Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Psalm 62 Verlede Sondag het ons gebid teen al die geweld en lelik in die land. Kan ek so ‘n ander perspektief byvoeg? Iewers het ek ‘n preek gelees, jare terug, ek kan net die tema onthou: Blom waar jy geplant is. Ek vra aan Psalm 62 hoe moet ons dit reg kry in vandag se tye. In Psalm 62 is daar ‘n drie letter woord. Die woordjie “net”. Vir party mense is “net” beperkend. Die woordjie sluit ander uit. Dit is eksklusief. Ander kere is dit lekker want dis net ek en jy. Vanoggend sê die woordjie “net” dat jy van al die plekke kan vergeet waar die wereld sê jy tot verhaal moet kom ... rus is net by God. “Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding.” Ons moet wegkom van ‘n “as” lewe. “As ek maar net ...” die lotto kan wen. Of ‘n ander man of vrou het. As ek net ‘n ander werk kan kry. As ek maar net ander bure het. As ek maar net beter gesondheid kon geniet. Ek wonder of die Here ons nie soms in situasies hou waaruit ons wil wegkom tot ons leer om net in Hom tot rus te kom. ‘n Lewe net in Hom te bou. Om vanuit Hom te leer blom waar ookal ek is. Daar is ‘n begonia plantjie wat in n stoepmuur blom by my. Ten spyte van my. Dit het vanself opgekom tussen die bakstene uit. Die plantjie doen beter as my begonias wat in potte versorg word. Ek is oortuig God doen dit. Dit is vir my ‘n herinnering dat omstandighede, mense, my nie moet keer om ook te blom en aan te gaan met die lewe nie. Ek moet net doen wat die Here van my vra. Nou Dawid se lewe het nie altyd lekker uit gewerk nie. Sy planne het erg skeef geloop met tye. Of soos hy dit stel in hierdie psalm, ek is ‘n man wat soos ‘n muur wat wil omval, wat reeds omgestoot is. En tog bly hy sê “Net God.” Net by God . 1. Dawid het bely dat Hy op God alleen hoop. Hy vertrou God. ‘n Stuk of 6 keer sê Dawid “net op God” of “net God”. As ek so na die deel kyk dan voel dit vir my Dawid kyk terug en Hy sien dat, toe hy net op God vertrou het, dit die tye was wat hy tot rus kon kom. En ja, daar was tye in sy lewe wat hy nie op God vertrou het nie. Eintlik het hy God vergeet. Of hy het seker planne probeer weg steek vir God. Of dalk net gedink God sal nie sien nie en nie weet nie. Die kere wat hy homself laat geld het, op homself vertroue het en sy eie kop gevolg het, het dinge erg skeef geloop. Ek dink aan die affere wat hy met Batseba aangevang het. Dit het uitgeloop op moord. Vir die groter deel van sy lewe het hy egter op God vertrou. Dawid was een van die suksesvolste mense van sy tyd. En ten spyte van sy sukses het hy nie op homself vertrou nie, maar op God. Hy het God se raad gevra selfs oor oorlog. Al was hy self ‘n uiters suksesvolle soldaat. Het die mense hom dan nie in sy jongdae reeds toegesing: Saul het sy duisende verslaan maar Dawid sy tienduisende, nie? Wat jy moet raaksien, is dat alles nie altyd goed gegaan het met Dawid nie. Daar was baie mense wat Hom wou dood hê. In verse 2 tot 5 lees jy dit raak. Al bely hy dat God sy Rots is, sy vesting waar hy skuil. Voel Dawid soos ‘n muur wat omgestoot is (vers 4). In vers 5 sê hy hulle het hom probeer uitwerk. Hulle leuens was volop. En hulle valsheid was vir hom sleg. Met hulle monde het hulle hom geseen maar in hulle harte het hulle hom vervloek. Klink na iets wat ons almal al beleef het. Ons het nie verniet ‘n gesegde “If looks could kill” nie. Of as mense agteraf raak. So, Dawid sou maklik kon gesê het: Maar God het my vergeet. Of die Here het so ‘n bietjie ander pad gekyk. Of, Die Here gee nie om dat ek soos ‘n omgestoote muur is nie. Of die Here gee nie om wat met ons in hierdie land gebeur nie. Dawid het nie in God geglo omdat hy hierdie great omstandighede gehad het nie. Dawid het op God vertrou omdat God se manier die enigste standhoudende manier is.Al wat regtig vir hom gewerk het. In vers 2b en 3b gee hy redes hoekom hy so op God vertrou: • 2b Dit is waar sy redding vandaan gekom het. • 3b God het hom vas en stewig