Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 16: 5 – 12 Ons leef in ‘n tydperk waarin mense oppervlakkig kyk en dink. Nie almal nie. Maar ons gaan vir kitsoplossing, kitskos, maklike antwoorde. Voorbeeld: Jy het ‘n hoofpyn. Jy drink ‘n hoofpynpil. Jy kyk nie na die dieperliggende probleem nie. Dalk ‘n senuwee in die nek wat die hoofpyn veroorsaak. Of, nog ‘n scenario: Iemand is ongelukkig. Hulle blameer almal om hulle vir dit. As alles net anders was. As hulle net meer geld gehad het. As hulle net ‘n nuwe motor besit het. Net om te ontdek dat dit hulle ook nie gelukkig maak nie. Ons kyk te veel vas in die ooglopende. Ons blameer te vinnig. Ons maak te vinnig afleidings. Gevolgtrekkings. En ons mis uit op wat God kan of wil doen. Jesus waarsku teen die suurdeeg van die fariseërs. Die dissipels dink Hy verwyt hulle omdat hulle nie brood saamgebring het nie. Hulle dink aards. Jesus dink dieper. Kom ek illustreer dit ten koste van myself. Begin van die jaar, ek sê dit tot my skaamte, het my maag menige dae gebrand. Die finansies van die gemeente het beroerd gelyk. ‘n Verwagte tekort vir die komende jaar van R144 000. Alles is tot die been gesny. En die erediensbywoning het my ook ontstel met tye. En nee, ons praat nie oor geld vandag nie. Ons praat oor geloof en anders sien en om soos te dink. Die punt is, as ek hierdie deel in die begin van die jaar gelees het, sou hopelik my oë weer gefokus het. Sou ek Jesus gesien het. Sou geloof my anders laat kyk het. En ek sou geweet het waar my hoop en lewe lê. Maar ek het nie. Toe kry ek ‘n maagseer. Ek probeer voorbeelde gee wat ons kan help om te verstaan wat hier in hierdie deel uitspeel. Pete Scazzero, skrywer van boeke soos The emotional healthy Church, het op Twitter die opmerking gemaak. Hy het gesê: Ons groot versoeking is om te fokus op dit wat ons nie het nie ipv om te fokus op Hom Wie by ons is. Ek het aan die begin van die jaar toegelaat dat die realiteite en opinies van mense my fokus op die verkeerde goed trek. Ons behoort aan die Here. Elke een van ons. Die gemeente is die Here s’n. Wie het my die reg gegee om my siek te bekommer oor die gemeente? Dis nie my werk nie. Ek, ons, moet fokus op God en op Sy evangelie. Ons moet dit uitdra. Ons moet soos Hy lief het, soos Hy vergewe, soos Hy glo in God, soos Hy God vertrou. Met alles in ons lewens. Het Jesus nie gesê (Matteus 6: 31, 32) “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” Ons weet dit. Ons vergeet dit. Of ons dink dit geld nie die ander goed in ons lewens nie. Die oorlewings goed nie. Kom ek sit ons in die dissipels se skoen. Ons aandag word afgetrek en ons vergeet om brood te koop voor ons saam met die Meester in die skuit klim om oor die meer te vaar en dan raak ons angstig en redeneer onder mekaar oor die te kort aan brood. Terwyl in die skuit, saam met ons, is die Here. Dieselfde Here wat ‘n dag of so van te vore nog, vir ‘n tweede keer 7 brode en ‘n paar vissies gevat het, God vertrou het, en toe die skare van oor die 4000 mense kos gegee het. Genoeg kos sodat daar mandjies vol oorgebly het. Iewers mis die dissipels (en ons) die punt. Ag ek wil dit weer sê. Dit is so interessant: hulle het gesien hoe die Here 5000 mense voed met vyf brode. En by nog ‘n geleentheid, met sewe brode vier duisend mense kos gegee het. En daar het by elke geleentheid mandjies vol kos oorgebly. En as jy terug gaan na die dele dan lees jy as Jesus sê gee vir die mense kos, dan het die dissipels somme gemaak en nog somme gemaak tot hulle by die gevogtrekking gekom het: dis onmoontlik. Die bietjie wat hulle het is nie genoeg nie. Die bietjie wat hulle het. Dit is nie genoeg nie. ‘n Mens moet met hulle saamstem. Sewe brode en ‘n paar vissies is te min (2de vermeerdering). Maar na die vorige keer toe hulle net vyf brode en twee visse bymekaar kon skraap, en die Here met daardie hopeloos te min, gebid het, die seën gevra het, en 5000 mans plus ‘n aantal vroue en kinders hulle vol geëet het. En daar het 12 mandjies vol oorgebly. Na dit moes jy darem geweet het as die Here sê gee die skare kos dan is sewe brode en ‘n paar vissies absoluut genoeg. Die keuse is waarteen kyk jy vas? Die dissipels het teen die werklikheid vas gekyk. Hulle het nie genoeg gehad om mense mee kos te gee nie. Jesus kyk na Wie by Hom is, en dit is God. En Hy kyk op na die hemel (14:19) en vra die seën. En die bietjie word baie. Die disspels raak angstig oor hul nie brood het nie terwyl die Jesus wat skares voed in hul boot sit. Carlie raak