Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 Konings 5:1-14 1. Ons almal maak soms foute. Sommige meer as ander, maar almal maak foute. So het ek al vir iemand ‘n pad verkeerd verduidelik, en die gevolge daarvan was dat ‘n bietjie ekstra tyd verlore gegaan het en dat hulle bietjie gefrustreerd was en ek baie verlee was. Maar dit was die ergste gevolge. 2. Aan die ander kant het ‘n lugvaart beheer operateur onlangs die verkeerde aanwysings vir twee vlugte bokant die Amerikaanse lugruim gegee. Hierdie verkeerde aanwysings het gelei tot ‘n botsing tussen die twee vliegtuie waarin honderde mense hulle lewens verloor het. 3. Dieselfde fout is gemaak. Verkeerde aanwysings is gegee. Maar daar was ‘n hemelsbree verskil in die gevolge. U sien, of ons dit nou wil erken of nie, ons almal maak foute. Maar sommige foute is meer ernstig as ander weens die gevolge daarvan. 4. Ons vriend Naaman het egter ‘n hele aantal sulke foute gemaak wat hom baie duur te staan kon gekom het. As ons die verhaal wat ons sopas gelees het aandagtig gaan deurlees vind ons ‘n aantal foute wat Naaman gemaak het, foute wat ook so baie in ons eie lewens manifesteer. Foute wat soms na onbenullighede lyk, maar wat soms lewensbelangrike gevolge kan he. 5. Kom ons leer egter eers vir Naaman van naderby ken: Eerstens was hy die Hoof van die Siriese Leer van die koning van Aram, Hy was ‘n gesiene man Hy het die agting van die koning geniet Deur hom het die Here ‘n oorwinning aan Aram besorg. MAAR…..hy was melaats Hierdie melaatsheid het Naaman beroof van sy vreugde. Hy was hulpeloos. Daar was geen medikasie wat vir hierdie swaar las gehelp het nie. Daar was geen genesing vir hierdie siekte nie behalwe ‘n wonderwerk van God. 6. En hier kan ons alreeds iets van onsself vandag in Naaman herken. So baie mense vandag vind sukses in hulle verskillende velde. Hulle ontvang lof van alle kante van die samelewing en word figuurlik gesproke skouerhoogte gedra oor al hulle prestasies. Nie dat daar iets met prestasies verkeerd is nie, maar wanneer jou prestasies jou lewe oorheers en mense meer bekommerd is oor hulle volgende prestasie of sukses by die werk as oor hulle verhouding met God, is iets van hulle prioriteite skeefgetrek. In die algemene spreektaal van die kerk noem ons dit sommer sonde. 7. En dis in hierdie omstandighede wat slegs ‘n wonderwerk van God hulle kan red. Want sonde word slegs uitgedelg wanneer God self ‘n wonder in ons lewens kom doen. Geen medikasie, berading of wat ookal die psigologie ons vandag kan bied is in staat om sonde uit ons lewens te delg nie. Slegs God kan. En dis ‘n wonderwerk. 8. Nou ken ons vir Naaman en het ons onsself duisende jare later ook sommer in hom herken. Maar ons het aanvanklik gese dat Naaman ‘n aantal foute gemaak het wat mense vandag steeds maak. Kom ons kyk dan hierna. 9. Naaman het genesing gesoek. Hy het daarna gesmag. Hy het naarstigtelik gesoek na genesing vir sy liggaam en hy was bereid om enigiets daarvoor te betaal. Maar die prys wat hy aangebied het, was die verkeerde een! 10. Ons lees in vers 5 dat hy die volgende saamgevat het: 342kg silwer, 68kg goud en 10 stelle klere. Teen vandag se uitleenkoers was dit ‘n aardige bedraggie geld wat hy aangebied het vir sy genesing. Hy was bereid om enige prys te betaal. Baie mense dink vandag nog dat verlossing ‘n prys op het. Hulle skenk geld vir die kerk, liefdadigheid of een of ander goeie saak. En met dit is daar opsig self niks verkeerd nie. Maar baie mense gebruik dit bloot om hul gewete te sus. Baie dink selfs dat hulle op die manier hul verlossing kan bewerk. 