat jou gasheer jou eer sou hy of sy wou. Jy doen nie alles in jou vermoeë om vernaam te wees of as ‘n gesiene mens gereken te kan word nie. Jy staan terug en neem jou plek in by die minder belangrike sitplekke. Dink daaroor: Ons lewens behoort aan God. Ons leef uit God uit en met Sy krag. Dit is vir God om ons te verhef, te “upgrade” na die beter sitplekke, of nie. Dit is vir ons om so te leef dat Christus meer word en ons minder. En Christus gaan nie meer word terwyl ons alles wat ons kan doen om onsself meer te maak nie. ‘n Mens moet hierdie lewensles deurdink vir ander terreine van jou lewe ook. ‘n Mens raak moeg vir mense wat hulself die heeltyd bemark. Of die heeltyd vol is van hul eie goedheid. Wees anders. Byvoorbeeld. Ek sit in Binnelandse sake om die troues van die naweek te registreer. Ons mag, verby die toue loop en hulle moet ons dadelik help aangesien dit “Binnelandse sake se werk is wat ons gedoen het”. Jy kan dink mense raak vies as jy dit doen. Veral as hulle al lank daar sit. Dit is al ‘n ruk wat ek bly voel, moenie jou reg laat geld nie. Gaan vroeg, gaan sit in die tou en wag jou beurt. ‘n Vorige keer was ek derde in die tou. Die beampte herken my en wys ek moet eerste kom. Ek sê toe nee, die ander was voor my. Ek sal wag. Maar Donderdag was dit effe anders. Daar was 8 of meer mense voor my. Nou sit ek ewe geduldig daar. Ek sit met die teksgedeelte in my kop. En ek wag dat ek soos in die gelykenis vorentoe geroep kan word. Dis ‘n kort week en ek moet nog hospitale toe en die preek is nie klaar nie. Maar ek gaan sit in die tou en wag, reg om op te spring en vorentoe te gaan as die beampte my sien. Sodat ek tyd kan spaar. Wetende dat ek hierdie keer definitief die kans sal vat as dit aangebied sou word. En toe kom die vraag op: Wat as dit nie gebeur nie? Wat as jy in die agterste sitplekke by die maaltyd gaan sit en die gasheer los jou net daar? Wat gaan dit aan jou ego doen? Op watter punt gaan jou bloed kook. Daar is hierdie storie wat ek gehoor het van die vername familielid wat by ‘n onthaal so ewe nederig vir haar ‘n plek by ‘n geringer tafel gaan kies het. En toe na die tyd siedend woedend was want sy het regtig gedink sy verdien dat die gasheer haar daar kom haal het en by die hooftafel te laat sit het. Is jy regtig okay daarmee om jouself te verloën? Wat van as vriende so baie praat en jy kry nie kans om ook jou belangrike nuus te vertel te midde van al die gepraat nie. Is jy werklik okay daarmee om jou hele lewe in God se hande te los en Hom so vertrou dat jy nie ten alle tye gehoor, of gerespekteer of te ge-wat-ook-al hoef te word nie. Is jy so oortuig van God se liefde dat jou eie opinie kan gaan, en jou belange kan ook verdwyn. Netso lank God alles in jou kan wees? 3. Selfverloëning anders gesien. Die koninkryk van God werk net anders. Jesus verneder Homself deur mens te word en Sy lewe aan die kruis te kom gee vir vuil vieslike onwaardige mense. Hy kon ons net laat uitwis het en weer voor begin het. Maar Hy het nie. Sy hart, Sy liefde werk net nie so nie. So hoe werk Sy hart? 12 Hy het ook vir die gasheer gesê: “As jy in die middag of in die aand 'n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie. 13 Nee, as jy 'n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes. 14 Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het.” Die selfverloënig hier lê in die feit dat jy nie ‘n grend affere aanbied sodat mense weke daarna kan praat en jou belangrikheid so ‘n kerf of drie styg omdat jy die wies wie van die dag aan huis ontvang het nie. Maar dat jy mense genooi het wat niks vir jou ooit sal kan terug doen nie. Mense waarmee jy, as goeie gesiene Jood, normaalweg nie geasosieer sou wou word nie. Die koninkryk is net anders. In God se koninkryk dink jy net anders. Doen jy anders. En ja, natuurlik kan jy nogsteeds jou vriende oor en weer nooi. ‘n Laaste vraag: Waar anders wil God jou en my anders laat dink en doen?