Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 13: 31 - 35 Ons het hierdie gesegde: die lewe gebeur. Jy is besig met iets dan kom iets van die kant af in wat al jou planne deur mekaar krap. Dalk nou nie so erg soos in Jesus se geval waar jy hoor dat die koning jou wil laat doodmaak nie. Maar dinge gebeur. So wat maak jy? Sê nou jy was in Jesus se skoene hier. Van die Fariseers kom waarsku jou? Wat maak jy? Gaan jy na ‘n ander plek en sit jou werk daar voort? Ignoreer jy die waarskuwing? Kryt jy die Fariseërs uit as vals en mense met bymotiewe? Ek vra dit want die Fariseërs was gereeld besig om Jesus te probeer vasvang met hul vrae. Net in die deel hierna is ‘n mooi voorbeeld van wat by ‘n maaltyd uitgespeel het. Hulle nooi Jesus na ‘n maaltyd. ‘n Mens lei af na ‘n grend affêre toe waar mense spook om in die belangrikste sitplekke te kan sit. En jy lees “hulle het Hom fyn dopgehou. En dat daar ‘n man was wat aan water gely het. En jy wonder of is dit so gereël om te sien of Jesus die man daar en dan op die Sabbat sal genees en of Hy soos die Fariseers dit wil hê sal laat oorstaan tot die volgende dag. Hulle self ingestelde reël ogv die gebod jy mag nie op die Sabbat werk nie, het meegebring (vlgns William Hendriksen) dat die heersende mening onder die rabbies van daardie tyd was dat tensy dit ‘n geval van lewe en dood is, moet jy dit laat oorstaan tot die volgende dag. Maw die man kan nog ‘n dag suffer, dis okay. Jy maak hom net nie gesond op die Sabbat nie. Jesus het deurlopend met die Fariseers probleme gehad oor sulke en ander tipe dinge. So, ignoreer jy hierdie paar fariseers wat jou kom waarsku van Herodus se planne, of nie? Of was hierdie groepie Fariseërs Hom dalk simpatiek gesind of dalk net so stilletjies anti Herodus dat hulle Herodus se planne wou ontwrig. Of is die hele storie oor Herodus uit die duim gesuig? Herodus natuurlik is die seun van die Herodus wat by Jesus se geboorte al die kinders kleiner as twee jaar laat doodmaak het. Want Jesus was vir hom ‘n bedreiging vir sy koningskap. Sy seun, die Herodus wat hierna verwys word, het probeer om Jesus te siene te kry. Dis n storie van n klomp mense wat vasgeval het in sieninge en groewe en intriges. Niks anders as ons dag nie. Net meer intens en met meer druk dalk vir Jesus. Hoe leef jy God se wil in sulke situasies? Hoe leef jy God se wil as mense jou dagboek kom deur mekaar krap? Of as mense elke sin of gedagte wat jy uiter of iewers op sosiale media plaas, bevraagteken en motiewe inlees wat jy nie eers naastenby in gedagte gehad het nie? Ons sien dit elke dag uitspeel. Kan ek byvoeg: Al hierdie mense het die potensiaal om God se storie te laat ontspoor. Om Jesus op n syspoor te laat beland. In ‘n sekere opsig was die mense self ook ontspoor. Die Fariseers is nie by wat God wou gehad het nie. Hulle het met n ywer vir die wet geeindig wat ver weg was van God se bedoeling met die wet in mense se lewens. Jesus het hulle al witgepleisterde grafte genoem en uitgewys as alles behalwe heilig, as ek dit so mag uitdruk. Byvoorbeeld: God se bedoeling met die tempeldiens en wette was om vorm te gee aan die liefde vir God en om die verhoudinge tussen mense op te bou in verhoudings van liefde. Al wat oorgebly het van dit, is mense wat oorlaai is met moets en moenies, wette met onder-afdelings met nog onder-afdelings op die onder-afdelings. En die gewone mense het moedeloos geraak. Dit is oa die rede hoekom Jesus sy bekende uitnodiging gerig het: Kom na My toe almal wat moeg en oorlaai is. n Mens moet ten eerste, so na die eerste lees van hierdie stukkie geskiedenis, vra, wat is God se wil hier? Paulus is by geleentheid oppad na Jerusalem in Sesarea oorgebly. ‘n Profeet met die naam van Agabus het daar aangekom, hy het Paulus se gordel gevat en sy eie hande en voete daarmee vasgebind en gesê: “So sê die Heilige Gees: Die Jode sal in Jerusalem die eienaar van hierdie gordel net so vasbind en hom aan die heidene uitlewer.”