Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1 Konings 17: 1 - 24 Wat ‘n week. Ek is hierdie week oorweldig deur die hartseer van mense met kanker en ander verliese, tannie Julia se roudiens. En gister, gister het ons fees gevier. Vandag dank ons God vir Sy liefde en genade. Is dit nie so tipies van die lewe nie? Eendag vier ons. En die volgende dag is ons weer bekommerd oor baie goed. Dawid kon in Psalms dit goed doen: Een oomblik is hy die ene geloofsvertroue en die volgende oomblik is hy op sy kniee besig om God om hulp te smeek. Ons sluit aan by die boodskap oor Jesus wat vir Simon sê om die nette, na ‘n lang nag se geen vangste, die nette weer in die diep waters te gaan uitgooi. En toe loop die boot oor van vis. Voeg by Sondag se boodskap waarin ons net weer besef het dat ons nie moet vaskyk teen wat ons nie het nie, maar eerder moet kyk na Wie is by ons. God wat brood vermeerder. God wat ten spyte van al ons somme en berekeninge wat duidelik wys dit is onmoontlik, steeds 4000+ mense kos gee. Vanoggend is ons by God se profeet, Elia. Eintlik is ons fokus op God en nie op Elia nie. Weereens kan ons weg raak in die detail. Die kraaie, die weduwee se kruike of selfs Elia kan ons aandag so hou dat ons die eintlike punt mis: God sorg. God sorg selfs in die moeilikste van moeilike tye. Elia het ‘n onbenydenswaardige taak gehad. Regtig ‘n goor joppie wat hy moes gaan doen. Die konig van daardie tyd was ver van God af. Ek dink sy vrou was nog verder weg gewees. Goddeloos, die tweetjies. Elia moes vir die Agab gaan sê tot hiertoe en nie verder nie. Die Here God gaan nou droogte oor die land gee. Jy kan jou indink dat Agab aanstoot geneem het. Uit ander hoofstukke kom jy agter dat Agab baie moeite gedoen het om Elia op te spoor. Hy wou hom dood hê. Hy het hom orals laat soek. Intussen het God vir Elia gestuur na die Krit spruit en later na ‘n heidense dorpie. Kyk mooi: Die woord van die Here het tot Elia gekom en gesê: “Gaan hiervandaan af ooswaarts en gaan versteek jou in Kritspruit, anderkant die Jordaan. Jy kan water uit die spruit drink, en Ek het die kraaie beveel om daar vir jou te sorg.” God vat Elia uit die prentjie uit. Hy weet wat Agab gaan doen. Nou, Elia duik so uit die boute uit op die toneel op. En die rede hiervoor is dat ons nie opgetrek moet word met Elia nie. God het groot dinge deur hom gedoen. Maar Elia se lewe het oor God gegaan. 1. God sorg vir hulle wat Hom gehoorsaam. So, Elia was `n Tisbiet. Sy naam beteken “Jahwe is God”. Hy was `n gestuurde van die Here. As Elia swaar kry, kry hy homself nie jammer nie, nie by die geleentheid in elk geval nie. Hy doen net wat God vir hom sê. As Elia se eie mense, sy eie koning, hom vervolg omdat hy sê wat God sê, dan help die Here hom. Die Here stuur Elia na ‘n vreemde land sodat mense wat die Here nie eens ken nie, deur God gebruik kan word. Dit wil lyk asof Elia so ongeveer `n jaar by die Kritspruit vertoef het. Hy het water uit die spruit kon drink en die kraai het vir hom vleis en brood gebring. En dan droog die water in die spruit ook op. Elia “`n mens soos ons”, volgens Jakobus, moes seker ook benoud geword het toe die water al hoe minder raak. Elia het dalk ook soos ek en jy om hom gekyk en gewonder wat nou. Gaan die die Here nog vir my sorg. Moet ek nog steeds vertrou? Moet ek nie self gaan water soek nie? Nou, dit klink of Elia in daardie jaar niks van die Here af gehoor het nie. Geen opdrag of iets waarvan ons weet nie. Maar toe die spruit opdroog toe kom die woord van die Here weer tot Elia en hy word Sarfat toe gestuur. Maar die keer, toe die Here sê Gaan Sarfat toe, dan is daar in die Hebreeus iets van ‘n dringendheid. En toe hy by Sarfat opdaag, het hy ook nie gesoek na die weduwee van wie God gepraat het nie. Sy is op sy pad neergesit. Hy kon haar nie miskyk nie. Daar was sy by die ingang van die stad! So het God gesorg! God sorg nie net vir Sy profeet nie. Hy sorg vir die heidense weduwee ook. Die weduwee wat vir Elia sorg, was die armste van die armes . . . Die feit dat Hy juis die armste van die armes gebruik om vir sy kinders te sorg, moet ons laat regop sit. God gebruik gebroke mense om vir ons te sorg. Hy stuur mense oor ons pad wat al die swaar van die lewe gesien het. Net om ons bewus te maak dat ons van Hom die hulp kry en nie van mense wat Hy gebruik nie. Hy is die een wat sorg! ‘n Mens staan soms verstom oor die manier waarop God sorg. Soms raak ons benoud, soms wil ons boedel oorgee, handdoek ingooi en ook maar gaan lê om dood te gaan. Dan, skielik op `n dag, stuur God jou na die weduwee by Sarfat en jy weet: dis die Here wat sorg. Jy kry hulp waar of van waar jy dit nooit verwag het nie. En jy weet, dit is die Here. Hy sorg. In Elia se verhaal het God die weduwee met niks oor gebruik. In die weduwee se storie gebruik God sy profeet wat niks het nie. Ja, wat water vra en dan agterna roep om sommer ook brood te bring. 