Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
God verbind Hom aan ons … Genesis 11: 1 – 9, 11:30–32 en 12:1 – 4 ’n Tweede groot beweging van God. God trek die verhouding vaster. Menige jong meisie droom van die dag wat haar geliefde haar onverwags, totaal van sy kant af beplan, haar verras deur haar te vra om te trou. Verbondsluiting is selfs meer as dit. Ek vermy die woord kontrak vandag want vandag se kontrakte is koud en hard en onverbiddelik. God neem die inisiatief en kom na Abraham, na die mens vir wie Hy lief is, en Hy sê: Kom wees myne. Dis vreemd. Want alles wat geskep is, ook die mens, is reeds God s’n. Maar om die een of ander rede stort God Sy liefde uit op die mens. Mens, kom,leef met My saam. In Kain se storie het ons reeds ontdek dat ‘n mens medeverantwoordelik is vir jou medemens. Ons sien dit ook hierdie keer as God weer nader aan die mens beweeg. God kom sit, en ek gebruik beeldspraak hier, God kom sit ’n ring aan die mens se vinger. God sluit ‘n verbond met Abraham. God neem die inisiaitief en maak ons deel van sy beweging na en in die wêreld. Ons ontdek twee goed hier: Ten eerste God verbind Hom aan Abraham. Maar Abraham ontdek dat ‘n verbond met God sluit ook die res van die wêreld in. Abraham self moet tot seën wees. 1. ‘n Toring met geen uitsig. Kom ons kyk na die agtergrond. Dit leer ons baie van God. Genesis 11 vertel die verhaal van die toring van Babel. Die toring is ‘n simbool van die mens se opstand teen God. Die mens wat self soos God wil wees. Dalk self god wil wees. ¬ Die mense van daardie tyd het saam gespan en ʼn toring gebou wat so hoog is dat dit tot in die hemel strek. Hulel wou naam maak. Dan sal ons nie oor die hele wêreld versprei nie. Onthou nou dat God vir Adam en Eva gesê het gaan vul die aarde (OV). Hier sê hulle, nee, ons wil nie. Ons wil nie oor die hele aarde versprei nie. Sommige kommentators meen dat hulle gedink het as hulle dit kon doen, as hulle ‘n toring tot in die hemel kan bou, dan sou die toekoms, al hul sekerhede, in hul eie hande wees. Arrogant! Skokkend! Die mensdom wat teen God rebelleer, ʼn staatsgreep probeer uitvoer! Die Bybel vertel so half ironies, spottend, hoe God op die rebellie reageer. Onthou nou ook, die Bybel wil nie ‘n wetenskap of geskiedenishandboek of wat ookal die mens van dit wil maak wees nie. Die Bybel vertel van God se interaksie met die mens. Hier staan, God moes laag afdaal om te kom sien wat die mense doen. God is in sy wese vêr verhewe bo alle menslike pogings en bo wat mense van hulself dink, dat God darem baie laag moes afbuig om te sien wat hulle doen. Dit staan nie teenoor God se alomteenwoordigheid nie. Dit dryf die spot met die mens en sê dit is soos ‘n baie lang persoon wat moet vêr afbuk om ‘n kleuter mooi te kan sien. Jy kan God en mens nie vergelyk nie. Jy kan sommer van vêr af sien van hierdie opstandjie gaan niks van kom nie. God steek verspot maklik ‘n stokkie voor hulle pogings. Al wat Hy doen is om hulle taal te verwar. As dit nie so tragies was nie, sou mens eintlik lekker kon lag as jy dink hoe ʼn Babelse verwarring dit moes gebring het. Wat hier gebeur, is eintlik baie ernstig. Die mensdom, wat na God se beeld geskape is, span saam in hul opstand teen hul Skepper. En nou is die vraag: wat gaan God doen? Gaan Hy die mensdom laat vaar, gaan Hy opgee met sy skepping? Gaan God die mense aan hulleself oorlaat sodat hulle mekaar en die skepping kan vernietig? Reeds voor die sondvloed het God al gesê Hy is spyt dat hy die mens gemaak het. Maar toe gee Hy vir Noag en sy geslag ʼn tweede kans. Nou is dit juis hulle wat die toringbouprojek onderneem. Wat gaan God se reaksie wees? Wat is sy volgende beweging? 