11. Maar ons weet mos God werk nie so nie. Hy stel nie belang in wat ons met ons bankrekeninge kan uitrig nie. Hy stel belang in hoe ons karakter meer en meer omvorm word sodat ons sy beeld al meer en meer weerspieel. Die prys vir ons redding is mos klaar betaal. Duur betaal. U en ek het nie genoeg om ons verlossing te koop nie. Maar die heerlike is dat u en ek nie nodig het om dit te doen nie. 12. Die tweede fout wat Naaman gemaak het is om na die verkeerde persoon toe te gaan. Hy het sy genesing by die verkeerde adres gaan soek. Vers 5 leer vir ons dat die Koning van Aram vir hom ‘n brief gegee het om na die koning van Israel te neem. Vers 6 se vir ons wat die inhoud van die brief was. 13. As Naaman tog maar net na die getuienis van die klein dogtertjie geluister het. Sy het tog duidelik gese dat die profeet in Samaria vir Naaman kan genees en nie die koning nie. Haar getuienis is nie ernstig opgeneem nie wat beteken dat Naaman sy genesing en verlossing van hierdie las by die verkeerde persoon gaan soek het. Ai, hoe gereeld gaan soek ons nie ons redding by die verkeerde dinge nie. So baie mense trek van een kerk na ‘n ander op soek na ‘n “lekker dominee”. Of ‘n kerk wat lekker sing. Maar hulle besef nie dat hulle verlossing by Christus le nie. 14. Derdens het Naaman na die verkeerde plek toe gegaan.Hy het sy hulp by die koning van Israel gaan soek. Dit terwyl die slavin dogtertjie na die profeet verwys het. Elisa het vir die koning laat weet dat hy Naaman na hom toe moet stuur. Dis wat Naaman in die eerste plek moes gedoen het. Elisa was nie besig om te spog nie. Hy het vertroue in God gehad. Hy het geweet God kan Naaman se behoefte na genesing vervul. 15. En dan lees ons dat Naaman na Elisa se huis toe gegaan het. Hy het egter net voor die deur stilgehou en nie by Elisa se huis ingegaan nie. So naby maar tog so ver. Hy het na Elisa se huis toe gekom, maar nooit vir Elisa ontmoet nie. Hoe baie kere kom mense na die huis van die God toe, maar nie na God toe nie? Ons vergeet soms waarom ons hier is. Dat ons nie hier is om onthaal te word nie, maar dat dit oor God gaan. Ons is hier om Hom te verheerlik, en dis al. Dit gaan oor Hom. Enigiets wat ons in die proses kry en waarmee God ons bederf is bloot net genade. 16. Somtyds is mense in die huis van God, so betrokke en besig met die dinge van die Here dat hulle soms vergeet van die Here van die dinge. Ek wil vanoggend vir u se: Ons kan elke dag van ons lewens betrokke wees by die kerk, maar as ons nie met hart en siel uitverkoop is aan Christus nie beteken dit absoluut niks. 17. Naaman se vierde fout is dat hy die verkeerde voorskrif wou gehad het. Hy wou gehad het Elisa moes in sy teenwoordigheid kom staan, die Naam van die Here aanroep en dan ‘n ritueel uitvoer deur sy hand oor hom te beweeg en op die wyse die siekte genees. Maar al wat Elisa hom deur middel van ‘n boodskapper laat weet is om homself 7 keer in die Jordaan te gaan was. 18. Die opdrag was eenvoudig. Sien, die evangelie van Christus is nie moeilik nie. Glo in die Here Jesus en jy sal gered word. Eenvoudig. Julle moet mekaar liefhe. Eenvoudig. Maar ons maak dit soms so moeilik. Ons stel so baie voorvereistes. Selfs vir ons verlossing. Selfs al hoor ons so gereeld dat die prys is betaal, ten volle, TETELESTAI!!!. Aanvaar dit net!! Nog steeds maak ons dit soms so ingewikkeld. Elisa se optrede, of dan nou sy gebrek aan optrede soos Naaman dit verwag het, het vir Naaman ontstel. Sien, hy het reeds ‘n vooropgestelde idee gehad van hoe God te werk sou gaan om hom te genees. 