Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Genesis 1: 26 -31; 3:9 en 4:9 God is in beweging. En God beweeg na en in ons. Ek lees so twee weke terug die aangrypende gedagte: God het ons geskep, God het vir jou geskep spesifiek vir Hom om in te woon. Die heel mooiste wat God gemaak het, is die mens. Van al die dinge wat God geskep het, is net die mens na die beeld van God gemaak. Dit opsigself, behoort ons te oorweldig en tot diepe nederigheid te stem. Die feit dat ons na God se beeld geskep is, behoort vir ons elkeen iets groots te wees. As ek na Genesis kyk, na die skepping van die mens, en ek hoor God sê “Dit is goed!”, dan voel ek klein en nietig en oorweldig. Hoe kan die Almagtige vir my en jou so kosbaar ag? Maar ons misken mekaar? Reg van die begin af, staan God nader na ons kant toe. Sy eerste beweging is na ons toe. Na die mens toe. Na die kroon van Sy skepping. Hy beweeg na die enigste deel van die skepping waarin Hy Sy asem ingeblaas het. Dit is inderdaad soos die psalmdigter skryf: God laat vaar nie die werke van Sy hande nie. Die agtergrond van 3: 9 is natuurlik die mens se keuse vir die verkeerde. Die sg sondeval. En in 4: 9 is dit God wat Kain tot verantwoording roep na die sondeval. 1. Beeld van God Wat beteken dit vir jou en my? Wat bedoel die Skrif as dit sê ek en jy isna die beeld van God geskep? Dit beteken ‘n paar dinge. Dit het in die eerste plek te doen met die lewensasem wat God in die mens se neus ingeblaas het. Die woord vir asem in Hebreeus is ruach en die Hebreeuse woord vir Gees is ook ruach. Dit is God se Gees wat in ons woon! Dis dié Gees wat ons na God laat aard. Wat maak dat ons in ons beste oomblikke iets van God se karakter wys. Dit is die Gees, die Ruach Yahweh wat God se liefde in ons laat deurbreek. En so ook God se omgee. Die vrug van die Gees en meer. Dit maak ons nie god nie. Ons is heenwysers, padwysers na God toe. Die woord verteenwoordiger sê baie meer. Ons moet in alles wys en sê hoe God is. Ons moet God se belange op die hart dra. Dit vooropstel in ons lewe. Wat ‘n mens moet besef is dat daar ‘n ander band tussen God en mens bestaan as wat daar is tussen God en die res van die skepping. Johan Heyns het oa gesê van ons uniekheid en status dat die mens moet word wat hy is. Ons moet uitkom en vorm gee aan dit wat God tussen ons en Hom geskep het. Beeld van God beteken ook dat die mens met God in gesprek kan tree. Die mens kan hoor as God met hom of haar praat. Die mens kan terugpraat. Die mens kan bewustelik met God in ʼn liefdesverhouding staan. Die mens kan sy of haar liefde vir God in woorde sê. Gideon van der Watt sê dis hoekom dit vir God so lekker was om in die koelte van die aand saam met die mense deur sy tuin te stap en te gesels. Dit was die betekenis daarvan dat hulle kaal was, sonder selfbewussyn – die onskuldige mens het niks gehad om oor bang te wees, of om oor skaam of skuldig te voel nie. Ook in ons verhoudings met ander is ons bedoel om iets van God se liefde te weerkaats, iets van sy omhelsing van die ander. 