Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Eksodus 3:1–18, Eksodus 6:1–3 Dinsdag Jare gelede het ek iets gelees waarin die skrywer opgemerk het: Hy wonder hoe gelowiges op ‘n Sondag sou reageer as Jesus skielik tussen ons staan en hardop met ons praat? Wat as God jou dag onverwags onderbreek om vir jou ‘n opdrag te gee? Soos Hy met Moses gedoen het. Blackaby en King sê ons moenie bekommerd wees nie. Elke persoon in die Bybel het geweet dit is God wat met hulle praat en presies wat Hy sê. Kom ons vat gou saam. • Die eerste beweging was toe God na Adam en Eva kom soek het. Hy het hulle geroep en met hulle ʼn nuwe begin gemaak. • In die tweede beweging het God kom kyk hoe bou die mensdom die Toring van Babel. God het met Abram ʼn verbond gesluit: Abraham sal geseënd wees, om ander te seën. • En vandag is by God se derde groot beweging, toe Hy gekom het en homself aan Moses kom bekendstel het. Ek wonder oor Moses en ons. Ek wonder of ons oplettend genoeg sou wees, genoegsaam op God ingestel sou wees dat God ons aandag kon trek.Maar kom ek vertel net weer sy storie baie kortliks. Wat my tref is: God sien in Moses wat Moses in homself nie meer kan sien nie. Die agtergrond vir Moses se storie is: Israel is God se verbondsvolk. Die nageslag van Abraham en Sarah. Hulle het opgeeindig as slawe in Egipte. Hulle kry swaar. Die Farao is wreed en hulle word hard gedryf. Hulle seuntjies is vermoor. Moses het dit vrygespreek deur ‘n wonderwerk van God. En in ‘n verdere wonderwerk word Moses geskool in die farao se paleis. Maar toe maak hy ʼn fout. Hy het ʼn Egiptenaar doodgeslaan en moes toe vlug, die woestyn in, waar hy ʼn skaapwagter word. Alleen en verlate was hy daar, soos iemand wat sy lewe weggegooi het. Op ʼn dag sien hy daar in die woestyn ʼn doringbos, wat brand en brand, maar nie uitbrand nie. Toe hy naderstaan om die verskynsel te bekyk, toe hoor hy ʼn stem met hom praat. En Moses besef: hier is iets buitengewoons aan die gebeur! God self het gekom om met hom hier in die woestyn te kom praat. God self het hierdie ontmoeting met Moses gereël, want God wou homself aan Moses bekendstel, homself aan Moses openbaar. Weer, soos nog elke keer, is dit God wat die inisiatief neem. God wat na die mens kom soek. Dit is die wonderlike van God. Hy stel homself bekend aan mense. God wil hê mense moet weet van Hom, Hom leer ken, Hom veral ook leer ken uit sy dade. Ons het dit in Eksodus 6 ook raakgelees: God wil met hierdie ontmoeting met Moses, nie net vir Moses roep en stuur nie. God wil hê Moses moet God dieper leer ken. God sê vir Moses dinge wat Hy nie aan Abraham of enige van die voorvaders bekend gemaak het nie. Hy wil hê die Israeliete moet weet en besef wie Hy is. God wil hê ook die Egiptenare moet besef Hy alleen is God. Daarom sou die hele redding van sy volk uit Egipte ʼn daad van selfopenbaring wees. God wat vir mense wys Wie Hy regtig is. Hy is God wat graag herken en erken wil word – as God. God wil hê ons moet weet wie Hy is, hoe Hy is, anders sal ons hom nie kan liefhê en aanbid nie, nie met Hom in ʼn liefdesverhouding kan tree nie. As God dan met Moses uit die doringbos begin praat, antwoord Moses God. En hy vra oa vir God: Here, maar wie is U? Wat is u naam? Wat Moses eintlik vra is: Here, sê vir my u naam, want dan sal ek ook weet hoe U is! Hoe stel die Here homself in hierdie ontmoeting dan aan Moses bekend? God gee vir Moses drie van sy name. Ons kyk weer hoe God homself in elkeen van die drie name bekendstel. 