Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Openbaring 1: 4 - 8 Ons is die laaste maande toegegooi onder verkiesingsgoed. Leuens, valshede en baie beloftes. Ons het ook die pase gevier en veral die opstanding. Vanoggend kyk ons na die betekenis, of dan die konsekwensie wat die opstanding vir ons inhou. Wat beteken dit as ek en jy Jesus bely as ons Here? Openbaring 1: 4-8 help ons hiermee. In vers 2 is reeds iets belangriks gesê: “Johannes is die getuie van wat God gesê en wat Jesus Christus bevestig het; hy getuig van alles wat hy gesien het.” God het dit gesê. Jesus het dit bevestig met Sy lewe op aarde. Johannes getuig oor wat hy gesien het (en laat sien is). Die bron is betroubaar. Anders as al die vals nuus en leë woorde wat ons met gebombardeer word, is hierdie regtig woorde waarop jy jou lewe kan bou. Om jou en my vandag te kry op die punt waar hemel en aarde nou ontmoet, vra ek ons elkeen ‘n ongemaklike vraag. Jammer daaroor. Maar Wie is Jesus Christus regtig vir jou? Wie is Jesus regtig in jou lewe? Ek trek nie jou integriteit of geloof in twyfel nie. Ek vra jou om eerlik jou lewe self te ondersoek. Vir my is dit ‘n maak of breek vraag. En uiters ongemaklik. Want skielik moet ek vra hoekom raak ek gespanne oor al die haat-uitsprake en die grondonteiening uitsprake en en en. Die haat, wrewel as u wil, konfronteer my met ‘n in wie glo jy nou eintlik? Wie dink jy regeer die land? Die apostels het met die Romeine gesit. Die Romeine wat geglo het die keiser is god en die keiser bring vrede reg oor die wêreld. Ook die apostels het gesit met uitsprake van Jesus wat op die oog af op ‘n stadium gebots het met alles wat hulle gesien en beleef en geken het. Die opstanding uit die dood was vir hulle, so vermoed ek, ‘n interessante ver af konsep tot Jesus gesterf het. En skielik was dit nes die sussies met Lasarus se dood: eendag met die oordeelsdag eers is daar ‘n opstanding. En toe maak Jesus Lasarus lewend binne ‘n uur daarna. Het die apostels dit vergeet? Of is Jesus se sterwe en al hulle kennis wat sê as jy dood is is jy dood te werklik om te kan glo in die opstanding hier en nou? Ek sien dit in die 11 Apostels se lewe. Ek lees hoe hulle nog terug is om te gaan visvang. ‘n Beweging terug na hulle ou beroepe toe (in elk geval Petrus se ou beroep). En dan verskyn die Opgestane Jesus aan hulle en dinge verander. Nooit weer lees jy dat Petrus terug is in sy ou beroep of lewe in nie. Hulle bly in Jerusalem en hulle bid. En na die Heilige Gees uitgestort is oor die gelowiges tree die manne wat bang weg gekruip het vir die Jode in ‘n bovertrek skielik op in die openbaar en preek Jesus aan die Jode. Duidelik is die Opgestane Christus die sleutel en jy kon Hom sien in hulle lewens daarna. Daarom die vraag: Wie is Jesus regtig vir jou? Die Opgestane Here, is Hy die alles vernuwende Een in jou elke dag se bestaan? Ons behoort nie te bely dat ons glo dat Jesus geleef en gesterf en opgestaan het maar ons leef asof dit net ‘n mooi filosofie of legende is. Ons kan nie bely en dan optree en praat asof alles na paasfees “so what” is. Wil u tyd hê om na te dink? Kyk na jou paasvieringe en die weke daarna: Waar is die Christus in dit? Vandag se boodskap is ‘n positiewe boodskap. Dit begin met genade en vrede vir jou. Maak nie saak hoe jy die vrae beantwoord het nie: Genade vir jou. En, God wil vir jou Sy vrede gee. Die vrede is nie ‘n toestand nie maar die vrede lê in God se Persoon. In Christus. Deur die Heilige Gees wat in jou woon. Soos iemand gesê het, ek dink dit was Stephan Joubert: Verwag om die Heilige Gees by jou “te sien” teenwoordig. Die genade en vrede kom van God af. God wat is. En altyd sal wees. Hy was nog altyd hier. Hy sal altyd ook hier wees. En Hy is nou steeds ook hier. Die genade en vrede wat nou vir jou gegee is, kom nie van ‘n dominie af nie, is nie maar ‘n voel goed versie nie. Dit is God self by jou. God wat jou vergifnis gee. God wat jou lief het en vrede gee vir jou. Kan ek jou wys Wie Jesus in jou lewe kan en wil wees? In vers 5 word drie titels vir Jesus gebruik. En in vers 6 word gepraat oor Jesus se mag en in vers 8 oor die tydperk van God se regering. Ek gaan die Woord getrou volg en aan die hand van hierdie drie verse die Woord bring: 1. Drie titels vir Jesus. • Die Geloofwaardige Getuie (ook in 3:14 en 22:20) • Die eersgeborene uit die dood • Die Heerser oor die konings van die aarde. Die Geloofwaardige getuie. Die woorde waarmee jy die Griekse woord pistos hier mee kan vertaal is: (in Engels): reliable, trustworthy, faithful. Toe ek Google translate vra om te vertaal toe kry ek drie keer die woord betroubaar en een keer getroue. Geloofwaardig, sou ook ‘n goeie keuse kon wees. Dit is Wie Jesus is. Iemand Wie se getuienis oor God, en dus hier ook Homself, jy kan aanvaar as betroubaar en eg. In ‘n wêreld wat alles