Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1. Terwyl ek hierdie week begin het met voorbereiding vir vanoggend het ek baie gewonder: Waar kom die gewoonte vandaan om swart aan te trek wanneer daar gerou word? Mense sal rou oor die dood van ‘n geliefde en in die proses swart klere aantrek, of in sommige kulture sal hulle vir ‘n tydperk lank swart klere dra. Sover ek kon vasstel het die tradisie om swart na ‘n begrafnis aan te trek sy ontstaan reeds in die Romeinse tyd gehad. Aangesien koningin Victoria van Engeland baie bekend was dat sy swart aangetrek het tydens die afsterwe van 'n geliefde, en sy op daardie stadium diie leier van die Westerse wereld was, het ook hierdie gebruik oral posgevat. 2. Sommige navorsers wil die tradisie terugneem na Jakob toe waarvan ons in Genesis 37:34 lees. Toe hy deur sy seuns vertel is van die dood van Josef, wat eintlik nie dood was nie, het hy sy klere geskeur en rouklere aangetrek. Hierdie gedeelte se egter wel vir ons dat dit rouklere was maar nie dat dit pertinent swart klere was nie. Maar dit daar gelaat. Vir ons boodskap vandag is dit belangrik dat ons sal weet dat in ons Westerse kulktuur was dit, en by sommige mense is dit nog, tradisie om swart aan te trek wanneer iemand in rou is. 3. Maar wat beteken dit om te rou? Mense rou nie net wanneer hulle iemand aan die dood afgestaan het nie. In heelwat kulture rou mense wanneer hulle deur ‘n egskeiding gaan, wanneer hulle hul werk verloor ens. Ek dink daarom dis veilig om te se ‘n mens rou wanneer jy hartseer is. Dat tydens omstandighede waar jy teneergedruk is, omstandighede wat jou hartseer stem, rou mens. 4. In ons gelese gedeelte het Paulus die gelowiges in Rome opgeroep om te breek met die sonde in hulle lewens. En natuurlik is hierdie oproep ook direk aan u en my gerig vandag. En soos 'n wafferse advokaat maak hy 'n aantal goeie sake hiervoor uit. Sy argumente is dat ons saam met Christus begrawe is en dat ons deur sy opstanding ‘n nuwe lewe kan lei. Hy noem dat ons saam met Christus gekruisig is en dat ons sondige bestaan daardeur beeindig is. Hy noem verder dat ons een met Christus geword het in sy dood en dat ons daardeur ook een sal wees met sy opstanding. Ons het saam met Christus gesterf en daarom sal ons ook saam met Hom lewe, aldus Paulus. 5. En daarom, argumenteer Paulus, is die slotsom hiervan dat ons dood is vir die sonde. Hierdie dood beteken ons is nutteloos, oneffektief. JA! Ons is dood vir die sonde!!! Dit heers nie meer oor ons nie!!! Maar, is ons doodseker hiervan?? Doen dit nie dalk tog nog nie??!! Is ons in ons lewens heeltemal bevry van die druk en die las van sonde? Is sonde so totaal en al afwesig in u en my lewens dat ons glad nie meer daardeur verstrik word nie? 6. Want kom ons wees eerlik met mekaar vanoggend. SONDE IS LEKKER! Want as dit nie was nie sou ons dit tog nie heeltyd wou doen nie, of hoe? En om daardie rede moet u met my saamstem vanoggend dat ons sukkel om onsself te vereenselwig met Paulus se woorde in Rom 6. Hy gebruik terme soos “ons sondige bestaan is beeindig”, “ons is nie slawe van die sonde nie”, “ons is vry van die mag van sonde”, “ons is dood vir die sonde”, “ons moenie dat die sonde oor ons heerskappy uitoefen nie”. 7. En met hierdie woorde hou Paulus ‘n spieel voor elkeen van ons se gesigte en dit wat ek sien hou ek glad nie van nie. Want ek sien iemand wat nie dood is vir die sonde nie, ek sien iemand wat nie elke dag vry is van die mag van die sonde nie, ek sien iemand wie se sondige bestaan nie sommer net opgehou het nie. 8. EN DAAROM ROU EK VANDAG!!!! Ek rou want elke oggend hierdie week as ek stil wou word voor God het Hy met my gepraat oor my eie sonde. Ek is onlangs tereggewys oor foute in my eie lewe en moes ek introspeksie gaan hou hieroor. En dit was asof God net gewag het vir die geleentheid om sommer nog ‘n klomp ander sondes in my lewe ook vir my uit te wys. Dit was nie lekker nie. Dit is steeds nie lekker nie. 9. Maar glo my vandag broer en suster, al is dit nie lekker wanneer God jou so uitmekaar trek nie, is dit so bitter nodig!! Dit is nodig dat ons voor Hom sal stil staan en onsself sien vir hoe ons werklik lyk. Dat ons sy stem sal hoor en ag sal slaan op wat Hy vir ons wil se in hierdie opsig. 10. Ek het ‘n goeie en wyse vriend wat altyd se die krag van sonde le in die geheim daarvan. Ek noem dit troetelsondes. Ons vertroetel dit want net ons weet daarvan. En ons, ja ons as gelowiges, het sag begin raak op sonde. Stelselmatig is ons, as gelowiges, besig om ons morele verantwoordelikheid te elimineer. So elimineer ons ook ons geestelike verantwoordelikheid. 