2. God help die weduwee. Elia kry nie die kans om so ‘n bietjie self gesentreerd te raak nie. Elia word ingespan om die vrou te help. Deur hom wil God ook vir haar sorg. En ek besef dat dit nie altyd oor jou of my gaan nie. Maar dat God ook deur ons ander wil bereik. God se omgee stop nie by jou nie. Hy het ‘n plan met jou ... tov iemand anders. Kan ek net sê: ons moet nie afleidings maak en dan reels van die afleidings maak nie. Bv Ons moenie sê God tree hier so op so dit is die reel. Dit is hoe God is nie. In hierdie verhaal is dit hoe God kies om te doen. Wees bewus dat dit ook, sou God wou, in jou lewe so kan uitspeel. Ek leer dat God ons deur moeilike paaie ook neem in die doen van Sy wil. Moenie dink dit was vir Elia maanskyn en rose langs die krit spruit nie. Hy is weg van sy mense. Alleen. Geen luukses. Kraai wat brood en vleis bring wat hulle wie weet waar geaas het dalk. En onthou maar Jakobus se woorde Elia was ‘n mens soos ek en jy. En netso die weduwee. Sy was op breekpunt. Sy gaan haar laaste meel gaar maak en sy en haar kind gaan dit eet en dan wag vir die dood. Ek probeer vir jou sê dat in die harde werklikheid van die lewe, breek God in. God breek in op ‘n punt waar dit verstaanbaar sou gewees het as die weduwee vir hierdie vreemde profeet gesê het daar is nie ‘n manier nie: dis nie eers genoeg vir ek en my kind nie. Gaan probeer iemand anders. Ek meen, dit sou ‘n logiese reaksie gewees het. Maar sy doen nie. Het sy hom as profeet erken? Het sy gehoop dat die profeet se God haar sou red? Ek weet nie. Ek weet net dat na Elia vir haar gesê het God sal voorsien, het sy haar laaste met hom gedeel. En toe was dit nie haar laaste nie. Van toe af het hulle genoeg gehad. Die meel in die kruik het nie opgeraak nie en die olie in die kan ook nie minder nie. Soms vermeerder die Here ‘n paar broodjies in kos vir baie. Ander kere laat Hy die laaste bietjie net nie opraak nie. 3. Vertrou die Here. Dit klink so logies. Vertrou die Here. Dit is so maklik om te sê in alle eerlikheid, ek vertrou die Here. Dit is nie so maklik nie. Ek gaan jou nie verveel met nog ‘n storie uit my lewe nie, soos laas week s’n. Ek vertel eerder ‘n storie van Gene Getz wat ek op af gekom het. Gene Getz vertel van ‘n jong man met die naam Kefa Sempangi. Hy en sy gesin het `n noue ontkoming in die oorloggeteisterde Uganda gehad. Hulle het die dood daar op ‘n woderbaarlike manier vrygespring. Kefa het in die Amerika gaan woon. Hy het begin teologie studeer. Kefa sê hy het begin gewoond raak aan die beter leefstyl in Amerika. ‘n Leefstyl wat baie baie beter was as die oorlewingstryd wat hy in Uganda geken het. Saam met die gewoond raak het sy lewensuitkyk verander. In Uganda het hulle die Bybel gelees om hoop te kry vir die lewe. Hulle het die Bybel gelees om God se beloftes te hoor, om sy gebooie te hoor en dit te gehoorsaam. Daar was nie tyd vir debatte oor geloofsverskille nie. Die lewe was te kort en te onseker. Hulle het van God se beloftes en die hoop daarin geleef! Hulle was afhanklik van God se sorg! Maar sedert hy in Amerika gebly het, waar hulle vry is van al die goed wat hulle voor bang was en voor gevlug het, het hy sy afhanklikheid van God verloor. Hy het die Bybel as `n blote studieboek begin sien, nie meer `n boek van hoop nie. Hy het besef hy is besig om ure lank tekste te analiseer en oor verskillende dinge te argumenteer en te spekuleer. Moenie ‘n fout maak nie. Dit was wonderlik. Maar, maar het hom nie geleer om afhanklik van die Here te leef nie. Sy eie insigte het belangriker geword. Mense, so maklik verloor ons ons afhanklikheid. So maklik verplaas ons ons hoop op God na mense toe. So maklik volg ons ons eie kop. As jy leef omdat jy van God afhanklik is en weet dat dit Hy is wat vir jou sorg, leef jy nader aan Hom, gaan die lewe meer oor hoop en dat Jesus jou lewe moet verander.” Dan leer jy om te vertrou. Ons verhaal het ‘n nadraai. Nog ‘n klap van die lewe. Die weduwee se seun word siek. En sieker en sterf. Ook Elia voel haar pyn saam met haar. Ek maak die storie kort: Hy bid dat die Here weer die lewe moet laat terug kom in die kind. En die Here het sy gebed verhoor en die kind laat lewe weer. Jakobus skryf dat drie jaar nie gereen het nie en toe het Elia gebid en dit het weer gereen. Jakobus sê oor die reen, Elia was ‘n mens nes ons. Kan ek vanoggend sê: Moenie hoop opgee. Skep moed. God kan. God versorg ‘n mens soms om wonderbaarlike maniere. Maar dis nie altyd maklik nie. Soms vier ons fees. Soms huil ons saam. Soms gaan dit regtig baie swaar. Maar in alles versorg God ons steeds. Kom ons dank die Here in gebed.