Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
VRYDAG: Die Vader omhels ons en nooi ons uit vir die fees Lukas 15:1–3, 11–32 Kyk hoe ver beweeg God na ons toe. Jesus het heelwat tyd deurgebring met sondaars en tollenaars. Dit was nou nie juis die tipe mense waarmee goeie mense gemeng het nie. Jesus het met hulle sit en gesels, aan hulle geraak, selfs saam met hulle geëet en feesgevier. Hy het saam met die gehate tollenaar, hoof van die tollenaars, Saggeus en sy vriende in sy huis geeet. Jesus was net anders. Jesus het aan siek en onrein mense geraak. Hy het toegelaat dat ʼn vrou met ʼn slegte reputasie lekkerruik olie oor sy voete gooi en dit toe met haar hare afdroog. Hy het alleen by die put gesit en gesels met ʼn Samaritaanse vrou – ʼn onbetaamlike ding vir ʼn Joodse man. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het teen dié klas van optrede van Jesus beswaar gemaak. Want in hulle oë het Jesus die godsdienstige reinheidwette oortree. As antwoord op dié beskuldigings het Jesus toe drie verhale vertel. Ons kyk vandag na die verhaal oor die pa en sy twee seuns. Die verhaal begin by die jongste seun Hy het op ʼn dag kom vra dat sy pa sy erfporsie aan hom moet gee. Hy wou die wêreld in. Dit was ʼn verskiklike ding om te vra. Daarmee het hy eintlik sy pa dood verklaar, hom afgeskryf, hom diep beledig. Hy kon as’t ware nie wag dat sy pa doodgaan nie. Hy het sy rug op sy pa gedraai en weggegaan, na ʼn ver land toe. Die vreemde ding is dat sy pa dit toegelaat het, hom nie teëgegaan het nie. Sy pa wou nie die jongste seun dwing om hom lief te hê nie. Toe gaan verkwis die jongste seun alles wat hy van sy pa geërf het. Die storie sê reguit hy het dit deurgebring. Hy het losbandig gelewe. Uiteindelik het hy opgeeindig, eensaam en verstote tussen die varke, as varkoppasser. Vir ʼn Jood was dit die laagste werk denkbaar – varke is die onreinste van alle diere! Boonop het die jongman so honger geword dat hy gewens het hy kan van die varke se peule eet. Daar, op die laagste laagtepunt, kom die seun toe tot inkeer en besef hy die fout van sy lewe. Hy moes liewer by sy pa gebly het. Selfs sy pa se bediendes kry nie so swaar soos hy nie, het hy gedink. Dit het by hom deurgedring hoe seer hy sy pa moes gemaak het. Hy het besef hy het nie net teen sy pa nie, maar teen die Here gesondig. Net daar draai hy om en besluit om na sy pa toe terug te gaan, met die voorneme om sy skuld te gaan bely en te vra of hy nie dalk maar as bediende vir sy pa kan werk nie. Hy het nie verdien om weer as sy pa se seun behandel te word nie. Hy het toe uit die ver land teruggeloop, huis toe. Die wagtende vader Wat gaan die pa doen? Hoe gaan hy hierdie slegte seun van hom hanteer? Hom wegjaag? Hom tog maar as bediende inneem? Die storie skuif die aandag dan na die pa se optrede, beskryf dan sy bewegings. Kyk net wat doen die vader: Hy het skynbaar vir sy seun staan en wag. Hy het elke dag na die horison getuur. Sal sy seun nie dalk eendag terugkom nie? Daarom kon hy dié dag sy seun al ver sien aankom – asof hy hom ingewag het. Toe die pa sy seun so sien aankom, in sy kaalvoet vodde, met al sy skuldgevoelens en skaamte en vrees – ʼn gebroke mens – het hy hom innig jammer gekry, staan hier. ʼn Deernis wat hier diep uit die pa se binneste gekom het. Die liefde wat net ʼn ouer kan hê … Toe het die pa sy seun tegemoet gehardloop. Vir ʼn man met status, ʼn pa van groot seuns en wat skynbaar baie besittings en slawe gehad het, was dit in daardie kultuur ongehoord om te hardloop. Dit was vernederend. Hierdie pa kon nie anders nie. Hy hardloop sy seun tegemoet. En toe omhels hy hom en soen hom … nog voor die seun iets kon sê. Hy het sy arms om sy seun gesit – sy vaderhande sonder verwyt, vertroostend op sy rug. En die pa antwoord nie eers toe sy seun wel probeer skuld bely en vra om ʼn slaaf in sy pa se huishouding te word nie. Al antwoord wat die pa gee was om vir sy werksmense opdrag te gee om ʼn vetgemaakte kalf te gaan slag, mooi klere – die beste – te bring en ʼn ring aan sy vinger te sit – simbool dat hy hom weer verhef tot die status van sy eie seun. Kom laat ons feesvier, was die pa se antwoord. My seun is terug. Hy was dood en hy lewe weer. Hy was verlore en ek het hom teruggekry! Toe het hulle begin feesvier, vrolik en