Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Woensdag: God kom woon tussen ons … as ʼn mens! Johannes 1:1–8, Filippense 2:5–11 Ons staan in hierdie Pinkstertyd stil by God se groot liefdes-treë wat Hy na ons mense toe gee. Hy het Adam en Eva kom soek en geroep. God het gekom om met Abraham ʼn verbond te sluit. God het nadergekom om Hom aan Moses bekend te stel. In die Ou Testament is daar meer verhale waar God nader aan die mens staan. Dit is soos ‘n refrein van ‘n lied: gereeld lees jy dit raak. En dan besef jy net weer: Dit is God wat weer uitreik, neerbuig en naderkom, om met sy volk Israel ʼn pad te loop. God doen regtig moeite om die mens in ʼn verhouding van liefde te betrek. Kom ons skiet nou vinnig vorentoe tot in die Nuwe Testament. Ons wil uitkom by die mees ondenkbare dink wat God nog ooit gedoen het. Die mees onverstaanbare ook. En dit is ook iets waarvoor ek en jy die Almagtige nooit genoeg kan bedank, of loof of prys nie. God het self aarde toe gekom en as ʼn mens tussen ons kom woon. Hierdie wonderwerk van God word besing in Johannes 1 en Filippense 2. 1. Johannes se lied In die begin, so sê Johannes, nog lank voor die skepping, was die Woord daar, was God se Woord al daar. Nog lank voordat daar ‘n Adam en ‘n Eva was, of sonde en moord was God reeds. Hy is werklik die groot Ek-is. Met die term “Woord”, of Logos in Grieks, wil Johannes iets sê van God. Van hoe God Homself bekendmaak. Hy sê iets van God se liefde en wat Hom dryf. Toe die tyd reg was, het die ondenkbare, amper skokkende ding gebeur. Hierdie Woord van God, hierdie liefdeshart van God – wat God self is – het ʼn mens geword en tussen ons kom woon, skryf Johannes. God self het afgedaal aarde toe, in ʼn menslike liggaam en tussen ons kom tent opslaan. Dit het gebeur toe Jesus van Nasaret as ʼn mensekindjie gebore is. Eugene Peterson vertaal die deel so (In sy The Message): “The Word became flesh and blood, and moved into the neighbourhood.” God wat vlees en bloed geword het, een soos ons, een tussen ons, het in ons buurt kom intrek. In Johannes se tyd was selfs Jesus se volgelinge bang om Hom te aanbid. Sou dit nie godslastering wees om ʼn mens te aanbid nie? ʼn Gewone mens soos Jesus? Hulle het geweet Hy is van Nasaret. Vir hulle was Hy ‘n spesiale mens, maar steeds hoofsaaklik mens. Dis hoekom Johannes vir hulle hier verseker: Hierdie mens Jesus is niemand anders nie as God wat self mens kom word het. Tussen julle kom woon het. Dit is vir God self wat julle aanbid as julle Jesus aanbid. Maar hoekom was dit nodig dat Jesus mens moes word? Was daar nie ‘n ander manier nie. Ek verduidelik met ‘n storie: Daar word vertel van ʼn priester wat op ʼn stormagtige, yskoue nag in Noord-Europa – die nag voor Kersfees – agter in ʼn klein dorpskerkie in sy woonstel gesit en preek maak het vir die volgende dag se Kersdiens. Skielik hoor hy plofgeluide teen sy venster. Toe hy uitgaan, sien hy dit was ʼn swerm spreeus wat uit die ysige sneeustorm by sy venster in na die lig en warmte wou vlug. Hulle sou die storm buite nie oorleef nie. Die venster kon ongelukkig nie oopgemaak word nie. Toe gaan maak die priester die groot kerkdeure oop en probeer die swerm daar injaag. Hoe hy ook al arms geswaai en desperaat beduie het, die spreeus het nie verstaan nie. Hulle het teen die toe venster bly vas vlieg en hulleself al hoe meer beseer. Die priester het begin besef, die enigste manier hoe hy die wilde spreeus sou kon red, sal wees as hyself ʼn spreeu kon word – een soos hulle – en voor hulle uit vlieg om hulle by die kerkdeure na veiligheid in te lei. Toe dring dit tot hom deur: Dit is presies wat God gedoen het. Hy het soos een van ons kom word, om ons te red. ʼn Spreeu vir spreeus. 2. Paulus se perspektief op dieselfde wonder Wanneer Paulus in Filippense oor dieselfde wonder skryf, gaan hy nog verder. As Johannes ons spraakloos verbaas verwonderd gelaat het, neem Paulus ons nog dieper in die verbysterende van God se liefde vir ons. Christus, wat self God van alle tyd af was, een wese met sy Vader, dieselfde status, het nie net mens kom word nie. Hy het selfs laer neergedaal, homself verneder en die gestalte van ʼn slaaf aangeneem. Hy het een van die minste onder mense kom word. Hy het in ons buurt kom bly en ons swaarkry en versoekinngs kom beleef. Vrywillig het Hy hom leeg gemaak van sy heerlikheid en sy almag. Al het Hy God gebly, en sondeloos, het Hy ons sonde, lyding en swaarkry op homself geneem. Hy het as mens magteloos aan ʼn kruis kom hang, magteloos in sy liefde vir ons, ter wille van ons. Hy was daar selfs van God verlate. God self het in Christus aan die kruis vir ons sonde kom betaal, in ons plek kom ly. Ons bely dit elke Sondag: God wat in sy Seun mens kom word het, gebore in ʼn stal, uit die maagd Maria, wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het, ter helle neergedaal het … So laag het God self kom buig, om ons en sy ganse skepping uit ons ellende en stukkendheid te kom bevry en aan ons die lewe te gee – die lewe in oorvloed. Eintlik het ek nie woorde om hierdie geweldige waarheid te beskryf nie. Johannes sukkel ook om dit gesê te kry. Dis genade op genade, stamel hy. Maar dit is presies hoe God se heerlikheid lyk! En dit is vir jou! Ons sien sy heerlikheid die helderste in hierdie diepste beweging wat God gemaak het, die laagste wat Hy kom neerbuig het – om mens tussen ons mense te kom word. Daar aan die kruis laat God ons Sy hart sien. ʼn hart vol liefde. 3. Wat beteken dit alles vir ons? Ons is spesiaal vir God. Jy is vir God spesiaal. Om te dink dat God dit alles vir ons kom doen het! Dat Hy na ons aarde toe gekom het, na my en jou toe. Dit was vir God belangrik om dit te doen, want Hy wou sy beeld in ons, wat stukkend gebreek het, weer kom heelmaak. Sodat ons weer met God in ʼn liefdesverhouding kan tree. Kan ek dit weer sê: God wil Sy beeld in ons kom herstel. Kan ek jou vandag uitnooi om saam met my te bly bid dat God Sy beeld in ons volkome kan herstel. Bid dat ons werklik sal leef as Sy verteenwoordigers. Kom ons bid.