Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1 Korinthiërs 4: 14 – 21 ‘n Kleinseun het eendag met sy oupa gesit en gesels. Hy vra toe: “Oupa, hoe leef ‘n mens vir die Here?” Sy oupa het afgebuk na hom en en rustig gesê: Kyk. Hou dop.“Just watch”. Die jare het verby gegaan en die oupa het ‘n voorbeeld geleef van hoe ‘n mens vir Jesus leef. Hy was getrou in sy uitleef van Christus. Die kleinseun het meermale net vir homself geleef en op maniere wat nie vir God vreugde verskaf het nie. Op ‘n dag was die twee weer saam. Albei het geweet dat hierdie keer die laaste keer sal wees. Die oupa was sterwend. Die kleinseun het oor die bed geleun om beter te hoor wat die oupa probeer sê. En toe hoor hy dit. “Het jy gekyk? “Did you watch?” Toe besef hy dat sy oupa bedoel het: “volg my voorbeeld.” Dit was ‘n keerpunt. Hy het gebid en begin om in alles Christus te lewe. 1 Korinthiërs 14: 16 “Daarom spoor ek julle aan: Volg my voorbeeld!” Enigeen wat hierdie woorde sê, plaas baie druk op hom of haar self. Die werklikheid is ook dat ons as pa’s sonder om te vra hierdie druk op ons het. Ons moet die voorbeeld stel wat kinders kan naboots. Ek het vir ‘n groepie pa’s gevra om vir my drie vrae te beantwoord: • Wat sal jy as pa vir jou gesin wou sê? • Wat is 'n groot bekommernis vir jou as ouer? • Wat maak jou hart bly as pa? So ‘n paar van die antwoorde: (Ek kan nie orals almal s’n weergee nie, want dan gaan ons lank hier wees) Wat sal jy as pa vir jou gesin wou sê? • Sou graag wou he hulle moet elke dag besef dat hulle spesiaal is omdat God hulle waarde gee, dat ek as pa baie lief is vir hulle en dat elkeen van hulle die potensiaal het wat deur God in hulle geplaas is om groot hoogtes te bereik. Dat hulle deur hulle hele lewe sal poog om naby God te bly sodat Hy in lewens kan reflekteer. Verder is dit belangrik vir my dat hulle sal besef dat hulle altyd goed genoeg sal wees vir my, ten spyte van hul mislukkings of selfs gebrek aan pogings. • Dat my gesin saam die Here kan dien en dat die Here altyd in ons as gesin se daaglikste behoeftes sal voorsien. • Ek wens ek kon vir julle sê dit sal makliker gaan in die toekoms, maar ek kan nie.Werk hard terwyl jy kan en maak jouself onmisbaar in elke faset van jou werk. Maak ‘n positiewe verskil in elke mens se lewe rondom jou. Hou vas aan jou geloof, as jy val, staan op en hou Sy hand stywer vas. • ... So, as ons as gesin Josua se voorbeeld volg sal daar ook ‘n nageslag wees wat die Here sal dien omdat ons as voorbeeld soos Josua sal lei. Dit is die belangrikste. Wat is ‘n groot bekommernis vir jou as ouer? • Wanneer ek besef dat my voorbeeld nie altyd navolginswaardig is nie. Ek is ook bekommerd oor my kinders se toekoms in die land en of hulle vinnig genoeg kan aanpas by omstandighede. Sal hulle kan voortbou op dit wat ons begin het? Of die wysheid hê om te kan onderskei tussen dit wat regtig belangrik in die lewe is en sinneloos. • Dat my kinders nie suksesvol sal wees nie. Sukses is nie om die MD van ‘n maatskappy te wees nie. Sukses in ‘n gelukkige, liefdevolle eie familie, ‘n bestaan waarin daar genoeg is om gemaklik van te leef, en hope tyd om aan jou familie te spandeer. Om wanneer ek afsterf, nie genoeg te laat dat my beterhelfde genoeg het om van te leef. Dat ek my kinders nie genoeg kan voorberei vir die pyn, hartseer en teleurstellings wat nog oor hulle pad gaan kom. • Dat my dogter die regte vriende sal hê, of die regte vriend vir iemand sal wees. Wanneer sy besluite neem, dit saam met die Here sal doen. • Dat my kinders nie werklike vrede sal vind nie. • Dat julle sal seerkry. Hetsy fisies of geestelik. Dat julle die wêreld sal volg en julle geloof en vertroue in Christus verval. Wat maak jou hart bly as pa? • ‘n Drukkie, ‘n dankie en sommer net daardie “ek is lief vir Pappa”-kyk. • Positiewe terugvoer oor my kinders. Om te sien hulle hulle groot word en elke keer die die volgende trappie in die lewens leer begin klim. Om te sien hoe hulle die goeie in die voorbeeld wat ek probeer stel het, as jonkmense begin leef. • Wanneer ek sien my kinders pas in die legkaart van die lewe in. Enige teken van toewyding en wysheid. Die vermoë om te kommunikeer en mense nader te trek – ook empatie met ‘n hartseer, stukkende wêreld rondom ons. • As daar vrede, vreugde en liefde in die huis is en dat ek die voorreg het om saam my kinders huisgodsdiens te kan hou en die Woord met hule te deel. • Om saam oor geloofsake te kan praat. Om te hoor dat jy jou Christus beginsels navolg. • Ek is opreg bly dat my kinders belydende kinders van God is. Dit gee my vrede. Paulus se vreugde was die gemeente vir wie hy pa gestaan het voor. In hoofstuk 1 vers 4 dank hy God vir hulle. En h dank God oor die genade wat God in Christus Jesus aan hulle geskenk het. God het hulle in alles in Christus ryklik geseën. Veral in die gawes van