Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Voordat ons kyk na wat God vir ons wil sê in ons gelese gedeelte, is dit belangrik dat ons net bietjie agtergrond sal kry van hierdie vreemde boek. Ek sê vreemde boek want wanneer u gewoond is daaraan om die briewe van ‘n Paulus of Petrus te lees en u daarna oorslaan om dadelik die Hebreërbrief te lees kom jy dadelik agter dat die skryfstyl in hierdie boek soms baie vreemd is in vergelyking met die ander briewe wat ons in die NT vind. 2. Daarom is dit duidelik dat nie een van die bekende apostels van wie ons briewe in die NT vind hierdie boek geskryf het nie. Ons weet ook nie wie die skrywer van Herbreërs is nie. Maar dit is irrelevant tot die saak. 3. So, vir die afgelope 10 hoofstukke en 18 verse het die skrywer tot hiertoe verduidelik die belangrikheid en genoegsaamheid van Christus. Hy het genome dat Jesus meer en groter is as die engele, as Moses, Josua, die Hoëpriester, Aaron, Abraham en selfs belangriker as Melgisedek deur wie die orde van die priesterskap bevestig is. So die Hebreërskrywer se vir ons dat Christus algenoegsaam was om met die offer wat Hy gebring het die weg vir ons na God volmaak en perfek te baan. 4. En dan, in ons gelese gedeelte, vertel die skrywer vir ons wat ons verantwoordelikheid teenoor God is. Hy noem dat ons met opregtheid en geloofsekerheid tot God moet nader, ons moet vashou aan die hoop wat ons bely, ons moet na mekaar omsien, mekaar aanspoor tot goeie dade en liefde en ons moet mekaar aanmoedig om na die samekomste van die gemeentes toe te gaan. 5. Het u mooi geluister waarna die skrywer hier verwys? Interessant is dat hy hier die basiese dinge van ons geloofswaarhede bespreek. En hy sluit dit af met die opdrag dat ons nie van die samekomste van die gemeente af moet wegbly nie maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan. Eenvoudig gestel: Die Hebreerskrywer beskou kerkgang as een van die basiese fondasies van ons verhouding met God. Dit is vir hom een van die wyses waarop ons tot God nader en andersom. 6. Wanneer ons verder mooi na die hele hoofstuk 10 kyk, vind ons verdere interessanthede. Vanaf vers 1-10 vertel die skrywer vir ons van die offers wat in die OT gebring is ter vergifnis van sonde, In verse 11-18 vertel hy egter van die volmaakte offer wat ons in Christus vind wat genoegsaam was vir vergifnis van sonde, In verse 19-25 wat ons vanoggend gelees het verwys die skrywer daarna dat die pad deur Christus oopgemaak is dat ons nou vrye toegang tot God het, Vers 26-31 vertel vir ons dat opsetlike volharding in sonde gestraf word, En verse 32 tot 39 moedig ons aan om te volhard in die geloof. Die hele Bybel in een hoofstuk. Die totale evangelie saamgevat in 39 verse. En steeds maak die skrywer seker da thy in so ‘n uiters belangrike hoofstuk wat die hele evangelie saamvat en opsom, meld dat ons nie van die samekomste van gemeentes sal wegbly nie. Dink u dis om dowe neute? 7. En daarom is die vraag vanoggend: As kerkgang in die Nuwe Testament so ‘n belangrike deel gevorm het van die gelowiges se verhouding met God, waar het ons dit verloor? Kyk maar rondom u. Kerkbywoning het volgens statistiek drasties afgeneem die afgelope 20 jaar. As ons kyk na die byeenkomste van gelowiges in die NT sien ons in Handeling 2 dat 3000 mense op ‘n dag tot bekering kom en hulle dan binne die gemeenteopset toele op: Die leer van die apostels – maw hulle is onderrig in God se Woord en die gevolge wat dit vir hulle lewens inhou, Onderlinge verbondenheid – maw hulle het onder mekaar dade van liefde en diensbaarheid betoon Gemeenskaplike maaltyd – hulle het die dood van Christus gedenk deur saam nagmaal te vier Hulle het saam gebid. 