Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
OpstandingsSondag Wat ‘n aangrypende stukkie geskiedenis. Vol menslike emosies en mis verstaan. ‘n Deel waarin jy vinnig besef dat hoor en registreer een ding is, maar werklik diepgaande dit vir ‘n feit aanvaar is iets totaal anders. Die dissipels kruip weg agter geslote deure uit vrees vir die Jode. Hulle het gesien wat met hulle Meester gebeur het. Nou is hulle bang hulle kom agter die volgelinge aan. Jy kan jou ook dink wat in hulle gedagtes lê. Die kruisiging. En dan kom die twee manne van Emmaus daar en vertel van hoe die opgestande Jesus met hulle saam ‘n pad gestap het. Hoe Hy hulle voor hulle oë brood gebreek het en hulle oë toe oopgegaan het. Hulle was nog besig om hieroor te praat, toe Jesus onverwags, skielik tussen hulle staan. “Vrede vir julle!” was Sy woorde aan hulle. Meer as net ‘n groet die keer. Die keer meer ‘n gee van dit wat hulle harte kort: Sy vrede. En hulle skrik vir hulself in ‘n ander bloedgroep in. Hulle het geweldig geskrik, sê Lukas. En toe word die skrik vrees. Hulle het bang geword. En jy kan jou indink wat deur hulle gedagtes gehardloop het: Spook. Gees. Want alles in hulle, alles wat hulle die Vrydag gesien het, skreeu teen wat hulle nou sien.. Dit kan net nie wees nie. Hulle het gesien Hy word gekruisig. Hulle het gesien Hy sterf. Hy kan nie nou hier staan nie. Die vroue het die oggend kom sê hulle het twee manne met blink klere aan gesien. Twee manne met blink klere wat gesê het “Waarom soek julle die Lewende tussen die dooies? Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek.” (vers 5). Maar toe het die vrouens se storie vir hulle, Sy dissipels na onsin geklink en hulle het nie die vroue geglo nie. Petrus het self gaan kyk en verwonderd terug gestap van die leë graf af. Maar hiers hul probleem. Die deure was gesluit. Niemand kan inkom nie. En dood is dood. Hul het self gesien Jesus is dood. Hoe staan Hy nou hier tussen hulle? Hier staan Hy, soos die spreukwoord sê, in lewende lywe. En Hy sê “Vrede vir julle.” Volgens Johannes se vertelling het Jesus ‘n tweede keer gesê: Vrede vir julle. En toe bygevoeg “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Lukas getuig, so ook Johannes, later nog 500 ander aan wie Jesus lewend verskyn het: Dit is ‘n feit. Jesus het uit die dood opgestaan en lewe. Dit is wat ons vier vanoggend. Hy lewe. En ons nou saam met Hom. Maar hoekom het die dissipels gesukkel om dit te glo? Jesus het dan by drie geleenthede waarvan ons geweet, vir hulle voor uit gesê dat Hy in Jerusalem gekruisig gaan word, sterf en op die derde dag uit die dood opstaan? Hier is dan die aand van die derde dag, die Sondag, eerste dag van die week. En tog glo hulle nie Hy leef nie. Hulle het, soos ons ook baie keer, gehoor maar nie verstaan nie. Of verstaan en nie dit deel van hule wese laat word nie. Hoeveel keer lees ons die Bybel, word selfs aangegryp deur ‘n deel maar dan gebeur daar iets en ons reageer presies die teenoorgestelde mee was wat ons geleer het uit die Woord? Byvoorbeeld: Ons weet ons moet liefhê, selfs ons vyande liefhê. Ons weet ons moet mense vergewe. Selfs 70x7 keer sal ons mekaar heinner. Maar hierbinne skreeu alles in ons: Nee! Dit kan nie. Ek kan nie so iets vergewe nie. Hoeveel te meer nog as die Een wie jy sien sterf het, skielik agter geslote deur tussen julle kom staan en sê “Vrede vir julle.”