angstig oor die gemeente se finansies en die erediensbywoning terwyl die Here in hom woon. Rerig? Carlie raak met tye bekommerd oor baie goed, aftrede, survival na 70 of 80, ek weet nie eers of die Here my so oud gaan laat word nie. Hoekom? Dis nie dat ek nie weet nie. Die Here het my al ‘n les of twee geleer hieroor. In 2013 gee my broer vir my vliegtuigkaartjies om vir hom te gaan kuier in Moskou. ‘n Maand voor die tyd besef ek ek het nie geld om te gaan nie. Twee kinders op Universiteit. Kredietkaart gemaks. Ek wou hom bel en sê ek kom nie. Ek sou die oproep gemaak het, was dit nie vir die gevoel dat die Here het die kaartjies gegee en die Here sal voorsien. Ek het myself getroos met ‘n Al sit ons net in die woonstel rond en kuier. Ten minste sien ek my broer. Tweede dag in Moskou kry ek ‘n sms van die bank af, en ‘n epos van ‘n vriend in Johannesburg. Die epos lui: Ek hoor jy is in Moskou. Hier is R10 000. Geniet jouself. Die sms van die bank sê R10 000 in jou rekening in. Jy kan maar vra vir wat leer ek dan nie! Ken ek nie die Here nie. In die 32 jaar in die gemeente ook. Toe die Here uit die bloute R18000 geskenk het – die presiese tekort vir daardie jaar. En in 1988 toe ons gebid en geglo het dat die jare ons vanaf 240 belydend tot oor die 300 lidmate sou neem al het ons nie geweet waar die mense vandaan sou kom nie. Hy het hulle gebring soos kwartels in die woestyn. En die eredienste was oorvol gepak. En so vier jaar terug het die Here die verwagte tekort van R98000 in net drie weke eiehandig uitgewis. En nou kan ek oor jou lewe en jou geloof praat. Waar in jou lewe is hierdie tendens waar? Waar is jou oog nie op die Here nie maar op mense of omstandighede? Ek sê nie gaan vat kanse en doen soos jy goeddunk want die Here sal net sorg en sorg nie. Nee. Vra die Here. Doen wat Hy vra. Al vra Hy wat vir jou onmoontlik lyk. Doen dit. Ek is bewus dat die dissipels se verantwoordelikheid oa was om seker te maak daars brood. En hulle het opgeslip. Ek sien ook raak dat die Here die wa deur die spreekwoordelike drif getrek het. Ons is nie beter as die dissipels nie. So laat ons hulle nie oordeel nie. Ook ons doen nie wat ons moet nie. Ook ons slip op. En dit gaan nie oor my of enigiets anders as ek en jy wat moet leer om nie vas te kyk in wat ons nie het nie, maar eerder na die Here te kyk. Kom ek vat ons dieper. In verse 1 tot 4 probeer die Fariseërs en die Sadduseërs Jesus versoek. Hulle vra Jesus om vir hulle as ‘n teken uit die hemel uit ‘n wonder te doen. Dit ten spyte van al die genesings en ander wonderwerke wat Hy konstant gedoen het. Hulle vra ‘n teken. Die dissipels het al die tekens gesien en hulle – hulle vra nie ‘n teken nie – hulle glo net doodgewoon nie. Op daardie punt was die dissipels en die Fariseers en Sadduseers dieselfde. Die een wil ‘n teken hê om te kan glo en die ander glo nie ten spyte van al die tekens. Kom ons wees sagter met hulle en met ons. Die punt is dat ons in ons geloof nog nie anders begin kyk het na die lewe nie. Ons geloof het ons nog nie gebring by wat God kan doen nie. Ons glo. Maar ons tree nie met geloofsvertroue in God op nie. As ek ‘n verskil moet soek tussen die Fariseërs en Jesus en dissipels en ons. Dan is dit in die feit dat Jesus so naby aan God geleef het dat Hy presies geweet het wat wil God doen en dit dan gedoen het. En Hy het dit kon weet want Hy het baie gebid en geluister. Vroeg oggende, eenkant alleen. Aan die bid. Voor groot keuses of uitdagings het Hy die nag vooraf in gebed deur gebring. Ons is nie daar nie. Ons vertroue in God, ons vertroue in God se liefde vir ons, is ver van waar dit moet wees. As ek weer deur die deel lees dan besef ek dat Jesus kyk en waarsku teen die dwaalinge van die godsdienstige leiers van die tyd en dat Hy geykte Bybelse beelde soos suurdeeg gebruik. Maar die dissipels is aards in hul denke. Suurdeeg word positief of negatief gebruik. Negatief is dit soos daardie een skewe woordjie wat iemand jou toevoeg en nou stop jy alles. Bv iemand sê jou plan is onmoontlik. Nou los jy dit. Suurdeeg kan ook positief wees soos die koninkryk van God is soos suurdeeg wat ‘n vrou in meel sit en dit rys die skottel vol. Bv jy tree met geloof op en iemand anders begin jou voorbeeld volg en dit kring al hoe wyer uit. Ek en jy en ons geloofstories kan die suurdeeg van die koninkryk deur hierdie gemeenskap laat trek en alles verander. Of nie! En die nie sal wees omdat ons vaskyk in wat ons nie het nie ipv om net na God te draai en te bid. Kom ons bid.