Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Donderdag: God beweeg mense om te beweeg. Lukas 2:25–39 Vandag is ons by die loflied van Simeon. Hierdie is een van vier bekende liedere wat Lukas vir ons opgeteken het. Al vier draai om Jesus se geboorte. Vir interressantheid: Daar is die engelekoor se Gloria in Excelsis. Dit is opgevolg deur die lied van Sagaria. Dit word die Benedictus genoem. Dan die aangrypende lied van die jongvrou Maria, die Magnificat. Die vierde is Simeon se lied, die Nunc Dimittis. Die naam verwys na die eerste woorde van sy gebed in Latyn: “Nou, laat gaan my, u dienskneg, in vrede Here?” Hierdie lied van Simeon is in van die grootse komposisies opgeneem. Dit word ook as ‘n aandgebed gesing: “Laat ek nou demissie kry, tot rus kom, my taak afsluit.” Kom ons luister weer na die verhaal waarbinne die lied van Simeon gesing word. Dit is soos ’n drama met drie bedrywe. Ek gaan dit ook so hanteer. 1. Eerste bedryf – Simeon se lied Simeon was vermoedelik al oud. Sy lewe lank het hy nougeset volgens die Ou-Testamentiese Wet gelewe. Hy was ’n vrome, opregte Jood. Die Wet en die Profete was vir hom belangrik. Sy lied bevat letterlik ‘n klomp verse uit die laaste boeke van die profeet Jesaja. Hy ryg hulle aanmekaar in ‘n lied in. Die tempel was die middelpunt van Simeon se lewe. Nou word juis hy, hierdié vrome ou man, gekies om sy deel te doen in die verlossing wat God bewerk. Die Heilige Gees het voorheen aan Simeon belowe dat hy nie sal sterf voordat sy oë die verlosser gesien het nie. Dink jou in: Hy is op hierdie stadium al ‘n ou man. Hy kon opgegee het al. Maar Hy het getrou gebly en gewag op God. Terwyl hy gewag het het hy getrou God aanbid in die tempel. Op hierdie besondere dag, so staan dit geskrwye, deur die Gees gelei het hy “opgegaan” tempel toe. Daar is iets van ’n ophef, ’n ekstase. Dit word ’n heilige moment, die moment waaroor hy sy lewe lank gedroom het. Vir hierdie moment het hy gelewe, vir hierdie oomblik is hy bestem! Weer hoor ons. God is hier aan die werk. God neem die voortou. Dit is deur en deur in God drie-enig se hande. Hier span die drie persone in die Godheid saam: Dis die Vader wat die verlossing beplan en belowe het, die Heilige Gees wat Simeon lei en sy oë oopmaak om in die geloof die Messias te herken. En dit is die Seun self wat dié dag besny, afgesonder en gereinig word volgens die Skrif. God drie-enig is hier in beweging. En Hy beweeg in en tussen die mens in. As Simeon die kind in sy arms neem, kom hierdie mooi lied oor sy lippe. Dalk het hy die lied net geprewel, soos ’n oorstelpte ou man. Dalk het hy dit hardop uitgesing, in die woorde van die profeet Jesaja, tekste wat hy uit sy kop geken het. In die tyd van die profete, veral die laaste eeue net voor die koms van Christus, is met groeiende verlange uitgesien na die koms van die Messias. Wanneer die Messias kom, so het die profete geskryf, sal ’n nuwe tyd aanbreek. Dit sou ’n tyd wees waarin Israel herstel word. Waarin alles op aarde heelgemaak word. ’n Tyd van versoening en van vrede. Dan sal die vrederyk aanbreek, God se sjaloom. Wanneer die Messias kom, sal die verinneweerde Israel weer getroos wees, herstel word, sy wonde sal verbind word. Jesaja 65 sê: “Die wat Ek uitverkies het, sal self die vrug van hul handwerk geniet. Hulle sal hulle nie tevergeefs vermoei nie, hulle sal nie kinders hê vir wie daar rampe wag nie, want hulle sal ’n volk wees wat deur die Here geseën word, hulle en hul afstammelinge. Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat sal ek hul gebed verhoor. Die wolf en die lam sal saam wei, die leeu sal strooi vreet soos ’n bees, en stof sal die kos van die slang wees. Op my heilige berg sal niks verkeerds gedoen word nie, niks vernietig word nie, sê die Here.” Daaroor het die profete van die Ou Testament gedroom. Na hierdie dag het Simeon sy lewe lank verlang: die koms van hierdie vrederyk. Nou het die uur daarvoor aangebreek! In Simeon se arms lê die Messiaskind. Hy is die Verlosser waarna Israel so lank uitgesien het. Dis Hy wat die vrederyk laat aanbreek. Met sy eie oë sien Simeon dit, met sy eie twee hande hou hy dit vas! Maar as jy fyn luister na Simeon se lied, hoor jy daarin tog ook ’n nuwe klank. ’n Klem wat geskuif het. Dit is dieselfde herstel waarna die Ou Testament verlang het, dieselfde troos, dieselfde vrede. Maar veel helderder hoor jy dit nou in hierdie lied: Hierdie herstel wat nou aangebreek het, is nie net vir Israel bedoel nie. Maar dis vir al die volke bedoel. Die Messiaskind bring ’n lig vir al die nasies, sing ou Simeon dit uit. Die verlossing is universeel, dit sluit in, nie uit nie. Al die nasies… ook vir ons hier in Suid Afrika is dit bedoel. Vir ons almal, hierdie versoening, hierdie vrede. Omdat Simeon dit, hierdie geweldige waarheid, kon aankondig, is sy lewenstaak afgehandel. Daarom bid hy: “Nou Here, kan u my, u dienskneg, maar in vrede laat gaan”. Dan skryf Lukas: “Oor dié woorde van Simeon, was Jesus se ouers verwonderd.” 2. Daar’s ’n voorwaarde by – die tweede bedryf in die verhaal Hierdie versoening en vrede is vir almal bedoel. Maar dis nie goedkoop of verniet nie. Dit kos ’n baie, baie duur prys. Vir hierdie kindjie, so het Simeon dit voorspel, gaan dit nog die kruisdood kos. Vir Maria, sy moeder, sal dit soos ’n swaard deur haar siel wees. Want mense gaan dié soort verlossing en vrede wat Christus bring, betwis en dit weerspreek. Ander gaan dit probeer uitwis. Mense gaan Hom nie as die Messias aanvaar nie. Baie van die Jode, maar ook nie-Jode, gaan weerstand bied teen die soort vrede vir almal wat Jesus bring. Hierdie Christuskind sou ’n teken wees wat weerspreek word, ’n klip wat baie laat struikel en val. Hy vra van elkeen ’n keuse, Hy ontbloot die gesindheid in elke hart … Ja, die vrede is vir almal bedoel, almal word uitgenooi om dit te kom neem: “Vrede vir julle, my vrede gee Ek vir julle, my vrede is egter nie soos die wêreld s’n nie …” Om hierdie vrede van Jesus die Messias te kan ervaar, om dit soos Simeon in jou hande te kan neem, vra eers selfverloëning, ’n sterwe aan die self en die eie ek. Dit vra eers verootmoediging en bekering, oorgawe, self-prysgawe. Dit vra eers ’n erkenning dat nie deur mag of geweld nie, nie deur geld of goed nie, nie deur eie vermoë of insig of godsdienstigheid nie, nie deur die eie-belang bo die van die ander te stel nie, nie deur toe te gee aan die oerdrang van die oorlewing van die sterkes nie. Maar deur die kruis van Jesus Christus breek God se vrede vir ons deur. 3. En dan die derde bedryf in hierdie intense drama Op die toneel verskyn dan skielik Anna, ’n profetes – al vier en tagtig jaar oud. Amper haar lewe lank ’n weduwee, een van die minstes, die kwesbaarste mense in daardie tyd. Ook sy was vroom en toegewyd, lief vir die tempel, getrou in haar aanbidding, iemand wat gereeld gevas en gebid het, ’n egte Ou-Testamentiese figuur. Ook sy kom in hierdie heilige oomblik nader en dank God oor die Messiasbeloftes wat Hy waargemaak het. Om God te dank is nie al wat sy doen nie. Daar en dan begin sy praat sy oor die Kindjie met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het. Anna, hierdie onwaarskynlike getuie, was die eerste sendeling onder die Jode! Sy was die eerste om te sê die Messias wat vir almal gekom het. Die vrede wat die Christuskind gebring het, moet met ander gedeel word! Anna kon dit doen, sy kon met geloofwaardigheid getuig, want ook sy het in hierdie kindjie die Messias herken. In die Wet en Profete is dit so voorspel. Omdat sy dit geken en daaraan vasgehou het, het dit haar oë oopgemaak vir die nuwe tyd van vrede wat in die koms van dié Kindjie aangebreek het. Daarom móés sy vertel en met blydskap getuig.