. Sien raak dat Jesus hulle nie veroordeel nie. Hy gee Sy vrede vir hulle. Hy ontmoet hulle waar hulle is en werk met hulle vandaar af verder. Hy doen dit ook met jou en my. Geen veroordeling nie. Net Sy liefde en vrede. En dan neem Hy ons van waar ons is verder / dieper in die geloofslewe met God in. Jesus vat hulle deur vier fases hier: 1. Hy verskyn fisies tussen hulle. Hy laat hulle Hom sien. 2. Hy wys hulle sy hande en voete. Hoekom? Die littekens bevestig die werklikheid van die kruisigng en dood. Maar dit bewys ook dat dit dieselfde Hy is wat nou by hulle is. Hulle het nodig om die konneksie so sterk as moontlik te maak tussen die gekruisigde Jesus en die opgestane Jesus. Dit is een en dieselfde Jesus. 3. Hy laat hulle kom vat aan Hom. Kom voel: Ek is werklik. Lewend. Vlees. 4. Hy eet vis. Geeste kon nie eet nie, was die geloof van die tyd. Jesus eet vis. Van die evangelies voeg by heuningkoek ook. En eers hierna beweeg Hy verder en open Hy hulle verstand sodat hulle die Skrif kon verstaan. Hy verduidelik vir hulle dit wat in die Skrif oor die Christus geskrywe staan. Kan ek uitwys: Hy verduidelik weer ‘n keer, ‘n vierde keer, dat die Skrif sê dat die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan en in Sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af verder. Sit vers 46 – 49 op die bord. Kom ek gaan terug na dit wat ons mooi moet verstaan: Toe die voorhangsel in die tempel geskeur het was dit aan die een kant God se oordeel oor die tempel en die godsdienstige leiers. Almal wat saamgewerk het om Jesus oor te lewer aan die Romeine om gekruisig te word. Dit is die teken van die einde van God se teenwoordigheid daar. Die einde van die tempeldiens. Aan die anderkant beteken die middeldeur skeur van die voorhangsel ook dat gewone mense deur geloof in Christus nou vrye toegang tot God het. Elkeen, persoonlik en direk. Geen middelgangers soos priesters nie. Die Romeinse offisier was deel van ‘n kultuur wat geglo het dat die keiser is god se seun. Die keiser was die simbool van hul god se mag. Die keiser bring vrede. Vir die Romeinse offisier om aan die voete van Jesus se kruis te staan en te verklaar “Hierdie Man was werklik die Seun van God.” (Markus 15: 39) is groots. Hy verklaar dat nie die keiser nie, maar hierdie Jesus is die Seun van God. ‘n Verteenwoordiger van die onderdrukkende Romeinse kultuur en sisteem bely dat nie die keiser nie, maar Jesus is die Seun van God. Nie die keiser nie maar Jessus is die Een wat vrede bring en vrede gee. Kyk weer na die verse hierbo op die bord. Dit is wat ons moet internaliseer. Nie in die kop hê nie, maar diep in die hart en onderbewuste. Dit is wat ons moet leef. Dit is wat ons moet verkondig. Verstaan u hoekom ek nou weg gestap het van die opstanding per se? Want die opstanding maak die deur oop vir groter en meer om te gebeur. Want die opgestane Jesus het na Hy die dissipels oortuig het dat Hy werklik leef, hulle aandag gefokus op “soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Met volmag. Om te gaan verkondig die koninkryk van God is hier en nou. Gaan sê vir mense dat daar in Jesus nuwe lewe en nuwe hoop is. Dat die staat nie die mag het nie maar Jesus het. Dat Jesus die Seun van God is en dat in Jesus is daar bekering en vergewing van sondes. Kom ek maak dit eenvoudiger: In Jesus kan jy ‘n omkeer van jou lewe wat vasgeval het, maak. En jy kan in Jesus skoon begin. Jy hoef nie jou verlede meer saam te sleep nie. Jy kan weer lewe. Ons kyk te vas aan eendag na die dood. Jesus stuur hulle nie hier om te sê as hulle glo kan hulle eendag vir ewig lewe nie. Die opgestane Jesus stuur hulle hom te gaan sê jy kan nou reeds nuut lewe, jy kan nou reeds deur geloof in Hom in God se koninkryk lewe. Nou reeds. Vandag nog. Mag Jesus ook ons verstand verder oop maak om te besef dat ook ons is Sy gestuurdes. Ook ons moet gaan sê daar is in Sy Naam bekering en vergewing van sondes moontlik. Die opgestane Here, gee ons Sy vrede en Hy het ons Sy heilige Gees gegee. Gaan en gaan vertel dit oor.