Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 Tessalonisense 2: 13 – 17 Vanoggend sê ek, sê ons, dankie. Dankie vir wie julle in Christus Jesus is. Dankie vir jou menswees en jou geloof wat ons in jou woorde en optredes beleef. Dankie dat ons in jou oë God se genade en liefde kan sien. En dankie dat ons dit ervaar in hoe jy ons hanteer. Ek sê veral dankie aan die Here. Dit is Hy wat ons so vernuwe dat ek dit van ons kon sê en dit bedoel. God het ons gered het, geroep het, nuutgemaak het en ons Syne gemaak het. En bo op dit alles kies Hy dat ons Sy woonplek moet wees. Gister het ons basaar gehou. Ons het hard gewerk. Die gemeenskap het gekom en ek glo hulle het dit geniet. Baie keer na so ‘n basaar voel ‘n mens veerlig dankbaar. Verlig want dit is verby. Dankbaar want dit het goed gegaan. Soms is daar ‘n euforie aan dit alles. Jy ry op hierdie gevoel van ekstase veral as die teikens gehaal is. Dit is dan wat ‘n mens maklik perspektief kan verloor. En dan is dit nodig om ons te begrond. Om ons lewens te aard, as ek ‘n elektriese term kan gebruik. In engels “to be grounded”. Kom ek verduidelik. As jy met elektrisiteit werk wil jy seker maak dat alles gegrond is of geaard is. Want anders kan dinge lelik skeef loop. En die stroombreker (ek dink dit is die tripswitch) moet in werkende toestand wees. Netso na ‘n suksesvolle basaar of na enige ander hoogtepunt in ons lewens. Ek praat van daardie klop op die skouer momente, is dit maklik om jou uitsig op God te verloor. Jy kan begin dink maar ek het dit self gedoen. Nee. Jy het nie. God het. God het ons die gesondheid en die krag en die middel gegee om dit mee te doen. Daarom dank ons God daarvoor. Die nagmaal is vanoggend ons gronddraad en ons stroombreker. Die nagmaal herinner ons in geen onsekere manier dat ons niks het om God te bied nie behalwe die genade wat ons gratis by Christus ontvang het. Die nagmaal wys uit dat ons onsuksesvol was in ons lewens ... kom ons noem dit by die Bybelse naam, die ene sonde was. Verlore. Ver van God. En deur die kruis en opstanding van ons Here Jesus, is ons nou gered. Ons het geen aandeel daarin. Niks om oor te roem (Efes 2: 8 – 10). Die nagmaal verdiep ons behoefte om God net te dank en te prys. 1. Dank God. ‘n Mens begin by Hom wat vir ons die krag en die vermoeëns gegee het waarmee ons iets so groots kon aanpak en deur voer. Dank God wat ons met ‘n lieflike dag geseën het. Dank God wat vir ons seën in ons persoonlike finansies en ons daarom ekstra gehad het wat ons kon opoffer vir Hom om basaar te hou buiten ons dankoffers om. Maar vanoggend gaan nie net oor wat ons kon gee nie. Of oor wat ons giser vermag het nie. Vandag gaan veral daaroor om God te dank vir mekaar. Soveel van Paulus se briewe begin met dank aan die Here oor die gemeentelede. In die tweede Tessalonisense brief kom die dank nie net in die eerste hoofstuk deur nie maar ook ‘n tweede keer in die tweede hoofstuk. “13 Ons moet God altyd vir julle dank, broers.” Ek voel nes Paulus. Ek sê vir die Here dankie vir elkeen van julle. Ek sê dankie vir julle opofferings, harde werk, oop hande en beursies en ondersteuning. Maar ek sê veral dankie vir julle menswees. Vir hoe julle geloof deurbreek. Ons moet raaksien die rede hoekom Paulus weer in dieselfde brief God dank. God het daardie gemeente uitverkies, tussen al die ander mense uitgekies om van die eerstes te wees wat gered is. In 2: 1-12 het Paulus geskryf oor die wettelose mens. En in die deel wat ons saamgelees het, kom hy sê maar julle is anders. Julle is deur God gekies en God het van julle nuwe ander