Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1 Samuel 1 Moedersdag 2019 Daar is baie stories oor moeders en vroue. Bv die seuntjie wat deur sy ma gesê word hy moet ‘n middagslapie gaan vat. Te hy so wegloop toe brom hy onderlangs: dis onregverdig, sy is moeg nou moet ek gaan slaap. Of as ma gelukkig is is almal in die huis gelukkig. Mag ek vandag ‘n verhaal vertel van ‘n vrou wie se lewe ‘n impak gehad het op haar volk. Uit haar seer en gebede en vashou aan die Here, het God ‘n nuwe pad met Israel begin. Dit is ook die verhaal van ‘n vrou wie se lewe geen ander impak gehad het, sover ek kan sien, behalwe dat sy met haar woorde net pyn om haar gesaai het. En op die einde is dit ‘n verhaal vir jou en my oor ons impak, as man of as vrou op ons gemeenskap en huisgesinne. Ek mag maar die manne hier insleep want dit is ook die verhaal van ‘n wonderlike man. ‘n Man wat vir sy vrou lief was, en al was sy kinderloos, keer op keer vir haar gesê het “Is ek nie vir jou meer werd as 10 seuns nie.?” Kom ons lees: 1 Samuel 1 Dit was in ‘n tyd waar ‘n man meer as een vrou kon hê. Wat ‘n mens in vandag se debatte oor die huwelik wonder oor watter vorm van huwelik in die Bybel mense oor praat. Die Ou Testament begin met Adam en Eva. Maar hoe verder jy lees hoe meer vrou is daar op ‘n stadium. Ons praat vandag oor Elkana en sy twee vroue. En daar begin die ding. Kom ek sit ‘n paar verse op die bord. Net om die pyn uit te druk. Dit begin met: 2 “Hy het twee vrouens gehad. Die een se naam was Hanna en die ander s'n Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna nie.” Peninna het kinders gehad en Hanna nie. 5 “Alhoewel hy vir Hanna liefgehad het, kon hy vir haar elke keer net een deel gee, want die Here het haar kinderloos laat bly. 6 Dan het die ander vrou haar baie gespot en verneder omdat die Here haar kinderloos laat bly het. 7 So het dit jaar vir jaar gegaan: elke keer as Hanna in die huis van die Here gaan offer het, het Peninna haar gespot, sodat sy gehuil het en nie wou eet nie.” 1. Peninna Elke keer. Die kort sinnetjie kom so vinnig vinnig twee keer voor en word opgevolg met ‘n gespot. Ek het oorweeg om hierdie eerste punt “Woorde” te noem. Maar dit is meer as woorde. Wat hier uitspeel is ‘n houding van ek is beter as jy. Ek is meer mens as jy. Daar is seker fout met jou. Noem dit vermakerigheid as jy wil. Die feit is dit is ‘n los tong wat dink sy het die reg om te sê wat sy wil wat die moeilikheid maak. Dit is ‘n versoeking om Peninna in te kleur as die aartsvyand, die lelikheid gegiet in een mens in. Maar ons moenie. Sy was net die ander vrou in haar man se lewe. Of, as jy wil, sy wou haar self laat geld bo die ander vrou in hulle man se lewe. En miskien was daar ‘n ruim skoot jaloesie ter sprake. Die deel sê tog Elkana het vir Hanna liefgehad. Ek noem die punt daarom “Peninna” want sy kan netso wel een van ons gewees het. Vinnig met die tong. Ongevoelig vir die pyn wat haar woorde veroorsaak. Jy kan nog iets van Peninna sê: Dit lyk vir my sy was aanhoudend. Geen deernis of meegevoel met Hanna in haar seer nie. Ek wonder ook oor die frase “elke keer as Hanna in die huis van die Here gaan offer het, het Peninna haar gespot”. Ek wonder waar het Peninna regtig ten opsigte van die Here gestaan? Het sy ook soos Hanna opgegaan na die tempel as Elkana tempel toe is? Of het sy agter gebly? Kom ons aanvaar sy is saam as Elkana gaan offer het. Ons lees nie dat sy self geoffer het nie. Maar Hanna het wel offers gebring. Het die teenwoordigheid van die Here in Sy tempel dan niks aan Peninna gedoen nie? Het dit haar nie verander nie? Kan dit regtig wees dat ‘n mens in God se teenwoordigheid kan wees en nie verander nie? En ek weet die antwoord is ja. Ons ken die evangelie en ons ken die dele oor die tong, maar in 2000 jaar plus is die tong nog nie getem nie. Ek lees onlangs van die een of ander kerkvader wat vir drie jaar met ‘n klip in sy mond geloop het sodat hy kan leer om stil te bly. Of dit gehelp het weet ek nie. Ek hoop net ons almal kan in hierdie deel sien wat woorde doen. Gaan dink jou, leef jou self in Hanna se lewe in. Dit