onbetroubaar en vals is, is Jesus die getroue, betroubare en dus geloofwaardige Een. Jy wil jou lewe op Hom en om Hom bou. Jesus is ook die eerste wat uit die dood uit opgestaan het en ewig lewe. Hy het die dood oorwin. En baie belangrik is om raak te sien dat Jesus is Baas oor alle mense. Hy is die Koning oor die konings van die aarde. In al hul grootheidswaan is hulle eintlik niks. As jy die Romeinse keisers vat. Die meeste is eintlik al vergete. Almal is dood. Nie een het vrede gebring nie, net onderdrukking en dood. Ook vandag se lawaai makers se pad gaan so verloop. Hulle einde is naby en dit gaan een wees van groot trane en weeklaag. Daarmee sê ek ook so duidelik as wat ek kan: Jesus, die Seun van God, die Christus is my Koning. Hy is die Here. Nie die verkose regering nie. Christus is ons Koning. En omdat dit so is, moet ek ‘n kort woord sê oor wie ek en jy nou is in Christus. Dit wil sê ek moet sê hoe jy nou oor jouself moet dink. Want dit is nie iets wat jy moet word nie maar iets wat jy gemaak is deur die Opgestane Christus. Dit is die uitvloeisel van God se liefde vir jou. God het jou so lief dat Hy in Christus jou gereinig het van al jou sondes en jou ‘n nuwe mens gemaak het. Dit beteken dat jy nou Christus se koninkryk is, die plek waar Hy regeer – dis jou lewe: jou lewe is die plek waar Christus regeer. En in hierdie nuwe koninkryk is ek en jy priesters vir God die Vader. Ons is die mense wat die aanbidding lei, wat ander die woord leer ken. Moenie paniekerig raak nie. 2. Sy mag: Hy kan. Vergeet daarvan dat jou keel toe trek as jy voor mense hardop moet bid en vergeet jou gebrek aan kennis wat nog altyd vir jou gepla het. Kyk mooi na die deel. Christus maak ons dit. En Christus werk en regeer in Sy koninkryk, dws in ons, met krag. Hy, deur Sy Heilige Gees wat in elkeen van ons woon, werk met krag in ons sodat ons ook soos die apostels op pinksterdag en daarna vreeslose getuies van die opgestande Jesus kan wees. Moenie na jou eie vermoeens kyk nie. Kyk na jou Verlosser en wat Hy kan doen in en deur jou. God het aan Christus Jesus, die heerlikheid en krag gegee tot in alle ewigheid. In Matteus 28 sê Jesus: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.” En as jy dink hoe het Jesus water in wyn verander, siekes gesond gemaak, blindes laat sien, storms stil gemaak en duiwels uitgedryf, dan dink ek ek kan met sekerheid sê Hy het alle mag in hemel en op aarde. En Hy, Jesus, is vandag nog Wie Hy was en is. Kyk hoe skryf Johannes oor sy ontmoeting met Jesus op Patmos: (1: 12 - 17) “12 Ek het omgedraai om te sien wie dit is wat met my praat. En toe ek omgedraai het, het ek sewe goue staanlampe gesien en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens. Hy het 'n lang kleed aangehad en 'n goue band om sy bors gedra. Die hare op sy kop was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë het soos vuur gevlam. Sy voete was soos geelkoper wat in 'n smeltoond gloei, en sy stem soos die gedruis van 'n groot watermassa. In sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en 'n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit gekom. Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn. 17 Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. ...” Dit is wie in jou lewe regeer. Dit is ons Koning. Dit is Wie Hy was en is en altyd sal wees. Ons moet anders begin dink. Anders begin dink oor geloof, oor getuie wees, oor alles in ons lewens. In alles is dit Wie Jesus vandag nog is. Ook in jou lewe. En as ons dit nie kan sien nie dan lê die probleem by jou en my. God is teenwoordig. Dit is ons wat afwesig is by God. Ons ingesteldheid is op ander dinge. Ons bly nie bewus van God in ons nie. 3. Ewig en altyd. Ek raak uit tyd uit. En ek het al aan hierdie punt geraak. Dus net kort: “8 Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.” God is die begin en die einde van alles. En God is alles tussen in ook. God is die Skepper. God is die een wat alles tot halt gaan roep. En ‘n nuwe hemel en aarde gaan skep. As God dit alles is, en God is ook die Almagtige aan wie alle mag behoort, dan hoef ons nie opgewerk te raak oor mense se uitsprake en opinies oor ons nie. Dit maak vir my al die sin in die wêreld om eerder God te vrees. En met vrees bedoel ek om met ‘n heilige eerbied so te leef dat God verheerlik word in ons lewens. Lank na al die vals nuus gestop het en alle politici op hulle kniee in self verwyt neerval en weeklaag voor die opgestane Jesus, sal God nog wees. Moet nie miskyk nie: die oordeelsdag kom. Christus kom op die wolke. Vir gelowiges sal dit ‘n vreugdevolle aanbiddingsgeleentheid wees. Vir die res, op grond van hulle eie lewenskeuses, sal dit ‘n daag van weeklaag en hel wees. Ons glo: Jesus is die Here. Ons aanbid Hom. Kom ons leef nou so dat dit duidelik sigbaar word dat Hy ons Koning nou reeds is.