Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Weereens, soos my gewoonte maar is, wil ek net eers agtergrond gee rondom die gedeelte wat ons gelees het. In die begin van hoofstuk 10 stuur Jesus 72 van sy volgelinge uit in groepies van twee om te gaan na die dorpe wat Hy beplan het om te besoek. Hier het hulle die evangelie gaan verkondig en Jesus het aan hulle die mag gegee om in hierdie dorpies wonderwerke te doen. 2. Hierna kom hulle terug en is vol vreugde omdat selfs die bose geeste hulle aan die 72 onderwerp. Hulle het skielik dinge anders gesien en beleef as waaraan hulle gewoond was. Hou in gedagte dat Jesus aan hulle die mag gegee het om wonders te doen net voor hulle vertrek het. En noudat hulleself hierdie dinge sien en beleef is hulle verwonderd. 3. Maar Jesus blus hulle vuurtjie van opgewondenheid blitsvinning. Hy noem aan hulle dat dit nie die rede vir hulle blydskap moet wees nie, maar dat die rede vir blydskap gesetel le in die feit dat hulle name in die boek van die lewe opgeteken is. Dis waarom hulle bly moet wees. MAW, die feit dat hulle aan God behoort en sy kinders is moet die rede vir hulle blydskap wees. Tot sover dan die agtergrond wat gelei het tot ons gelese gedeelte. 4. God het aan so baie van ons die wonderlike gawe van sig gegee. Sodat ons kan sien. Sodat ons die veld en die blomme kan sien, sodat ons ons huweliksmaats en kinders kan sien elke dag, dat ons die dinge kan sien waarvoor ons lief is bv ons troeteldiere, ons tuin, die sonsopkoms of ondergang ens. Dis ‘n wonderlike gawe wat God aan die meeste van ons gegee het en ek kan myself nie indink hoe die lewe moet wees vir iemand wat eens kon sien en nou nie meer kan nie. 5. En wanneer ons elke dag so rondom ons kyk na al die dinge wat ons pad kruis, ervaar en sien ons hierdie dinge op ‘n bepaalde manier. Maar, wanneer jou oe so sonsensitief is soos myne het jy ‘n hulpmiddel nodig. Sonbrille!!! En die van u wat sonbrille dra sal weet dat wanneer mens sonbrille opsit, verander die prentjies heelwat. Dieselfde dinge kan sommer heeltemal anders lyk deur sonbrille. Skielik lyk ‘n blom of sonsopkoms heeltemal anders as sonder die sonbrille. 6. Wanneer ons met al ons elke dag se doen en late besig is in hierdie gejaagde wereld kan ons maklik so baie dinge miskyk, dalk nie raaksien nie of dalk op ‘n ander wyse sien as wat dit werklik is. Wanneer ons so deel is van die rotresies mis ons soms die mooi sonsopkoms of ondergang, ons mis soms die mooiste blom of voeltjies in die tuin. Nog belangriker, ons mis soms die seer en die pyn van mense rondom ons en dit gaan by ons verby sonder enige impak op ons. 7. En dit het met hierdie 72 gestuurdes en Jesus se dissipels ook gebeur. Hulle het uitgegaan en siekes genees en was opgewonde oor die bose geeste wat hulleself aan hulle onderwerp het. Hulle was op ‘n geestelike “high” gewees oor alles wat hulle beleef en ervaar het. Maar die belangrikste van alles het hulle gemis. Die feit dat hulle burgers van die koninkryk van God is. 8. En dan volg Jesus met die woorde dat hulle ongelooflik bevoorreg is om te sien en beleef wat hulle sien. En hier verwys Jesus na die feit dat hulle die Verlosser self kon sien, saam met Hom kon wandel en kon beleef dat hulle burgers van God se koninkryk is. Want, se Jesus, daar was konings en profete wat begeer het om hierdie dinge te sien en mee te maak, en nie kon nie. 9. Jesus het by ‘n ander geleentheid dieselfde aan die dissipels meegedeel. In Matt 13 is Hy besig om die doel van sy gelykenisse aan sy dissipels te verduidelik. En dan spreek Hy hierdie bekende woorde in vers 16 en 17. Jesus wou by verskeie geleenthede vir sy dissipels se dat hulle moet verstaan dat hulle besig is om sekere dinge mis te kyk, die belangrikste dinge te mis terwyl hulle fokus op dit wat nie werklik van belang is nie. 10. Die dissipels het die geleentheid gehad om te sien wat baie konings en profete begeer het om te sien maar nie bevoorreg genoeg was nie. Die Verlosser self. Hulle kon beleef hoe hulle vrygemaak is van sonde en hoe dit was om hier op aarde reeds burgers van die koninkryk van God te wees. Bevoorreg. 