mense gemaak. Jy hoef jou nie deur die ou sieninge te laat aftrek nie. Dalk dink jy maar dit is nie so groots nie. Dit is waar die nagmaal ons dadelik weer aard. Die nagmaal wys na die kruis en sterwe van Christus. Dit sê reguit en duidelik: Jesus moes aan ‘n kruis sterf sodat ons gered kon word. Om gered te word is a “big deal”. Dit is regtig ‘n saak van lewe en dood. Jou dood of lewe vir jou. In die eerste sendingveld was hierdie mense so bevoorreg om die eerstes in Tessalonika te wees wat deur God gered is. Uitverkies in die Grieks soos hier gebruik beteken jy is gekies uit ‘n verskeidenheid van keuses uit. Onthou jy nog op skool as daar spanne gekies moes word? Twee persone word aangewys en dan kan hulle om die beurt uit die groep hulle span kies. Wou jy eerste gekies wees. Of wou jy die een wat oorbly, wat niemand mee opgesaal wou wees, wees? Die gemeente in Tessalonika hoor dat ten spyte van die probleme daar is hulle steeds van die eerstes wat gered is. 2. Die Here het jou lief. Kom ons maak dit iets om te beleef. Hierdie woorde, “die Here het jou lief”, asem dit in soos jy ‘n roos se geur sal inasem. Vir die manne ... soos jy ‘n lekker braaivleis reuk inasem. Laat dit tuiskom. Besef as God jou lief het en Hy het jou gekies ... dan is jy genoeg. Maak nie saak wie sê wat oor jou nie. God sê jy is genoeg. God het jou lief. Hy het jou gekies. En as jy in die tyd van Paulus in Tessalonika gebly het dan was jy een van die eerstes wat gekies is vir die span. Jy hoef nie daar te staan en bid dat iemand jou tog net moet kies nie. Jy is okay. Ek sê vir God dankie vir jou. 3. Gered. Dalk was dit nie altyd so nie. Maar dis nou so. God het jou gered. God het nog meer gedoen. Hy het jou deur die Gees afgesonder . Afgesonder beteken jy is eerste span. Jy is vir spesiale diens of gebruik. Wat my herinner ons moet ons nie moeg maak met wat nie by ons verkiesing pas nie. Kom ons kyk bietjie nader na die afgesonder. “Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het ...” So ‘n paar verse verder gebruik Paulus die woordjie sodat: “sodat julle deel kan kry aan die heerlikheid van ons Here Jesus Christus.” Kom ons kombineer die twee dele rondom die sodat: “Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het ...sodat julle deel kan kry aan die heerlikheid van ons Here Jesus Christus.” Maw daar is ‘n doel agter dit alles. Daar is ‘n doel agter jou gekies wees en agter jou redding. Ek wil sover gaan om te sê dat soos Jesus se lyding die doel gehad het om ons te red, so het ons eie lyding, wanneer dit gebeur, die doel om ons te vorm vir die heerlikheid wat kom. Sodat ons kan deel in Christus se heerlikheid. In die nagmaal ontdek ons dat ons deur die Gees verbind word aan alles wat Jesus vir ons gedoen het. Dat ons ook saam met Hom uit die dood opgewek word en saam met Hom sal lewe. (Romeine) Daarom bid Paulus hier in vers 16: “En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader. Hy het aan ons sy liefde bewys en aan ons deur sy genade 'n blywende troos en goeie hoop gegee.” En weer in 3: 5 Mag die Here julle gedagtes rig op die liefde van God en die volharding van Christus! Ons moet nie opgee nie. Ons moet aanhou om ons redding uit te leef. Ons moet aanhou om vir God bruikbaar te wees, afgesonder te wees vir Hom. En bo alles: Bly in God se liefde. Hoe? Deur gedurig daaraan te dink. Deur gedurig te dink aan hoe lief God jou het. Die nagmaal wil dit onderstreep. Omdat God jou lief het het Jesus Sy lewe aan ‘n kruis opgeoffer sodat ek en jy mag leef. Laat die nagmaal jou herinner. Nagmaalsformulier. Net afhaal.