Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1 Samuel 7: 2 – 12 Ek het hierdie laaste paar weke baie hartseer geraak. Regtig net hartseer voor God gesit en Sy seer oor kinderontvoering, kinder verkragtings en kindermoorde gedeel. Elke nuusberig oor ‘n plaasaanval, of moord of verkragting of al die sinlose geweld, het ‘n hartseer oor my laat kom. Vanoggend moet ek op ‘n positiewe trant, die goeie nuus deel dat jou lewe, my lewe, hierdie gemeente en land, hoef nie so te lyk nie. As jy God regtig wil ken en beleef, dan moet jy ontslae raak van alles waarop jy jou hoop sit. Alle afgode. Selfs jou eie insigte en vaardighede. Alles wat tussen jou en God staan moet uitgeskuif word en God en God alleen eerste staan. Israel het hulle eie kop gevolg. Hulle het God op hulle manier aanbid en gedien. Hulle het God probeer misbruik soos die spreekwoordelike lampie van die Aladin storie. As jy iets nodig het dan vryf jy die lampie en die genie pop uit en jy kan wens en hy doen dit. Dit is hoe Israel oor God gedink het. En ek is beangst dat baie gelowiges vandag so oor God voel. Dit het Israel duur te staan gekom. Toe hulle in ‘n geveg verloor, toe gaan haal hulle die ark van die Here, in hulle oë hulle troefkaart, hulle gelukbringer. Hierdie miskenning van Wie God regtig is en van God se rol in hul lewe het hulle baie duur gekos. God was nie te manipuleer nie! Die ark se teenwoordigheid forseer nie vir God om hulle hul sin te gee nie. Ek wys dit uit, want ook ons moet ons lewens suiwer van al ons verkeerde indrukke of idees oor God. En as ons praat oor ontslae raak van ons klein afgodjies dan bedoel ek ‘n spesifieke groot afgod ook, nl ons eie ek, ons self. Matteus 16 sê duidelik ons moet ons self verloën. Jesus is baie duidelik hieroor: “16: 24 As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg, ...” As jy ... maw jy moet dit wil hê ... jy moet agter Jesus aan wil leef. Dit is ons eerste keerpunt. Die keuse. En die wil, die wil om Jesus te volg en nie langer my eie kop en idees nie. Op ‘n ander keer meer hieroor. Vir vandag: Ons moet leer nee sê vir ons begeertes en idees en gemak en begin ja sê vir God. Ek leer dat om God eerste te stel is om ‘n diep begeerte te hê om soveel moontlik in God se teenwoordigheid te wees as wat jy kan. Om God se “geselskap” op te soek. Ons vrouens leer ons dat hulle net saam met ons wil wees, saam met ons dinge doen en beleef. God ook. God wil hê jy moet wees waar Hy is sodat jy dinge saam met Hom kan doen. Sy leiding kan volg. God het jou lief. Hy sal jou nie lei na waar jy kan breek nie. Hy wil jou lei na ‘n egte lewe toe. Joh 10. Lewe in oorvloed. (nie goed nie). En as die lewe of ander se keuses ons op breekpunte het, dan is dit God wat by ons is wat ons deur dit alles sal maneuver. Besef ook: Jy kan alles verloor wat jy so graag wil behou net omdat dit belangriker vir jou is as God. Dit het met Israel gebeur. Ek gaan dit uitwys. Of, jy kan lekker bymekaar maak, tot op ‘n dag wat kom soos ‘n dief in die nag, en God stroop alles van jou af, en die ewige, wel soos jy in hierdie wêreld God vermy het, daar gaan Hy jou vermy. En dit gaan ongelooflik sleg wees. Kan ek weer sê, net weer sê dit wat Samuel sê, kom terug na die Here. Raak ontslae van elke klein afgodjie in jou lewe. En nee, vandag se afgodjies is nie beelde van klip of hout nie. Kom ons kyk van naderby. Onderleiding van Eli se seuns, Hofni en Pineas het hulle die volk, ten spyte van hul pa se pleidooie, van God af verlei. En God het aanstoot geneem want hulle het teen die Here gesondig. Dit was Eli se woorde (2:25). Israel het hulle eiewilligheid opgetop met oorlog. Hulle het die Filistyne gaan aanval. En hulle is verslaan. Toe laat hulle die ark van die Here in Silo haal. Want met die Ark by hulle gaan hulle beslis die oorlog wen. Toe kry hulle ‘n nog groter drag slae. En die ark word gebuit. Vir meer as 20 jaar het dit sleg gegaan met die mense van Israel. Kan ek net sê, dat in daardie tyd het die Here self gesorg dat Sy ark terug kom huis toe. Die Here het die Filistyne geteister. Hy het hulle afgodsbeeld, Dagon, laat omval en in stukke lê voor Sy ark. Hy het hulle met pesswere getref. ‘n Dodelike siekte het hulle getref en baie is dood. En toe stuur hulle die ark terug na Israel. God het dit gedoen. Aan die anderkant. Dit het 20 jaar gevat voor al die Israeliete by die Here gekla het oor hulle verdruk word. In daardie 20 jaar of meer het Samuel groot geword en was die Here by Samuel (3:19) en die Here het nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie. Mense het begin besef dat Samuel was betroubare as profeet van die Here. En nou, na 20 jaar se swaar kom hulle bymekaar om voor die Here te kla. Samuel het vir hulle gesê: “As julle met julle hele hart na die Here terugkom, moet julle alle vreemde gode tussen julle uit verwyder, ook die Astartes. Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red uit die mag van die Filistyne.” Die Here wou nie ‘n oppervlakkige aanbidding hê nie. Hulle moes met alles wat hulle is en het terug keer na Hom. Hulle moes Hom weer liefhê en Hy moet hulle alles wees. Hulle moes ook al die afgode verwyder uit hulle gebied uit. Selfs die Astarte beelde. Rig julle harte op die Here en dien Hom. Dit is my verstaan dat hulle al hulle hoop op God moes plaas en God alleen voor leef. Niks meer van in God glo maar ook ander opsies oop hou nie. Daar was kere in hulle geskiedenis wat hulle God gedien het maar ook die afgode vir reën en die afgode vir goeie oeste en en. Dit moes stop. Dit is die vereiste gewees. Hulle moes kies: Die Here alleen. Of niks. Nog verder ly onder die Filistyne. Lank voor hierdie gebeure het die Here hulle met Josua ook gekonfronteer met die voorwaarde. Toe moes hulle kies. Ek praat van die deel waar Josua sy famous woord gesê het: Maar ek en my huis ons sal die Here dien. Nou is hulle weer voor so ‘n keuse. Miskien moet ons ook raaksien hoe maklik ons, ‘n mens, van God af wegdryf en ander goed inbring om jou te bevredig of te vervul. Hulle het vir die Here gekies. Samuel het nog ‘n paar goed deur gegee. Na Israel al die verkeerde goed tussen hulle uit verwyder het, al die afgode en net die Here begin dien het. Het Samuel hulle verder gevat. Ons sou dalk nou hier gestop het. Ons dien mos nou weer die Here. Maar Samuel neem dit verder. Hy sê: Die hele volk moet by Mispa bymekaar kom, dan sal ek vir julle tot die Here bid. Hulle het ook dit gedoen. Daar het hulle bely: “Ons het teen die Here gesondig.” Let daarop dat hulle nie net sê: “Ons het gesondig nie.” Hulle sê “Ons het teen die Here gesondig.” Dawid na sy owerspel met Batseba het nie bely dat Hy gesondig het nie. Hy het gebid: “Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde! Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus. Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. ...” Sonde is altyd teen die Here. Dit is die Here, Hom vir Wie ons lief het wat ons seermaak en ons verhouding mee skeur. Soms dink ek ons wil te oppervlakkig bely. Ons bely sonde maar ons bely nie die dieper skade aan ons verhouding met God wat gekom het agv ons verkeerde woorde, dade of gesindhede nie. Ons moet diep skoon maak en van harte, terug keer na die Here. Samuel gaan verder en hy leer die Israeliete oor wat reg en verkeerd is. Die verhouding is herstel maar die moeilikheid is nog steeds daar. Die Filistyne wil weer aanval en Israel is bang. En hulle vra vir Samuel om namens hulle by die Here te pleit. En hy het. Hy het geoffer en toe die Here gesmeek om hulp en die Here het Samuel se gebed verhoor. En ons lees hoe die Here ‘n groot donderweer oor die Filistyne laat losbreek het. Hy het hulle verwar en Israel het die juk oor hulle vrygebreek. God het dit gedoen. Waar het dit begin? By ‘n diep herstel van die verhouding met God. Met ‘n hernude oorgawe aan God alleen. Daar is skoon gemaak in hulle lewens. Dit is ‘n versoeking om ‘n aksie lys hier af te lei. So ‘n paar stappe: 1. Bely. 2. Verwyder of maak skoon. 3. Keer terug na die Here en dien Hom. 4. En dan, kom almal saam byeen op een plek en bely weer “ons het teen die Here gesondig.” En smeek saam oor ons land se probleme. Maar weet jy wat? Dan vat jy die kollig van God af weg en jy plaas dit vierkantig op wat ons doen. Ons bely. Ons kom saam by een. Ons dien. In ‘n diepgaande oorgawe val ek en jy weg uit die prentjie uit en God word werklik alles. Ons hou op en Christus leef in ons en deur ons. Die klem is nie meer op wat ons doen nie maar eerder op Christus wie in my woon en ons wat Hom wil verheerlik soveel ons kan. Dit begin by ons wat bely dat ons in hierdie land teen God gesondig het en dit steeds doen. Vergeet van ander. Bely jy. Maak jy skoon in jou lewe sodat Christus meer kan word in jou. En God sal jou hoor en God sal leef in jou en die gemeenskap en die land sal God ervaar. Kom ons bely saam met die woorde van Flam 55 vers 1 .....Ek staan skuldig voor U Heer.