11. U sien, ons leef in ‘n uiters gejaagde wereld. Ons mis ook so baie dinge elke dag. Ons kyk en kyk maar ons sien nie werklik nie. Ons leef en werk saam met mense wat stukkend is en soms baie seer beleef. Maar die gejaagdheid van hierdie wereld sluk ons so in dat ons hierdie pyn en hartseer van mense rondom ons heeltemal miskyk. Hulle werk saam met ons, braai saam met ons, sit saam met ons in die kerk, Bybelstudie en bidure. En ons mis die pyn en seer en bekommernis waarmee mense worstel. 12. Toegegee, ons kan nie al die mense se probleme ook nog hanteer as ek self met ‘n klomp van my eie sit nie. Maar Jesus het nooit gese ons moet dit hanteer of selfs oplos nie. Hy het wel gese dat ons mekaar se laste moet dra, vir mekaar moet bid ens. En soos die dissipels fokus ons so baie op die dinge wat van minder belang is en mis die dinge wat werklik belangrik is. 13. Rondom ons leef mense wat verwaarloos, honger en sonder klere is. Rondom ons leef mense wat teneergedruk is en net nie meer kan aangaan nie. Hartseer, uitgeput en oorlaai. Selfs baie van ons het al so gevoel. Ons ken dit. 14. Maar as gelowiges weet u en ek iets wat baie van hierdie stukkende mense in hulle omstandighede of nie ken nie of van vergeet het. Ons ken die Verlosser. Ons weet dat ons burgers van die koninkryk van God is. Ons kyk nou deur die bril van Jesus Christus en dinge lyk nou anders. 15. Paulus se bekende woorde in 1 Kor 13 weerklink vanoggend. Toe ek ‘n kind was ….. Wanneer ons deur Christus se oe na dinge en mense kyk lyk dinge anders. Wanneer ons die bloed van Jesus as bril gebruik en as burgers van die koninkryk na mense, dinge en omstandighede kyk, sien ons nie dieselfde as dit wat ander mense sien nie. 16. Dan lyk dieselfde stuk veld wat eens dor en vaal was sommer heeltemal anders, want ons kyk mos anders na dinge. Ons sien mos die potensiaal en hoe dinge werklik kan wees as ons deur Jesus daarna kyk. 17. Dis dan wanneer ons weet dat dit wat ons terugdruk in die lewe en onderkry sommer baie beter kan lyk en wees want die bril van Christus se bloed verander dinge. Dan besef ons geluk is ‘n keuse maar so min van ons maak daardie keuse. Ons kan gelukkig wees, nie op voorwaarde dat nie maar ten spyte van….. 18. Kan u nog die bekende verhaal in 2 Konings 6 onthou wat ons almal as kinders gehoor het? Wanneer die koning van Aram die koning van Israel wou aanval het Elisa elke keer die koning van Israel gaan waarsku hoe hy aangeval sou word. Toe die koning van Aram dit uitvind stuur hy ‘n hele leer om Elisa te vang. Elisa se slaaf het die oggend vroeg opgestaan en toe hy Aram se weermag rond om hulle sien was hy verskrik. Dis toe dat Elisa die bekende woorde gespreek het en gese het dat die wat by ons is is meer as wat hulle is. 19. Elisa het deur God se bril gekyk en iets anders raakgesien. God se teenwoordigheid. En wanneer ons deur die bril van Jesus se reinigingsbloed na mense gaan kyk gaan ons iets anders in mense begin raaksien. Ons gaan mense sien en beleef soos God dit doen. Ons gaan hulle ook beskou as skoongewaste en verloste kinders van God. 20. Dit gaan die wyse verander waarop ons mense behandel en met hulle omgaan. Want wanneer ons mekaar op hierdie wyse sien en beleef, wanneer ons gaan besef hoe belangrik elke persoon vir God is en hulle op dieselfde manier sien as Hy, dan eers gaan ons werklik so teenoor mekaar optree soos God van ons verwag. God se vandag vir u en my: Hoe bevoorreg is die oe wat sien wat ons kan sien. Want baie konings en profete het daarna verlang om te sien wat ons kan sien, en hulle het dit nie gesien nie. 21. Kom ons verander ons ingesteldheid. Kom ons sit die brille van die bloed van Christus op sodat ons mense rondom ons kan sien soos God hulle sien. Sodat ons liefde vir ander sal groei tot dit wat God van ons verwag het. AMEN