2. En wat doen ons? Wat doen die mens? God se beweging na ons toe, bring ons ook in beweging. Ongelukkig is dit ‘n beweging in die verkeerde rigting in. God skep die mens sodat ons met God in verhouding kan leef. En kyk, dit was baie goed! Toe kom breek die sonde alles stukkend. Dit is al wat ‘n mens kan sê: Toe kom breek die mens met sy sonde alles stukkend. Genenis 1: 31 sê “Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.” En in Genesis 3 toe is dit nie meer goed nie. Ek het besef dis hoekom ons die Heilige Gees so nodig het en moet bid dat Hy volle beheer oor ons lewens moet hê sodat wat goed is goed kan bly. Sonder Hom breek ons alles af. Kan ons skynbaar nie uitlos dit wat God reeds goed en mooi gemaak het nie. Die ondenkbare gebeur. Die mens verwerp God se liefde. Die mens sê nee dankie vir God se uitnodiging tot die dans. Die mens kom in opstand teen God. Boosheid kom en breek in hierdie wêreld van God in. Dit kom breek alles stukkend. Al die verhoudings breek stukkend. In plaas van ʼn gelukkige, tevrede verhouding met jouself, kom maak vrees en skaamte en skuld lêplek in die mens se hart. Ek sê dit want die mens was nie gepla met sy naaktheid nie maar na die verkeerde keuses deurbreek kruip hulle vir God weg want, en dit is die rede wat hulle voorstoot, want ons is naak. Dit gaan egter dieper en wyer. Die harmoie is weg. Hulle kruip vir God weg. Adam en Eva verwyt mekaar. Kain slaan sy broer Abel dood. Kyk maar hoe lyk die wêreld vandag nog. Ook die verhouding met God se skepping breek stukkend. Die mens vergryp hom aan God se skepping, vernietig dit. . God het ‘n reg om te reageer. Dit is Sy skepping wat ons opmors. Hy het ‘n reg om ons te vra: Wat nou! Wat het jy gedoen? Waar is jy mens? En in Sy reaksie leer jy boekdele van God. 3. God kom soek God vernietig NIE summier die moeilikheidmaker nie. Dit is wat so kosbaar is. Hy laat ons nie aan ons lot oor nie. Maar Hy laat ook dinge nie maar net gaan nie. Kom ek wys jou. God roep: “Mens, waar is jy?” “Waar is jy?” “Adam, Eva, waar is julle?” Hy roep in liefde, dringend, besorgd. Dis dieselfde roep wat deur die hele Bybelse geskiedenis weerklink. Dis waarvoor Hy sy eie Seun gestuur het na ons wêreld toe, en toe sy Gees. Om te bly roep. “Waar is jy, mens?” God roep nie net. Hy doen ook. God het vir Adam en Eva klere van velle gemaak en dit self vir hulle aangetrek. Hy het nie vir hule gesê “julle wou mos. Kry vir julle. Wees nou maar kaal en skaam.” Hy maak velklere en Hy trek dit vir hulle aan. Ek, persoonlik, beleef iets van ‘n liefdevolle Vader wat steeds Sy stout kleuter aantrek en versorg. Ten spyte van die kleuter se verkeerde gedrag. Dit stop nie daar nie. Verder in die geskiedenis kom die echos steeds deur. Vir Kain vra God: “Waar is jou broer?” En jy hoor dit regdeur die Bybel oor en oor: “Waar is jou broer?” “Waar is jou suster?” Dalk net in ander woorde. Soos om die profeet na Dawid te stuur oor Dawid se vergryp aan ‘n ander man se vrou. God het Kain gewaarsku nog voor die moord op sy broer. God het vir Kain gesê: “Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk? Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie – die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.” Het Kain geluister? Skynbaar nie. Is ons anders? Probeer ons enigsins na God luister? Neem ons ter harte wat ons hoor? Net jy kan antwoord. Ek vermoed dat ons dikwels soos kleuters ons self uit gehoorsaamheid uit probeer onderhandel. Veral as dit kom by jy moet jou vyande iefhê. Of by vergifnis. Dink weer oor Adam en Eva, Kain en Abel. Sien wat liefde doen. Sien die vergifnis. En kom ons begin luister en beter keuses maak. Kom ons word wat God ons geskep het, van die begin af bedoel het ons moet wees: Sy verteenwoordigers. Woonplek vir Sy Heilige Gees. Bid dat dit so mag wees.