Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Handelinge 2: 1 – 13 Gal 5: 19 – 23 Ontmoet Magoo. Hy is 12 jaar oud en ‘n African Gray pappegaai. So ‘n paar jaar gelede was hy al lankal verby 100 woorde en frases. Hy is slim. Hy sal vir my sê as hy by my wil kom sit waar ek sit en werk. Hy sal begin met “by my kom sit” en dit opvolg met “Net ‘n bietjie werk” of ‘n “arme klein pappagaatjie moet net werk werk werk.” As daar mense kom kuier sal hy iewers vra “I can talk, can you fly?” En dit opvolg met “so gedink ja, so gedink.” En meeste dae sê hy dit al is daar niemand om te luister nie. Magoo hou van sjokolade (wat hy nie moet eet nie), pasta en naartjies. Die naartjies moet soet wees. Hy eet nie eers een wat effens suur is nie. Wie van julle hou van naartjies? Soet naartjies of suur naartjies? ‘n Naartjie moet soet wees. Ek gaan vanoggend vir jule iets van wat God in ons doen met hierdie naartjie verduidelik. Wie wil hoor? Niemand nie? Ek gaan nes my pappagaai in elk geval vir julle sê. Ons vier vandag die koms van die Heilige Gees in ons in. God het beweeg tot reg binne in ons in. Hy maak ons Sy tempel, Sy blyplek. En dit is ‘n wonderlike goeie ding. Die Heilige Gees verander ons. En die Heilige Gees help ons om te wees wat God ons geskep het: Sy verteenwoordigers. Kom ons kom terug na die naartjie toe. Wat maak ‘n naartjie ‘n naartjie? Is dit die skil? Of die lekkerte binne? Of is dit die pitte? Eintlik is dit die geheel. Die mooi kleur trek jou aan. Dit ruik lekker. En as jy dit oopgebreek het en die eerste skyfie is sappig en soet, dan weet jy dis ‘n naartjie!! Die Heilige Gees werk met elkeen van ons om vir die wêreld te wys hoe wonderlik is God en hoe kosbaar is God se liefde vir ons. Dit wat die Heilige gees in ons regkry maak dat ander mense sê maar ek wil ook so wees. Ek wil ook hê wat jy het. Kom ons begin by die skil. Die skil hou alles binne en by mekaar. Die skil sê my dat die Heilige Gees ons een maak. God het net een kerk. Een liggaam. So is daar net een doop, een brood, een beker, skryf Paulus. As jy ‘n naartjie in jou hand vashou, onthou dan: al die gelowiges saam word deur die Heilige Gees saamgebind tot een. ‘n Eenheid. (Efesiers 4). Ek is nie God se enigste kind nie. Daar is baie ander ook. Saam is ons ‘n gemeente. Ek kan nie ‘n gemeente op my eie wees nie. Ons is dit saam. Kom ek breek die naartjie oop. Sien julle die skyfies. Hier is ‘n hele klompie wat ek sal kan deel tussen my maatjies. Ek sal ‘n paar kan deel met my pappagaatjie. In Handelinge 2 vertel Lukas ons van mense van alle lande af wat tot bekering gekom het. Dit het op hierdie Sondag, vandag, net 2018 + jare terug. Al daardie mense, mense van lande met snaakse name soos Kappedosië, Kreta, Pamfilië, Frigië en en, is deur die Heilige Gees oortuig om in Jesus te glo. Hulle het besluit op daardie dag: van nou af volg hulle Jesus. Vertrou hulle Jesus om hulle na God te lei. Al daardie mense van al daardie lande het op daardie oggend deel geword van een. Hulle was saam een kerk. Soos al die skyfies in hierdie naartjie net een naartjie vorm. Die tweede ding wat ek leer uit al die skyfies uit is: dit moet soet en sappig wees anders gooi ek dit weg. Die mense maak met ons as christene ook so. As ons nie soos Jesus is nie dan wil hulle niks met Jesus te doen hê nie. As ons goed doen wat hulle dink, of weet, nie pas by ons geloof nie, dan is ons vir hulle soos ‘n suur naartjie. Wat sal daardie dinge wees? Help my. Galasiërs 5: 19 – 20: Dit is dinge soos: Woede, as jy iemand haat (al het hulle jou seer gemaak of lyk hulle anders as jy); as jy jaloers is; as jy daarvan hou om stories aan te dra en moeilikheid tussen mense te maak; as jy jou dronk drink; as jy altyd reg is om te baklei; nie omgee hoe jy leef nie En hulle gaan jou weg gooi. Dit is soos hoe ‘n suur naartjie proe. Moenie