8. En dit het my laat wonder: waarom is kerkgang nie meer vir gelowiges deel van die basiese aspekte van ons geloof soos dit vir die vroee Christene was nie? Waarom is die gholfbaan, die hengelwaters of selfs die bed vir ons meer aantreklik op ‘n sondagoggend as om in die huis van die Here bymekaar te kom, Hom te verheerlik en te luister wat Hy vir ons as gemeente, kollektiewelik, te se het? 9. As ek kyk na die eerste gemeente waar die gelowiges Christene genoem is, Antiogie, lees ons in Hand 11 dat nuwe bekeerlinge elke dag by die gemeente gevoeg is. Ek sien dat die gemeente in Jerusalem so besorgd was oor die gemeente in Antiogie dat hulle ‘n afvaardiging gestuur het om die ongeveer 480km te reis net om hulle medegelowiges te gaan ondersteun. Toe Barnabas sien hoe die gemeente in Antiogie aan die Here vasklou, het hy ‘n verdere 139km na Tarsus gereis, vir Paulus daar gekry en hom teruggebring na Antiogie. Nog 139km. En hier het hulle ‘n hele jaar gebly en die gemeente onderrig. Kan u sien hoe belangrik die gemeentes en die kerk in die NT tyd vir die gelowiges was? 10. Baie mense se dat hulle nie die kerk nodig het nie, dat die kerk vol skynheiliges is, dat die kerk hulle nie hemel toe vat nie. Die Skrif ken egter nie iets soos afgesonderde heiliges of geestelike kluisenaars wat van ander gelowiges afgesny is nie. So baie kere verwys die Bybel na gelowiges as ‘n gemeenskap. Let op hoeveel kere Paulus in sy briewe met gelowiges praat en die term SAAM gebruik om aan te dui dat geen mens los van die liggaam van Christus kan staan nie: 1 Kor 12:12 Efesiers 2:21 en 22 Efesiers 3:6 Efesiers 4:16 Kol 2:19 1 Tess 4:17 11. Die Bybel ken nie gelowiges wat alleen, onafhanklik van die liggaam van Christus in die geloof lewe, groei en bestaan nie. As ‘n liggaamsdeel van die liggaam afgesny word sal dit vinnig verskrompel en sommer gou nie meer bestaan nie. En daarom is dit bewys dat ongereelde bywoning van eredienste en ander byeenkomste van gelowiges soos bidure, Bybelstudies ens. gewoonlik die eerste teken van geestelik ondergang is. Paulus se in Ef 5:25 dat Christus die kerk so liefgehad het dat Hy sy lewe daarvoor afgele het. 12. Paulus beskryf die kerk as die “liggaam van Christus” en die “bruid van Christus”. Kan jy jouself indink dat iemand vir Christus sal se “Ek is lief vir U maar nie eintlik vir u bruid nie” of “ Ek sal U aanvaar maar ek verwerp U liggaam”. In Ef 2:19 meld Paulus dat ons “medeburgers van die gelowiges is en lede van die huisgesin van God”. 13. Ek dink ons is almal nou deeglik bewus van die feit dat God ons deel van ‘n gemeenskap gevorm het en dat ek hierdie gemeeskap nodig het om geestelik te groei en op te steun in tye van nood en krisis. 14. MAAR, daar is ‘n ander deel van hierdie argument ook. Net soos u en ek die liggaam van Christus nodig het, so het die liggaam ons ook nodig. Luister wat se Efesiers 4:16!!! Hoor u? Ons is nie net in hierdie liggaam ingesit of ingeplant net om hier te wees nie! Elkeen van ons het ‘n funksie om te verrig. Ons het ‘n doel binne hierdie liggaam om te verwesenlik. En voor u se dat u nie eintlik iets kan doen nie, luister na Paulus se woorde. Hy begin sy sin met die woord “ELKEEN”! Hierdie kerk, hierdie gemeenskap waar u geplaas is, hierdie familie, het u nodig sodat hierdie liggaam opgebou kan word tot dit wat God vir hierdie gemeenskap beplan het. En u het ‘n baie belangrike funksie om te vervul. 