Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Handelinge 1: 1-8 Soms vra ons die verkeerde vrae. En ons kry of geen antwoord of ons kry nie die antwoord wat ons soek nie. Dit kan ook wees dat ons teen die verkeerde goed vaskyk. Kom ons vat die dissipels as voorbeeld. Hulle wou weet: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” As ek na Jesus se antwoord kyk, dan is hierdie die verkeerde vraag. Die vraag mis dit wat God wil hê ons moet snap. En as jy dit miskyk dan mis jy nes die dissipels jou antwoord in die antwoord wat Jesus gee. Jesus het geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Die dissipels wou gehoor het wanneer dinge gaan gebeur. Wanneer gaan God die ewige ryk oprig. Jesus antwoord hulle, maar Jesus se antwoord vermy die wanneer en gaan direk na die nou toe. Kyk mooi na die deel. Hy sê tussen die lyne eintlik ook die wanneer. Die wanneer is nou reeds daarmee besig. Die wanneer lê in hulle opdrag. Wat hulle dalk eerder moes gevra het is waarheen? As U, Here, nou van ons af weggaan wat moet ons nou gaan doen? Waarmee moet ons ons besig hou terwyl ons wag dat U klaar gaan plek berei het en weer terugkeer om ons te kom haal? 1. Waarmee. Waarmee moet ons besig wees tot U die koninkryk van Israel opgerig het? Het jy raakgesien dat in Jesus se antwoord is daar ‘n nee en ‘n gaan. Nee dit is nie vir julle om te weet nie. Gaan wees julle My getuies. Gaan wees alles wat ek julle geleer het tussen die mense. Gaan verteenwoordig my. Dit is natuurlik ook belangrik dat ons getuies is van Jesus. Ons getuig, ons vertel oor wat Jesus gedoen het en Wie Hy is. En ons vertel dat Hy gaan plek maak het en dat Hy ons hopelik eersdaags gaan kom haal. Dit is ook hoe God Sy koninkryk al hoe meer sigbaar maak in ons wêreld. God se koninkryk kom, word opgerig waar ons aktief as getuies leef. Dit is tog sekerlik hoekom Jesus ons leer bid het “Laat U koninkryk kom. Laat U wil geskied ...” Bedoelende in ons lewe. Die meeste van ons, ek wil nie te erg veralgemeen nie. Die meeste mense is sprekende getuies van hulself. Getuies van wat hulle dink en van hulle onuitgesproke vrese en haat. Getuies van hul idees oor Jesus ook. As voorbeeld die dissipels wat vir lank onder die wanverstaan was van dat Jesus gekom het om ‘n aardse koninkryk te stig. Maw die vyande soos die Romeine se mag te vernietig en Israel te vestig as ‘n wêreldmoondheid. Ons moet so in Jesus se teenwoordigheid leef dat ons spontaan soos Hy begin doen en klink. Ons wil getuies wees van Jesus en nie van wie ons dink Jesus is nie. Maak dit vir jou sin ? Vra dan aan jouself: Is ek ‘n getuie van wie? Wie se getuies is ons regtig? Getuie wees is deel van wie ons is in Christus. Dit is nie nog ‘n ietsie wat ons iewers moet tyd voor vind om te gaan doen nie. Dit is deel van ons identiteit: ons is Jesus se getuies. “8 Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Hulle sou krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor hule gekom het om getuies te gaan wees. Jesus se getuies. ‘n Mens moet dalk ‘n sterker lyn trek tussen krag ontvang en getuies wees. Dalk moet ons ook ons lewens herbedink in terme van getuies wees. Dit is wie ons is. Dit is waarmee ons moet besig wees. En nee, dit gaan nie net oor praat nie. Dit gaan veral oor die verandering in jou lewe wat sigbaar word. Of soos Paulus in Galasiers 4: 19 sê, hy sal bekommerd oor hulle bly totdat Jesus alhoemeer gestalte in hulle kry. Ek hoor dat my lewe so deur die Gees verander sal word dat mense meer van Jesus in my sal kan sien en minder van my. Dit inspireer my, eintlik is dit die Heilige Gees wat my inspireer om baie meer te bid “Here U moet meer word in my lewe en ek minder.” Ons moet dit ook nie oormatig kompliseer nie. Jy is gered. Jy is ‘n getuie. Om nie ‘n getuie te wees nie is om jou geloof te bevraagteken. Getuie wees is om Christus te leef, Sy liefde, vergifnis, geduld en en en volgens die beste wat jy kan. En jy kan want die Heilige Gees werk in jou met krag. Daar is nog ‘n vraag om te vra: Waarheen? Na wie? 2. Waarheen? Waarheen is netso belangrik in hierdie geval as die waarmee moet ons besig wees? Wat verwag U, Here, van ons terwyl ons op U koms wag? Die waarheen vraag kom uit Jesus se antwoord uit. Gaan na die mense toe. Gaan na jou bure toe. Gaan na al die nasies toe en gaan wees my getuies. Begin sommer hier in jou eie omgewing, by jou huis, in jou straat, in jou dorpie. En gaan dan selfs verder. Laat jou getuienis weier uitkring. Die dissipels het vasgehaak by hulle onmiddelike omgewing, Jerusalem. Toe druk die Here hulle Samaria toe. En met nog vervolging wat die Here toelaat, begin hulle uitbeweeg en so ver as hulle vlug praat hulle oor Jesus. Is hulle Sy getuies. Handelinge 8: 4 ev 8: 4 Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig. So het dit gebeur dat Filippus by 'n stad in Samaria gekom het en Christus daar verkondig het. Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy prediking geluister. Onrein geeste het met groot geskreeu uit baie mense uitgegaan, en baie wat verlam en kreupel was, is gesond gemaak. Daar was groot blydskap in daardie stad. 3. Gebed. Die dissipels het by die Here geleer om te bid. Hulle het dit gesien werk in Sy lewe en hulle het Hom gehoor praat oor gebed. Jesus se lewe was deurdrenk deur gebed en gedra deur gebed. Ons moet dit nog leer. Ja, ons is mense wat bid. Ons kan nog baie groei hierin. Ons kan baie meer bid vir die vrug van die Gees om duideliker sigbaar te word in ons lewens. Ons kan meer in gebed oorgee aan God sodat alles in ons lewens werklik onder God se beheer staan. Ons kan bid vir ons getuie wees. Dat die Here ons lewende getuies maak en dat Hy so in ons sal leef dat dit mense na Hom aantrek. Ons kan, as ek dit anders stel, meer in die kragveld wat die Gees skep gaan leef. Kom ons bid.