Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1 Petrus 3 : 13 – 22 Tema: Om julle na God te bring. Dit is so dat daar in alle mense sonde is. Verkeerde gedrag. Foute. Noem dit wat jy wil. Die goed staan tussen ons en God. Volgens die Romeinse brief maak dit van ons vyande van God. Mense onder die oordeel van God. . ‘n Mensdom sonder hoop. Christus se dood en opstanding verander dit alles. Op laerskool was daar een onderwyser wat van tyd tot tyd as pak slaes nodig was, eers die seuns wat oortree het gefoeter het en dan die meisies wat ook in die moeilikheid was uitgeroep het. Dan het hy gesê: hy slaan nie aan ‘n meisie nie. So, watter seun sal watter meisie se pak slae kom vat? Daar was een of twee meisies wat aangedring het om self te buk en self hulle pakslae te vat. Dan kry die seun pak vir iets wat hy nie gedoen het nie en die meisie spring haar straf vry. Onregverdig? Absoluut. 1. Onregverdig. “18 Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is.” Dat Christus vir ons sondes sterf is netso onregverdig. Hy is onskuldig en sterf in ons plek. Ons, die werklike skuldiges, spring ons straf vry. Daar is egter ‘n baie belangrike verskil tussen my skooltyd ervaring en dit wat God doen. Ons word verander, so verander dat dit is soos om weer oor gebore te word as ‘n nuwe mens met ‘n nuwe lewe en nuwe kanse. Belydenis van geloof is waar ons vir die gemeente kom sê dat ons die dood verdien het maar deur Christus begenadig is. Dat ook ons deur Jesus se kruis en opstanding gered word. Ons sê dat Jesus se opstanding het vir ons ‘n nuwe lewe beteken en dat ons hierdie lewe kosbaar ag en dit te eer van God wil uitleef. Petrus roep ons op om so te leef dat niemand met ‘n beskuldigende vinger na ons kan wys nie. In ons harte moet daar net heilige eerbied vir Christus wees. Onthou: Dit wat in jou hart leef is dit wat jy leef. Leef met ‘n eerbied vir Christus. En doen dit beskeie en met eerbied vir God. Leef so dat jou gewete skoon kan wees en jou goeie lewenswandel tot eer van God sal wees. Ons almal weet die lewe is dikwels onregverdig. Iemand gaan iewers ‘n storie teen jou opmaak. Iemand gaan iewers jou vals beskuldig met die hoop dat hulself kan beter lyk. Of om die aandag van die verkeerde in hul lewe af te lei. Moet jou nie daaroor bekommer nie. Die waarheid sal uitkom. Leef jy hulle stil deur goed te doen. Trouens in hoofstuk 2: 15 het Petrus reeds geskryf: “Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, 'n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat.” Daar is ‘n groter onreg as die onregverdigheid wat ons dikwels teëkom. Dit is die onreg wat ons Jesus aangedoen het. Dat Hy, die onskuldige voor God, moes sterf vir ons skuld. Anders as in my laerskool storie, waar dit ‘n paar keer gebeur het, sterf Jesus net een maal in ons plek. Die Griekse woord hapaks beteken letterlik “vir eens en altyd”. Dit is afgehandel. Die verhouding met God is herstel. Hy stel dit as ’n afgehandelde feit. En dan gee hy die rede vir Christus se lyding, die doel waaroor alles gaan: “om julle na God te bring”. 