Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Markus 10: 13 - 16 Wat ‘n voorreg om soveel dope hierdie jaar sover te kon beleef. Die gedeelte wat ons saam gelees het is op die oog af nie ‘n doop teks nie. Dit is ‘n eenmalige gebeure waar Jesus kinders geseën het. Hier is ‘n stukkie geskiedenis wat uitspeel, ten koste van die dissipels, ten gunste van kinders en van ons. Die mense het kindertjies na Jesus gebring sodat Hy hulle moet aanraak. Hoekom hulle dit wou hê weet ek nie. Ek weet net hulle kry meer as wat hulle verwag het. Eers ‘n afjak deur die dissipels en toe word hul kinders deur Jesus geseën. Die kern van hierdie deel lê egter elders. Kyk na Jesus se woorde: “... want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” Soos ‘n kindjie. Iewers het ek iets gelees oor die waarde van simbole. Soos bv ‘n simbool soos die doop. Die persoon het gesê dat jy kan tog nie vir iemand vertel hoe ‘n liedjie hulle moet laat voel nie. Hulle moet self luister en self voel. Netso met simbole. As jy ‘n simbool of in ons geval, die doop, moet verduidelik , dan is dit so goed as om vir iemand anders te sê presies hoe ‘n liedjie hulle moet laat voel. Ek kan nie vanoggend vir jou sê hoe die doop vanoggend jou moet laat voel nie. Ek kan vir jou sê wat die Bybel oor die doop sê. En wat die Christlike kerk oor 2000 jaar reeds ons oor die doop leer. Maar wat eintlik belangrik is, is wat beteken die doop vir jou persoonik? As die doop ‘n liedjie was, wat het hierdie liedjie jou laat voel? Kom ons dink vandag oor wat Jesus deur die doop graag in ons sou wou wakker maak. Wat het ons gesien? Klein Mia is ingebring. ‘n Pragtige klein mensie. Haar naam is hardop gesê in grootmens geselskap. Daar is nie vir haar gesê jy is te klein nie. Jy sal nie verstaan nie. Kom terug as jy eendag groot is nie. Soos die dissipels met ‘n paar kinders gedoen het toe hulle ouers wou gehad het Jesus moet hulle seën. Dalk het die dissipels gedink ons moet Jesus beskerm en net die heel belangrike mense deur laat. Definitief nie Sy krag en energie mors op van die geringstes in die samelewing nie. Mia is gedoop want Jesus het haar lief. Kom ek raak nog iets aan. Wat het jy verstaan toe ek gelees het, die doop sluit ons kinders in. Hulle word deel gemaak. Watter gevoel maak dit by jou wakker as jy hoor van jou doop af is jy al ingesluit in die liggaam van Christus? Maak dit jou bly? Kom daar vrede in jou hart? Maak jou hart oop en kyk in en sien Wie woon in jou. Kosbaar. Kyk uit na buite en sien ook dat jy deelgemaak is, ingesluit is in God se beweging regoor die aarde. Deel van Christus se liggaam. Deel van God se kerk. Kerk, enkelvoud. Die regering mag jou en my uitsluit. Maar God sluit ons in. By sommige mense is ek en jy dalk te gering, onbelangrik. By God is ons deel van Sy liggaam. Word ook ons Sy blyplek. Ons vergeet, of neem dit nie ter harte nie, maar ons almal word deur genade alleen gered. Sonder dat ons dit verdien. Dit is wat Jesus gedoen het wat tel. Ons ontvang net. Kyk na klein Mia. Sy het nog niks gedoen om waarde toe te voeg aan die Meiring gesin nie. Sy is net. Sy ontvang net. Maar vir Gideon en Sarah is dit genoeg sover. Hulle het haar lief. Hulle weet sy sal nog groei en in haar opgroei sal sy nog meer vreugde verskaf. Hey! Dit is ek en jy daardie. Ons kos Jesus alles. God moet net gee en gee en ons ontvang. God doen dit want Hy het ons lief. Die doop wil ons aan dieselfde dinge herinner as wat hierdie verhaaltjie uitlig. En dit is dat daar genade is wat ons mag ontvang. En dat selfs ook ons deel mag word van God se koninkryk. Natuurlik kan jy dink jy het nie die genade nodig nie. Dit sal ‘n fout wees, maar jy kan so dink. Maar dan sal jy ook nie na Jesus toe kom nie. Net om uit te vind dat die koninkryk is ook nie vir jou beskore nie. Die genade en die koninkryk ontvang jy soos ‘n kind. Nee, ons praat nie van die onskuld, nederigheid of blymoedigheid van ‘n kind nie. Ons praat van hulle ontvanklikheid, en gewilligheid om hulself totaal op ander te verlaat. ‘n Kind is klein. Sy / hy is afhanklik van hul ouers.’n Kind dink nie hieroor nie. Hullee reaksie op alles is spontaan presies dit. Hulle weet na wie om te gaan as hul bang is of iets nodig het. En hulle weet by wie kan hulle op die skoot gaan sit vir sommer net. Jesus sê ons moet so wees in ons lewens tov God. Ons moet sonder om eers te dink na God draai vir dit wat nodig is, op God vertrou want Hy IS ons Vader. Ons moet