11. Want alles het ‘n siekte geword. Ons het mooi woorde begin uitdink vir sonde! Aborsie is nie meer moord en sonde nie. Dit het ‘n reg tot vrye keuse geword. Mooi en sag gestel. Homoseksualiteit is nie meer sonde nie. Dit het ‘n alternatiewe leefwyse geword. Onsedelikheid is blykbaar ook nie meer sonde nie want dit gebeur dan nou binne ‘n liefdesverhouding tussen twee jongmense. Hoe kan dit verkeerd wees. En so sugarcoat ons sonde elke dag sodat dit nie so diep moet tref soos wat God eintlik bedoel het dit moet wees nie. Nie so op die man af en konfronterend nie. Nee, ons maak dit sag. 12. As ‘n verkragter, moordenaar of dief gevang word, word hy met ‘n siekte gediagnoseer wat dan verantwoordelik sou wees vir sy optrede. Dis blykbaar nie meer sonde nie. Alkoholisme of enige ander verslawing is deesdae ‘n siekte. Die geleerdes praat van ‘n verslawende persoonlikheidstipe. Of soos die geleerdes dit stel, ‘n siekte met ‘n genetiese predisposisie. Maar dis nie sonde nie!!! Want u sien, sonde eis verantwoordelikheid. Dit eis en verwag dat ons verantwoordelikheid daarvoor moet neem en daadwerklik moet optree om daarmee te breek. 13. U sien hierdie seining het twee dinge tot gevolg: Die eerste is dat sonde in mense se lewens word nie meer op ‘n morele of geestelike vlak beoordeel en hanteer nie. Want dis mos n siekte. En aangesien die kerk betrokke is op die morele en geestelike vlakke van die samelewing, het ons dan niks meer om te se oor sonde nie. So die kerk is uit besigheid uit. Niemand bely meer hulle sondes teenoor mekaar en voor God nie want hulle afwykende gedrag is ‘n siekte waarmee hulle dan dokters en psigiaters toe gaan. 14. Maar nog meer belangrik is die feit dat mense nie meer met sonde deel asof dit sonde is nie. Hoe word mense oortuig van sonde as hulle grootgemaak is met die idee dat alles wat fout gaan in hulle lewens nie sonde is nie maar een of ander genetiese predisposisie, of verslawing, of mede afhanklikheid of een of ander psigo mediese probleem of dat hulle optrede geregverdig word deur iets wat iemand in die verlede hulle aangedoen het en dat hulle nie vir hul optrede verantwoordelik gehou kan word nie. 15. Ons het sonde geherdefinieer. Hierdie herdefiniering van sonde het tot gevolg dat mense nie meer die nodigheid van ‘n Verlosser kan insien nie. Toe u en ek kinders van God geword het het ons dit gedoen omrede ons die gevolge van sonde verstaan het en dat ons bevryding gesoek het van die gevolge van hierdie sonde en ook die krag en houvas wat dit op ons lewens het. 16. Miskien het hierdie soeke in jou lewe baie lank gelede gebeur. Onthou u nog wat tydens hierdie soeke van u na bevryding gebeur het? Hoe u dit alles hartstogtelik voor die voete van Christus kom le het met die geloof dat Hy en Hy alleen bevryding kan gee hiervan. 17. Onthou u nog hoe u die ou bekende verhaal gehoor het van hierdie Jesus wat God was, maar dit alles opgeoffer het en aarde toe gekom het, wat as die kind van 'n skrynwerker grootgeword het, vir drie jaar dissipels versamel het en aan hulle alles geleer het wat God die Skepper van hulle verwag het. 18. En dan, hoe hierdie Jesus 'n bittere lyding moes deurgaan en sterf aan 'n kruis sodat u en my troetelsondes uit die weg geruim kan word. Dat dit wat ons van 'n ewige heerlikheid saam met God weerhou het, vir altyd weggeneem kon word. 19. En dis hierdie troetelsondes van ons, dit waaraan ons so vasklou, wat Christus kom verwyder het deur 'n pad van pyn en lyding te stap. Om tot 'n punt te kom waar dit vir altyd weggeneem is, so ver as die ooste van die weste se die psalmdigter. Nie net eenkant toe geskuif of iewers weggesteek is nie. Nee, totaal weggeneem is asof dit nooit bestaan het nie. Tot so 'n mate dat God se Hy dink nooit weer daaraan nie. 20. Ek wil vandag vra dat u saam met my weer sal teruggaan na daardie plek toe. Dat u weer daardie opgewondenheid saam met my sal beleef van hoe dit voel om te weet ek is deur God vrygemaak. Hoe ons selfs soms emosioneel kon word wanneer ons ons bevryding van sonde oordink het en nie woorde gehad het om ons dankbaarheid teenoor Christus uit te druk nie. 21. Kom saam met my terug na die basiese toe. Dat ons nie sal vergeet wat dit Christus gekos het sodat u en ek die voorreg kan he om te se, Here, vergewe my!