bly. Die fokus op die ouer seun Wat doen die ouer broer? Hy staan nors buite. Hy was kwaad en wou nie by die fees in die huis aansluit nie. Hy het veronreg gevoel. Vir hom het dit wat hier gebeur nie billik gevoel nie. Besef sy pa dan nie hoe die jonger broer alles deurgebring het nie – met prostitute, noem hy dit by die naam. Nou slag sy pa die vetgemaakte kalf, trek hy vir hom mooi klere aan, ʼn ring, vier hulle fees. Pa het nou te ver gegaan, voel hy. Dis teveel genade en vergiffenis vir die kleinboet. So kwaad was hy, dat hy sy jonger broer nie eers meer as my broer wou aanspreek nie. Hy praat van “hierdie seun van pa”. Boonop het sy pa vir hom, wat nog altyd as seun by die huis gebly het, nog nooit so ʼn fees gereël nie … Hy het bitterlik veronreg gevoel. Ons kan dit nogal verstaan. Ons kan onsself maklik in die skoene van die ouer broer plaas. Wat doen die pa van die ouer broer dan? Jak hy hom af? Stoot hy hom weg? Nee, hier staan: die pa het uitgegaan en mooi met hom gepraat, probeer verduidelik, hom binnegenooi. Kind, jy bly my kind, alles wat ek het, is ook joune, ek het jou nie verontreg nie. Kom nou, word deel van die fees, aanvaar weer jou jonger broer, versoen jou met jou broer, kom vier fees omdat hy weer deel van ons gesin is. En daar stop die verhaal. Ons weet nie of die oudste broer toe saam kom feesvier het nie, of hy die uitnodiging aanvaar het nie. Wat leer ons uit die die verhaal? Dis so ʼn pragtige verhaal wat vanself spreek. Mens bederf dit eintlik om meer te probeer sê. Maar kom ons vra net enkele vrae: Wie is die jongste seun? Na wie wou Jesus hê moes dit heenwys? Dit het in die eerste plek heengewys na al die sondaars en tollenaars waarmee Jesus gemeng het. Mense wat Hom aanvaar het in die geloof, wie se sonde vergewe is. Dis hulle saam met wie Jesus feesvier, dis oor hulle wat Jesus feesvier, oor elke sondaar wat hom bekeer en terugkeer na die vaderhuis. Die jongste seun wys ook na elkeen van ons wat vandag die verhaal hoor. Ook ek was verlore, ook ek raak verlore, ook ek loop soms weg uit die vader se teenwoordigheid … Dis nie so moeilik om my naam in die plek van die verlore seun se naam in te skryf nie. Daarom sing ons graag die lied: “Genade onskryflik groot”. Ons weet die verlore seun se verhaal is eintlik ons elkeen se eie verhaal. Op ʼn baie dieper vlak wys die verlore seun ook bietjie op Jesus self. Het Jesus dan nie soos ʼn verlore seun vir ons kom word nie, in ons diepste ellende kom in-daal nie? Nogal ʼn aangerypende gedagte – Jesus word terwille van ons die verlore seun, godverlate aan die kruis … sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie. Sodat ons kan tuiskom, kan feesvier, in die Vader se huis. Wie is die vader in hierdie verhaal? Natuurlik wys dit op God ons Vader. So is God. Net soos hierdie pa. So staan Hy ons en inwag, so hardloop Hy ons tegemoet, met oop arms, omhels Hy ons, verwelkom Hy ons terug, maak Hy vir ons ʼn fees gereed. Met oopgesperde arms staan God ons en inwag. Nee, Hy hardloop ons tegemoet en nooi Hy ons na die fees van sy omhelsing. So is God, verduidelik Jesus met die verhaal. Ook daaroor sing ons die lied: “Genade onbeskryflik groot …” Maar elkeen van ons behoort ook soos die pa in die verhaal te wees. In die plek van die pa moet ons ook ons eie naam skryf. Soos hierdie pa moet ons mekaar met genade inwag, omhels, vergewe, met mekaar saam kan fees vier. Ons moet dit met die mees onwaarskynlike mense doen. Is ons nie beelddraers van God, wat doen soos Hy doen nie! Binne sy omhelsing kan ons mos nie anders as om mekaar te omhels nie! Wie is die ouer broer in die verhaal? Natuurlik ook ek en jy, ons wat reeds deel van die kerk is. Die ouer broer is die kerk self, die skrifgeleerdes en Fariseërs van ons dag. Dis ons, ons wat so sukkel om bly te wees oor ander wat huis toe kom, ons wat so oordeel en veroordeel, ons wat ander so maklik uitsluit, ons wat so veronreg voel, ons wat so sukkel om te deel in die vreugde van God se genade. Wat hierdie ouer broer betref, staan die verhaal oop. Ons weet nie hoe hy toe op sy vader se mooipraat en innooi na die fees reageer het nie. Die antwoord staan oop, want Jesus wil dit eintlik aan ons elkeen oorlaat om te antwoord. Wil jy nie maar inkom na die fees toe nie, nooi Jesus jou vandag uit …