19. Baie mense verwerp vandag die evangelie want dit klink net bloot te eenvoudig. Dit pas net nie in by hulle verstaan en konsep van verlossing nie. Baie mense is oortuig dat hulle steeds iets moet doen om gered te word, dat hulle ook ‘n bydrae moet lewer. Dis dan hoe al die ander godsdienste en gelowe werk. Sommiges wil eers ‘n visioen of gesig sien, ‘n openbaring he. Glo net in die Here Jesus en jy sal gered word. 20. Naaman se vyfde fout was dat hy die verkeerde houding gehad het. Hy het toegelaat dat trots in die pad van sy gehoorsaamheid kom staan. Hy was oortuig dat die waters van Sirie in elk geval beter was as die waters van Israel se Jordaan rivier. Maar wat Naaman nie verstaan het nie is dat sy genesing nie in die water gele het nie. Nee, dit het gele in sy gehoorsaamheid aan die opdrag wat hy ontvang het. En dis die deel wat Naaman geweier het om na te kom. 21. Ons is soms so besorgd oor wat ander mense gaan se dat ons soms God se opdragte en roeping verontagsaam. Neem dit vandag van my broer en suster, die grootste hindernis wat ‘n mens kan he in jou verhouding met God is om bang te wees oor wat mense gaan se. Paulus het duidelik in Gal 1:10 hierdie hindernis aangespreek: “Klink dit nou of ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.” 22. Naaman, ‘n man van aansien, ‘n held, oogappel van die koning, ‘n dapper soldaat. Maar aan sy siekte kon hy niks doen nie. Dan stuur God mense. Kom ons noem hulle randfigure. Want dis wat hulle was. Hulle was nie belangrike mense nie. Hulle was letterlik op die rand van die samelewing se lys van belangrikheid. Kyk na die mense vir wie God gebruik om hierdie man van aansien te genees. 23. Alhoewel niemand weet hoe Naaman genees gaan word nie, is daar ‘n klein jong diensmeisie wat uit Israel ontvoer is wat wel weet. En sy word ‘n boodskapper van God in die hele proses. Die hele proses van Naaman se genesing word deur ‘n klein ontvoerde diensmeisie aan die gang gesit. 24. Naaman gaan dan na die koning toe vir genesing, maar nie eers hy weet hoe om die man voor hom te genees nie. Hy is so desperaat dat hy sy klere skeur. Nog ‘n randfiguur tree na vore. ‘n Ou man met die naam Elisa. En omrede hierdie ou man nie aan Naaman die nodige respek gee wat hy voel hy verdien nie, weier hy om sy opdragte uit te voer. 25. Weereens stuur God randfigure, onbelangrike mense. Sy amptenare het met hom kom praat en oortuig hom om te doen wat Elisa gese het. En dan, wanneer Naaman uiteindelik doen wat vir hom gese is, word hy genees. En hy kom tot die besef dat daar geen ander God op die aarde is behalwe die God van Israel nie. 26. Somtyds besef mense dat hulle self ook melaats in die figuurlike sin van die woord is. En baie kere tree hulle niks anders op as Naaman nie. Hulle dink ook dat verlossing en guns by God verkry kan word deur hoeveel hulle skenk, hulle bydraes ens ens. Baie mense gaan soek ook hulle verlossing by die verkeerde persoon of die verkeerde plekke. Baie mense maak ook die evangelie van verlossing moeilik, terwyl dit eintlik eenvoudig is. En wanneer hulle nie hulle sin kry nie, wanneer dinge nie gebeur soos hulle dit wou he nie, is die hele wereld verkeerd. 27. En tussen al hierdie optredes en reaksies is ek seker u sal uself ook herken. Want ek doen. Ek wil ook baie kere dinge op my manier gedoen he. En dan stuur God soms randfigure. Nie die belangrikes en die met aansien nie. Die onbelangrikes. Net om ons weer te herinner dat die koninkryk van God behoort ook aan hulle en dat hulle ook instrumente in sy hande is. Kyk uit vir hierdie mense oor u pad wat u dink onbelangrik is. Sien hoe God hulle gebruik in u lewe om u te herinner aan dit wat tussen God en uself staan. Om seker te maak ons maak nie dieselfde foute as ‘n Naaman nie. 28. Kom ons verseker dat ons ons redding op die regte plek soek en nie soos ‘n Naaman iets wil bysit, iets anders verwag, of dan dikmond word omdat dinge nie is soos ek dit wil he nie. Luister na hierdie randfigure in u lewe. En beleef God se bevryding van dit wat tussen u en Hom staan. Dat die enigste gevolg daarvan sal wees dat u ook sal besef dat daar geen ander God is nie.