2. God se verbond: trouring sake God se volgende beweging was om Hom aan Abraham en Sara te verbind. Dit is weer ‘n vreemde skuif. Hulle is ‘n bejaarde, kinderlose en onvrugbare egpaar. Iewers uit ʼn heidense land kies en roep God twee ou mense om ʼn nuwe begin mee te maak. God, van Sy kant af, tot die verbasing of verrassing van Abraham, sluit ‘n verbond met Abraham. In die taal van ons beeld: Hy sit ‘n ring aan Abraham en Sarah se vinger. God verbind hom aan Abraham. God neem ook hier die inisiatief. God gee die eerste treë. God verbind hom aan die mens. As teken dat dit ʼn ewige verbond is, wat God nie van sy kant af sal verbreek nie, gee God die tekens van bloed. In Genesis 15 lees ons hoe God deur die oopgesnyde diereoffers deur loop, terwyl Abraham slaap: Dit is God wat die eerste treë in die verbond gee, van sy kant af verbind Hy hom aan die mens. En dan gee God ook die besnydenis as teken. God is doodernstig dat dit ʼn blywende verbond is. Met Pinkster word ons weer aan God se skuiwe herinner. Kan ook ons terugkyk op in ons geval 25 jaar van genade en van God wat insisaitief neem in ons as gemeente se lewe. En ek glo ons kan verder terug kyk in ons elkeen se lewe en ontdek dat God lank voor ons geboorte reeds die insisiatief vir ons redding en genade begin neem het. Maar God doen dit nie net ter wille van ons nie. Nes met Abraham het God ook ander mense in die oog as Hy besig is met jou en my lewens. 3. Ter wille van ander God maak ‘n paar beloftes aan Abraham. Hy belowe aan hom : • ’n Land. God belowe dat Hy vir Abraham ʼn land en ʼn nageslag sal gee. Leefruimte, ʼn toekoms. • ’n Naam. God belowe dat Hy vir Abraham ʼn naam sal gee, hom ʼn man van groot betekenis sal maak. Dit is baie intrressant: Met die toring van Babel wou die mense hulleself ʼn naam maak. Hier belowe God aan Abraham, sonder dat Abraham eers daarvoor gevra het, Hy sal vir Abraham ʼn naam gee. God sal van hom ‘n man van groot betekenis maak (12:2). • God sal Abraham seën. Wat beteken dit as God belowe om ons mense te seën? In die woord “seen” word eintlik al God se beloftes saamgevat: Die geskenk van lewe en dit in oorvloed, die belofte van sorg, die belofte dat God met ons die pad sal loop en ons sal verlos, sal vergewe, en sal leer lewe. Die belofte dat God sy verhouding met ons en met mekaar sal heelmaak, die belofte dat Hy sy stukkende beeld in ons sal herstel, sy skepping nuut sal maak sodat ons dit vir ewig kan geniet en God kan verheerlik. God belowe Hy sal vir Abraham seën. Maar ... Hier is ‘n verwagting. Jy word herstel tot verteenwoordiger status Abraham. En as God se verteenwoordiger sal jy doen wat God oa met jou gedoen het, jy sal ander seën. Eintlik spel die Bybel dit bietjie anders uit ... Abraham sal tot seën wees van ander. Abraham moet gaan wees wat Kain nie vir Abel wou wees nie: tot seën. Die is eintlik ‘n belofte met ‘n opdrag. God sal nie net vir Abraham seën nie. Deur hom wil God ook al die nasies seën. God seën Abraham, sodat hy vir ander tot seën kan wees. Dis die eintlike bedoeling waarom God Abraham uitgekies en Hom toe aan Abraham verbind en belowe het om hom te seën. Abraham moet vir die nasies tot seën kan wees. God wys Sy hart. Hy maak weer heel. Die mense wie se taal verwar is en daarom uit mekaar uit gespat het, ja hulle wat in opstand was, God wil hulle ook bereik. Die keer deur Abraham en veral deur Abraham se nageslag ... soos ons later in Jesus ontdek. Ons moet besef, kan ek dit sterker stel, ons moes dit hier diep in ons laat tuiskom: God se bedoeling met jou en my is om tot seën te wees van ander. Om tot seën te wees. Dink net: God, die Skepper van die ganse kosmos, het Hom in liefde aan jou en my kom verbind. God het ook aan ons kom belowe, jy sal geseënd wees. Ek belowe dit vir jou – geseënd is jy. Dié geseënd-wees het ook ten doel dat jy ander tot seën sal wees. Die seën van die Here kan jy nie net vir jouself toe-eien nie, dit moet met ander gedeel word, aan ander uitgedeel word – want dis die eintlike bedoeling daarmee. Die vraag is nou net: Gaan ons die geskiedenis breek en NIE in opstand teen God leef nie? Of, anders gestel: Wat maak ek en jy met God se seën? Dis die vraag wat ons uitdaag. Abraham se antwoord was om sy tent te vat en agter die Here aan te trek. Hy het foute gemaak, soms sy eie planne gemaak. Maar God het met Abraham die pad enduit geloop. Soos wat Abraham tussen die mense en die nasies heen getrek het, het hy telkens klipstapels gepak, altare, as teken van God se verbond. Oral waar hy gekom het, het hy klein torinkies van Babel gebou, nie om vir homself naam te maak nie, maar om God se Naam groot te maak! Dit was sy reaksie op God se verbond, sy reaksie op God se beweging na hom toe. Wat is joune?