spontaan God ken in ons planne en dinge. Ons moet besef ons het God se hulp en leiding met alles nodig. Al dink ons weet hoe om dit self te doen. In ons selfdoen is ons nes ‘n peutertjie wat skree self self en dan na ‘n halfuur nog nie self sy skoene kon vasmaak nie. Kyk weer na Markus 10 vers 15: “Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” Ons moet ons ingesteldheid verander. Afhanklik van God wees. Sy leiding volg. Kyk wat gebeur as ons self inisiatief neem. Die dissipels. Hulle begin mense keur. Dalk met goeie bedoelings. Die punt is hulle mis God se wil met ‘n my. Hulle mis die evangelie van liefde. Die feit is dat dit Jesus erg ontstel het. Vir Jesus is niemand te onbelangrik nie. Hy het alle mense lief. Hy bring alle mense in na God. Jesus sluit nie die kinders uit nie. En laat ek maar iets duidelik maak met die uitsluit beeld. Jesus sluit niemand uit nie. Mense sluit hulself uit deur hul keuses. Gaan lees maar weer Johannes 3: 16 en verder. Mense sny hulself af van God se liefde. Hulle keuse. As jy hierdie verse nou terugsit tussen die ander verse in Markus 10 in, dan sien jy iets kosbaars. By Lukas word hierdie verse voorafgegaan deur die verhaal van die tollenaar en die fariseer wat bid. Die fariseer vol van sy eie goedheid maak dit nie. Die tollenaar wat vêr staan en goed weet hy het niks om God te bied nie, slaan op sy bors en pleit om genade. Hy maak dit wel. Watter een is afhanklik soos ‘n kindjie? Die fariseer of die tollenaar wat om genade smeek? By Matteus is hierdie verse deel van ‘n langer gedeelte. Deel van die deel waarin die dissipels wou weet wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel? Weer kom dit uit: Jy moet soos ‘n kindjie alles van jou hemelse Vader verwag. By al drie die Sinoptiese evangelies word hierdie deel opgevolg met die verhaal van die ryk jong man. Die jong man met die mooi lewe wat so volgens God se wet geleef het. En tog wou weet wat moet hy nog doen om die koninkryk van God te ontvang. Kan ek dit weer sê? Hy wou weet wat HY moet DOEN. Self kan doen. En toe hy dit hoor toe kon hy dit nie doen nie en hy gaan hartseer weg van Jesus af. Hy mis die genade deur self te wil doen. Hy mis die koninkryk deur op die self te fokus. Kinders wat niks is in die oë van mense, wat nog nie waarde kan toevoeg tot die samelewing nie, wat gesien maar nie gehoor moet word nie, nog geen CV het om te wys hulle kan dinge maak gebeur of goed bereik nie: hulle gaan makliker deur die spreekwoordelike oog van die naald as die self-doeners, die presteerders, die rykes, en selfs die wat volgelinge-is – uit-eie-krag-uit. Die betekenis lê in die feit dat hulle “klein” is, nie magtig of vol van hulself nie. Hulle is totaal afhanklik. Matteus 5:3 sê dit die duidelikste: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik (arm van gees) hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van God.” Kinders het nie iets besonders aan hulle nie. Al dink ons as ouers ons kinders het. Kinders is afhanklik. Kinders glo nie, hulle weet. Hulle geloof is ‘n weet dat God of hul ouers sal help. ‘n Vaste vertroue. ‘n Kind wonder nie of sy goed genoeg is of soet genoeg is om te mag vra of te mag ontvang nie. ‘n Kind het ook nie mag nie. Hulle is dood gewoon te klein om behoorlik na hulself te kan omsien. Hulle vra want hulle het nodig. Hulle oordeel nie. Hulle het net lief. Hulle weet na wie om te kyk vir hulp. En hulle sien nie maklik iets slegs in mense nie. As ‘n kleintjie seerkry of hartseer is soek hy /sy hul ma / pa... hardloop nie na die eerste beste persoon nie, nee, hul soek hul ma.... Dit is moeilik om so te wees as jy klaar groot is. Iemand het gesê: Miskien is die doel van ons lewe nie om ‘n klomp goed te leer nie maar eerder om alles af te leer wat ons nooit bedoel was om te wees nie. Maybe the journey isn’t so much about becoming anything. Maybe its about Unbecoming everything that really isnt you, so that you can be who you were meant to be in the first place” (Paul Coelho). Grundmann, ‘n teoloog, het dit goed verwoord: ons moet leer om klein te wees voor God sodat ons kan leer om soos ‘n kind “Abba”, dws Vader, kan sê. Kinders kan dit sê en hul sê dit ook maar volwassenes verleer dit en moet dit van vooraf leer. Dan gaan die koninkryk weer oop. Mag ek vra: Wat in jou lewe moet jy afleer sodat jy kan wees soos God jou bedoel het? Sodat jy geseënd kan wees in of deur jou afhanklikheid van God. Sodat jy kind kan wees voor God.