1. Ek is Eerstens: “Ek is wat Ek is”; “Ek is” – dis my naam, sê God vir Moses Wat ʼn vreemde naam! Dis asof God daarmee eerder wegsteek wie Hy is – “Ek is wat Ek is” sê juis nie veel van God nie, dit hul God juis in misterie. Waarom dan so ʼn vreemde naam? Miskien wil God daarmee juis onderstreep dat Hy ver bokant ons begrip uitgaan. Ons kan Hom nie voluit ken nie. Ons kan hom met ons menslike verstandjie nie kleinkry nie. Ons kan nie ʼn handsvatsel op Hom kry sodat ons Hom kan optel en skuif soos dit ons pas nie. Hy is God, die ewige, onsienlike, die verhewe God – soewerein, heilig – daarvan is die brandende doringbos ʼn simbool. Daarom moes Moses sy skoene uittrek, sy hande voor sy gesig hou as Hy in God se teenwoordigheid kom. Soveel ontsag het die Israeliete vir hierdie naam van God gehad, dat hulle dit eintlik nie oor hulle lippe kon neem nie. Daarom is ʼn sterk tema in die Ou Testament die vrees vir die Here: Hy is almagtig, ontsagwekkend. Jy trek jou skoene uit en hou jou hande voor jou gesig in sy teenwoordigheid. Hy is wat Hy is, almagtig en verhewe. Dit sou Moses en die Israeliete sien in die wonderbaarlike manier waarop God sy volk uit Egipte gaan red. Dis die kant van God wat Egipte gaan sien, die een wat in sy heilige toorn mense straf. “Hy is … God”, so stel Hy homself aan ons bekend. Wonder jy nie ook soms of ons deesdae nog hierdie heilige ontsag vir God het nie? Ook in die manier waarop ons God aanbid, of oor Hom praat asof ons presies weet hoe Hy is, wat Hy behoort te doen of nie te doen nie. Ons vergeet met wie ons te doen het, met Jahwe, die God wat net sê: “Ek is …” 2. God van jou voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob. Hier hoor ‘n mens iets van God se genade, sy toeganklikheid, sy neerbuig na mense. Dis die naam waarmee God vir Moses – die moordenaar in die eensame woestyn – uitnooi om gerus maar nader te staan. Ek is die Verbondsgod. Ek is die God wat My kom verbind het aan jou voorvaders. Ek is die God wat ‘n pad loop met gewone sondaarmense. So was Abraham – ʼn gewone sondaarmens. En sy kleinseun Jakob, was ‘n bedrieër. En tog het God met elkeen van hulle ‘n pad geloop. Hoor hoe mooi vertel God van hierdie genadekant van Hom vir Moses: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien, en hul noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hul lyding ter harte geneem. Daarom het ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry ...” Ek is die God van jou voorvaders, die verbonds-God wat my aan Abraham verbind het, aan Isak en aan Jakob – dis my Naam vir ewig. Daar is hierdie twee kante aan God. Aan die een kant is Hy die verhewe, almagtige God, die “Ek-is-wat-Ek-is” God. Aan die ander kant is Hy ook die genadige God. Die God wat Hom aan sondaarmense kom verbind. Die God wat deernisvol na mense afbuig, hulle optel en soos op arendsvlerke die toekoms in dra. Aan albei hierdie kante van God moet ons vashou, want so stel God Homself aan ons bekend. 3. ‘ʼn Naam effens verskuil tussen die sinne Hierdie derde, effens verskuilde naam vir God, loop net so sterk deur die hele Ou en Nuwe Testament. As Moses te bang is om te gaan doen waartoe God hom geroep het, dan belowe God: Moses, moenie bang wees nie, want Ek is by jou. God by ons. Emmanuel God – dis sy derde naam. Naas die “Ek is” en die “God van ons voorvaders”. As teken dat God by Moses is, naby hom sal wees, gee Hy vir Moses tekens. Hy gee sy woord en belowe Hy sal aanhou om met Moses te praat. Hy gee vir Moses ʼn kierie waarmee hy kan gaan wys wat God se teenwoordigheid kan doen. God gee vir Moses ʼn broer, Aäron, om hom te help praat. God belowe verder: Moses, jy hoef eintlik net agter My aan te kom en te kom kyk wat Ek gaan doen. Dis Ekself wat My volk gaan red. Dis Ekself wat met die farao se gal sal werk. Ek sal by jou wees, deur jou werk – Ek is die teenwoordige God, Emmanuel. Ons ken die naam, Emmanuel beter in die Nuwe Testament. Waar Jesus mens word. As teken van sy teenwoordigheid het Hy vir ons ook sy Woord gegee, sy Gees en sy doop en sy nagmaal. Hy het ons as gelowiges vir mekaar gegee – alles tekens van God se teenwoordigheid. Moses, ek is die “God by jou”. Dit sal jy duidelik sien op die pad wat jy agter My aan moet loop, verduidelik God hier. Met drie name kom stel God homself hier bekend: (1) Ek is wat Ek is. (2) Ek is die God van jou vaders, van Abraham en Isak en Jakob. (3) Ek is Emmanuel, God wat by jou teenwoordig is. Wat hoor jy vandag by God? Wat moet ons gaan doen? En ons …? Vir wie moet ons dit vertel, aan wie presies wil God hê dat ons Hom verder moet gaan bekendstel?