(Hand 21: 11). Maar Paulus was oortuig hy moet gaan. Lees jy Handelinge 20:22 dan besef jy dat die Heilige Gees hom gedring het om te gaan. En dat die Gees hom verseker het dat gevangenskap en vervolging op hom wag (20:23). Wat is God se wil? Moet Paulus se Agabus se woorde hoor en vlug? Of moet Paulus bly by wat die Gees hom gee en dit as ‘n bevestiging vat by dit wat hy reeds weet: gevangeskap en vervolging wag. In hierdie deel sit Jesus met dieselfde dilemma. Luister Hy na die groepie Fariseërs en gaan werk elders voort, of hou Hy koers na wat Hy weet God se wil is? Hy kies om God se pad op God se tempo te stap. Hy weet God sal Herodus weg hou tot op die tyd dat in Jerusalem as “Paaslam” Sy offer vir die sondes van die mensdom kan bring. Ons kan gerus leer om tot rus te kom in God en ons nie op hol te laat jaag deur mense en gebeure nie. Maar eerder na God te draai. Dit is soos die foto van die ligtoring wat onder ‘n geweldige storm en golwe deur loop. Maar aan die land kant, met die ligtoring tussen hom en die stormsee, staan die ligtoring-man rustig, hand in sy sakke na die land en kyk. Ek wonder oor die fariseers wat Jesus kom waarsku het. Was hulle eerlik en regtig besorg oor sy veiligheid? Indien wel, dis wonderlike maar hoe lyn dit op met God se wil vir Jesus? Het hulle enigsins God gevra? Hulle is tog immers godsdienstige leiers, so jy kan mos verwag dat hulle God se wil eerste sou stel? Wat vir ons belangrik is is Jesus se reaksie. Hy gaan aanhou doen wat Hy gehad het om te doen. ‘Kyk, vandag en môre dryf Ek nog bose geeste uit en maak Ek mense gesond, maar op die derde dag sal Ek my werk klaar maak.’ In elk geval moet Ek vandag en môre en oormôre die reis voortsit, want dit is ondenkbaar dat 'n profeet op 'n ander plek as Jerusalem omkom.” Vandag en more doen Hy wat en soos God Hom gegee het om te doen. Hy hou by God se plan. Die doel is om te eindig in Jerusalem. Om daar Sy lewe te gee. Die woordjie dood is prominent. Herodus wil dood maak. Profete wword in Jerusalem dood gemaak. Boodskappers word gestenig. En Jesus gaan daar omkom. Meer spesifiek sy beeld van die hen met haar kuikens. Jesus wys vir ons God se hart hier. En Hy wys wat die tempeldiens moes gewees het maar toe nie is nie. ‘n Plek waar God Sy kuikens onder Sy vlerk kan verenig. Die hartseer is dt die mense nie ingebring wou word nie. Hulle het bly die verkeerde goed en mense volg. Of dalk net hulle eie idees en tradisies. Ek moet dit uitlig. Reg teenoor die hen wat haar kuikens onder haar wil toevou, staan die kuikens wat nie toegevou wil word nie. Laat dit asseblief insink. Reg teenoor die hen wat haar kuikens onder haar wil toevou, staan die kuikens wat nie toegevou wil word nie. Reg teenoor Jesus staan die Tempel-garde, fariseers, saduseers, skrifgeleerdes en en wat Hom wil dood hê. Reg teenoor die boodskap dat Herodus Jesus wil laat doodmaak, staan die fariseers wat oor en oor redes probeer kry om Jesus oor te laat doodmaak. Hom vir etes nooi, soos ons volgende week DV weer sal sien, en dan fyn dop hou om iets teen Hom te kan kry. En op die einde is dit die kerk van daardie tyd, die Sanhedrin, wat Jesus oorgee om gekruisig te laat word. Dit is goed as ons raaksien: Hier waarsku hulle kwansuis. En in vers 35 sê Jesus “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!”. En ons weet kort daarna het dit verander na “Kruisig Hom. Kruisig Hom!” Ons moet nie so seker van onsself wees nie. ‘n Mens was nog altyd soos ‘n golfie wat deur die wind heen en weer gewaai word. Vandag is jy gelowig en more is jy op ‘n ander spoor. Ons moet liewers nederig, klein in afhanklikheid by God bly. Ons moet Jesus se versugting hoor. En nee dit is nie ‘n oproep om bekering nie. Dis dalk eerder die uitwys van harte wat te hart is vir bekering. Jesus sê: (34b) “...., hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie! Kyk, nou word julle stad aan julleself oorgelaat.” Hy wil ook ons by mekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke. Laat dit vir jou so wees. Moenie te groot word en dink ek kan op my eie. Ek is groot en sterk en vermoeend genoeg nie. Hoor Jesus se versugting: Hy wil ons bymekaarmaak soos ‘n hen onder haar vlerke. “Maar hulle wou nie” En dan gee Jesus hulle die ruimte wat hulle wil hê. Hy laat hul oor aan hulself. En dis nie n goeie ding nie. Dit eindig sleg. Jerusalem val in 70 nC. Laat die lewe gebeur. Laat mense mense wees. Bly jy by dit wat God jou geroep het. En as jy nie iets spesifieks het nie, bly dan by liefde leef want dit weet jy tog is God se wil vir jou en my. Bly in alles soos kuikens onder die Here se vlerke toegevou.