Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 Kor 2:12-3:6 1. Ek is seker dat almal wat hier sit vanoggend al ten minste een keer in hulle lewens moes aansoek doen vir ‘n werk of ‘n ander pos binne die instansie waarvoor u werk of gewerk het. Dan het u gewoonlik ‘n aansoekvorm ingevul en daarmee saam het u ‘n volledige CV ingedien. Die doel dan van hierdie CV is om vir die onderhoudvoerders in te lig oor al u kwalifikasies, kursusse, grade, ondervinding wat u al opgedoen het vir die pos ens ens. MAW die doel van die CV is om die persone wat die onderhoud voer te oortuig dat u gekwalifiseerd genoeg is vir die pos waarvoor u aansoek doen. 2. En die rede waarom die werkgewer ‘n CV verlang is om te verseker dat u oor die nodige kwalifikasies beskik vir die pos. Om seker te maak hulle stel iemand aan wat die werk ken en wat nie betaal gaan word om iets te doen wat hy of sy glad nie kan doen of totaal onbevoeg is om te doen nie. Ek weet sommige van u dink dit werk nie so in Suid Afrikaanse nie, maar vir doeleindes van ons diens vanoggend kom ons verbeel onsself ons woon in die Etopia. 3. Met hierdie in gedagte bring dit ons by die probleem wat ons in die kerk en tussen gelowiges mee sit vandag. Ons as gelowiges is baie deeglik bewus van die feit dat ons getuies vir Christus moet wees waar die lewe ons ookal heen neem elke oomblik van die dag. Dis ons roeping en verantwoordelikheid om op te staan vir Christus by die werk, skool, huis, ja selfs wanneer ons partytjies bywoon. Ons elkeen het ‘n roeping van God ontvang om sy verteenwoordiger te wees waar ons onsself ookal bevind. 4. Maar die probleem is dat baie gelowiges van mening is dat hulle nie goed genoeg gekwalifiseerd is om ‘n effektiewe getuie vir Christus te wees nie. Hulle voel dat hulle CV in hierdie verband ‘n bietjie tekort skiet. Hulle is van mening dat daar op hulle geestelike CV’s ‘n kolom is wat vereis dat jy moet invul hoeveel teksverse jy uit die kop uit ken. Of tot watter mate jy by die biduur, Bybelstudie of selfs eredienste betrokke is. En dan die groot kwalifikasie wat ons soms dink word op ons geestelike CV’s vereis: Die kolom waar jy moet invul hoeveel mense jy al na die Here toe gelei het. 5. Sien, wanneer mense by hierdie gedeelte kom dan is hulle sommer onmiddelik oortuig dat hulle ongekwalifiseerd is vir die pos van getuie wees en dis hier waar hulle besluit om liewer die aanstellingskontrak op te skeur. En hulle gaan tot hierdie aksie oor sonder dat hulle weet wat dit is wat God werklik van hulle verwag. 6. Ons almal ken Hand 1:8: Julle sal krag ontvang ……! Maar wat beteken getuie wees dan werklik? Beteken dit ek moet jare gaan studeer, nagte deur Bybel lees, elke dag heeldag net met almal oor die evangelie praat en toe oe bid selfs as ek op die pad ry? Nee, ek dink nie dit is heeltemal die geval as ek so deur die Skrif rondblaai nie. Ek sien dat die dissipels self maar nie baie gekwalifiseerd voorgekom het om dissipels te wees nie. 7. En die rede is dat hulle gewone mense in elke opsig was. Soos u en ek. Nie een van hulle was bekend vir groot skolastiese kwalifikasies nie. Nie een van hulle het ‘n geskiedenis gehad as goeie sprekers of uitstaande teoloe nie. Inteendeel, hulle was buitestaanders in soverre dit die samelewing betref waarin hulle geleef het. Hulle was nie uitstaande wat betref enige intellektuele moontlikhede nie. Jesus het self gese dat hulle maar ‘n bietjie traag is van begrip (Luk 24:25). 8. Kyk net na die samestelling van die dissipels. Een van die hulle was ‘n Seloot, ‘n radikale groep mense wat ten doel gehad het om die Romeinse Ryk omver te gooi. Nog een was ‘n belastinggaarder, wat beskou is as ‘n verraaier van die Joodse volk. Meeste van die ander was vissermanne en sommiges was moontlik ambagsmanne. Sou u die geestelike toekoms van die hele wereld aan sulke manne toevertrou het? In Hand 4 lees ons hoe Petrus en Johannes voor die Joodse Raad verskyn. Vers 13 se vir ons dat die Joodse Raad gesien het dat Petrus en Johannes maar eenvoudige en ongeleerde mense is. 9. Steeds het God hierdie ongeleerde mense gebruik om ‘n impak op die wereld te maak wat duisende jare later nog steeds groei. Soveel so dat die mense in Tessalonika van hulle gepraat het as “…die mense wat die hele wereld in beroering bring” (Hand 17:6). 