2. Om julle na God te bring. Ons moet hierdie sinnetjie nie mis kyk nie. Dink daaroor: Jesus het gesterf en uit die dood opgestaan om ons na God te bring. As jy terug gaan na daardie tyd het jy ‘n “prosagogeus” gekry. Dit was dikwels ’n hoë amptenaar, aan die hof van ‘n koning. Sy werk was om die stroom mense wat die koning wou spreek, te sif. Hy moes almal wat, na sy mening deur ander amptenare gehelp kon word, verwys. En dan moes hy, net die mense wie se sake werklik meriete gehad het, na die koning toe bring. Ek kan my voorstel hoe die prosagogeus vir elkeen sou kon vra: “Wat is jou storie? Hoekom wil jy die koning sien? Nee, weet jy, ek gaan jou na hierdie en daardie amptenaar in ’n ander kantoor toe stuur. Volgende. Wat is jou storie? Goed, dit is belangrik. Ek sal jou na die koning toe vat.” Christus het dit kom doen. Maar daar is ’n verskil. Hy wil álmal na God toe vat. Christus gaan verder as dit. Hy gaan soek selfs na hulle wat nie die moed het om na God toe te kom nie. Christus vat ons Self na God toe. Daar gaan stel Hy ons voor. En Hy stel sommer ons saak ook. En Hy maak vrede tussen ons en God. Hoor mooi: God gaan jou nie een kyk gee en sê nee wat, na alles wat jy aangevang het is dit dom astrant om hier iets te kom vra nie. En jou dan uitjaag om verhoor en veroordeel te word nie. God gaan met liefde na jou kyk en na jou luister. Die doel van alles is om jou, ons almal, na God te bring. Dit het Jesus baie gekos. Nie maar ‘n pak slae van ‘n onderwyser af nie maar ‘n geseling en wrede kruisdood. Jesus het deurgedruk, die dood oorwin en daarom, omdat Hy uit die dood uit opgestaan het, is daar vrede tussen God en ons. Ons kom skotvry van dit af. Petrus se gedagtes maak ‘n paar bokspringe hier. Kom ons haal vers 19 en 20 uit, en lees vers 18 en 22 saam. So kry ons hoofgedagte duideliker. Vers 18 en 22 saam gelees sê: 18 “Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. 22 Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.” Vers 18 sê vier dinge kort en kragtig: • ook Christus het gely; • Hy het eens en vir altyd gely; • Hy het vir die sondes gely; • Hy, die Onskuldige, het vir die skuldiges gely. Vers 22 vat dit verder en wys die uiteinde van dit alles. Jesus, waar Hy sit aan die regterhand van God. Jesus bring ons na God toe. Hoe het Hy dit gedoen? Lees weer vers 18. Deur Sy lewe in ons plek te gee. 3. Doop Tussen die twee verse skryf Petrus oor die doop. Dat in Noag se tyd alle mense in die vloed was maar nie alle mense is gered nie. Dat alle mense onder die oordeel van God geleef het, maar dat net ‘n paar, die wat geglo het gered is. Noag is Petrus se beeld van hoe ons deur geloof in Christus gered word. Petrus verbind die doop aan die opstanding van Jesus Christus. En wys dan daarop dat die doop ons verbind aan die opgestane Christus. Maar die doop self red nie. Christus red. Ek sê dit weer: Dit is nie die doop wat ons red nie, maar Christus wat uit die dood opgestaan het. Die doop wys net na Christus wat in Sy dood en opstanding ons sondes afwas. Die doop is die teken vir die afwassing van ons sondes, vir ons inlywing in die liggaam van Jesus Christus. Dit is God wat by ons doop die inisiatief neem en die doop gee en Homself aan ons verbind. Is die lewe onregverdig? Ja. Die doel van 1 Petrus brief is om die gelowiges te bemoedig. Nero het hulle erg vervolg. Dink aan die bomaanvalle in Sri Lanka. Op baie plekke word mense oor hule geloof vervolg. Soms lei ons onder ander se dom besluite. Of onder ander se losse praatjies. Politici wat gemoedere opsweep teen minderhede. Dink aan jou doop. Onthou wat Christus gely het om jou God se kind te maak. En hou dan aan met goed doen. Hou aan glo. Glo ten spyte van wat mense doen. Leef jou geloof ten spyte van mense want Christus het Sy lewe gegee sodat jy mag lewe. Belydenis en doop het een ding in gemeen , die opstanding. Sonder die opstanding is daar niks om te bely nie want dan was Jesus ‘n gewone mens wat gesterf het. Sy opstanding verander alles. Verander ons toekoms, gee lewe . Die Doop is God se seel dat alles waar is. Doopformulier.