15. Het u al ooit ‘n simfonie konsert bygewoon? Wel, genadiglik het ek ook nog nie. Maar het u al gesien dat so ‘n simfonieorkes bestaan uit ‘n klomp viool spelers, en ‘n aantal kontrabas spelers, en ‘n klompie dwarsfluitspelers ens. En die bewonderenswaardigste van alles is dat indien een van daardie musikante sou ophou speel sou die dirigent dit onmiddelik hoor. Maar wanneer elkeen van daardie musikante sy of haar funksie vervul, vorm hulle saam ‘n eenheid wat soms ongelooflike musiek tot stand kan bring. Net so se Paulus in Ef 4 dat ons saam ‘n eenheid sal vorm wanneer ELKEEN sy of haar funksie binne hierdie familie vervul. 16. Die woord “mekaar” word meer as 50 keer in die NT gebruik. Ons word beveel om mekaar lief te he, mekaar aan te moedig, mekaar tereg te wys, mekaar te dien, mekaar te onderrig, mekaar te aanvaar, mekaar te eer, mekaar se laste te dra, mekaar te vergewe ens. Dit is Bybelse gemeenskap. Dit is die familieverpligtinge wat God wil he ons in die gemeenskap van die gelowiges moet vervul. En met wie doen ons al hierdie dinge? Natuurlik binne die samekomste van die gelowiges waarna die Hebreerskrywer verwys. 17. U sien, dis maklik om heilig te wees as daar niemand is om jou te frustreer nie. Maar dis ‘n bietjie vals en ongetoetste heiligheid. Geestelike volwassenheid kom in verhoudings na vore. Daarom is ons geskape om in verhoudings te staan. Onthou God se woorde by die skepping van die mens? Dis nie goed dat die mens alleen is nie. Daarom is ons as verhoudingswesens geskep. 18. Om deel te wees van die gemeenskap van gelowiges, hier, waar God u geplaas het om u funksie te vervul en uit te leef, om u gawes uit te leef in die bediening wat God vir u beplan het. En as u miskien voel dat daar niks met u bediening gebeur nie, onthou dat God nie belowe het om u bediening te bou nie. Hy het belowe om sy KERK te bou. Maar u en ek het die wonderlike voorreg om te help met daardie bouwerk. 19. Luister na nog ‘n rede waarom dit broodnodig is om deel van God se gemeente te wees. HEB 3:13!!! God weet dat in die regte situasie kan ek en jy enige sonde pleeg. Daarom het ons ander gelowiges nodig. Ons het nodig om in die vuur te wees sodat ons verantwoordelik kan wees teenoor ander gelowiges ook. U sien, die frase “HOU JOU NEUS UIT ANDER SE SAKE” is beslis nie ‘n Christelike seding nie. Ons word beveel om binne die gemeente by mekaar se lewens betrokke te wees. Ons moet mekaar tereg wys, na mekaar luister en mekaar bemoedig. Hier, binne die gemeente, bemoedig ons mekaar tot ‘n rein en skoon lewe vry van sonde. Maar op jou eie, op ‘n sondagoggend langs die viswater of op die gholfbaan gaan ons nie hierdie bemoediging vind wat God vir ons wil gee nie. Dit gebeur binne die gemeenskap van die gelowiges, die kerk. 20. Hierdie gemeente, hierdie kerk, wat bestaan uit gelowiges, het God tot stand gebring tot u en my voordeel. Dis hier waar ons na sy Woord luister op Sondae. Dis hierdie plek wat God vir u en my geskep het om mekaar te bemoedig, mekaar se laste te dra, maar ook mekaar bietjie te kan frustreer sodat ons kan groei na geestelike volwassenheid toe. 21. God vra van u en my net een uur se opoffering per week, om saam te kom as gelowiges en Hom die eer en lof te bring wat Hom toekom. Ek dink nie dis te veel gevra nie. As ons kyk na alles wat Hy vir ons opgeoffer het en steeds doen, waarom sal ons verkies om ‘n geleentheid soos hierdie mis te loop? Wat kan die wereld daar buite bied wat beter is vir u en my groei as dit wat God hier vir u gee op ‘n sondagoggend? Niks nie. 22. Kom ons beleef ons gemeente, God se kerk nie as ‘n las waaroor ons aanhoudend kla nie, maar as ‘n seening uit sy hand waardeur Hy ons wil laat groei om nader en nader aan Hom te kom.