laat staan Daar is baie ander psalms waar Dawid sing van God se redding in sy lewe. God hou vir hom wat Dawid is regop. Sy lewe wankel nie. Selfs al beskryf hy homself later as soos ‘n muur wat omgeval het. En tog, keer op keer bely hy : God is alles vir hom. Selfs in die laaste deel as hy weer skryf oor sy vyande dan gee hy hulle eintlik ‘n stukkie raad. Hy sê die pad wat hulle op is gaan net sleg eindig. Geweld help nie. Rykdom, of in ons ge val jou salaris, as dit toeneem moet nie die ding wees waarop jy steun nie. Jy moet net op God vertrou. Kom ons zoom so bietjie in. 2. Net. Net by God vind ek rus (v6) Daar is ‘n baie belangrike woordjie wat jy dalk gemis het. “Net”. Op sy eie maak net nie veel sin nie. Maar hier sê dit alles. En na die net kan jy dan maar sê, daarom. Daarom bly ek staande. Daarom vind ek rus. Daarom … • Vers 2 “Net by God vind ek rus …” • Vers 3: “ Net Hy is my rots …” • Vers 6: “Net by God vind ek rus …” • Vers 7: “Net Hy is my rots …” • Vers 8: “God is my redding en my krag …” • Vers 8b: “Hy is my rots …” • Vers 12 : ”Net God het mag … “ • Vers 13: “Mens moet net op God vertrou …” As ek so kyk is die woord “net” nogal prominent. Met die woord sluit Dawid alle ander opsies wat mense mag hê uit. God en God alleen. In vers 8 vat Dawid alles saam. “God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug.” Met hierdie belydenis vat hy nie net alles saam nie maar hy maak hom reg om te sê: God is ons toevlug. Dit is sy belydenis. ‘n Belydenis gebou op sy pad met God in die verlede. En daardie belydenis help hom om meer op God te fokus, God nog meer te vertrou. Geloof en vertrou bou op dit wat jy God sien doen in jou lewe. Vers 12, 13: “Een ding het ek God hoor sê, nee, twee, dat net God mag het en ‘n mens net op U, Here, kan vertrou, en dat U met elkeen handel volgens sy verdienste.” 3. Ons is nie ‘n nommer by God nie. Dawid sê vir ons: vertrou op God. Net op God. Moenie jou hoop of vertroue verskuif na iets of anders of jouself nie. Nie eers effentjies nie. Net op God. Daar is mense wat mag dink, dis nou alles goed en wel vir Dawid, in sy tyd, maar wat van vandag? Vers 13: God hanteer ons volgens verdienste. God ken jou elke gedagte en elke beweging (Ps 139). Ps 31:8 “U was nie onverskillig teenoor my ellende nie, U het die bedreiging van my lewe raakgesien.” Ook’n psalm van Dawid. Psalm 40: 6 “U het baie wonderlike dinge gedoen; U dink altyd aan ons” En dan weer in vers 18 “Ek is hulpeloos en arm, maar die Here dink aan my ...” Laat dit so ‘n bietjie insink. Dit is hoe God by jou is. So naby. Vergeet van ander mense ... dit is hoe God by jou is! Dawid was absoluut oortuig dat God intens betrokke is by hom en by elke kind van God. Ek wil glo, by elke mens. God ken elke mens. Vanuit die Nuwe Testament wil ek eintlik die deel weerspreek en sê, dankie tog God hanteer ons nie volgens ons verdienste nie. Want ons verdien nie seën nie. Ons verdien oordeel en ewige dood. Daarvoor het die Here Jesus gekom en vir ons sonder dat ons dit verdien genade gegee. En mag ons God se seën geniet sonder dat ons dit verdien. Daarom kan ek terugdraai en God dank dat Hy ons nou hanteer volgens wat ons in Jesus verdien. Kan ons God dank dat Hy ons hanteer as Sy kind en nie as Sy vyand wat ons eers was nie. En ja, God kyk sekerlik ook na jou verhouding met Hom. Na hoe jy met Hom leef. Hoe jy toevlug by God soek, die mate waarin jy Hom volg en skuiling by Hom vind. Die mate waarin Psalm 23 gebeur in jou lewe … jy wat skaap is in God se kudde en weet Hy en Hy alleen sorg vir jou … dit is die mate waarmee God jou hanteer. Geen dwang. Geen druk. Net die uitnodiging en die wonder van Sy genade en liefde. Ek wonder: Is dit hoekom Dawid so omswaai in die laaste vers en dan nie meer met ons, sy lesers praat nie, maar direk met God? Want wie net op God vertrou weet, jy moet met God kommunikeer. Jy moet by Hom bly. Vertrou op die Here. Vind jou rus by Hom. “Here, ons vertrou op U.” Gebed