woord en kennis. Die probleem in hierdie deel is dat die gemeente, gely deur allerhande leraars wat later ingekom het, Paulus en dit wat Paulus verkondig het afgebreek het. Skielik is Paulus niks. In partyskappe word Christus dikwels eenkant toe gestoot en gaan dit net oor mense. Paulus praat met hulle oor hulle hulself so verhef en partyskappe begin het. Die een is vir Apollos en die een vir Paulus en en. Hy spreek hulle skerp aan in hoofstuk 3 as wêreldse mense, soos kindertjies in die geloof in Christus. Hy sê jaloesie en twis kom onder hulle voor omdat hulle nog wêrelds is en hulle wêrelds gedra (3:3). Hy gaan verder en skryf dat ons as gelowiges die gebou van God is. En dat die dag wanneer Christus weer kom, sal dit duidelik wees want die gehalte van elkeen se werk sal getoets word. (3: 9-15). In hoofstuk 4 ruk Paulus hom op vir hulle. As ek so lees dan dink ek hulle was soos tieners wat gedink het hulle weet beter as hulle pa. Eintlik skaam was vir hom. Want hulle was suksesvol in hul eie oë en kyk vir “pa” Paulus: armoedig aangetrek, mishandel, swerf rond en werk hard met sy eie hande. Hy word uitgeskel en beledig. En sy reaksie op dit alles is om met ‘n seënwens te antwoord en om dit alles te verdra. Hy sê dit nie in vers 11 tot 13 nie maar dit is ter wille van Christus. U sien, Paulus het opgehou om vir homself te leef en begin om te leef ter wille van Christus. Nes die meeste pa’s hulle alles sal opoffer ter wille van hulle kinders en gesin. Daarom sien jy baie keer dat ouers met minder klaarkom en selfs swaarkry net so lank hulle kinders geleer kan kom en die beste moontlik kan hê. Agter sy hartseer met die gemeente lê hulle wêreldsgesindheid en die invloede van ander predikers. Vandaar sy woorde dat hulle ‘n duisend leermeesters in Christus kan hê (v 15) maar nie baie vaders nie. En dan skryf hy: 15 “Deur die verkondiging van die evangelie is ek in Christus Jesus julle vader.” Paulus se bedoeling was nie om hulle seer te maak of te verkleineer nie. Maar om as ‘n vader in liefde hulle reg te help.Hy is besig om in hierdie brief sy vaderlike plig te doen. As vader gebruik Paulus min woorde as hy hulle hier in vers 16 aanspreek. Ek wil dit onderstreep: Hy raas nie, hy sê volg my voorbeeld. Een of ander leermeester in die verlede iewers, het eendag toe ouers hul kind gebring het wat diabeties was, hulle gevra om oor twee weke die kind terug te bring. Die ouers wou hê hy moet die kind oortuig om op te hou suiker te eet en van lekkergoed af weg te bly. Twee weke later het die leermeester dit ook gedoen. Maar hy het vir die kind en ouers gesê: Ek het die afgelope twee weke alle suiker en lekkergoed self gelos. Ek het dit gedoen en ek sal dit aanhou doen, want ek gaan nie van jou verwag wat ek nie self bereid is om te doen nie. Ek het, toe die storie weer opduik in my gedagtes begin dink: Maar is dit nie wat Christus Jesus kom doen het nie? Het Hy nie vir ons kom wys hoe om as mens God lief te hê en tot eer van God te leef nie? Het Jesus nie vir ons kom wys hoe om te vergewe en lief te hê en in alles vir God te leef nie? Christus is ons voorbeeld. In 1 Korinthiers 11: 1 skryf Paulus so bietjie anders, duideliker, meen ek, as hier in vers 16: Vers 16: “Daarom spoor ek julle aan: Volg my voorbeeld!” En in 11: 1 “Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.” In 4: 20 skryf hy dat “die koninkryk van God is immers nie ‘n saak van praatjies nie, maar van krag.” Woorde is dikwels leeg, praatjies is presies dit praatjies. Wat tel is wat God doen. Hiermee vat hy die gemeente terug na hulle begin as gemeente. Dit was God wat met krag in hulle gewerk het. Dit was God se krag wat hulle tot geloof gebring het en laat groei het. Nie die woorde van dwaallerraars en hul slimmighede nie. Hierdie deel ruk ‘n mens terug na God toe. Dit spreek ook ons vrese as pa’s aan. Ook ons is soos Paulus baie dae bekommerd oor ons kinders se pad met die Here. Bang hulle vergeet van Hom wat ons almal tot hier lewend en suksesvol gebring het. Kom ons stel ‘n voorbeeld van getrouheid aan die Here. En ja, meeste dae is ons verniet bekommerd. Stap ons kinders mooi paaie met die Here. Hou die Here hulle styf by Hom. Ons kan gerus onthou dat die Here Sy belofte by ons doop en by hulle doop handhaaf en hou. Ek dink hierdie gedeelte wil vir ons sê om meer te bid vir ons kinders, God meer te dank vir hulle maar ook om meer te fokus op die voorbeeld wat ons leef. Die verhaal van die oupa en sy kleinseun trek mens in. Dit is vir ons om so ten nouste saam met die Here te lewe dat ons kinders en ander ‘n voorbeeld het om te volg. Kan ek maar vanoggend namens ons as pa’s sê: Volg ons voorbeeld, soos ons die voorbeeld van Christus volg. En Kobus, vir jou en die oupas, dit is wat die doop van ons vra. Wees ‘n voorbeeld vir Fay en Nicole. En kinders: Did you watch? Het jy dopgehou?