10. In Hand 5 lees ons hoe hierdie dissipels, wat beslis nie deur u en my gekies sou gewees het nie, wonderwerke tussen die mense gedoen het. Hoe siekes op die strate uitgedra is en wanneer Petrus, die ongeletterde en ongeleerde, se skaduwee op hulle geval het, hulle gesond geword het. Hoe siekes en mense met onrein geeste na hulle toe gebring is en almal gesond gemaak is. 11. Wanneer ons kyk na die bekendste Bybelfigure reg deur die OU en Nuwe Testament staan mens verbaas oor die karikature wat deur God uitverkies is om ‘n pad met sy volk te stap en uiteindelik ook ‘n pad met alle mense te stap. Kom ons kyk vlugtig na ‘n paar mense wat u en ek aan dink vandag as uiters gekwalifiseerde mense om God se roeping uit te voer: Noag het homself dronk gedrink en nakend in sy tent gaan lê Dawid het ‘n buite egtelike verhouding gehad en moord gepleeg Jona het weggehardloop van God af Paulus was ‘n moordenaar Gideon was onseker van homself Mirriam het geskinder Tomas het getwyfel Sarah was ongeduldig Elia was buierig Ragab was ‘n prostituut En so kan ons aangaan. En wanneer ‘n mens op hierdie wyse na hierdie geloofshelde kyk lyk hulle glad nie gekwalifiseerd genoeg dat God hulle kan gebruik om die redding van die mensdom te bewerkstellig nie. Maar steeds het God hulle bekwaam genoeg geag. 12. En hier is die wonderlike nuus vanoggend broer en suster. U is geroep deur God om sy getuie te wees waar u ookal gaan. En die beste nuus is: U IS BEKWAAM GENOEG OM DIT TE DOEN! En hierdie bekwaamheid moet nie in onsself gesoek word nie. Paulus is duidelik in ons gelese gedeelte dat ons bekwaamheid kom van God wat ons bekwaam maak om bedienaars van ‘n nuwe verbond te wees. 13. God soek nie geleerde mense nie, Hy soek gewillige mense. Ek dink hier aan Andreas. Hy was die broer van Petrus. Hy is deur Johannes die Doper aan Jesus bekend gestel. Toe hy besef dat Jesus die Messias is, het hy na Petrus toe gegaan en die volgende woorde gespreek wat in Joh 1:41 opgeteken staan: “Ons het die Messias gekry!”. 14. Dit was dit. Dit was sy getuienis vir Christus. Dit was sy openbare belydenis. En die gevolg? Petrus het saam met hom na Jesus toe gegaan en die res is geskiedenis. Sien u, geen groot preke of redenasies nie, geen intellektuele gesprekke en leringe of tesisse nie. Geen teologie of selfs teksverse nie. “Ons het die Messias gekry!”. Dit was al. En God het die res in Petrus se hart bewerk. Die feit dat Andreas se CV ver tekort geskiet het in terme van geestelike kwalifikasies het hom nie gekeer om sy broer aan die Messias te gaan voorstel nie. 15. Toe Jeremia die opdrag van God ontvang om uit te gaan en te gaan profeteer was sy verskoning dat hy nie goed kon praat nie (Jer 1). God het nie die taak van hom af weggeneem en aan iemand anders gegee nie. Nee, Hy het Jeremia toegerus vir die taak en steeds van hom verwag om as profeet te gaan optree. Toe God aan Moses die opdrag gegee het om die Israeliete uit Egipte te gaan lei, het Moses dieselfde verskoning as Jeremia gehad. Hy het reguit vir God gevra om liewer iemand anders te stuur. God het vir hom hulp gegee in die vorm van sy broer Aaron, maar nooit die taak van hom af weggeneem nie. Ook Moses is deur God toegerus vir die taak. In Eks 4 belowe Hy vir Moses dat Hy deurentyd by hom sal wees en hom leer wat om te se. 16. Hierdie is nie ‘n verantwoordelikheid wat God by u wegneem nie. Die opdrag bly ons s’n. Maar wees verseker broer en suster. As u toegewyd is in die taak om vir Christus op te staan waar u ookal is, is die laaste ding wat u oor bekommerd moet wees of u gekwalifiseerd genoeg is om dit te doen. U kwalifikasie is vir God irrelevant. U gewilligheid is vir Hom van alle belang. 17. Wees verseker, as u uself bereidwillig verklaar om sy getuie te wees, sal Hy u bekwaam maak om sy wil uit te voer. Soos ‘n Jeremia, Moses, ‘n Dawid wat ‘n reus verslaan, soos ‘n Andreas met een kort sin die wereldgang beinvloed het, so sal God u toerus vir u taak as getuie. In sy boek The Training of the Twelve skryf AB Bruce dat teen die tyd wat Jesus die 12 dissipels geidentifiseer het en geroep het vanuit die groter groep dissipels in Luk 6, was byna die helfte van sy aardse bediening reeds verby. 18. Dit beteken dat hierdie manne met die twyfelagtige reputasies slegs ‘n bietjie meer as 18 maande gehad het om opgelei te word vir die monumentale taak wat vir hulle voorgele het. Daar was nie ‘n plan B nie, daar was nie reserwes indien enige van hulle sou besluit het om te onttrek nie. Nee, God het op hulle staatgemaak. Maar wanneer hulle die HG in Hand 2 ontvang, is dit verstommend hoe hierdie bedenklike paar manne die wereld met hulle getuienis beinvloed. En onthou: dieselfde Gees wat Jesus uit die dood opgewek het, leef in u en my. 19. Kom ons hou op om te dink dat ons tekort skiet om effektiewe getuies vir Christus te wees. Kom ons gryp elke geleentheid met albei hande aan om getuies vir Hom te wees. Luister na Petrus se woorde in 1 Pet 3:15. Wees ‘n gewillige getuie, en vertrou God om u in elke situasie ‘n effektiewe getuie te maak. Dan sal u getuienis altyd waardevol en suksesvol wees.