kon nie lekker gewees het saam met Peninna in dieselfde huis nie. Peninna se impak op Hanna is een van baie trane vir Hanna. Ons kan seker ook oor ou Eli se oordeel praat. Dat hy hierdie stukkende mens wat haar hart voor die Here uit huil so kras kan oordeel as dronk. Ook hy het haar seer meer gemaak. Maar kom ons beweeg aan. 2. Hanna Die een oor wie ons eintlik wil praat. Die een van wie ons drie dinge kan sê vanoggend, nee, maak dit vier. Die eerste is dat sy hartseer geken het. Peninna het haar gespot sodat sy gehuil het. Huil duik ‘n paar keer op in hierdie deel. Die tweede is haar geloof. Sy het aangehou tempel toe gaan. Sy het getrou elke jaar saam met Elkana opgegaan na die tempel. Saam met haar man die geloofspad geloop. En die heeltyd bly hoop dat God haar met ‘n seuntjie, sy is nogals spesifiek, sal seën. Die derde iets wat ek oor Hanna moet sê is dat sy skynbaar ‘n vrou van gebed was. Sy het volhard daarin. Jaar na jaar het sy gebid. Sy is ‘n vrou wat bid en uiteindelik ook ontvang dit wat sy die meeste begeer. Vers 10 praat van haar hartseer en hoe sy daar voor God gehuil het. Trouens daar staan dat sy onbedaarlik gehuil het. Vers 12 sê sy het lank tot die Here gebid. In haar gebed maak sy ‘n belofte aan die Here. “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my 'n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.” Sy sal die seuntjie sy lewe lank aan God gee. Ons kan vandag redeneer dat dit nie haar reg was om so ‘n belofte te maak nie. ‘n Mens onderhandel nie met die Almagtige nie. Maar sy het en dit is wat dit is. Sy het dit wat sy die meeste begeer weer terug gegee aan die Here. Abraham moes Isak gaan offer. Hanna belowe haar kind aan die Here. Nie as offer nie, maar lewendig, sodat hy God kan dien. En so, nes met Abraham, begin hier ‘n nuwe stukkie geskiedenis. Ons moet ook iets sê oor Hanna se integriteit. Sy het woord gehou. Sy het klein Samuel by die tempel gaan afgee. Met offers aan die Here saam. Sy het ook nie haar rug op hom gekeer nie maar soos ‘n goeie ma gesorg dat hy iets warms het om te dra. Sy het elke jaar vir hom ‘n manteltjie gevat. Vandag kan ons onsself afvra: Watter een van die twee is ons? Watter impak het ons op die mense om ons? In ‘n sekere sin is dit ‘n vraag na is ons ‘n Peninna of ‘n Hanna? Dalk ‘n vraag na hoe vol gif is ons tonge. Wat is ons nalatenskap. Sien raak dat Peninna altyd net dit gebly het, ‘n jaloerse en kwaadwillige mens, die ene gif. Iemand wat haar kon verlekker in ‘n ander se diepste seer en dit kon invryf. Hanna was gelowig. ‘n Vrou van gebed wat haar seer by die Here gehanteer het. Iemand wie se geloof die deur oopgestoot het vir ‘n nuwe leier in Israel. 3. Die Here is besig. Ons moet iets oor God sê. God is nie doof vir Hanna en blind vir Peninna nie. God het net Sy eie tyd om dinge te maak gebeur. En op Sy tyd gee Hy haar haar swangerskap en die geboorte van haar eie seun. Dit wat sy so na gesmag het. God doen egter meer: In 1 Samuel 2:21 lees ons die mooi stukkie nuus: Die Here het Hom oor Hanna ontferm, en sy het swanger geword en nog drie seuns en twee dogters gehad. Ondertussen het die seun Samuel voor die Here grootgeword. ‘n Mens hoor dit ook in Hanna se loflied in hoofstuk 2. ‘n Mens hoor dat die Here die bordjies verhang het en ek lei af dat Peninna op die agtergrond geskuif het. Maar ons moet ook sien dat die tyd wat God gekies het, sluit die deur oop vir die herstel van Israel. Vir die era van Samuel. So breek Hanna se geloof en gebede ‘n nuwe era oop. Het sy ten spyte van haar hartseer en jare se kinderloosheid, ‘n geweldige impak op die volk Israel. Ons kan leer om op die Here te wag en te vertrou dat die Here ons lewens, of aspekte daarvan kan gebruik in Sy pad met mense om ons. Die vraag gaan net wees of ons gaan tot Sy beskikking gaan wees soos Hanna, soos Maria en vele ander gelowige vroue. Of soos Peninna, iemand wie se impak negatief is. Twee aanhalings om ons te help dieper dink: “Beware of letting your tongue outrun your brains.” (Charles Spurgeon). “Please think about your legacy, because you’re writing it every day. (Gary Vaynerchuck)