so wees nie. (Prentjie: Moenie lelik wees nie. Wees soos ‘n soet naartjie). Dis los mense met ‘n bitter smaak in die mond. Galasiërs 5: 21 sê Jesus wil ook nie mense hê wat so maak nie. “Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.” Hoe is mens wat soos ‘n soet naartjie is dan? Elke skyfie in hierdie naartjie is een van die nege dinge wat ons soos ‘n lekker soet naartjie maak. Dit is dinge wat mense met nuwe oë na jou laat kyk en sê maar ek wil ook so wees. Kyk net weer: Al hierdie skyfies, al kan hul los van mekaar gemaak word, is steeds net een naartjie. Jy kan nie kies en los nie. Dit is ‘n geheel. Bv As die eerste skyfie liefde is en die laaste skyfie selfbeheersing is, kan jy nie net liefde neem en die selfbeheersing los nie. Liefde sonder selfbeheersing is ‘n soos om ‘n wurm in jou naartjieskyfie te kry. Liefde kan hoe mooi wees maar as jy jou self nie kan beheer nie en jy skree op mense as jy kwaad word, of jy skinder, of as jy altyd moet beter weet as ander en ander kritiseer gaan mense jou ook sien as daar is ‘n vrot plek in jou liefde. En dan gooi hulle die hele naartjie weg. Kom ons kyk na al die skyfies: “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” Een vrug, enkelvoud. Nege skyfies. Alles dinge wat jou lewe soet laat smaak. Kom ek vertel jou nog iets van naartjies. Soms lyk ‘n naartjie baie mooi maar dit het amper geen sap in nie. Dis ook nie lekker nie. Dit is teken van ‘n droogte. Dit is ‘n teken dat so ‘n kind nie genoeg van die Heilige Gees inkry nie. Hulle lees en bid nie. Hulle vermy die Heilige Gees al woon Hy in hulle. En dan kan hulle maar sê hulle is christene, die mense gaan net sê maar dan wil ek nie een wees nie. Moenie so wees nie. Maak jou hart groot oop vir die Heilige Gees. Bid elke dag dat Hy jou lei en help en so in jou werk dat jou lewe so aantreklik en so smaaklik kan wees soos ‘n lekker mooi soet naartjie. Die laaste ding oor die naartjie is die pit. Baie mense hou nie van die pit nie. Maar die pit kan ons baie leer. 1. Die pit leer ons om oor Jesus met ander te praat. Ons moet saai. Pitte en sade word gesaai of anders beteken dit niks. Ons moet pitte plant van God se liefde en genade en van Sy evangelie. 2. Die pit leer my om aan myself te sterf. Om vir myself nee te sê en ja vir God. As jy se jys ‘n naartjie dan moet jy ‘n naartjie wees, nie ‘n suurlemoen nie. Dis waarvoor die Heiige Gees gekom het om ons naartjies te maak, nie suurlemoene nie. En ons moet getrou wees aan “naartjie” wees. Suurlemoen rym nie met christen wees nie. Vir die grootmense, net so een of twee kort opmerkings: 1. Ons moet bereid wees om uit ons gemaksones te beweeg. Die Heilige Gees gaan jou grense verskuif. Hy gaan deur jou dinge doen wat jou gaan verras. Aangenaam verras. So maak jouself oop vir Sy werking deur meer te bid dat Hy volle beheer van jou lewe kan verkry. 2. Ons kan meer bid. Hierdie geleentheid is vooraf gegaan deur 10 dae se gefokusde gebed. Sonder ‘n werklik op gebed ingestelde lewe, gaan weinig verander in jou lewe en gaan min van God gesien kan word in jou en my. 3. Hulle het saam gebid. 4. Die Heilige gees het die taal en die hoor wonder hier gedoen. Die Heilige gees het die bekerings gebring en elke dag mense by die gemeente toe gevoeg. 5. Ons behoort baie meer te bid dat die Heilige gees ons oopmaak vir die Woord. Ons help om te hoor sodat ons kan verstaan wat God vir ons sê. Ek dink hier ook aan Lukas 24:45 waar Jesus die dissipels se verstand geopen het om die Skrifte te verstaan. 6. Die vrug van die Gees. Letterlik vertaal: dit wat die Heilige Gees in jou bewerk. Gaan kyk weer na vers 19 tot 21 en vergelyk dit met die vrug in vers 22 en verder. Doen selfondersoek: eerlik en oop. En bid dat God ons vergewe en so vernuwe dat ons Sy vrug kan dra. Lees daarmee saam Johannes 15: 1 – 7. Wingerdstok en die lote.